Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 6/15 bl. 4-7
  • Die “Heilige Drie-eenheid”—Is dit in die Bybel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “Heilige Drie-eenheid”—Is dit in die Bybel?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is die heilige gees ’n persoon?
  • Nog ’n belangrike vraag
  • Is Jesus die Opperwese?
  • Is die Drie-eenheidsleerstelling skadelik?
  • Deel 1—Het Jesus en sy dissipels die Drie-eenheidsleer verkondig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Studievrae vir die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • Jesus Christus—God se geliefde Seun
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Hoe word die Drie-eenheid verduidelik?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 6/15 bl. 4-7

Die “Heilige Drie-eenheid”—Is dit in die Bybel?

SY HET in 1550 in Engeland op die brandstapel gesterf. Haar naam? Joan Bocher. Haar misdaad? Die Encyclopædia Britannica (1964) sê: “Sy is veroordeel vir openlike godslastering omdat sy die Drie-eenheid geloën het, die een oortreding wat sedert die stryd met Arianisme deur die hele kerk as onvergeeflik beskou is.”

Die Drie-eenheid is ’n fundamentele leerstelling van die oorgrote meerderheid van die kerke. Maar wat presies is die Drie-eenheid? The Waverley Encyclopedia definieer dit as “die verborgenheid van een God in drie persone—die Vader, die Seun en die Heilige Gees, gelykwaardig en mede-ewig in alle dinge”. Maar The New Encyclopædia Britannica (1981) sê: “Nòg die woord Drie-eenheid, nòg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor.” Dit laat onmiddellik vrae oor die leerstelling ontstaan.

Iets wat die saak nog ingewikkelder maak, is ’n eerlike erkenning in die New Catholic Encyclopedia. Dit is in die vorm van ’n vraag wat teologiese studente dikwels vra: “Maar hoe verkondig ’n mens die Drie-eenheid?” Hierdie Katolieke werk sê voorts: “As die vraag ’n uitvloeisel is van verwarring onder die studente, is dit miskien ewe veel ’n uitvloeisel van soortgelyke verwarring onder hulle professore. As ‘die Drie-eenheid’ hier Drie-eenheidsteologie beteken, sou die beste antwoord wees dat ’n mens dit glad nie verkondig nie . . . want die preek, en veral die Bybelpreek, is die plek vir die woord van God, nie vir die teologiese uitbouing daarvan nie.”

Wanneer het hierdie “teologiese uitbouing” begin? The New Encyclopædia Britannica (1981) antwoord: “Die leerstelling het geleidelik oor etlike eeue heen en deur middel van talle geskille ontstaan.” Klink dit vir jou na ’n regstreekse, duidelike openbaring van God? Hoe kan dit dan ’n openbaring van die Heilige Skrif wees, soos beweer word?

’n Bybelse stelling wat kerkleraars dikwels gebruik ter ondersteuning van die Drie-eenheid is Jesus se bevel aan sy volgelinge om dissipels te maak ‘en hulle te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees’ (Mattheüs 28:19). Hierdie gedeelte meld beslis drie entiteite, maar dit sê nie dat hulle drie persone is of dat al drie een is nie. Daarbenewens weet ons wat die naam van die Vader (Jehovah) en van die Seun (Jesus) is. Maar wat is die heilige gees se naam? Dit lei tot die vraag ...

Is die heilige gees ’n persoon?

Die feit dat die Bybel geen aanduiding gee dat die heilige gees ’n persoonlike naam het nie, dui ten minste daarop dat dit moontlik nie ’n persoon is nie. Jy kan ook vra: ‘Is die heilige gees al ooit gesien?’ Wel, by Jesus se doop is dit as ’n duif geopenbaar en by Pinkster as tonge van vuur (Mattheüs 3:16; Handelinge 2:3, 4). Waarom het dit, as dit ’n persoon is, nie as ’n persoon verskyn nie? En as die heilige gees nie ’n persoon is nie, wat is dit? Dit is ongetwyfeld die werkende krag van God wat by Pinkster op die dissipels ‘uitgestort’ is (Handelinge 2:17, 18). Jehovah het deur hierdie werkende krag sy skeppingswerke verrig— “God se werkende krag het heen en weer oor die oppervlak van die water beweeg” (Genesis 1:2, NW). Dieselfde werkende krag het die skrywers van die Bybel geïnspireer.—2 Timotheüs 3:16.

Een van daardie geïnspireerde skrywers was die profeet Daniël. In Daniël hoofstuk 7 beskryf hy ’n wonderlike gesig wat Jehovah aan hom gegee het: “’n Oue van dae” op sy hemelse troon met ’n menigte engele wat hom dien. Daniël het ook “Een . . . soos die Seun van ’n mens [Jesus]” gesien, aan wie ‘heerskappy en eer en koningskap gegee is, sodat al die volke en nasies en tale Hom moet vereer’ (Daniël 7:9, 10, 13, 14). Maar wat van die heilige gees? Dit word nie in hierdie hemelse toneel as persoon gemeld nie.

Die laaste boek van die Bybel—Openbaring—beskryf ander merkwaardige hemelse gesigte. Die Opperwese, Jehovah, word daar op sy troon uitgebeeld, en die Lam, Jesus Christus, is saam met hom. Maar die heilige gees word weer eens nie as ’n afsonderlike persoon gemeld nie (Openbaring, hoofstukke 4-6). Selfs die laaste Bybelboek toon dus nie dat daar drie persone in een god is nie. Dit opper . . .

Nog ’n belangrike vraag

Die Drie-eenheidsleerstelling is bestempel as “die hoofleerstelling van die Christelike godsdiens”. Waarom het Jesus dit dan nie geopenbaar toe hy op die aarde was nie? Sy dissipels, wat Israeliete was, het geglo dat Jehovah enig is. Die Jode sê tot vandag toe nog Deuteronomium 6:4 op: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE.” Daar is geen aanduiding in die Hebreeuse Skrifte dat die Opperwese in drie persone bestaan nie. Jy kan tereg wonder: ‘Waarom het hierdie “hoofleerstelling” dan eers in die vierde eeu dogma geword—te midde van bittere polemiek wat wydverspreide verwarring veroorsaak het?’

Party redeneer dalk: ‘Maar Jesus het gesê: “Ek en die Vader is een’” (Johannes 10:30). Dit is waar. Maar in watter sin is hulle een? Jesus het dit self later verduidelik toe hy gebid het: “Heilige Vader, bewaar hulle [sy dissipels] . . . sodat hulle een kan wees net soos Ons een is” (Johannes 17:11, 22, NAV). Die eenheid tussen Vader en Seun is derhalwe dieselfde as die eenheid wat onder Christus se ware volgelinge heers—eensgesindheid wat voorneme en samewerking betref.

Party beweer miskien nietemin dat hoewel Jesus nie die Drie-eenheidsleerstelling uitdruklik geleer het nie, die apostel Johannes dit wel in 1 Johannes 5:7 gedoen het, wat lui: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.” Nuwer vertalings laat egter hierdie gedeelte uit. Waarom? Die Katolieke Jerusalem Bible verduidelik in ’n voetnoot dat hierdie teks nie in een van die vroeë Griekse of die beste Latynse manuskripte van die Bybel gevind word nie. Dit is oneg. Dit is ongetwyfeld bygevoeg in ’n poging om die Drie-eenheid te staaf.

Soos jy in jou Bybel sal sien, het die apostel Paulus dikwels in die inleiding van sy briewe uitdrukkings gebruik soos: “Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!” (Romeine 1:7). Waarom het hy nie die heilige gees as persoon gemeld nie? Omdat Paulus niks van die “Heilige Drie-eenheid” geweet het nie. Jakobus, Petrus en Johannes het soortgelyke uitdrukkings in hulle briewe gebruik waar hulle ook nie die heilige gees meld nie. Waarom nie? Omdat hulle ook nie Trinitariërs was nie. Die heilige gees is nie ’n persoon soos God en sy Seun nie. Maar aangesien die Seun ’n persoon is, ontstaan die vraag . . .

Is Jesus die Opperwese?

Voorstanders van die Drie-eenheid sê ja. Maar jy moet meer belangstel in wat Jesus gesê het: “My Vader [is] groter as . . . Ek” (Johannes 14:28). “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie” (Johannes 5:19). Paulus het bygevoeg: “God [is] die hoof van Christus.”—1 Korinthiërs 11:3.

Beskou hierdie vrae ook noukeurig: Het Jehovah ’n God? Klaarblyklik nie, hy is die Allerhoogste. Het Jesus ’n God? Na sy opstanding het Jesus vir Maria Magdalena gesê: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.” Die apostel Petrus het geskryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus.”—Johannes 20:17; 1 Petrus 1:3.

Het God ooit gesterf? ‘Natuurlik nie’, kan jy tereg antwoord. God is onsterflik. Die profeet Habakuk het van Jehovah gesê: “My Heilige, u sterf nie” (Habakuk 1:12, NW). In teenstelling hiermee het Jesus gesterf. Wie het hom dan uit die dode opgewek? Petrus het gesê: “God het [Christus] uit die dode opgewek.” Dit blyk dan dat Jesus nie die Opperwese is nie.—Handelinge 3:15; Romeine 5:8.

Jy kan verder gaan. Is God ooit gesien? “Niemand het ooit God gesien nie” (Johannes 1:18). Maar duisende het Jesus op die aarde gesien. Het God ooit tot enigiemand gebid? Tot wie kon hy bid? Hy is die groot “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:3). En Jesus? Hy het dikwels tot sy Vader gebid, en selfs ’n hele nag in gebed deurgebring. Is God ’n priester? Natuurlik nie. Is Jesus? Ons lees: “Let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus.”—Hebreërs 3:1.

Is dit nie baie duidelik dat Jesus nie die Opperwese is nie?

Is die Drie-eenheidsleerstelling skadelik?

Ja. Hierdie wydverspreide leerstelling verdraai die eenvoudige Bybelwaarhede dat Jehovah alleen die Opperwese is, dat Jesus sy Seun is en dat die heilige gees God se werkende krag is. Die leerstelling veroorsaak verwarring deur God in ’n waas van verborgenheid voor te stel wat tot geestelike duisternis lei.

Jy hoef egter nie in daardie duisternis te verkeer nie. Jy kan party feite duidelik in die geheue prent:

Die Drie-eenheidsleerstelling word nie in die Bybel gemeld nie. Dit is ’n “teologiese uitbouing” wat eeue na Jesus se dag ontstaan het, en mense is met ’n marteldood gedreig as hulle dit nie wou glo nie. Dit het die aanbidding van die Opperwese verlaag deur geloof in ’n verborgenheid te verkondig.

Wat moet jy nou doen as jy nog altyd aan die Drie-eenheid geglo het? Ons spoor jou aan om God se Woord en publikasies soos hierdie tydskrif te bestudeer wat jou sal help om die Bybel te verstaan. Dit is noodsaaklik om dit te doen. Jesus het gesê dat die ewige lewe daarvan afhang dat jy kennis van hom en van Jehovah—“die enige waaragtige God”—inneem.—Johannes 17:3.

[Venster/Prent op bladsy 5]

Die vinger van God

“Dit is die vinger van God!’ het die towenaars van Egipte erken toe hulle nie soos Moses stof in muskiete kon verander nie (Exodus 8:18, 19). Op die berg Sinai het Jehovah vir Moses “tafels van klip, beskrywe met die vinger van God” gegee (Exodus 31:18). Was dit ’n letterlike vinger? Nee. Dit is vanselfsprekend dat Jehovah nie letterlike vingers het nie. Wat was dit dan? Bybelskrywers Lukas en Mattheüs bied ons die sleutel. Een het neergeskryf dat Jesus duiwels “deur die vinger van God” uitgedryf het. Die ander het verduidelik dat Jesus dit “deur die Gees van God” gedoen het (Lukas 11:20; Mattheüs 12:28). Die heilige gees is dus “die vinger van God”, sy instrument om sy wil te volbring. Dit is nie ’n persoon nie, maar God se dinamiese werkende krag.

[Prente op bladsy 7]

Die heilige gees het as ’n duif en as tonge van vuur verskyn—nooit as ’n persoon nie

[Foto-erkenning op bladsy 4]

Voorstelling van die Drie-eenheid in die 14de-eeuse Katolieke Kerk in Tagnon, Frankryk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel