Het die gee van Kersgeskenke sin?
DIE meeste geld wat tydens Kersfees bestee word, word bestee omdat daar verwag word dat mense daardie tyd van die jaar vir mekaar geskenke gee. As iemand nie geskenke gee nie, het hy ’n ingewortelde gebruik verbreek. Maar in The New Republic kritiseer ekonoom James S. Henry sulke “gedwonge gee van geskenke” as iets wat die vreugde daarvan ontneem en verkwistend is.
“Die gee van ongepaste geskenke is een aanduiding van hierdie verkwisting”, verduidelik hy. “Volgens afdelingswinkels in New York word ongeveer 15 persent van alle jaarlikse kleinhandelaankope wat tydens Kersfees gedoen is, teruggebring. As daar in aanmerking geneem word dat baie ongepaste geskenke gehou word . . . , kan tot ’n derde van die aankope iets wees wat die ontvangers daarvan nie wou hê nie.”
Het dit werklik sin om die hele jaar lank te spaar om geskenke te koop wat ander nie nodig het of nie wil hê nie? En het dit sin om ander met duur geskenke te probeer beïndruk?
“Een aspek van Kersaankope wat veral skadelik is, is ‘die gee van opsigtelike geskenke’”, sê James S. Henry. “Luuksegeskenke”, sê hy, “is juis vir diegene bedoel wat glad nie ’n geskenk nodig het nie (‘die een wat alles het’). Die meeste van sulke duur geskenke word tydens Kersfees gegee; volgens ’n steekproef deur afdelingswinkels in New York vind meer as die helfte van die jaarlikse diamant-, horlosie- en pelsverkope tydens die vierde kwartaal van die jaar plaas.”
Maar selfs duur geskenke maak die ontvangers dikwels nie gelukkig nie, veral nie wanneer dit gegee word om ’n ongelukkige verhouding te verbloem nie. Volgens die Kanadese dokter Richard Allon “sal jy nie met ’n duur geskenk daarvoor kan vergoed as julle die hele jaar lank nie vriendelik teenoor mekaar kan wees nie. Jy sal nie jou eie skuldgevoel uitwis nie en jy sal die ander een ook moontlik laat skuldig voel.”
Ongelukkig het miljoene mense in ontwikkelende lande nie eers die mees basiese lewensbenodigdhede nie; tog lyk dit asof dié wat in nywerheidslande woon dikwels alles het behalwe waardering vir hulle oorvloed. Kersgeskenke word met ’n gebrek aan belangstelling ontvang—“wat moet ek hiermee doen?”—of met misnoeë—“ek wou dit beslis nie gehad het nie”—of moontlik selfs met woede—“die geskenk wat ek gegee het, het minstens dubbel soveel gekos!” Dit is geen wonder dat ’n Duitse kinderbewaargroep tot die slotsom gekom het dat daar tydens Kersfees te veel en dikwels te onnadenkend gegee word nie.
Kersfees benadruk boonop die onregverdighede in die gemeenskap, wat geweldige druk en ongelukkigheid veroorsaak. Party het nie genoeg geld om geskenke te koop nie, en in die Verenigde State het dit blykbaar meer diefstalle tydens die Kerstyd tot gevolg as tydens enige ander tyd van die jaar. Ekonoom James S. Henry het gesê: “Die polisie vermoed dat al hierdie diefstal plaasvind omdat misdadigers ook graag hulle gesin se Kerskouse wil volmaak.”
Baie sal met die rubriekskrywer Tom Harpur saamstem, wat die volgende in die Sunday Star van Toronto, Kanada, geskryf het: “Ondanks al die gedwonge vrolikheid weet ek dat Kersfees vir miljoene in ons gemeenskap al hoe meer ’n tyd van hewige angs, ontevredenheid, skuldgevoelens en volslae uitputting is.”
‘Maar ter wille van die kinders is dit die moeite werd’, sê iemand dalk. Maar strek Kersgeskenke kinders werklik tot voordeel?
Wat dit aan kinders doen
“Hoewel dit veronderstel is om ’n ‘gelukkige’ tyd van die jaar te wees”, het ’n voorligtingsonderwyseres, Betty Poloway, opgemerk, “is daar talle ongelukkige kinders.” Waarom? Hoe kan die gee van Kersgeskenke nadelig wees vir kinders?
Susan James, ’n ma van drie kindertjies, het vertel: “Ek het toegekyk hoe my kinders hulle geskenke die een na die ander oopskeur. Toe alles verby was, het hulle in die middel van hierdie deurmekaar spul gestaan en nog geskenke gevra! Hulle is nie gierige kinders nie, maar al die geskenke en al die opgewondenheid wat vooraf daarmee gepaardgegaan het, het hulle so oorweldig dat hulle gierig geword het.”
Karen Andersson, hoof van kindersielkunde by ’n hospitaal in Connecticut, VSA, het die probleem beskryf: “Dit is net een te veel om Kersoggend by die trap afgestap te kom en al hierdie geskenke te sien. Die kinders skeur elke liewe geskenk wild oop en kry nie ’n kans om hulle aandag op enige van die geskenke toe te spits nie. Vir die kind wat dalk hiperaktief of impulsief is of wat selfs tydens die kalmste situasie maklik ooropgewonde raak, kan Kersfees vernietigend wees.”
“Geskenke verskaf nie meer dieselfde vreugde as voorheen nie”, het ’n Duitse koerant in ’n artikel oor Kersfees gesê. Een vrou het gekla: “Kinders was altyd tevrede om ’n goeie boek, ’n paar handskoene of iets kleins te ontvang. Maar nou sê my kleinkind vir my: ‘Ouma, hierdie jaar wil ek ’n rekenaar hê!’”
Ja, die gee van Kersgeskenke moedig hebsug en selfsug aan. “’n Mens hoef maar net hierdie tyd van die jaar na enige [speelgoedwinkel] toe te gaan”, het ekonoom James S. Henry daarop gewys, “om die uitwerking te sien wat die geweldige druk van die Kerstyd op die verhouding tussen kinders en ouers het: radelose ma’s sleep klein speelgoedverslaafdes al skoppende en skreeuende van die nuutste duur en opsigtelike aanbiedings af weg.”
Maar daar is selfs ernstiger probleme wat met die gee van Kersgeskenke gepaardgaan.
Kersgeskenke en die waarheid
Vra ’n kindjie waar sy geskenke vandaan gekom het, en wat sal hy heel waarskynlik antwoord? Volgens ’n opname in die New York Times glo 87 persent van die Amerikaanse kinders tussen die ouderdom van drie en tien aan Sinterklaas. Baie ouers moedig hierdie idee aan en vra: “Wat wil jy graag hê moet Sinterklaas hierdie jaar vir jou bring?” Maar wat is die gevolge?
Cynthia Keeler se ondervinding in die Daily News van New York lig dit toe. “Mamma”, het haar sewejarige seuntjie, Britton, gevra, “bestaan Sinterklaas werklik?”
Cynthia was ontwykend, soos baie ouers is wanneer hulle daardie vraag gevra word. “Wat dink jy?” het sy gevra.
Britton het gesê dat sy maatjies vir hom gesê het dat daar nie een is nie, maar dat hy nie seker was nie. Toe het hy begin huil. “Ek móét weet, Mamma”, het hy tussen die trane deur gesê.
“As hy nie gehuil het nie, sou ek hom waarskynlik nie gesê het nie”, het Cynthia gesê. “Maar dit was vir hom ’n saak van lewe of dood. Hy móés net die antwoord weet. Ek het vir hom gesê dat Sinterklaas nie werklik bestaan nie.”
Die Daily News het berig: “Britton Keeler het sy ma al huilende met die beskuldiging gekonfronteer wat alle ouers vrees wanneer die aap eers uit die mou gelaat word en Sinterklaas ontmasker word: ‘Waarom het julle daaroor gejok?’”
Wanneer ouers hulle kinders mislei, is die gevolge dikwels vernietigend, soos Bruce Roscoe, ’n professor in gesinstudies aan die Central Michigan-universiteit, VSA, gesê het: “Die kind vind uit dat sy ma ’n leuen vertel het en dat al die ander kinders reg was.” As gevolg daarvan, het professor Roscoe verduidelik, bevraagteken die kind dikwels ander dinge wat sy ouers hom vertel het.
Fred Koenig, ’n professor in sosiale sielkunde aan die Tulane-universiteit in New Orleans, Louisiana, VSA, het dit benadruk: “Wanneer hulle dit wel uitvind, skaad dit werklik die ouers se geloofwaardigheid.” Hy het bygevoeg: “Dit werp onsekerheid op baie ander dinge.” Die kind dink dalk dat “die hele kwessie van godsdiens pure kaf is”.
Dit is beslis onverstandig om ’n leuen te laat voortduur deur vir kinders te sê dat die een of ander mitiese figuur vir hulle geskenke bring. Maar het besoekers nie vir die kindjie Jesus op sy geboortedag geskenke gebring nie? Sal hy dan nie die gee van Kersgeskenke vandag goedkeur nie?
Is dit ’n Christelike gebruik?
Die Bybel sê wel dat wyse manne, of sterrewiggelaars, vir Jesus geskenke gebring het. Maar die gee van Kersgeskenke is nie op hulle voorbeeld gegrond nie, want hulle het nie vir mekaar geskenke gegee nie. Nog belangriker, hulle het nie hulle geskenke tydens Jesus se geboorte gegee nie, maar wel later. Hulle optrede was in ooreenstemming met die eertydse gebruik om aan heersers eer te betoon. Let daarop dat die Bybelverslag sê dat Jesus toe hulle daar aangekom het nie meer in ’n krip was nie, maar in ’n huis gewoon het. Dit is waarom Herodes, op grond van wat hulle hom vertel het, beveel het dat alle seuntjies van twee jaar en jonger doodgemaak moes word.—Mattheüs 2:1-18.
Hou ook die volgende in gedagte: Is dit nie vreemd dat Jesus self niks op sy sogenaamde geboortedag ontvang nie? Daar word moontlik selfs nie eers aan hom gedink nie! Waar het die gebruik om Kersgeskenke te gee dan eintlik ontstaan?
Diane Bailey het in die Independent van Los Angeles verduidelik: “Die gee van geskenke dateer uit die dae van eertydse Rome, toe die mense tydens seremonies van sonaanbidding en die nuwe jaar eenvoudige, alledaagse geskenkies vir mekaar gegee het.”
Anita Sama het onder die opskrif “Kerstradisies word aan die lig gebring” in ’n Gannett-nuusdiensberig geskryf: “Lank voor Christelike vieringe het die gee van geskenke deel van die wintervieringe uitgemaak. Die Romeine het vir mekaar takke van ’n heilige lap bome gegee en het later buitensporiger geskenke gegee wat goeie wense vir die komende jaar voorgestel het—silwer, goud en heuninglekkernye.”
Om die waarheid te sê, Kersfees is ’n heidense viering wat deur die Christendom aanvaar is. Die 25ste Desember is nie Jesus Christus se geboortedag nie, maar ’n datum wat met eertydse, losbandige heidense feesvierdery verband hou en wat deur eertydse Christene vermy is.—Sien venster: “Wat is die werklike oorsprong van Kersfees” op die volgende bladsye.
Wat sou Jesus Christus daarvan gedink het om Kersgeskenke te gee as hy vandag op die aarde was?
Hoe Jesus dit beskou om vir ander iets te gee
Jesus keur dit beslis nie af om vir ander iets te gee nie. Inteendeel, hy was altyd gewillig om selfopofferend te wees en het sy dissipels geleer: “Gee altyddeur.” En om te toon dat die gewers self geseën sal word as hulle gee, het hy bygevoeg: “En mense sal aan julle gee.”—Lukas 6:38, NW.
Maar Jesus het nie hier van die gee van geskenke gepraat nie. Hy het eerder getoon dat dit ’n universele feit is dat iemand wat selfopofferend gee gewoonlik vergoed word. Dit is veral die geval wanneer die een wat gee die regte motief het en die ander een “vurig uit die hart” liefhet.—1 Petrus 1:22, NW.
Liefderyke dade vereis nie vergoeding nie, en daarom het Jesus ons aangeraai: “As jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees.” Die gewer vestig tereg nie die aandag op homself of op sy geskenk nie, maar hy sal beloon word. Jesus het dit getoon toe hy bygevoeg het: “Jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde” (Mattheüs 6:3, 4). Die gewer moet daarbenewens, soos die Bybel sê, “gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief”.—2 Korinthiërs 9:7.
Dit behaag Christus dus wanneer iets uit liefde gegee word, wanneer dit gedoen word sonder om enigiets in ruil daarvoor te verwag en wanneer dit nie met droefheid of uit dwang gedoen word nie. Hoe verskil dit tog van die gesindheid waarmee so baie Kersgeskenke dikwels gegee word!
Wanneer iets met vreugde gegee word, speel die kalender of gebruike gevolglik nie ’n rol nie. Dit verraai ook niks omtrent die grootte van die gewer se beursie nie, maar wel dat hy vrygewig is. Kersfees het inderdaad miljoene mislei om die verkeerde dinge, dikwels om die verkeerde redes, te gee. Waarom probeer jy nie dus om iets beters as Kersgeskenke te gee nie? Probeer om dié dinge te gee wat ryk seëninge en ware vreugde meebring, wat die onderwerp van die volgende artikel is.
[Venster/Prent op bladsy 8, 9]
Wat is die werklike oorsprong van Kersfees?
GOED ingeligte mense besef dat 25 Desember nie die dag is waarop Jesus Christus gebore is nie. Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die datum van Christus se geboorte is nie bekend nie. Die Evangelies dui nie die dag of die maand aan nie.”
Daar is boonop genoeg bewyse dat Kersfees en sy gebruike sy oorsprong by nie-Christelike bronne het. Trouens, die U.S. Catholic het gesê: “Dit is onmoontlik om Kersfees van sy heidense oorspronge te skei.”
The Encyclopedia Americana het verduidelik: “Die meeste gebruike wat tans aan Kersfees verbonde is, was oorspronklik nie Kersfeesgebruike nie, maar eerder voor-Christelike en nie-Christelike gebruike wat deur die Christelike kerk opgeneem is. Saturnalieë, ’n Romeinse fees wat in die middel van Desember gevier is, het die lees voorsien waarop baie van die gebruike van pretmakery van Kersfees geskoei is. Van hierdie fees het hulle byvoorbeeld die oordadige feesvierdery, die gee van geskenke en die brand van kerse oorgeneem.”
Die tydskrif History Today het die volgende aangaande die gebruik om geskenke te gee gesê: “Dit is feitlik seker dat die gee van geskenke tydens die midwinterfees as ’n magiese gebruik en nie soseer net as ’n sosiale gebruik begin het nie. Saturnalieë-geskenke het waspoppe ingesluit, wat aan kinders gegee is. Toe hierdie gebruik gedokumenteer is, is dit ongetwyfeld as ’n oulike gebruik beskou, maar een met ’n grieselige verlede: selfs tydgenote het gedink dat dit waarskynlik die oorblyfsel van menseoffers, van kinders, is om die saaityd te seën.”
The New York Times van 24 Desember 1991 het ’n artikel oor die oorsprong van Kersgebruike bevat, waaronder die gee van geskenke. Simon Schama, ’n professor in die geskiedenis by Harvard-universiteit, het geskryf: “Kersfees self was die heel belangrikste eertydse fees waartydens die wintersonstilstand gevier is . . . In die derde eeu, toe sonkultusse soos die Mithraïstiese geloof van Persië ook in Rome posgevat het, is dae in Desember opsygesit om die wedergeboorte van Sol Invictus: die onoorwinlike son, te vier. . . .
“Die vroeë Kerk in Rome het veral ’n kwaai stryd teen twee ander groot heidense feeste gehad, die weeklange Saturnalieë, wat op 17 Des. begin het, en die Calendae, wat die Nuwejaar begroet het. Die eerste fees was ’n tyd van erkende oproerigheid wat dikwels onder die toesig van ’n feesleier geskied het, wat nie soseer Sinterklaas was nie, maar die vet Saturnus self, die orgieleier by wie daar geëet, gedrink en allerhande ander stoutighede aangevang is. Maar dit was tydens Calendae, wanneer die nuwe jaar aangebreek het, dat dit die gebruik was om vir mekaar geskenke te gee, wat dikwels aan die takke van groenigheid vasgemaak is wat huise tydens die feesvieringe versier het.
“Soos verwag kon word, het al hierdie onbehoorlike feestelikheid die vroeë kerk nie aangestaan nie. Die kerkvaders, veral die onverbiddelike St. Johannes Chrusostomos, het geen kompromis met heidense verfoeisels aangemoedig nie. . . . Aangesien daar geen eenstemmigheid oor Jesus se presiese geboortedatum was nie . . . , moes dit gelyk het of dit sou help as dit die Saturnalieë vervang . . . Die wedergeboorte van die son het toe die geboorte van God se Seun geword . . .
“Net so is die Calendae deur die Driekoningefees vervang, en die geskenke en snuisterye wat heidense Romeine vir mekaar gegee het, het toe die eer geword wat deur die drie konings aan die nuwe Koning van die Wêreld betoon is. Teen die middel van die vierde eeu was die basiese kenmerke van die Kerskalender vir goed vasgestel.”
Hoewel goed ingeligte mense die heidense oorsprong van Kersfees en sy gebruike geredelik erken, sê baie dat so ’n oorsprong nie werklik saak maak nie. ’n Afgetrede rabbi het na aanleiding van professor Schama se artikel vroeg dié jaar in ’n brief aan die redakteur van die Times geskryf: “Die oorsprong van ’n instelling het niks met sy hedendaagse waarde te doen nie.” Hy het die volgende aangaande Kersfees en ander vieringe gesê: “Diegene wat hulle vier, gee aan hulle ’n nuwe betekenis wat vir die feesvierders ’n doel in hulle eie lewe gee en wat hulle baie opbeur.”
Maar is Kersvieringe baie opbeurend en bring dit goeie vrugte in Christene voort? Om die waarheid te sê, daar word geredelik erken dat dit oor die algemeen slegte vrugte, en nie goeie vrugte nie, voortbring. Behoort Christene boonop heidense godsdiensvieringe oor te neem? Die Bybel vermaan: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie.”—2 Korinthiërs 6:14-17.
Hou ook in gedagte wat Jesus omtrent die aanbidding van die almagtige God gesê het: “Die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Ons aanbidding moet gevolglik op die waarheid gegrond wees sodat dit vir God aanvaarbaar kan wees. Tog word Kersfees as Jesus Christus se geboortedag voorgestel, hoewel dit nie die geval is nie. En wat van die sogenaamde magiese geskenkbringers tydens Kersfees, soos Sinterklaas? Word die kinders nie in werklikheid mislei as hulle onder die indruk gebring word dat die geskenke van hierdie mense af kom nie?
As jy God werklik liefhet, sal jy sy gebod gehoorsaam om nie aan onrein godsdiensgebruike deel te neem nie. Ag jy die waarheid as belangrik genoeg om nie ’n vakansiedag te vier wat deur leuens gekenmerk word nie?
[Prent op bladsy 7]
Het dit sin om kinders te mislei deur vir hulle te sê dat Sinterklaas vir hulle geskenke bring?