Hoofstuk 3
Christengetuies van Jehovah in die eerste eeu
“JULLE sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Met daardie afskeidswoorde het Jesus sy dissipels die opdrag gegee om getuies te wees. Maar getuies van wie? “My getuies”, het Jesus gesê. Beteken hierdie woorde dat hulle nie getuies van Jehovah sou wees nie? Glad nie!
Trouens, Jesus se dissipels het ’n ongeëwenaarde voorreg gekry—om getuies van beide Jehovah en Jesus te wees. As getroue Jode was Jesus se vroeë dissipels reeds getuies van Jehovah (Jes. 43:10-12). Maar nou moes hulle ook getuig van Jesus se sleutelrol om Jehovah se naam deur middel van Sy Messiaanse Koninkryk te heilig. Deur só van Jesus te getuig, het hulle Jehovah verheerlik (Rom. 16:25-27; Filip. 2:9-11). Hulle het getuig dat Jehovah nie ’n leuen vertel het nie, dat hy ná meer as 4 000 jaar eindelik die lank beloofde Messias, of Christus, verwek het!
Christengetuies van Jehovah in die eerste eeu het ook ’n unieke verantwoordelikheid gekry—’n verantwoordelikheid wat ware Christene vandag nog het.
“Gaan . . . maak dissipels”
Ná Jesus se opstanding het hy aan sy dissipels verskyn wat by ’n berg in Galilea bymekaargekom het. Daar het Jesus vir hulle gesê wat hulle verantwoordelikheid is: ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge’ (Matt. 28:19, 20). Kyk wat hierdie belangrike opdrag behels het.
“Gaan”, het Jesus gesê. Maar na wie toe? Na “al die nasies”. Dit was ’n nuwe gebod, wat veral vir Joodse gelowiges ’n uitdaging was. (Vergelyk Handelinge 10:9-16, 28.) Voor Jesus se dag is nie-Jode verwelkom wanneer hulle na Israel gekom het omdat hulle in ware aanbidding belanggestel het (1 Kon. 8:41-43). Vroeër in sy bediening het Jesus vir die apostels gesê om te “gaan preek”, maar net vir “die verlore skape van die huis van Israel” (Matt. 10:1, 6, 7). Nou is hulle beveel om na mense van alle nasies te gaan. Wat was die doel hiervan?
“Maak dissipels”, het Jesus beveel. Ja, sy dissipels het die opdrag gekry om dissipels van ander te maak. Wat behels dit? ’n Dissipel is ’n student, iemand wat onderrig word—nie net ’n leerling nie, maar ’n aanhanger. ’n Dissipel aanvaar Jesus se gesag nie net innerlik deur in hom te glo nie, maar ook uiterlik deur hom te gehoorsaam. Volgens die Theological Dictionary of the New Testament beteken die Griekse woord wat as “dissipel” (ma·the·tesʹ) vertaal word “dat daar ’n persoonlike gehegtheid bestaan waardeur die persoon wat as [’n dissipel] beskryf word se hele lewe gevorm word”.
“Leer hulle”, het Jesus bygevoeg, “om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Om persoonlike gehegtheid aan Jesus te ontwikkel, moet ’n individu geleer word om “alles te onderhou” wat Christus beveel het, waaronder sy opdrag om die “evangelie van die koninkryk” te verkondig (Matt. 24:14). Dit is die enigste manier waarop hy in die ware sin van die woord ’n dissipel kan word. En net diegene wat die onderrigting aanneem en ware dissipels word, word gedoop.
“Ek is met julle”, het Jesus hulle verseker, ‘al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge’. Jesus se onderrigting is altyd relevant, nooit verouderd nie. Op grond daarvan is Christene vandag nog onder verpligting om dissipels van ander te maak.
Christus se dissipels het dus ’n verantwoordelike opdrag gehad, naamlik om ’n dissipelmaakwerk onder alle nasies te doen. Om dissipels van Christus te maak, moes hulle egter van Jehovah se naam en Koninkryk getuig, want dit is wat hulle Voorbeeld, Jesus, gedoen het (Luk. 4:43; Joh. 17:26). Diegene wat Christus se onderrigting aangeneem en dissipels geword het, het dus Christengetuies van Jehovah geword. Om ’n getuie van Jehovah te word, was nie meer ’n kwessie van geboorte nie—as lid van die Joodse nasie—maar van keuse. Diegene wat getuies geword het, het dit gedoen omdat hulle Jehovah liefgehad het en hulle opreg aan sy soewereine heerskappy wou onderwerp.—1 Joh. 5:3.
Maar het die Christengetuies van Jehovah in die eerste eeu hulle opdrag nagekom om as getuies van God en Christus te dien en om ‘dissipels van al die nasies te maak’?
“Tot aan die uiterste van die aarde”
Kort nadat Jesus sy dissipels hulle opdrag gegee het, het hy na die hemelse howe van sy Vader teruggekeer (Hand. 1:9-11). Tien dae later, op Pinkster 33 G.J., het die uitgebreide dissipelmaakwerk begin. Jesus het die beloofde heilige gees op sy wagtende dissipels uitgestort. (Hand. 2:1-4; vergelyk Lukas 24:49 en Handelinge 1:4, 5.) Hierdie uitstorting van die heilige gees het hulle met ywer vervul om oor die verrese Christus en sy toekomstige terugkeer in Koninkryksmag te preek.
Getrou aan Jesus se instruksies het daardie eerste-eeuse dissipels reg daar in Jerusalem van God en Christus begin getuig (Hand. 1:8). Die apostel Petrus het die leiding geneem en by die Pinksterfees “’n grondige getuienis afgelê” voor duisende Joodse feesvierders uit talle nasies (Hand. 2:5-11, 40, vgl. NW). Nie lank daarna nie was net die aantal gelowige mans ongeveer 5 000 (Hand. 4:4; 6:7). Later het Filippus aan die Samaritane “die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus” verkondig.—Hand. 8:12.
Maar daar was nog baie werk wat gedoen moes word. Vanaf 36 G.J., met die bekering van Cornelius, ’n onbesnede nie-Jood, is die goeie nuus onder nie-Joodse mense van alle nasies begin verkondig (Hand., hfst. 10). Trouens, dit het so vinnig versprei dat die apostel Paulus teen omstreeks 60 G.J. kon sê dat die goeie nuus “in die ganse mensdom onder die hemel” verkondig is (Kol. 1:23). Ja, teen die einde van die eerste eeu het Jesus se getroue volgelinge in alle dele van die Romeinse Ryk—in Asië, Europa en Afrika—dissipels gemaak!
Aangesien die Christengetuies van Jehovah in die eerste eeu soveel in so ’n kort tydjie verrig het, ontstaan die vraag: Was hulle georganiseerd? Indien wel, hoe?
Organisasie van die Christengemeente
Sedert die tyd van Moses was die Joodse nasie in ’n unieke posisie—hulle was die gemeente van God. God het daardie gemeente baie goed onder oudstes, hoofde, regters en opsigters georganiseer (Jos. 23:1, 2). Maar die Joodse nasie het sy bevoorregte posisie verloor omdat hy Jehovah se Seun verwerp het (Matt. 21:42, 43; 23:37, 38; Hand. 4:24-28). Op Pinkster 33 G.J. het God se Christengemeente die gemeente van Israel vervang.a Hoe is hierdie Christengemeente georganiseer?
Reeds op Pinksterdag het die dissipels “volhard in die leer van die apostels”, wat daarop dui dat hulle met ’n eenheid begin het wat op lering gegrond was. Van daardie eerste dag af het hulle “eendragtig” bymekaargekom (Hand. 2:42, 46). Terwyl die dissipelmaakwerk uitgebrei het, is gemeentes van gelowiges, eers in Jerusalem en toe buite Jerusalem, gestig (Hand. 8:1; 9:31; 11:19-21; 14:21-23). Dit was hulle gewoonte om in openbare plekke sowel as in privaat wonings bymekaar te kom.—Hand. 19:8, 9; Rom. 16:3, 5; Kol. 4:15.
Wat het verhoed dat die groeiende Christengemeente ’n los gemeenskap van onafhanklike plaaslike gemeentes geword het? Hulle was onder een Leier verenig. Van die begin af was Jesus Christus die aangestelde Here en Hoof van die gemeente, en al die gemeentes het hom as sodanig erken (Hand. 2:34-36; Ef. 1:22). Vanuit die hemele het Christus die sake van sy gemeente op aarde aktief gerig. Hoe? Deur middel van heilige gees en engele, wat Jehovah tot sy beskikking gestel het.—Hand. 2:33; vergelyk Handelinge 5:19, 20; 8:26; 1 Petrus 3:22.
Christus het iets anders tot sy beskikking gehad om die eenheid van die Christengemeente te handhaaf—’n sigbare bestuursliggaam. Die bestuursliggaam het aanvanklik uit Jesus se getroue apostels bestaan. Later het dit ander ouere manne van die gemeente in Jerusalem ingesluit, asook die apostel Paulus, hoewel hy nie in Jerusalem gewoon het nie. Elke gemeente het die gesag van hierdie sentrale liggaam van ouere manne erken en hulle tot hierdie liggaam gewend vir leiding wanneer organisatoriese of leerstellige geskille opgeduik het (Hand. 2:42; 6:1-6; 8:14-17; 11:22; 15:1-31). Met watter gevolg? “En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.”—Hand. 16:4, 5.
Die bestuursliggaam het onder leiding van heilige gees toesig gehou oor die aanstelling van opsieners en assistente, bedieningsknegte, om na elke gemeente om te sien. Hulle was manne wat voldoen het aan geestelike vereistes wat in al die gemeentes gegeld het, en nie net standaarde was wat plaaslik ingestel is nie (1 Tim. 3:1-13; Tit. 1:5-9; 1 Pet. 5:1-3). Opsieners is aangespoor om die Skrif te volg en hulle aan die leiding van die heilige gees te onderwerp (Hand. 20:28; Tit. 1:9). Almal in die gemeente is aangemoedig om ‘gehoorsaam te wees aan hulle wat die leiding neem’ (Hebr. 13:17, NW). Op hierdie manier is eenheid nie net in elke gemeente nie, maar in die Christengemeente as geheel behou.
Al het sommige manne verantwoordelike posisies gehad, was daar geen onderskeid tussen geestelikes en leke onder die eerste-eeuse Christengetuies van Jehovah nie. Hulle was almal broers; daar was net een Leier, die Christus.—Matt. 23:8, 10.
Geïdentifiseer deur heilige gedrag en liefde
Die getuienis van die eerste-eeuse getuies van Jehovah was nie beperk tot “die vrug van die lippe” nie (Hebr. 13:15). ’n Christengetuie se hele lewe is deur dissipelskap gevorm. Daarom het daardie Christene nie net hulle geloof verkondig nie, maar het hulle geloof hulle lewe verander. Hulle het die ou persoonlikheid met sy sondige gebruike afgelê en daarna gestreef om hulle te beklee met die nuwe persoonlikheid wat na God se wil geskep is (Kol. 3:5-10). Hulle was waarheidliewend en eerlik asook hardwerkend en betroubaar (Ef. 4:25, 28). Hulle was sedelik rein—geslagsonsedelikheid was streng verbode. Dit was ook die geval met dronkenskap en afgodediens (Gal. 5:19-21). Die Christelike godsdiens het dan tereg bekend geword as “die Weg”, ’n weg of leefwyse wat gedraai het om geloof in Jesus en die noukeurige navolging van sy voetstappe ten doel gehad het.—Hand. 9:1, 2;1 Pet. 2:21, 22.
Een eienskap is egter bo alle ander verhewe—liefde. Die vroeë Christene het liefdevolle besorgdheid geopenbaar oor die behoeftes van medegelowiges (Rom. 15:26; Gal. 2:10). Hulle het mekaar nie soos hulleself liefgehad nie, maar meer as hulleself. (Vergelyk Filippense 2:25-30.) Hulle was bereid om selfs vir mekaar te sterf. Maar dit was nie verbasend nie. Was Jesus nie bereid om vir hulle te sterf nie? (Joh. 15:13; vergelyk Lukas 6:40.) Hy kon vir sy dissipels sê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Christus het sy volgelinge beveel om sulke selfopofferende liefde te toon; en sy eerste-eeuse dissipels het hierdie bevel nougeset onderhou.—Matt. 28:19, 20.
“Nie van die wêreld . . . nie”
As eerste-eeuse Christene hulle verantwoordelikheid wou nakom om dissipels te maak en getuies van God en Christus te wees, kon hulle nie toelaat dat wêreldse aangeleenthede hulle aandag aftrek nie; hulle moes hulle opdrag duidelik voor oë hou. Jesus het dit beslis gedoen. Hy het vir Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh. 18:36). En hy het onomwonde vir sy dissipels gesê: “Julle [is] nie van die wêreld . . . nie” (Joh. 15:19). Die vroeë Christene het gevolglik, soos Jesus, afgeskeie van die wêreld gebly; hulle het nie by politieke aangeleenthede of oorloë betrokke geraak nie. (Vergelyk Johannes 6:15.) Hulle het ook nie in die weë van die wêreld—sy vurige najaging van materiële dinge en sy beheptheid met plesier—verstrik geraak nie.—Luk. 12:29-31; Rom. 12:2; 1 Pet. 4:3, 4.
Omdat die eerste-eeuse Christengetuies afgeskeie van die wêreld gebly het, was hulle ’n unieke volk. Geskiedskrywer E. G. Hardy sê in sy boek Christianity and the Roman Government: “Die Christene was vreemdelinge en pelgrims in die wêreld om hulle; hulle burgerskap was in die hemel; die koninkryk waarop hulle vertrou het, was nie van hierdie wêreld nie. Die gevolglike gebrek aan belangstelling in openbare sake was dus van die begin af ’n opmerklike kenmerk van die Christelike godsdiens.”
Vervolg ter wille van geregtigheid
“’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie”, het Jesus gewaarsku. “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Joh. 15:20). Voor sy dood aan die folterpaal is Jesus kwaai vervolg (Matt. 26:67; 27:26-31, 38-44). En soos hy gewaarsku het, het sy dissipels spoedig soortgelyke behandeling ervaar (Matt. 10:22, 23). Maar waarom?
Dit was nie lank voordat die vroeë Christene deur ander opgemerk is nie. Hulle was mense met hoë beginsels ten opsigte van sedelikheid en onkreukbaarheid. Hulle het met vrymoedigheid en ywer ’n dissipelmaakwerk gedoen; as gevolg hiervan het letterlik duisende mense valse godsdiensstelsels verlaat en Christene geword. Hierdie Christene het geweier om by wêreldse aangeleenthede betrokke te raak. Hulle het nie die keiser aanbid nie. Dit is dus nie verbasend nie dat hulle kort voor lank die teiken geword het van geweldige vervolging wat aangestig is deur leiers van valse godsdiens en politieke heersers wat verkeerd ingelig was (Hand. 12:1-5; 13:45, 50; 14:1-7; 16:19-24). Maar hierdie vervolgers was net die menslike agente van die ware vervolger—“die ou slang”, Satan. (Openb. 12:9; vergelyk Openbaring 12:12, 17.) Sy doel? Om die Christelike godsdiens en die Christene se vrymoedige getuieniswerk te onderdruk.
Maar ongeag hoe kwaai hulle vervolg is, die eerste-eeuse Christengetuies van Jehovah kon nie stilgemaak word nie! Hulle het hulle opdrag om te preek deur Christus van God ontvang, en hulle was vasbeslote om aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense (Hand. 4:19, 20, 29; 5:27-32). Hulle het op Jehovah se krag staatgemaak, vol vertroue dat hy sy lojale getuies vir hulle volharding sal beloon.—Matt. 5:10; Rom. 8:35-39; 15:5, NW.
Die geskiedenis bevestig dat owerhede van die Romeinse Ryk nie daarin geslaag het om die vroeë Christengetuies van Jehovah deur vervolging uit te wis nie. Josephus, ’n Joodse geskiedskrywer van die eerste eeu G.J., sê: “En die geslag van die Christene, wat só genoem is na [Jesus], het tot vandag toe [omstreeks 93 G.J.] nie verdwyn nie.”—Jewish Antiquities, XVIII, 64 (iii, 3).
Die verslag oor die getuienis van Jehovah se Christengetuies in die eerste eeu openbaar dus talle duidelik waarneembare kenmerke: Hulle het hulle opdrag om aangaande God en Christus te getuig en om ’n dissipelmaakwerk te doen met vrymoedigheid en ywer nagekom; hulle het ’n organisatoriese struktuur gehad waarin almal broers was, met geen onderskeid tussen geestelikes en leke nie; hulle het hoë sedelike beginsels gehad en het mekaar liefgehad; hulle het afgeskeie van wêreldse weë en aangeleenthede gebly; en hulle is ter wille van geregtigheid vervolg.
Maar teen die einde van die eerste eeu is die een verenigde Christengemeente deur ’n ernstige en subtiele gevaar bedreig.
[Voetnoot]
a In die Christelike Griekse Geskrifte word “gemeente” soms in gemeenskaplike sin gebruik en het dit betrekking op die Christengemeente in die algemeen (1 Kor. 12:28); dit kan ook betrekking hê op ’n plaaslike groep in ’n stad of in iemand se huis.—Hand. 8:1; Rom. 16:5.
[Lokteks op bladsy 26]
Nuwe dissipels moes nie net passiewe gelowiges nie, maar gehoorsame volgelinge wees
[Lokteks op bladsy 27]
Om ’n getuie van Jehovah te word, was nie meer ’n kwessie van geboorte nie, maar van keuse
[Lokteks op bladsy 28]
Teen die einde van die eerste eeu het die Christengetuies van Jehovah reeds dissipels in Asië, Europa en Afrika gemaak!
[Lokteks op bladsy 29]
Daar was geen onderskeid tussen geestelikes en leke onder die eerste-eeuse Christene nie
[Venster op bladsy 27]
Die Christelike godsdiens word deur ywerige predikingswerk versprei
Die vroeë Christengetuies van Jehovah is deur ’n onblusbare ywer aangevuur en het hulle kragtig ingespan om die goeie nuus na soveel plekke moontlik te versprei. Edward Gibbon sê in “The Decline and Fall of the Roman Empire” dat die “ywer van die Christene . . . hulle deur elke provinsie en byna elke stad van die [Romeinse] Ryk laat versprei het”. In “History of the Middle Ages” sê professor J. W. Thompson: “Die Christelike godsdiens het merkwaardig vinnig deur die Romeinse wêreld versprei. Teen die jaar 100 was daar waarskynlik ’n Christengemeenskap in elke provinsie wat aan die Middellandse See gegrens het.”
[Venster op bladsy 30]
‘Die oorwinnings van die Christelike godsdiens’
Nie-Bybelse bronne bevestig die goeie gedrag en liefde wat kenmerkend van die vroeë Christene was. Geskiedskrywer John Lord het gesê: “Die ware oorwinnings van die Christelike godsdiens was die vermoë daarvan om goeie mense te maak van diegene wat die leerstellings daarvan bely het. . . . Ons het getuienis van hulle smettelose lewens, van hulle onberispelike sedes, van hulle goeie burgerskap en van hulle Christelike beleefdheid.”—“The Old Roman World.”
[Prent op bladsy 31]
’n Sentrale bestuursliggaam het gehelp om die gemeentes leiding te gee, maar hulle almal het Christus as hulle enkele Leier beskou
[Prent op bladsy 32]
Vroeë Christene was die teiken van geweldige vervolging