Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 1/15 bl. 10-15
  • Word jou gebede ‘soos reukwerk berei’?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Word jou gebede ‘soos reukwerk berei’?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bid in geloof
  • Loof en dank Jehovah
  • Soek nederig Jehovah se hulp
  • Laat Jesus jou leer hoe om te bid
  • Tree in ooreenstemming met jou gebede op
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Waardeer jou voorreg van gebed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Die voorreg van gebed
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Wie se gebede word verhoor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 1/15 bl. 10-15

Word jou gebede ‘soos reukwerk berei’?

“Mag my gebed soos reukwerk voor u berei word.”—PSALM 141:2, NW.

1, 2. Wat het die brand van reukwerk gesimboliseer?

JEHOVAH GOD het sy profeet Moses beveel om toe te sien dat heilige reukwerk berei word vir gebruik by Israel se tabernakel van aanbidding. Die resep wat God daarvoor gegee het, het uit ’n geurige mengsel van vier bestanddele bestaan (Exodus 30:34-38). Dit was ongetwyfeld welriekend.

2 Die Wetsverbond wat met die nasie Israel gesluit is, het daarvoor voorsiening gemaak dat reukwerk elke dag gebrand word (Exodus 30:7, 8). Het die gebruik van reukwerk spesiale betekenis gehad? Ja, want die psalmis het gesing: “Mag my gebed soos reukwerk voor u [Jehovah God] berei word, die opheffing van my palms soos die aandgraanoffer” (Psalm 141:2, NW). In die boek Openbaring beskryf die apostel Johannes diegene om God se hemelse troon en sê hy dat hulle goue bakke vol reukwerk het. “En die reukwerk”, sê die geïnspireerde verslag, “beteken die gebede van die heiliges” (Openbaring 5:8). Die brand van welriekende reukwerk het dus aanneemlike gebede gesimboliseer wat dag en nag deur Jehovah se knegte gedoen word.—1 Tessalonisense 3:10; Hebreërs 5:7.

3. Wat behoort ons te help om ‘ons gebede soos reukwerk voor God te berei’?

3 As ons wil hê dat ons gebede vir God aanneemlik moet wees, moet ons in die naam van Jesus Christus tot hom bid (Johannes 16:23, 24). Maar hoe kan ons die gehalte van ons gebede verbeter? Wel, ’n ondersoek na ’n paar skriftuurlike voorbeelde behoort ons te help om ons gebede soos reukwerk voor Jehovah te berei.—Spreuke 15:8.

Bid in geloof

4. Hoe hou geloof verband met aanneemlike gebede?

4 As ons wil hê dat ons gebede soos welriekende reukwerk voor God moet opgaan, moet ons in geloof bid (Hebreërs 11:6). Wanneer Christen- ouer manne ’n geestelik siek persoon vind wat bereid is om hulle skriftuurlike hulp te aanvaar, sal hulle “gebed van geloof . . . die een wat ongesteld is gesond maak” (Jakobus 5:15). Gebede wat in geloof gedoen word sowel as studie van God se Woord wat met gebed gepaardgaan behaag ons hemelse Vader. Die psalmis het ’n goeie gesindheid geopenbaar toe hy gesing het: “[Ek sal] my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink. Leer my ’n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie” (Psalm 119:48, 66). Laat ons ons ‘hande uitstrek’ in nederige gebed en geloof beoefen deur God se gebooie na te kom.

5. Wat moet ons doen as ons wysheid kortkom?

5 Sê nou ons het nie die nodige wysheid om ’n beproewing die hoof te bied nie. Miskien is ons nie seker dat ’n sekere Bybelprofesie nou vervul word nie. Ons moenie toelaat dat dit ons geestelik van stryk bring nie, maar moet eerder vir wysheid bid (Galasiërs 5:7, 8; Jakobus 1:5-8). Ons kan natuurlik nie van God verwag om ons wonderbaarlik te verhoor nie. Ons moet die opregtheid van ons gebede toon deur te doen wat hy van al sy knegte verwag. Dit is noodsaaklik dat ons ons geloof opbou deur die Skrif te bestudeer met behulp van publikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45-47; Josua 1:7, 8). Ons moet ook ons kennis verruim deur gereeld aan vergaderinge van God se volk deel te neem.—Hebreërs 10:24, 25.

6. (a) Wat moet ons almal omtrent ons dag en die vervulling van Bybelprofesieë besef? (b) Wat anders moet ons ook nog doen behalwe om vir die heiliging van Jehovah se naam te bid?

6 Vandag jaag party Christene belange en loopbane na wat toon dat hulle die feit uit die oog verloor het dat ons nou diep in “die tyd van die einde” lewe (Daniël 12:4). Dit sal gepas wees as medegelowiges bid dat hierdie persone hulle geloof weer aanwakker of versterk in die skriftuurlike bewyse dat Christus se teenwoordigheid in 1914 begin het toe Jehovah hom as hemelse Koning gekroon het en dat hy te midde van sy vyande heers (Psalm 110:1, 2; Matteus 24:3). Ons moet almal besef dat die voorspelde gebeure soos die vernietiging van valse godsdiens—“Babilon die Grote”—die sataniese aanval deur Gog van Magog op Jehovah se volk en hulle redding deur God die Almagtige by die oorlog van Armageddon met verstommende skielikheid kan kom en dat dit alles binne ’n betreklike kort tyd kan plaasvind (Openbaring 16:14, 16; 18:1-5; Esegiël 38:18-23). Laat ons dus vir God se hulp bid om geestelik wakker te bly. Mag ons almal ernstig bid vir die heiliging van Jehovah se naam, vir sy Koninkryk om te kom en vir sy wil om soos in die hemel, so ook op die aarde gedoen te word. Ja, mag ons voortgaan om geloof te beoefen en bewys te lewer dat ons gebede opreg is (Matteus 6:9, 10). Ja, mag almal wat Jehovah liefhet eers die Koninkryk en sy regverdigheid soek en soveel as moontlik in die verkondiging van die goeie nuus doen voordat die einde kom.—Matteus 6:33; 24:14.

Loof en dank Jehovah

7. Wat beïndruk jou omtrent Dawid se gebed wat gedeeltelik in 1 Kronieke 29:10-13 opgeteken is?

7 ’n Belangrike manier waarop ons ons ‘gebede soos reukwerk kan berei’, is om God op ’n hartgrondige wyse te loof en te dank. Koning Dawid het so ’n gebed gedoen toe hy en die volk Israel tot die bou van Jehovah se tempel bygedra het. Dawid het gebid: “U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.”—1 Kronieke 29:10-13.

8. (a) Watter lofbetuigings in Psalms 148 tot 150 ontroer jou veral? (b) Wat sal ons doen as ons met die gedagtes in Psalm 27:4 saamstem?

8 Watter pragtige betuigings van lof en dankbaarheid tog! Ons gebede is miskien nie so pragtig verwoord nie, maar hulle kan net so hartgrondig wees. Die boek Psalms is vol gebede van dank en lof. Goed gekose lofbetuigings kan in Psalms 148 tot 150 gevind word. Dankbaarheid teenoor God word in baie psalms uitgespreek. “Een ding het ek van die HERE begeer”, het Dawid gesing. “Dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Psalm 27:4). Laat ons in ooreenstemming met sulke gebede optree deur ywerig aan al die bedrywighede van Jehovah se versamelde menigtes deel te neem (Psalm 26:12, NW). As ons dit doen en elke dag oor God se Woord peins, sal dit ons baie redes gee om Jehovah met hartgrondige lof en dankbaarheid te nader.

Soek nederig Jehovah se hulp

9. Hoe het koning Asa gebid, en wat het dit tot gevolg gehad?

9 As ons Jehovah heelhartig as sy Getuies dien, kan ons seker wees dat hy ons gebede om hulp hoor (Jesaja 43:10-12). Neem die voorbeeld van koning Asa van Juda. Die eerste 10 jaar van sy 41 jaar lange bewind (977-937 v.G.J.) was vreedsaam. Toe is Juda deur ’n leër van ’n miljoen man onder Serag die Etiopiër ingeval. Hoewel die invallers ’n geweldige oormag was, het Asa en sy manne teen hulle opgetrek. Voor die geveg het Asa egter vurig gebid. Hy het erken dat Jehovah die krag het om hulle te verlos. Die koning het om hulp gesmeek en gesê: “Op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie.” Dit het ’n klinkende oorwinning tot gevolg gehad toe Jehovah Juda ter wille van sy groot naam gered het (2 Kronieke 14:1-15). Hetsy God ons uit ’n beproewing verlos of ons versterk om dit te verduur, daar is geen twyfel dat hy ons smekinge om hulp hoor nie.

10. Hoe kan koning Josafat se gebed nuttig wees wanneer ons nie weet hoe om ’n sekere krisis die hoof te bied nie?

10 As ons nie weet hoe om ’n sekere krisis die hoof te bied nie, kan ons seker wees dat Jehovah ons smekinge om hulp sal hoor. Dit is toegelig in die dae van die Judese koning Josafat, wie se bewind van 25 jaar in 936 v.G.J. begin het. Toe Juda deur die gekombineerde magte van Moab, Ammon en die gebergte Seïr bedreig is, het Josafat gesmeek: “Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.” Jehovah het daardie nederige gebed verhoor deur vir Juda te veg en verwarring onder die vyand te saai sodat hulle mekaar doodgemaak het. As gevolg hiervan het die omliggende nasies vreesbevange geword, en vrede het in Juda geheers (2 Kronieke 20:1-30). Wanneer ons die nodige wysheid kortkom om ’n krisis die hoof te bied, kan ons soos Josafat bid: ‘Ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U, Jehovah.’ Die heilige gees kan ons dan skriftuurlike gedagtes laat onthou wat nodig is om die probleem op te los of God kan ons op ’n manier help wat menslike denke te bowe gaan.—Romeine 8:26, 27.

11. Wat leer Nehemia se optrede in verband met Jerusalem se muur ons oor gebed?

11 Ons sal dalk in gebed moet volhard as ons God se hulp wil ontvang. Nehemia het getreur, gehuil, gevas en dae lank gebid oor Jerusalem se verwoeste muur en die benarde toestand van Juda se inwoners (Nehemia 1:1-11). Sy gebede het klaarblyklik soos welriekende reukwerk voor God opgegaan. Eendag het die Persiese koning Artasasta vir die neerslagtige Nehemia gevra: “Wat verlang jy?” “Dadelik”, vertel Nehemia, “het ek tot die God van die hemel gebid.” Daardie stil skietgebed is verhoor, want Nehemia is toegelaat om sy hartsbegeerte te volbring deur na Jerusalem te gaan om die verwoeste muur te herbou.—Nehemia 2:1-8, NW.

Laat Jesus jou leer hoe om te bid

12. Hoe sou jy die hoofgedagtes van Jesus se modelgebed in jou eie woorde opsom?

12 Van al die gebede wat in die Skrif opgeteken is, is die modelgebed wat Jesus Christus soos welriekende reukwerk berei het veral leersaam. Lukas se Evangelie sê: “Een van [Jesus se] dissipels [het] vir hom gesê: ‘Here, leer ons hoe om te bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.’ Toe het hy vir hulle gesê: ‘Wanneer julle bid, sê: “Vader, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Gee ons ons brood vir die dag volgens die dag se vereiste. En vergewe ons ons sondes, want ons vergewe self ook elkeen wat by ons in die skuld is; en bring ons nie in versoeking nie”’” (Lukas 11:1-4; Matteus 6:9-13). Kom ons ondersoek hierdie gebed, wat nie bedoel is om opgesê te word nie, maar bedoel is om as ’n voorbeeld gebruik te word.

13. Hoe sou jy die betekenis van die woorde: “Vader, laat u naam geheilig word”, verduidelik?

13 “Vader, laat u naam geheilig word.” Om Jehovah as Vader aan te spreek, is ’n spesiale voorreg wat sy toegewyde knegte geniet. Soos kinders ’n barmhartige vader vryelik nader met enigiets wat hulle kwel, moet ons tyd opsy sit vir gereelde, ernstige en eerbiedige gebed tot God (Psalm 103:13, 14). Ons gebede moet ons besorgdheid oor die heiliging van Jehovah se naam weerspieël omdat ons daarna verlang om te sien hoe dit gesuiwer word van alle blaam wat daarop gewerp is. Ja, ons wil hê dat Jehovah se naam afgesonder en as heilig beskou moet word.—Psalm 5:12; 63:4, 5; 148:12, 13; Esegiël 38:23, NW.

14. Wat beteken dit om te bid: “Laat u koninkryk kom”?

14 “Laat u koninkryk kom.” Die Koninkryk is Jehovah se heerskappy wat uitgeoefen word deur die hemelse Messiaanse regering in die hande van sy Seun en Jesus se ‘medeheiliges’ (Daniël 7:13, 14, 18, 27; Openbaring 20:6). Dit sal binnekort teen alle aardse teenstanders van God se soewereiniteit “kom” en hulle tot niet maak (Daniël 2:44). Dan sal Jehovah se wil soos in die hemel, so ook op aarde gedoen word (Matteus 6:10). Watter vreugde sal dit almal tog bring wat die Universele Soewerein lojaal dien!

15. Wat toon dit as ons Jehovah “ons brood vir die dag” vra?

15 “Gee ons ons brood vir die dag volgens die dag se vereiste.” Wanneer ons Jehovah voedsel “vir die dag” vra, toon ons dat ons nie voorsienings in groot oorvloed vra nie, maar slegs vir ons daaglikse behoeftes. Hoewel ons op God vertrou om in ons behoeftes te voorsien, werk ons ook en gebruik ons enige geoorloofde middele tot ons beskikking om voedsel en ander noodsaaklikhede te verkry (2 Tessalonisense 3:7-10). Ons moet ons hemelse Voorsiener natuurlik dank omdat sy liefde, wysheid en krag hierdie voorsienings moontlik maak.—Handelinge 14:15-17.

16. Hoe kan ons God se vergifnis ontvang?

16 “Vergewe ons ons sondes, want ons vergewe self ook elkeen wat by ons in die skuld is.” Aangesien ons onvolmaak en sondig is, kan ons nie volkome aan Jehovah se volmaakte standaarde voldoen nie. Ons moet hom derhalwe op grond van Jesus se losprysofferande in gebed om vergifnis vra. Maar as ons wil hê dat die “Hoorder van die gebed” die waarde van daardie offerande ten behoewe van ons sondes moet aanwend, moet ons berouvol wees en bereid wees om enige dissipline wat hy gee te aanvaar (Psalm 65:3; Romeine 5:8; 6:23; Hebreërs 12:4-11). Daarbenewens kan ons slegs verwag dat God ons sal vergewe as ons “ons skuldenaars vergewe het”, met ander woorde, dié wat teen ons sondig.—Matteus 6:12, 14, 15.

17. Wat word bedoel met die woorde: “Bring ons nie in versoeking nie”?

17 “Bring ons nie in versoeking nie.” Die Bybel sê soms dat Jehovah dinge doen wanneer hy bloot toelaat dat dit gebeur (Rut 1:20, 21). God bring ons nie in die versoeking om te sondig nie (Jakobus 1:13). Versoekings om kwaad te doen, ontstaan by die Duiwel, ons sondige vlees en hierdie wêreld. Satan is die Versoeker wat ons probeer kry om teen God te sondig (Matteus 4:3; 1 Tessalonisense 3:5). Wanneer ons vra om ‘nie in versoeking gebring te word nie’, vra ons God om ons nie te laat toegee wanneer ons in die versoeking kom om ongehoorsaam aan hom te wees nie. Hy kan ons lei sodat Satan, “die bose”, ons nie laat swig en die oorhand oor ons kry nie.—Matteus 6:13; 1 Korintiërs 10:13.

Tree in ooreenstemming met jou gebede op

18. Hoe kan ons in ooreenstemming met ons gebede optree vir ’n gelukkige huwelik en gesinslewe?

18 Jesus se modelgebed het ’n paar hoofgedagtes gedek, maar ons kan oor enigiets bid. Ons kan byvoorbeeld bid oor ons begeerte vir ’n gelukkige huwelik. Ons kan vir selfbeheersing bid sodat ons kuis kan bly totdat ons trou. Maar laat ons dan in ooreenstemming met ons gebede optree deur onsedelike lektuur en vermaak te vermy. Laat ons ook vasbeslote wees om ‘net in die Here te trou’ (1 Korintiërs 7:39; Deuteronomium 7:3, 4). Wanneer ons eers getroud is, sal ons in ooreenstemming met ons gebede vir geluk moet optree deur God se raad toe te pas. En as ons kinders het, is dit nie genoeg dat ons bid dat hulle getroue knegte van Jehovah sal wees nie. Ons moet alles in ons vermoë doen om God se waarhede in hulle verstand in te skerp deur Bybelstudie en deur gereelde bywoning van Christelike vergaderinge saam met hulle.—Deuteronomium 6:5-9; 31:12; Spreuke 22:6.

19. Wat moet ons doen as ons oor ons bediening bid?

19 Bid ons vir seëninge in die bediening? Laat ons dan in ooreenstemming met daardie gebede optree deur ’n betekenisvolle deelname aan die Koninkrykspredikingswerk te hê. As ons vir geleenthede bid om ander te help om op die weg na die ewige lewe te kom, moet ons goeie verslae van belangstellendes hou en bereid wees om Bybelstudies in ons rooster in te pas. Sê nou ons wil graag die voltydse predikingswerk as ’n pionier betree? Laat ons dan in ooreenstemming met ons gebede optree deur ons predikingswerk te vermeerder en saam met pioniers in die bediening te werk. As ons dit doen, sal ons toon dat ons in ooreenstemming met ons gebede optree.

20. Wat sal in die volgende artikel ondersoek word?

20 As ons Jehovah getrou dien, kan ons vol vertroue wees dat hy ons gebede sal verhoor wat in ooreenstemming met sy wil is (1 Johannes 5:14, 15). Ons het beslis nuttige lesse geleer uit ’n ondersoek van sommige van die gebede wat in die Bybel opgeteken is. Ons volgende artikel sal ander skriftuurlike riglyne ondersoek vir diegene wat graag hulle ‘gebede soos reukwerk voor Jehovah wil berei’.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom moet ons in geloof bid?

◻ Watter rol moet lof en dank in ons gebede speel?

◻ Waarom kan ons met vertroue Jehovah se hulp in gebed vra?

◻ Wat is ’n paar van die hoofgedagtes van die modelgebed?

◻ Hoe kan ons in ooreenstemming met ons gebede optree?

[Prent op bladsy 12]

Soos koning Josafat, sal ons dalk soms moet bid: ‘Ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U, Jehovah’

[Prent op bladsy 13]

Bid jy in ooreenstemming met Jesus se modelgebed?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel