Let voortdurend op jou onderrigting
“Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.”—1 TIMOTEUS 4:16.
1, 2. Waarom is daar vandag ’n dringende behoefte aan ywerige onderrigters?
GAAN . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). In die lig van hierdie bevel van Jesus Christus moet alle Christene probeer om onderrigters te word. Daar is ’n behoefte aan ywerige onderrigters om opregtes van hart te help om tot ’n kennis van God te kom voordat dit te laat is (Romeine 13:11). Die apostel Paulus het ons aangespoor: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in gunstige tye, in moeilike tye” (2 Timoteus 4:2). Dit vereis dat ons binne sowel as buite die gemeente moet onderrig. Trouens, die opdrag om die predikingswerk te doen, behels meer as om net God se boodskap te verkondig. Doeltreffende onderrigting is nodig sodat belangstellendes dissipels kan word.
2 Ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Mense is deur wêreldse filosofieë en valse leringe gebreinspoel. Baie is “verstandelik in duisternis” en het “alle sedelikheidsgevoel verloor” (Efesiërs 4:18, 19). Sommige het pynlike emosionele wonde. Ja, mense is werklik “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Ons kan nietemin met behulp van die onderrigkuns opregtes van hart help om nodige veranderinge aan te bring.
Onderrigters in die gemeente
3. (a) Wat sluit Jesus se opdrag om te onderrig in? (b) Wie is hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik om in die gemeente te onderrig?
3 Miljoene ontvang persoonlike onderrigting deur middel van die tuisbybelstudiereëling. Ná hulle doop het nuwelinge egter verdere hulp nodig om ‘op die fondament gewortel en gegrond’ te word (Efesiërs 3:17). Terwyl ons Jesus se opdrag in Matteus 28:19, 20 uitvoer en nuwelinge na Jehovah se organisasie rig, vind hulle by onderrigting in die gemeente self baat. Volgens Efesiërs 4:11-13 is manne aangestel om te dien “as herders en leermeesters, om die heiliges reg te help, vir bedieningswerk, vir die opbouing van die liggaam van die Christus”. Soms vereis hulle onderrigkuns dat hulle moet ‘teregwys, berispe, vermaan, met alle lankmoedigheid’ (2 Timoteus 4:2). Die werk van leermeesters, oftewel onderrigters, was so belangrik dat Paulus, toe hy aan die Korintiërs geskryf het, leermeesters onmiddellik na apostels en profete meld.—1 Korintiërs 12:28.
4. Hoe help die vermoë om te onderrig ons om Paulus se vermaning in Hebreërs 10:24, 25 te gehoorsaam?
4 Nie alle Christene dien weliswaar as ouer manne, of opsieners, nie. Maar almal word wel aangemoedig om mekaar “tot liefde en voortreflike werke” aan te spoor (Hebreërs 10:24, 25). As ons dit by vergaderinge wil doen, moet ons goed voorbereide, opregte kommentare gee wat ander kan onderrig en aanmoedig. Ervare Koninkryksverkondigers kan ander ook ‘tot voortreflike werke aanspoor’ deur hulle kennis en ondervinding met nuwelinge te deel wanneer hulle saam in die veldbediening werk. By sulke en ander informele geleenthede kan waardevolle onderrigting gegee word. Geestelik volwasse vroue word byvoorbeeld aangespoor om ‘leraresse te wees van wat goed is’.—Titus 2:3.
Oortuig om te glo
5, 6. (a) Hoe vorm die ware Christelike godsdiens ’n teenstelling met valse aanbidding? (b) Hoe help ouer manne nuwelinge om wyse besluite te neem?
5 Die ware Christelike godsdiens vorm dus ’n skerp teenstelling met valse godsdienste, waarvan baie die denke van hulle lede wil beheer. Toe Jesus op aarde was, het die godsdiensleiers feitlik elke aspek van mense se lewens deur onderdrukkende mensgemaakte tradisies probeer beheer (Lukas 11:46). Die geestelikes van die Christendom het dikwels dieselfde gedoen.
6 Ware aanbidding is egter “heilige diens” wat ons met ons “denkvermoë” verrig (Romeine 12:1). Jehovah se knegte word ‘oortuig om te glo’ (2 Timoteus 3:14). Soms moet diegene wat die leiding neem riglyne en prosedures instel sodat alles in die gemeente vlot kan verloop. Ouer manne probeer egter nie besluite vir mede-Christene neem nie, maar leer hulle “om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Ouer manne doen dit hoofsaaklik deur die gemeente “met die woorde van die geloof en van die voortreflike leer” te voed.—1 Timoteus 4:6.
Let op jou onderrigting
7, 8. (a) Wat stel mense met gemiddelde vermoëns in staat om as onderrigters te dien? (b) Wat toon dat persoonlike inspanning nodig is om ’n bekwame onderrigter te word?
7 Maar kom ons hervat ons bespreking oor ons algemene opdrag om te onderrig. Vereis dit enige spesiale vaardighede, opvoeding of vermoëns om hierdie werk te doen? Nie noodwendig nie. Hierdie wêreldwye onderrigtingswerk word hoofsaaklik deur doodgewone mense met gemiddelde vermoëns gedoen (1 Korintiërs 1:26-29). Paulus verduidelik: “Ons het . . . hierdie skat [die bediening] in erdehouers [onvolmaakte liggame], sodat die krag wat bo die normale is God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie” (2 Korintiërs 4:7). Die besonderse sukses van die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk is ’n bewys van die krag van Jehovah se gees!
8 Dit verg nogtans doelbewuste persoonlike inspanning om “’n werker [te word] wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Paulus het Timoteus aangespoor: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Presies hoe let ’n mens op jou onderrigting, hetsy binne of buite die gemeente? Beteken dit noodwendig dat ’n mens sekere vaardighede of onderrigmetodes moet bemeester?
9. Wat is belangriker as natuurlike vermoëns?
9 Jesus het beslis buitengewone begrip van onderrigmetodes in sy beroemde Bergpredikasie geopenbaar. Toe hy klaar gepraat het, was “die skare verstom . . . oor sy manier van leer” (Matteus 7:28). Nie een van ons kan natuurlik so goed soos Jesus onderrig nie. Maar ons hoef nie welsprekend te wees om bekwame onderrigters te wees nie. Trouens, volgens Job 12:7 kan selfs die “diere” en die “voëls” stilswyend onderrig! Tesame met enige natuurlike vermoëns of vaardighede wat ons dalk het, is die “soort mense” wat ons is veral van belang—watter eienskappe ons het en watter geestelike gewoontes ons aangekweek het wat studente kan navolg.—2 Petrus 3:11; Lukas 6:40.
Studente van God se Woord
10. Hoe het Jesus ’n voortreflike voorbeeld gestel as ’n student van God se Woord?
10 ’n Doeltreffende onderrigter van skriftuurlike waarhede moet ’n student van God se Woord wees (Romeine 2:21). Jesus Christus het ’n uitsonderlike voorbeeld in hierdie verband gestel. Gedurende sy bediening het Jesus verwysings gemaak na tekste in ongeveer die helfte van die boeke van die Hebreeuse Geskrifte of dinge gesê wat daarmee ooreengekom het.a Dit was reeds op 12-jarige ouderdom duidelik dat hy God se Woord goed geken het, toe hy gevind is “waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het” (Lukas 2:46). As volwassene was dit Jesus se gewoonte om na die sinagoge te gaan, waar God se Woord gelees is.—Lukas 4:16.
11. Watter goeie studiegewoontes moet ’n onderrigter aankweek?
11 Is jy ’n ywerige leser van God se Woord? As ons ons daarin verdiep “sal [ons] die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind” (Spreuke 2:4, 5). Kweek dus goeie studiegewoontes aan. Probeer om elke dag ’n deel van God se Woord te lees (Psalm 1:2). Maak ’n gewoonte daarvan om elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak! te lees sodra jy dit ontvang. Skenk noukeurig aandag tydens gemeentelike vergaderinge. Leer om deeglike navorsing te doen. As jy leer om ‘alles noukeurig na te speur’, kan jy oordrywings en onjuisthede vermy wanneer jy onderrig.—Lukas 1:3.
Liefde en respek vir diegene wat onderrig word
12. Wat was Jesus se gesindheid teenoor sy dissipels?
12 Nog ’n belangrike eienskap is die regte gesindheid teenoor diegene wat jy onderrig. Die Fariseërs het die mense verag wat na Jesus geluister het. “Hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense”, het hulle gesê (Johannes 7:49). Maar Jesus het diepe liefde en respek vir sy dissipels gehad. Hy het gesê: “Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ’n slaaf nie weet wat sy heer doen nie. Maar ek het julle vriende genoem, omdat ek alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15). Dit toon hoe Jesus se dissipels hulle onderrigtingswerk moet doen.
13. Hoe het Paulus oor diegene gevoel wat hy onderrig het?
13 Paulus het byvoorbeeld nie ’n kil, onpersoonlike verhouding met sy studente gehad nie. Hy het vir die Korintiërs gesê: “Al het julle ook tienduisend tugmeesters in Christus, het julle beslis nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur middel van die goeie nuus” (1 Korintiërs 4:15). Soms het Paulus selfs trane gestort terwyl hy diegene vermaan het wat hy onderrig het! (Handelinge 20:31). Hy het ook besonderse geduld en goedhartigheid aan die dag gelê. Hy kon derhalwe vir die Tessalonisense sê: “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester.”—1 Tessalonisense 2:7.
14. Waarom is dit so belangrik om persoonlike belangstelling in ons Bybelstudente te toon? Lig toe.
14 Volg jy Jesus en Paulus na? Opregte liefde vir ons studente kan meer as vergoed vir enige gebrek aan natuurlike vermoëns aan ons kant. Kan ons Bybelstudente aanvoel dat ons ’n opregte, persoonlike belangstelling in hulle het? Neem ons die nodige tyd om hulle te leer ken? Toe een Christenvrou dit moeilik gevind het om ’n student te help om geestelike vordering te maak, het sy vriendelik gevra: “Is daar iets wat jou kwel?” Die vrou het haar hart begin uitstort en die suster van haar talle sorge en probleme vertel. Daardie liefdevolle gesprek was die keerpunt vir die vrou. In sulke gevalle is skriftuurlike gedagtes en woorde van vertroosting en bemoediging gepas (Romeine 15:4). ’n Woordjie van waarskuwing is egter gepas: ’n Bybelstudent maak dalk vinnig vordering, maar hy het miskien nog onchristelike gewoontes wat hy moet afleer. Dit sal moontlik nie verstandig wees om te veel op ’n sosiale vlak met die persoon te verkeer nie. Behoorlike Christelike perke moet gehandhaaf word.—1 Korintiërs 15:33.
15. Hoe kan ons respek vir ons Bybelstudente toon?
15 Respek vir ons studente sluit in dat ons nie hulle persoonlike lewe probeer beheer nie (1 Tessalonisense 4:11). Miskien studeer ons byvoorbeeld met ’n vrou wat saam met ’n man lewe met wie sy nie getroud is nie. Dalk het hulle kinders. Aangesien die vrou juiste kennis van God opgedoen het, wil sy sake met Jehovah regstel (Hebreërs 13:4). Moet sy met die man trou of hom verlaat? Ons voel dalk baie sterk daaroor dat haar toekomstige vooruitgang belemmer sal word as sy met ’n man trou wat min of geen geestelike belangstelling het nie. Aan die ander kant is ons dalk besorg oor die welsyn van haar kinders en dink ons dat dit beter sal wees as sy met hom trou. Hoe dit ook al sy, dit toon ’n gebrek aan respek en is liefdeloos om in ’n student se lewe in te meng en ons eie opinies oor sulke sake op die persoon af te dwing. Sy is per slot van rekening die een wat met die gevolge van die besluit moet saamleef. Sal dit dan nie beter wees om so ’n student op te lei om haar eie “waarnemingsvermoëns” te gebruik en self te besluit wat sy moet doen nie?—Hebreërs 5:14.
16. Hoe kan ouer manne liefde en respek vir God se kudde toon?
16 Dit is veral belangrik dat gemeentelike ouer manne die kudde met liefde en respek behandel. Toe Paulus aan Filemon geskryf het, het hy gesê: “Al het ek groot vrymoedigheid van spraak in verband met Christus om jou te beveel om te doen wat gepas is, vermaan ek jou eerder op grond van liefde” (Filemon 8, 9). Soms kan frustrerende situasies in die gemeente ontstaan. Ferm optrede is miskien selfs nodig. Paulus het Titus aangespoor ‘om aan te hou om oortreders met strengheid tereg te wys, sodat hulle gesond in die geloof kan wees’ (Titus 1:13). Opsieners moet nogtans versigtig wees om nie op onvriendelike wyse met die gemeente te praat nie. “’n Slaaf van die Here hoef nie te baklei nie”, het Paulus geskryf, “maar moet teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou.”—2 Timoteus 2:24; Psalm 141:3.
17. Watter fout het Moses gemaak, en wat kan ouer manne daaruit leer?
17 Opsieners moet hulleself gedurig daaraan herinner dat hulle met “die kudde van God” werk (1 Petrus 5:2). Al was Moses ’n nederige man het hy vir ’n oomblik hiervan vergeet. Die Israeliete “was wederstrewig teen sy Gees, sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe” (Psalm 106:33). God was baie ontevrede met hierdie slegte behandeling van Sy kudde, al was hulle allesbehalwe onskuldig (Numeri 20:2-12). Wanneer ouer manne vandag met soortgelyke probleme te kampe het, moet hulle daarna streef om met insig en goedhartigheid te onderrig en leiding te gee. Die beste resultate word verkry wanneer ons ons broers met bedagsaamheid en as individue behandel wat hulp nodig het, nie as mense wat nie gehelp kan word nie. Ouer manne moet dieselfde positiewe beskouing hê as Paulus toe hy gesê het: “Ons het vertroue in die Here aangaande julle dat julle die dinge wat ons beveel, doen en sal aanhou doen.”—2 Tessalonisense 3:4.
Ingestel op hulle behoeftes
18, 19. (a) Hoe moet ons reageer op die behoeftes van Bybelstudente met beperkte vermoëns? (b) Hoe kan ons studente help vir wie spesifieke onderwerpe ’n probleem skep?
18 ’n Bekwame onderrigter is bereid om by die vermoëns en beperkings van sy studente aan te pas. (Vergelyk Johannes 16:12.) In Jesus se illustrasie van die talente, het die heer voorregte “vir elkeen volgens sy eie vermoë” gegee (Matteus 25:15). Ons kan dieselfde doen wanneer ons Bybelstudies hou. Ons wil natuurlik ’n Bybelpublikasie in ’n redelike kort tyd voltooi. Daar moet egter erken word dat nie almal goed kan lees of nuwe idees vinnig kan verwerk nie. Onderskeidingsvermoë is dus nodig om te bepaal wanneer ons na ’n volgende punt in die studie moet oorgaan as opregte mense dit moeilik vind om ’n vinnige pas vol te hou. Dit is belangriker om studente te help om die sin te begryp van wat hulle leer as om stof teen ’n sekere pas te dek.—Matteus 13:51.
19 Dieselfde geld vir Bybelstudente vir wie spesifieke onderwerpe, soos die Drie-eenheid of godsdienstige vakansiedae, ’n probleem skep. Hoewel dit oor die algemeen onnodig is om Bybelse navorsingsmateriaal by ons studies in te sluit, kan ons dit van tyd tot tyd doen as dit duidelik is dat dit die student sal help. Goeie oordeel moet gebruik word om te voorkom dat ’n student se vooruitgang onnodig vertraag word.
Wees entoesiasties!
20. Hoe het Paulus ’n voorbeeld van entoesiasme en oortuiging in sy onderrigting gestel?
20 “Gloei van die gees”, sê Paulus (Romeine 12:11). Ja, hetsy ons ’n tuisbybelstudie hou of ’n deel by ’n gemeentelike vergadering behartig, ons moet dit ywerig en entoesiasties doen. Paulus het vir die Tessalonisense gesê: “Die goeie nuus wat ons verkondig, [het] nie met woorde alleen tot julle gekom . . . nie, maar ook met krag en met heilige gees en sterk oortuiging” (1 Tessalonisense 1:5). Paulus en sy metgeselle het dus ‘nie net die goeie nuus van God aan hulle meegedeel nie, maar ook hulle eie siele’.—1 Tessalonisense 2:8.
21. Hoe kan ons entoesiasties bly wat ons onderrigtoewysings betref?
21 Ware entoesiasme spruit voort uit ’n vaste oortuiging dat ons Bybelstudente moet hoor wat ons te sê het. Laat ons nooit enige onderrigtoewysing as iets alledaags beskou nie. Esra, die skrifgeleerde, het beslis in hierdie verband op sy onderrigting gelet. Hy ‘het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag en om Israel te leer’ (Esra 7:10). Ons moet dieselfde doen deur goed voor te berei en oor die belangrikheid van die materiaal na te dink. Laat ons tot Jehovah bid om ons geloof en oortuiging te gee (Lukas 17:5). Ons entoesiasme kan Bybelstudente help om ware liefde vir die waarheid aan te kweek. Om op ons onderrigting te let, kan natuurlik ook die gebruik van spesifieke onderrigmetodes insluit. Ons volgende artikel sal ’n paar hiervan bespreek.
[Voetnote]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 1071, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Onthou jy?
◻ Waarom is bedrewe Christenonderrigters vandag nodig?
◻ Watter goeie studiegewoontes kan ons aankweek?
◻ Waarom is liefde en respek vir diegene wat ons onderrig so belangrik?
◻ Hoe kan ons in die behoeftes van ons Bybelstudente voorsien?
◻ Waarom is entoesiasme en oortuiging noodsaaklik wanneer ons ander onderrig?
[Prent op bladsy 10]
Goeie onderrigters is self studente van God se Woord
[Prent op bladsy 13]
Toon persoonlike belangstelling in Bybelstudente