Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 2/1 bl. 13-17
  • Jehovah voorsien in ons daaglikse behoeftes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah voorsien in ons daaglikse behoeftes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geestelike voedsel dag na dag
  • Vergifnis van sondes
  • Om vergewe te word, moet ons ander vergewe
  • Beskerming tydens versoeking
  • “Verlos ons van die bose”
  • Algehele verlossing is naby
  • Die Onse Vader—Wat dit vir jou beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Leer ons bid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hoe om te bid – Is die Onse Vader-gebed die beste manier?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Hoe moet ons tot God bid?
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 2/1 bl. 13-17

Jehovah voorsien in ons daaglikse behoeftes

“Hou op om in angstige spanning te verkeer; want . . . julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.”—LUKAS 12:29, 30.

1. Hoe sorg Jehovah vir die diereskepping?

HET jy al ooit ’n mossie of ’n ander voëltjie dopgehou wat in die grond rondpik op soek na kos? Jy het moontlik gewonder wat hy in daardie grond kon vind om te eet. Jesus het in sy Bergpredikasie getoon dat ons kan leer by die manier waarop Jehovah vir die voëls sorg. Hy het gesê: “Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26). Jehovah voorsien voedsel op wonderlike maniere aan al sy skepsele.—Psalm 104:14, 21; 147:9.

2, 3. Watter geestelike lesse kan ons leer uit die feit dat Jesus ons vir ons daaglikse brood leer bid het?

2 Waarom het Jesus dan die volgende versoek in sy modelgebed ingesluit: “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag”? (Matteus 6:11). Ons kan betekenisvolle geestelike lesse uit hierdie eenvoudige versoek leer. Eerstens herinner dit ons daaraan dat Jehovah die Groot Voorsiener is (Psalm 145:15, 16). Mense kan plant en die grond bewerk, maar net God kan dinge laat groei, geestelik sowel as fisies (1 Korintiërs 3:7). Wat ons eet en drink, is ’n gawe van God (Handelinge 14:17). Wanneer ons hom vra om in ons daaglikse behoeftes te voorsien, toon dit dat ons nie sulke voorsienings as vanselfsprekend aanvaar nie. Hierdie versoek stel ons natuurlik nie vry van die verantwoordelikheid om te werk as ons kan nie.—Efesiërs 4:28; 2 Tessalonisense 3:10.

3 Tweedens toon die feit dat ons “brood vir hierdie dag” vra, dat ons nie uitermatig besorg moet wees oor die toekoms nie. Jesus het verder gesê: “Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê” (Matteus 6:31-34). Om te bid vir “brood vir hierdie dag”, dui daarop dat ons ’n eenvoudige lewe van “godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid” moet lei.—1 Timoteus 6:6-8.

Geestelike voedsel dag na dag

4. Watter gebeure in die lewe van Jesus en van die Israeliete beklemtoon hoe belangrik dit is om geestelike voedsel in te neem?

4 Wanneer ons vir daaglikse brood bid, moet dit ons ook daaraan herinner dat ons elke dag geestelike voedsel nodig het. Hoewel Jesus baie honger was ná ’n lang vastyd, het hy Satan se versoeking weerstaan om klippe in brood te verander en gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom’” (Matteus 4:4). Jesus het hier die profeet Moses aangehaal, wat vir die Israeliete gesê het: “Hy [Jehovah] het jou nederig gemaak en jou laat honger ly en jou met die manna gevoed, wat jy nie geken het en ook jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens van elke uiting uit Jehovah se mond lewe” (Deuteronomium 8:3). Die manier waarop Jehovah die manna verskaf het, het die Israeliete nie net van fisiese voedsel voorsien nie, maar ook van geestelike lesse. Om maar een ding te noem, hulle moes “dag na dag elkeen sy hoeveelheid optel”. As hulle meer opgetel het as wat nodig was vir een dag, het die manna wat oorgebly het, begin stink en wurms gekry (Eksodus 16:4, 20). Maar dit het nie op die sesde dag gebeur wanneer hulle dubbel die daaglikse hoeveelheid moes optel sodat hulle genoeg vir die Sabbat sou hê nie (Eksodus 16:5, 23, 24). Die manna het dus by hulle tuisgebring dat hulle gehoorsaam moes wees en dat hulle lewe nie van brood alleen afgehang het nie, maar van “elke uiting uit Jehovah se mond”.

5. Hoe voorsien Jehovah ons daagliks van geestelike voedsel?

5 Ons moet eweneens elke dag geestelike voedsel inneem wat Jehovah deur sy Seun voorsien. Jesus het met die oog hierop ’n “getroue en verstandige slaaf” aangestel om “voedsel op die regte tyd” vir die huisgenote van die geloof te gee (Matteus 24:45). Daardie ‘getroue slaaf’-klas voorsien nie net ’n oorvloed geestelike voedsel in die vorm van Bybelstudiehulpe nie, maar moedig ons ook aan om die Bybel daagliks te lees (Josua 1:8; Psalm 1:1-3). Soos Jesus kan ons ook geestelike voedsel inneem deur ons daagliks in te span om meer aangaande Jehovah se wil te leer en dit te doen.—Johannes 4:34.

Vergifnis van sondes

6. Vir watter skulde moet ons om vergifnis vra, en op watter voorwaardes is Jehovah bereid om dit uit te wis?

6 Die volgende versoek in die modelgebed is: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het” (Matteus 6:12). Jesus het nie hier van geldelike skuld gepraat nie. Hy het die vergifnis van ons sondes in gedagte gehad. In Lukas se verslag van die modelgebed lui hierdie versoek soos volg: “Vergewe ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat by ons in die skuld is” (Lukas 11:4). Wanneer ons sondig, is dit dus asof ons in die skuld raak by Jehovah. Maar ons liefdevolle God is bereid om daardie skuld ‘uit te wis’, of kwyt te skeld, as ons opreg berouvol is, ‘omdraai’ en hom om vergifnis smeek op grond van geloof in Christus se losprysoffer.—Handelinge 3:19; 10:43; 1 Timoteus 2:5, 6.

7. Waarom moet ons elke dag om vergifnis bid?

7 Uit ’n ander oogpunt gesien, sondig ons wanneer ons nie aan Jehovah se standaarde van regverdigheid voldoen nie. Weens oorgeërfde sonde skiet ons almal te kort in woord, daad en gedagte of versuim ons om te doen wat ons moet (Prediker 7:20; Romeine 3:23; Jakobus 3:2; 4:17). Daarom moet ons, hetsy ons bewus is van die sondes wat ons gedurende die dag begaan het of nie, daagliks in gebed om vergifnis vra vir ons sondes.—Psalm 19:12; 40:12.

8. Wat moet ons bede om vergifnis ons beweeg om te doen, en watter goeie gevolg sal dit hê?

8 Ons moet om vergifnis bid ná ’n eerlike selfondersoek, berou en belydenis, gegrond op geloof in die verlossingswaarde van Christus se vergote bloed (1 Johannes 1:7-9). Om die opregtheid van ons gebed te toon, moet ons ons versoek om vergifnis steun met “werke . . . wat by berou pas” (Handelinge 26:20). Dan kan ons vertrou dat Jehovah ons sondes sal vergewe (Psalm 86:5; 103:8-14). Die gevolg is onvergelyklike gemoedsrus, “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, wat ons “harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus [sal] bewaak” (Filippense 4:7). Maar Jesus se modelgebed leer ons selfs meer oor wat ons moet doen om vergifnis van ons sondes te verkry.

Om vergewe te word, moet ons ander vergewe

9, 10. (a) Watter kommentaar het Jesus by die modelgebed gevoeg, en wat het dit beklemtoon? (b) Hoe het Jesus verder toegelig dat ons vergewensgesind moet wees?

9 Dit is interessant dat die versoek “vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het”, die enigste deel van die modelgebed is waaroor Jesus kommentaar gelewer het. Nadat hy die gebed afgesluit het, het hy bygevoeg: “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe; maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie” (Matteus 6:14, 15). Jesus het dit dus baie duidelik gestel dat Jehovah ons slegs sal vergewe as ons bereid is om ander te vergewe.—Markus 11:25.

10 By ’n ander geleentheid het Jesus ’n illustrasie vertel om te toon dat ons vergewensgesind moet wees as ons wil hê dat Jehovah ons moet vergewe. Hy het vertel van ’n koning wat groothartig was en ’n slaaf ’n ontsaglike skuld kwytgeskeld het. Die koning het hierdie selfde man later swaar gestraf omdat hy geweier het om die veel kleiner skuld van ’n medeslaaf kwyt te skeld. Jesus het sy illustrasie afgesluit met dié woorde: “Net so sal my hemelse Vader ook met julle handel as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (Matteus 18:23-35). Die les is duidelik: Die sondeskuld wat Jehovah elkeen van ons vergewe het, is oneindig groter as enige oortreding wat iemand dalk teen ons begaan het. Wat meer is, Jehovah vergewe ons daagliks. Daarom kan ons tog sekerlik ander vergewe wat nou en dan teen ons sondig.

11. Watter raad van die apostel Paulus sal ons volg as ons wil hê dat Jehovah ons moet vergewe, en met watter goeie resultate?

11 Die apostel Paulus het geskryf: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Efesiërs 4:32). Wedersydse vergifnis bevorder vrede tussen Christene. Paulus het ons verder aangespoor: “Beklee julle dan, as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:12-14). Dit alles word geïmpliseer in die gebed wat Jesus ons geleer het: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het.”

Beskerming tydens versoeking

12, 13. (a) Wat kan die voorlaaste versoek in die modelgebed beslis nie beteken nie? (b) Wie is die groot Versoeker, en wat beteken ons gebed dat ons nie in versoeking gebring moet word nie?

12 Die voorlaaste versoek in Jesus se modelgebed is: “Bring ons nie in versoeking nie” (Matteus 6:13). Het Jesus bedoel dat ons Jehovah moet vra om ons nie te versoek nie? Dit kan nie die geval wees nie, want die dissipel Jakobus is geïnspireer om te skryf: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Ook die psalmis het geskryf: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Jehovah hou ons nie dop om elke fout te sien wat ons begaan nie, en hy is beslis nie daarop uit om ons te laat struikel en val nie. Wat beteken hierdie deel van die modelgebed dan?

13 Die een wat wel daarop uit is om ons te laat struikel, om ons deur listige dade te laat val en ons selfs te verslind, is Satan die Duiwel (Efesiërs 6:11, voetnoot in NW). Hy is die groot Versoeker (1 Tessalonisense 3:5). Wanneer ons bid dat ons nie in versoeking gebring moet word nie, vra ons Jehovah om nie toe te laat dat ons tydens versoeking val nie. Ons vra hom om ons te help sodat “Satan nie die oorhand oor ons kry” en ons voor versoekings swig nie (2 Korintiërs 2:11). Ons bid dus dat ons in “die skuilplek van die Allerhoogste” mag bly, waar ons die geestelike beskerming kan ontvang wat diegene verkry wat Jehovah se soewereiniteit erken in alles wat hulle doen.—Psalm 91:1-3.

14. Hoe verseker die apostel Paulus ons dat Jehovah ons nie sal verlaat as ons op Hom vertrou wanneer ons versoek word nie?

14 As ons gebede en dade toon dat dít ons opregte begeerte is, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons nooit sal verlaat nie. Die apostel Paulus verseker ons: “Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense. Maar God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.

“Verlos ons van die bose”

15. Waarom is dit belangriker as ooit tevore dat ons bid vir verlossing van die bose?

15 Volgens die betroubaarste manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte eindig Jesus se modelgebed met die woorde: “Verlos ons van die bose” (Matteus 6:13).a Beskerming teen die Duiwel is selfs noodsaakliker in hierdie tyd van die einde. Satan en sy demone voer oorlog teen die gesalfde oorblyfsel, “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig”, en teen hulle metgeselle, die “groot menigte” (Openbaring 7:9; 12:9, 17). Die apostel Petrus het Christene vermaan: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind. Maar weerstaan hom, vas in die geloof” (1 Petrus 5:8, 9). Satan sou graag ons getuieniswerk wou stopsit, en deur middel van sy agente op die aarde—hetsy in die godsdiens, handel of politiek—probeer hy ons intimideer. As ons egter vasstaan, sal Jehovah ons verlos. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Onderwerp julle dan aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—Jakobus 4:7.

16. Wie kan deur Jehovah gebruik word om hulp te verleen aan sy knegte wat beproewinge verduur?

16 Jehovah het toegelaat dat sy Seun versoek word. Maar nadat Jesus die Duiwel teëgestaan het deur God se Woord as beskerming te gebruik, het Jehovah engele gestuur om hom te versterk (Matteus 4:1-11). Jehovah gebruik eweneens sy engele om ons te help as ons in geloof bid en hom ons toevlug maak (Psalm 34:7; 91:9-11). Die apostel Petrus het geskryf: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om uitgeroei te word.”—2 Petrus 2:9.

Algehele verlossing is naby

17. Hoe het Jesus sake in die regte perspektief gestel deur ons die modelgebed te gee?

17 In die modelgebed stel Jesus sake in die regte perspektief. Vir ons moet die heiliging van Jehovah se groot en heilige naam die hoofsaak wees. Aangesien die Messiaanse Koninkryk die instrument is waardeur dit teweeggebring sal word, bid ons dat die Koninkryk moet kom om alle onvolmaakte mensekoninkryke, of regerings, te vernietig en te verseker dat God se wil net so volkome op die aarde geskied soos in die hemel. Ons hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe, hang daarvan af dat Jehovah se naam geheilig word en sy regverdige soewereiniteit in die ganse heelal erken word. Nadat ons vir hierdie allerbelangrikste dinge gebid het, kan ons bid vir ons daaglikse behoeftes, vergifnis van ons sondes asook hulp om nie te swig voor versoekings en die liste van die bose, Satan die Duiwel, nie.

18, 19. Hoe help Jesus se modelgebed ons om waaksaam te bly en ‘tot die einde toe stewig vas te hou’ aan ons hoop?

18 Ons algehele verlossing van die bose en sy verdorwe stelsel van dinge is op hande. Satan weet goed dat hy net “’n kort tydjie” het om uiting te gee aan sy “groot toorn” teen die aarde, en veral teen Jehovah se getroue knegte (Openbaring 12:12, 17). In die saamgestelde teken van “die voleinding van die stelsel van dinge” het Jesus opwindende gebeure voorspel, waarvan party nog voorlê (Matteus 24:3, 29-31). Namate ons hierdie dinge sien gebeur, word ons hoop op verlossing al hoe helderder. Jesus het gesê: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want julle verlossing kom nader.”—Lukas 21:25-28.

19 Die bondige modelgebed wat Jesus vir sy dissipels gegee het, voorsien ons van ’n betroubare gids oor watter sake ons in ons gebede moet insluit namate die einde nader kom. Mag ons vol vertroue bly dat Jehovah tot die einde toe sal voortgaan om in ons daaglikse behoeftes, geestelik sowel as materieel, te voorsien. Ons biddende waaksaamheid sal ons in staat stel om “tot die einde toe stewig [vas te hou] aan die vertroue wat ons aan die begin gehad het”.—Hebreërs 3:14; 1 Petrus 4:7.

[Voetnoot]

a Party ouer Bybels, soos Die Bybel van 1953, sluit die Onse Vader af met die doksologie (’n lofprysing aan God): “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” The Jerome Biblical Commentary sê: “Die doksologie . . . word nie in die betroubaarste [manuskripte] gevind nie.”

Ter hersiening

• Wat impliseer dit wanneer ons bid vir “brood vir hierdie dag”?

• Verduidelik die gebed “vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het”.

• Wat beteken dit wanneer ons Jehovah vra om ons nie in versoeking te bring nie?

• Waarom moet ons bid vir verlossing “van die bose”?

[Prente op bladsy 15]

Ons moet ander vergewe as ons vergewe wil word

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Lydekker

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel