Wie se gebede word verhoor?
“MEER dinge word deur gebed bewerk as wat die wêreld ooit kon droom.” Dit is die woorde van die 19de-eeuse Engelse digter Alfred Tennyson. Maar baie het tevergeefs om gesondheid, geluk, vrede en welvaart gebid. Party dink trouens dat God nie werklik na gebede luister nie. Tog noem die Bybel hom die “Hoorder van die gebed”.—Psalm 65:3.
Dit kan jou heel moontlik laat vra: ‘Wie is hierdie “Hoorder van die gebed”? Moet ons aan spesiale vereistes voldoen sodat ons gebede verhoor kan word? Hoe moet ons bid? En wie se gebede word verhoor?’
Hulle gebede is verhoor
Gebed is so oud soos die mens self. Dink aan Abel, ’n seun van ons eerste ouers, Adam en Eva. Toe hy ’n aanneemlike offer aan God gebring het, het dit ongetwyfeld met smeking en lof gepaard gegaan.—Genesis 4:1-5.
God se profeet Jona het in die negende eeu voor ons Gewone Jaartelling “tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis” wat gestuur is om hom in te sluk. Is daardie gebed verhoor? Ja, want mettertyd “het die HERE die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spuug”. Jona het toe sy godgegewe opdrag uitgevoer en na Nineve gegaan.—Jona 1:17; 2:1, 10; 3:1-5.
Toe Dawid van eertydse Israel deur sy vyande omsingel is, het hy uitgeroep: “O HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid” (Psalm 143:1). Dawid se gebede om verlossing is verhoor, want sy vyande het nooit daarin geslaag om hom van kant te maak nie. Daarom kon hy sê: “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.”—Psalm 145:18.
Voldoen aan die hoofvereistes
Dit is dus duidelik dat die gebede van God se eertydse knegte verhoor is. Hulle het natuurlik nie as ’n blote formaliteit tot ’n naamlose God gebid nie. Hulle het in geloof tot Jehovah ‘die Allerhoogste oor die hele aarde’ gebid (Psalm 83:19). Aan watter hoofvereistes moet ons dan voldoen sodat ons gebede verhoor sal word?
Bid alleenlik tot Jehovah. Dit is nutteloos—trouens, onskriftuurlik—om tot valse gode te bid wie se lewelose afgode monde het wat nie kan praat nie, ore wat nie kan hoor nie, hande wat nie kan voel nie, voete wat nie kan loop nie en kele wat geen geluid kan maak nie (Psalm 115:5-7; 1 Johannes 5:21). In teenstelling met sulke nuttelose gode tree Jehovah handelend op ten behoewe van diegene wat hom liefhet en dien. Profete van die valse god Baäl het hom byvoorbeeld eeue gelede gesmeek om vuur uit die hemel te laat neerdaal. Hoewel hulle van die oggend tot die aand gebid het, kon Baäl nie antwoord nie. Toe het Elia ’n versoek tot Jehovah gerig, en Hy het geantwoord deur vuur af te stuur wat die offerande op ’n altaar heeltemal verteer het.—1 Konings, hoofstuk 18.
Nader God alleenlik deur Jesus Christus. Jehovah God het sy eniggebore Seun, Jesus Christus, na die aarde gestuur as ’n losprys sodat die mensdom van sonde en die dood vrygekoop kon word (Johannes 3:16, 36; Romeine 5:12; 6:23). God het dus vir diegene wat van hierdie voorsiening gebruik maak ’n nuwe manier gegee om hom in gebed te nader. Eertydse knegte van God soos die psalmis Dawid het direk tot Jehovah gebid (Psalm 4:2; 17:1; 55:2; 102:2). Maar die nuwe manier om hom te nader was deur Jesus, wat gesê het: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Johannes 14:6, 14). Nêrens gee die Bybel te kenne dat gebede deur enigiemand anders tot God gerig moet word nie.
Wanneer ons dus weet dat ons in Jesus se naam tot God moet bid, sal ons gebede net verhoor word as ons alleenlik tot Jehovah deur sy Seun bid. Maar daar is ook ander redes waarom Jehovah die meeste gebede nie verhoor nie.
Waarom God gebede nie verhoor nie
God sal nie ons gebede verhoor net omdat ons ’n spesiale houding inneem terwyl ons bid nie. Die Bybel vereis nie dat ons ’n sekere liggaamshouding moet inneem wanneer ons bid nie. Natuurlik kan dit nederigheid voor God toon om te kniel. Maar dit is aanvaarbaar om te bid terwyl jy staan, by ’n tafel sit, in die bed rus of met daaglikse take besig is (Daniël 6:10, 11; Markus 11:25). Jehovah verhoor dan selfs stil gebede! Voordat Nehemia vir Persië se koning gesê het dat hy graag die verwoeste mure van Jerusalem wil herbou, het hy stilswyend “tot die God van die hemel gebid”, en Jehovah het daardie gebed verhoor (Nehemia 2:1-6). As liggaamshouding nie die belangrikste ding is nie, waarom word soveel gebede dan nie deur God verhoor nie?
Jehovah het geen behae in die gebede van die goddeloses nie. Ja, “wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel” (Spreuke 28:9). God het deur die profeet Jesaja vir Sy eiesinnige volk gesê: “As julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed” (Jesaja 1:15). Die gebede van die goddeloses word vanselfsprekend nie verhoor nie, al word hulle deur Christus tot God gerig.
God verhoor nie skynheilige gebede nie. “As julle bid”, het Jesus Christus gesê, “moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.” Jesus het bygevoeg: “As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” (Mattheüs 6:5, 6, NAV). Jesus het nie daardeur alle openbare gebede uitgesluit nie, want hy het self hardop in die teenwoordigheid van ander gebid (Mattheüs 14:19). Maar Christus het getoon dat dit verkeerd is om in die openbaar te bid net om deur ander gesien en gehoor te word en hulle lof te ontvang.
Jehovah verhoor nie onopregte, herhalende gebede nie. Jesus het gesê: “As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Mattheüs 6:7, 8). In Oosterse lande is daar baie mense wat dink dat hulle versoeke herhaal word elke keer wanneer hulle ’n gebedsmeul (’n trommel waarin geskrewe gebede is) draai. Miljoene ander gebruik rosekranse of sê gebede uit gebedeboeke op. Maar diegene wat deur God verhoor wil word, sal herhalende gebede vermy en op Jesus se verdere instruksies ag gee.
‘Bid só’
Jesus het vervolgens die gebed gegee wat deur baie mense die modelgebed genoem word (Mattheüs 6:9-13). Hy het gesê: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.” Die feit dat God as “onse Vader” aangespreek word, toon dat ander ook, as deel van sy gesin aanbidders, ’n intieme verhouding met hom het. Die heiliging van God se naam, Jehovah, is van die uiterste belang, maar hoe sal hy dit heilig? Hy sal al die smaad uitwis wat sy naam aangedoen is deur die goddelose te vernietig.—Esegiël 38:23.
“Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” het Jesus bygevoeg. God se heerskappy wat deur sy Seun se hemelse Messiaanse Koninkryk verteenwoordig word, sal binnekort teen alle teenstanders van goddelike soewereiniteit optree en hulle van die aarde verwyder (Daniël 2:44). Maar wat beteken dit wanneer ons vra dat God se wil op die aarde soos in die hemel moet geskied? Dit is ’n versoek dat Jehovah sy voornemens met die aarde, waaronder die verwydering van sy teenstanders, moet uitvoer.—Openbaring 16:14-16; 19:11-21.
Nadat Jesus God, Sy heiligmaking, en Sy voornemens eerste in die modelgebed noem, gaan hy voort: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Die feit dat ons Jehovah vra om ons van “daaglikse” lewensbenodigdhede te voorsien, bevorder geloof in sy vermoë om in die daaglikse behoeftes van sy aanbidders te voorsien. Dit is nie ’n selfsugtige versoek om oordadige lewensmiddele nie.
Jesus het bygevoeg: “En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” (Lukas 11:4 toon dat hierdie “skulde” “sondes” is.) Ons kan slegs vergifnis van God verkry as ons diegene wat teen ons sondig, vergewe het (Mattheüs 6:14, 15). Die apostel Paulus het dus gepas gesê: “Soos Jehovah julle vryelik vergeef het, so moet julle ook doen.”—Kolossense 3:13, NW.
Jesus het die modelgebed afgesluit en gesê: “En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” Jehovah versoek mense nooit “deur die kwaad” nie (Jakobus 1:13). Versoeking kom van die Bose, Satan die Duiwel, maar die Bybel sê soms dat God sekere dinge doen, terwyl hy dit in werklikheid net toelaat (Rut 1:20, 21; Prediker 7:13). Jehovah verhoor die bede: “Lei ons nie in versoeking nie”, deur sy getroue knegte nie in die steek te laat nie, hoewel hy toelaat dat hulle versoek word. Waarlik, ‘God is getrou, en sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra.’—1 Korinthiërs 10:13.
Wanneer ons vra om van die Bose verlos te word, vra ons dat die Duiwel nie toegelaat word om die oorhand oor ons as Jehovah se getroue aanbidders te kry nie. Indien ons lojale knegte van God is, kan ons seker wees dat hy so ’n versoek sal verhoor, aangesien die apostel Petrus geskryf het: “Jehovah weet hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te bevry” (2 Petrus 2:9, NW). En hoe belangrik is hierdie deel van die modelgebed tog nie, want Satan die Duiwel “loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind”!—1 Petrus 5:8.
Waarom hulle gebede verhoor word
God verhoor die gebede van sy getroue aanbidders. Waarom? Jehovah doen dit deels omdat hulle tot hom alleen bid en hom deur Jesus Christus nader. Hulle vermy goddeloosheid asook skynheilige en herhalende gebede. Pleks van die modelgebed meganies te herhaal, gebruik Getuies van Jehovah die uitstekende riglyne daarin om hulle eie hartgrondige gevoelens teenoor God uit te spreek. Maar daar is nog redes waarom hulle gebede verhoor word.
Diegene wie se gebede verhoor word, het aan basiese vereistes voldoen. Paulus het hierdie vereistes aangehaal en geskryf: “Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is, en ’n beloner is van die wat Hom [ernstig] soek” (Hebreërs 11:6, vgl. NW). Let op hierdie twee basiese punte: Jehovah verhoor die gebede van (1) diegene wat glo dat God is, of bestaan, en (2) diegene wat ‘Hom ernstig soek’.
Een so ’n eerste-eeuse individu was die godvrugtige nie-Jood Cornelius. Hy het geglo dat God is en het hom ernstig gesoek. Wat het Cornelius gedoen nadat hy juiste kennis verkry het? Wel, hy het hom heelhartig aan Jehovah God toegewy en is as simbool van daardie toewyding gedoop. Daarna het Cornelius klaarblyklik ’n intieme verhouding met God gehad, en dit het ’n positiewe uitwerking op sy gebede gehad.—Handelinge 10:1-44.
Voordat Cornelius gedoop is, het sy gebede net ‘in gedagtenis voor God gekom’ (Handelinge 10:4). Cornelius het hom egter sonder voorbehoud aan Jehovah oorgegee toe hy hom op grond van sy geloof in Jesus se losprysoffer aan Jehovah toegewy het en gedoop is. Dit het ’n wonderlike innigheid tussen God en hierdie godvrugtige man tot stand gebring—’n verhouding wat Cornelius die onbeperkte voorreg van gebed gegee het (Jakobus 4:8). Hy kon sy hemelse Vader deur Christus Jesus nader in die verwagting dat sy gebede verhoor sou word. Dit is wat met almal gebeur wat hulle deur Christus aan God toewy en gedoop word. Hulle het ook die onbeperkte voorreg van gebed.
Jy wil sonder twyfel ook hê dat jou gebede verhoor moet word. Dit sal inderdaad verstandig wees om Jehovah ernstig te soek as jy hom nie nou as een van sy toegewyde aanbidders dien nie! Streef ’n weg soos dié van Cornelius na, en God sal jou gebede verhoor.
[Prent op bladsy 6]
Hoe is Cornelius se gebede deur sy toewyding aan God en sy doop beïnvloed?