“Die hand van Jehovah was met hulle”
“So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.”—HANDELINGE 19:20.
1. (a) Waaroor het vyande van die Christelike godsdiens in die eerste eeu G.J. gekla? (b) Wat het gebeur oral waar die sendeling Paulus die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het, en wat was altyd met die vroeë Christene?
MEER as 1 900 jaar gelede het vyande van die Christenboodskap en teëstanders van die sendelingapostel Paulus gekla: “Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom . . . En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus” (Handelinge 17:6, 7). Oral waar die Christensendeling Paulus die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk verkondig het, was daar aksie en reaksie, en dikwels vervolging. Ander vroeë Christene is ook vervolg. Maar “die hand van Jehovah” was altyd met hulle.—Handelinge 11:21, NW.
2. Wie het die Christensendingwerk begin, en hoe?
2 Wie het hierdie lewensbelangrike Christensendingwerk begin? Dit was Jesus, ’n unieke man met ’n besielende boodskap en ’n ongewone metode om dit te propageer. Onthou dat Jesus, die Seun van God, ’n verbasende aankondiging oor die Koninkryk van God aan die Jode gedoen het. Maar hulle het net in hulle eie redding deur werke van die Wet belanggestel.—Mattheüs 4:17; Lukas 8:1; 11:45, 46.
Aan “al die nasies”
3. Watter profesie van Jesus het sy Joodse dissipels seker verbaas, en waarom?
3 Ons kan ons dus voorstel hoe verbaas Jesus se Joodse dissipels was toe hy drie toe voor sy dood vir hulle gesê het: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Sy dissipels het seker gewonder hoe hulle ooit die goeie nuus aan “al die nasies” kon verkondig. Hoe kon so ’n klein groepie gelowiges ooit so ’n geweldige opdrag uitvoer?—Mattheüs 24:14; Markus 13:10.
4. Wat het die verrese Jesus sy dissipels beveel?
4 Later het die verrese Jesus hierdie bevel bygevoeg: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Hulle het dus ’n opdrag ontvang om hulle Heer se boodskap aan mense “van al die nasies” te verkondig.—Mattheüs 28:18, 19.
5, 6. (a) Hoe het die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk die nie-Jode bereik, en met watter resultaat? (b) Hoe het die ouere manne in Jerusalem gereageer toe Petrus hulle van sy ondervinding met die nie-Jood Cornelius vertel het?
5 Dit het later ingesluit dat hulle vir nie-Jode getuig, wat ’n uitdaging was. Petrus se gesindheid meer as drie jaar later bewys dit. Petrus is deur middel van ’n visioen beveel om onrein diere as voedsel te eet. Toe God vir hom gesê het dat dinge wat voorheen onrein geag is nou as rein beskou moes word, was Petrus verward. Toe het God se gees Petrus gelei om na die huis van die nie-Jood Cornelius, ’n Romeinse hoofman oor honderd, te gaan. Daar het hy begryp dat dit God se wil was dat hy vir Cornelius getuig, hoewel hy vroeër gemeen het dat kontak met mense van ander rasse ongeoorloof is. Terwyl Petrus gepraat het, het heilige gees op daardie nie-Joodse gesin geval, en dit het in werklikheid aangedui dat die gebied vir Christensendingwerk nou moes uitbrei om die nie-Joodse wêreld te omvat.—Handelinge 10:9-16, 28, 34, 35, 44.
6 Toe Petrus hierdie ontwikkeling aan die ouere manne in Jerusalem verduidelik het, “het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk” (Handelinge 11:18). Nou kon die nie-Joodse nasies die goeie nuus van Christus en van sy Koninkryk vryelik ontvang!
Sendelinge vir die nasies
7. Hoe het die Christensendingwerk in die lande om die Middellandse See begin uitbrei, en hoe het Jehovah dit beskou?
7 Die predikingswerk, wat ná die marteldood van Stefanus vaart gekry het, het nou ’n nuwe dimensie aangeneem. Die gemeente in Jerusalem, buiten die apostels, is verstrooi. Aanvanklik het daardie vervolgde Joodse gelowiges net vir Jode in Fenicië, Ciprus en Antiochië getuig. Maar “daar was sommige . . . Cipriese en Cirenese manne, wat . . . met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het”. Hoe het Jehovah hierdie sendingwerk onder die nasies beskou? “Die hand van die Here was met hulle, en ’n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.” Danksy die vrymoedigheid van daardie vroeë Christene het doeltreffende sendingwerk in die lande om die Middellandse See begin uitbrei. Maar nog uitbreiding het voorgelê.—Handelinge 4:31; 8:1; 11:19-21.
8. Hoe het God ’n deurslaggewende stap vir die uitbreiding van die sendingwerk aangedui?
8 God het omstreeks 47-48 G.J., deur heilige gees, ’n deurslaggewende stap vir die uitbreiding van die sendingwerk aangedui. Die verslag in Handelinge 13:2-4 deel ons mee: “Die Heilige Gees [het] gesê: Sonder nou Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. . . . So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleucië [die seehawe van Siriese Antiochië] en daarvandaan weggevaar na Ciprus.” Hoe opwindend moes dit tog vir Paulus en Barnabas gewees het—om per skip na hulle eerste buitelandse toewysing te vertrek! Die apostel Paulus het aan die spits van die Christensendingwerk gestaan. Hy het ook ’n grondslag gelê vir ’n werk wat in ons 20ste eeu voltooi sal word.
9. Wat het die apostel Paulus deur middel van sy sendingreise gedoen?
9 Paulus het daarna drie opgetekende sendingreise onderneem, sowel as sy reis na Rome as ’n gevangene. Tydens hierdie reise het hy die werk in etlike stede in Europa begin en die Koninkryksboodskap verkondig in lande en eilande wat vandag as Sirië, Ciprus, Kreta, Turkye, Griekeland, Malta en Sicilië bekendstaan. Hy het moontlik selfs Spanje bereik. Hy het gehelp om gemeentes in baie stede te stig. Wat was die geheim van sy doeltreffende sendingwerk?
Doeltreffende onderrig
10. Waarom was Paulus so effektief in sy sendingwerk?
10 Paulus het Christus se onderrigmetode gevolg. Hy het derhalwe empatie met mense gehad. Hy het geweet hoe om te onderrig en hoe om ander as onderrigters op te lei. Hy het sy onderrig op die Skrif gebaseer. Hy het nie probeer om ander met sy eie wysheid te beïndruk nie, maar het eerder uit die Skrif geredeneer (Handelinge 17:2, 3, NAV). Paulus het ook geweet hoe om hom by sy gehoor aan te pas en hoe om die plaaslike agtergrond as ’n uitgangspunt vir sy boodskap te gebruik. Soos hy gesê het: “Ek [het] my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword . . . Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet . . . vir die swakkes het ek soos ’n swakke geword om die swakkes te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red.”—1 Korinthiërs 9:19-23; Handelinge 17:22, 23.
11. Wat toon dat Paulus en sy metgeselle bekwame sendelinge was, en hoe wydverspreid was die Christenbediening?
11 Paulus en sy metgeselle was bekwame sendelinge. Met deursettingsvermoë en volharding het hulle waar hulle ook al gegaan het Christengemeentes gestig en versterk (Handelinge 13:14, 43, 48, 49; 14:19-28). Die vroeë Christenbediening was so wydverspreid dat Paulus uiteindelik kon skryf oor “die waarheid van die evangelie, wat julle sowel as die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug, . . . en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel”. Die vroeë Christensendingwerk het waarlik mense geraak.—Kolossense 1:5, 6, 23.
12. Waarom het die ware Christensendingwerk ’n tyd lank opgehou?
12 Maar teen die begin van die tweede eeu G.J. het afvalligheid in die Christengemeente begin insluip, net soos Jesus en die apostels gewaarsku het (Mattheüs 7:15, 21-23; Handelinge 20:29, 30; 1 Johannes 2:18, 19). In die daaropvolgende eeue het teologie en heidense leerstellings die Koninkryksboodskap verswelg. Die Christendom het sendelinge uitgestuur, nie om die ware Koninkryk van God te verkondig nie, maar om die koninkryk van hulle politieke meesters en ondersteuners aan weerlose inboorlinge op te dwing—dikwels met die swaard. Ware Christensendingwerk het opgehou, maar nie vir ewig nie.
13. Hoe is ’n sendingveldtog in ons tyd begin, en wat is teen die einde van 1916 bereik?
13 Teen die einde van die 19de eeu het Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, besef dat sendingwerk nodig is. Hy het derhalwe ’n uitgebreide getuienisveldtog georganiseer, en hy het self baie stede in die Verenigde State besoek en per skip oor die hele wêreld gereis om soveel lande moontlik te besoek. Sy Bybelse geskrifte is in 35 tale gepubliseer. Hy het glo voor sy dood in 1916 meer as 1,6 miljoen kilometer as ’n openbare spreker gereis en meer as 30 000 toesprake gehou.
14. Wat het Joseph F. Rutherford gedoen om die sendingwerk te bevorder?
14 Sy opvolger, Joseph F. Rutherford, het ook besef hoe noodsaaklik sendingwerk is. In die vroeë twintigerjare het hy bekwame manne na verskillende lande uitgestuur om die predikingswerk te begin. Sendelinge het in Spanje, Suid-Amerika en Wes-Afrika die voortou met hierdie Koninkrykswerk geneem. In 1931 het ’n oproep uitgegaan om vrywilligers om die werk in Spanje te versterk. Drie jong manne het daaraan gehoor gegee en vier jaar lank, tot die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog in 1936, onder uiters moeilike en veeleisende omstandighede aldaar gedien. Toe moes hulle uit vrees vir hul lewe vlug.
15. Watter gebeure in die veertigerjare het die sendingwerk aansienlik laat uitbrei?
15 Beter dinge wat sendingwerk betref, het in die dekade van die veertigerjare voorgelê. Die derde president van die Wagtoringgenootskap, Nathan H. Knorr, het ’n span ywerige medewerkers gehad. Hy het, klaarblyklik onder leiding van die heilige gees, in 1942 besef dat dit nodig is om ’n sendingskool te open ter voorbereiding vir die uitdaging ná die Tweede Wêreldoorlog. Tydens daardie wêreldoorlog het hy die inisiatief geneem, en die Wagtoringskool Gilead is in Februarie 1943 in die noordelike deel van die staat New York geopen. Die skool se vier onderrigters het elke ses maande meer as honderd ywerige pionierbedienaars, manlik en vroulik, aan die hand van die Bybel vir sendingdiens opgelei. Was hulle gevolglike bedrywigheid doeltreffend?
16. (a) Hoeveel Getuies het in 1943 getuig, en hoe vergelyk dit met vandag? (b) Watter rol het die sendelinge in hierdie vermeerdering gespeel? Verduidelik.
16 In 1943 was daar net 126 329 Getuies wat in 54 lande getuig het. Wat is die situasie vandag? Nou, 45 jaar later, is daar 28 keer soveel, meer as drie en ’n half miljoen bedrywige bedienaars in 212 lande en eilande van die see. ’n Aansienlike deel van hierdie vermeerdering is te danke aan die goeie grondslag wat gelê is deur die meer as 6 000 sendelinge wat uit die Gileadskool gegradueer het. Hulle het uit 59 lande gekom en is gedurende die afgelope vyf dekades na 148 verskillende lande gestuur. Danksy hulle hulp is daar nou, in plaas van effens meer as honderdduisend Getuies in die hele wêreld, soos daar 45 jaar gelede was, tien lande waar meer as honderdduisend bedienaars die goeie nuus verkondig en dit aan ander leer. In die meeste van hierdie lande was die Gileadsendelinge aan die voorpunt van die evangelisasiewerk.
17. Wat is drie basiese faktore wat die vroeë sowel as die hedendaagse Christensendingwerk doeltreffend gemaak het?
17 Hetsy ons van die vroeë of die hedendaagse Christensendingwerk praat, daar is basiese faktore wat dit doeltreffend gemaak het. Een faktor is die regstreekse kontak met mense as gevolg van die bediening van huis tot huis en informele getuieniswerk, sowel as die tuisbybelstudiereëling (Johannes 4:7-26; Handelinge 20:20, vgl. NW). Nog ’n faktor is die reguit en eenvoudige Bybelse boodskap wat die aandag vestig op die Koninkryk van God as die enigste blywende oplossing vir die mensdom se probleme (Handelinge 19:8; 28:16, 23, 30, 31). En baie van ons sendelinge dien in ontwikkelingslande waar die behoefte aan God se regverdige heerskappy baie duidelik is. ’n Derde faktor is die liefde wat Christus verkondig het en wat ons hedendaagse sendelinge in hulle daaglikse omgang met mense van alle soorte en elke herkoms aan die dag lê. Dit ly geen twyfel nie dag Wagtoringsendelinge in die afgelope 45 jaar grootliks tot die wêreldwye uitbreiding van Jehovah se organisasie bygedra het.—Romeine 1:14-17; 1 Korinthiërs 3:5, 6.
Die pioniergees raak gevestig
18. Wie het dieselfde gees van sendingywer as die Gileadgegradueerdes geopenbaar?
18 Die ywerige voorbeeld van die Gileadgegradueerdes het ongetwyfeld by ander ’n begeerte gewek om voltydse bedienaars te wees. Daar is vandag honderdduisende ander getuies van Jehovah wat dieselfde gees van sendingywer geopenbaar het. Hulle is ook waarlik pioniers en volg Jesus, “die Pionier van hulle redding”, se voetspoor.—Hebreërs 2:10; 12:2, Moffatt.
19. Wat het baie Getuies wat die pioniergees het vrywillig onderneem om te doen, en hoe word hulle beloon?
19 Sedert die sestigerjare het dit baie moeilik geword om sendelinge na sekere lande te stuur. Sover moontlik stuur die Wagtoring- Bybelskool Gilead steeds sendelinge uit volgens die behoefte in vreemde lande. Maar daar is oor die hele wêreld ’n ontsaglike veld vir Getuies wat die ware pioniergees het. Talle het vrywillig onderneem om hulle eie reëlings te tref om te dien in lande waar hulp nodig is. Kan jy by hulle aansluit? Hulle sê dikwels dat die groot vreugde wat hulle smaak wanneer hulle sagmoediges in ontwikkelende lande met Koninkrykswaarhede voed telkens vir swaarkry en opofferings vergoed. Hulle word honderdvoudig beloon deurdat hulle nuwe “broers en susters en moeders en kinders” vind met wie hulle die wonderlike hoop van die ewige lewe in “die komende stelsel van dinge” deel.—Markus 10:28-30, vgl. NW.
20. (a) Wie doen in baie lande die grootste deel van die predikingswerk? (b) Waarom rapporteer Japan jaarliks meer ure velddiens as feitlik enige ander land? (c) Watter vraag kan ons ons gerus afvra?
20 Bowendien is daar vandag honderdduisende knegte van Jehovah wat elke maand as gewone of hulppioniers heilige diens rapporteer. Die meeste van hulle werk ywerig in hulle tuisgebiede. In baie lande doen hulle die grootste deel van die predikingswerk, en dikwels besoek hulle elke week dieselfde huise. Hulle Koninkrykshoop word weerspieël deur hulle fris voorkoms en vreugdevolle gesindheid terwyl hulle in hul gebiede nuwe vriendskappe sluit en baie belangstellendes help. Meer pioniers beteken dat baie meer ure bestee word om God te loof. Japan, waar die meeste getuies van Jehovah voorheen Boeddhiste was, rapporteer al meer as ’n dekade jaarliks meer ure velddiens as enige ander land buiten die Verenigde State. Dit is omdat nagenoeg die helfte van die Koninkryksverkondigers aldaar pioniers is. Kan jy ook jou sake reël om aan hierdie wonderlike voorreg, die pionierdiens, deel te neem?
21. (a) Hoe kan ander Getuies wie se situasie hulle nie in staat stel om gewone pioniers te wees nie steeds die pioniergees aan die dag lê? (b) Hoe kan jongmense die pioniergees aan die dag lê?
21 Daar is ander Getuies wat “ywerig in goeie werke” is (Titus 2:14). Hulle is onder meer bejaardes, diegene met swak gesondheid, talle met gesinsverantwoordelikhede en skoolgaande jongmense wie se situasie hulle moontlik nie toelaat om gewone pioniers te wees nie. Hulle kan ook die pioniergees aan die dag lê deur die pioniers te bemoedig en te ondersteun, wanneer moontlik saam met hulle velddiens te doen en ’n positiewe gesindheid te behou teenoor hulle eie geleenthede om te getuig. Jongmense kan voltydse Koninkryksdiens hulle doelwit maak en, wanneer hulle gedoop is, van tyd tot tyd aan hulppionierdiens deelneem. Hulle kan, soos jong Timotheüs, oor hierdie dinge nadink sodat hulle saam met God se hele volk geestelik vooruit kan gaan.—1 Timotheüs 4:15, 16, NW.
22. Wat moet ons, ongeag ons situasie in die lewe, vasbeslote wees om te doen, en met watter voortreflike resultaat?
22 Mag ons almal, ongeag ons situasie in die lewe, deur Jehovah se gees beweeg word om ’n volle aandeel aan sy diens te hê. Mag “die hand van Jehovah” steeds met elkeen van ons wees sodat daar van ons nederige pogings gesê kan word dat “die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword [het]”.—Handelinge 11:21, NW; 19:20.
Vrae ter hersiening
◻ Hoe het die Christensendingwerk begin, en hoe omvattend sou dit word?
◻ Watter rol het die apostel Paulus in die uitbreiding van die sendingwerk gespeel?
◻ Hoe is sendingwerk in ons tyd weer aan die gang gesit?
◻ Watter faktore het sendingwerk en pionierdiens doeltreffend gemaak?
◻ Hoe kan ons die pioniergees vandag openbaar?
[Tabel op bladsy 13]
Koninkryksbedrywigheid in tien lande—1988
(Al hierdie lande het meer as 100 000 verkondigers gerapporteer)
Land Verkondiger- Gemiddelde Aantal ure in Gedenkmaal-
hoogtepunt aantal pioniers predikingswerk opkoms
VSA 797 104 96 947 161 478 732 1 822 607
Mexiko 248 822 32 117 58 061 457 1 004 062
Brasilië 245 610 22 725 44 218 022 718 414
Italië 160 584 25 477 43 354 687 330 461
Nigerië 134 543 14 022 27 800 623 398 555
Japan 128 817 52 183 60 626 840 297 171
Duitsland 125 068 8 416 22 020 942 215 385
Brittanje 113 412 11 927 22 103 713 211 060
Filippyne 107 679 21 320 26 337 621 305 087
Frankryk 103 734 9 189 21 598 308 205 256
[Prent op bladsy 10]
Paulus en Barnabas vertrek om sendingwerk te begin