Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 7/15 bl. 15-20
  • Handhaaf eenheid in hierdie laaste dae

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Handhaaf eenheid in hierdie laaste dae
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onderwerp jou aan God se wil
  • Hou vas aan die waarheid
  • Gebruik die tong reg!
  • Wees vergewensgesind!
  • Eenheid en persoonlike besluite
  • Handhaaf altyd Christelike eenheid
  • Jehovah se gesin geniet kosbare eenheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Christelike eenheid verheerlik God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Eenheid is ’n kenmerk van ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Ware Christelike eenheid—Hoe?
    Ons Koninkryksbediening—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 7/15 bl. 15-20

Handhaaf eenheid in hierdie laaste dae

“Gedra julle . . . op ’n wyse wat die goeie nuus . . . waardig is, . . . dat julle in een gees [kan] vasstaan, met een siel sy aan sy vir die geloof van die goeie nuus [kan] stry.”—FILIPPENSE 1:27.

1. Hoe verskil Jehovah se Getuies van die wêreld?

HIERDIE is “die laaste dae”. Daar bestaan geen twyfel nie, ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). In hierdie “tyd van die einde”, met sy beroeringe in die mensegemeenskap, is Jehovah se Getuies ooglopend anders weens die vrede en eenheid wat hulle geniet (Daniël 12:4). Maar daar word van elkeen wat ’n deel is van die wêreldwye gesin van Jehovah se aanbidders vereis om hard te werk om hierdie eenheid te handhaaf.

2. Wat het Paulus oor die handhawing van eenheid gesê, en watter vraag gaan ons bespreek?

2 Die apostel Paulus het mede-Christene vermaan om eenheid te handhaaf. Hy het geskryf: “Gedra julle . . . op ’n wyse wat die goeie nuus oor die Christus waardig is, sodat ek, hetsy ek kom en julle sien of afwesig is, van die dinge aangaande julle kan hoor, dat julle in een gees vasstaan, met een siel sy aan sy vir die geloof van die goeie nuus stry en in geen opsig deur julle teenstanders bang gemaak word nie. Juis dít is ’n bewys van vernietiging vir hulle, maar van redding vir julle; en hierdie aanduiding kom van God” (Filippense 1:27, 28). Paulus se woorde toon duidelik dat ons as Christene moet saam werk. Wat sal ons dus help om ons Christelike eenheid in hierdie moeilike tye te handhaaf?

Onderwerp jou aan God se wil

3. Wanneer en hoe het die eerste onbesnede Heidene volgelinge van Christus geword?

3 Een manier waarop ons ons eenheid kan handhaaf, is deur ons te alle tye aan God se wil te onderwerp. Dit vereis dalk ’n aanpassing in ons denke. Neem byvoorbeeld die vroeë Joodse dissipels van Jesus Christus. Toe die apostel Petrus vir die eerste keer in 36 G.J. vir onbesnede Heidene getuig het, het God heilige gees aan hierdie mense van die nasies geskenk, en hulle is gedoop (Handelinge, hoofstuk 10). Tot op daardie tyd het slegs Jode, bekeerlinge tot Judaïsme en Samaritane volgelinge van Jesus Christus geword.—Handelinge 8:4-8, 26-38.

4. Wat het Petrus gesê nadat hy verduidelik het wat in verband met Kornelius plaasgevind het, en voor watter toets het dit Jesus se Joodse dissipels laat kom?

4 Toe die apostels en ander broers in Jerusalem van die bekering van Kornelius en ander Heidene te wete gekom het, wou hulle graag Petrus se verslag hoor. Nadat die apostel verduidelik het wat in verband met Kornelius en die ander gelowige Heidene plaasgevind het, het hy met die woorde afgesluit: “As God dus aan hulle [daardie gelowige Heidene] dieselfde vrye gawe [van heilige gees] gegee het as ook aan ons [Jode] wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan dat ek God sou kon verhinder?” (Handelinge 11:1-17). Dit het die Joodse volgelinge van Jesus Christus voor ’n toets laat kom. Sou hulle hulle aan God se wil onderwerp en gelowige Heidene as hulle medeaanbidders aanvaar? Of sou die eenheid van Jehovah se aardse knegte bedreig word?

5. Hoe het die apostels en ander broers gereageer op die feit dat God berou aan Heidene geskenk het, en wat kan ons uit hierdie gesindheid leer?

5 Die verslag sê: “En toe hulle [die apostels en ander broers] hierdie dinge hoor, het hulle daarin berus, en hulle het God verheerlik en gesê: ‘Nou ja, God het ook aan mense van die nasies berou wat tot die lewe lei, geskenk’” (Handelinge 11:18). Daardie gesindheid het die eenheid van Jesus se volgelinge bewaar en bevorder. In ’n baie kort tyd het die predikingswerk vooruitgang gemaak onder die Heidene, oftewel die mense van die nasies, en Jehovah se seën het op sulke bedrywighede gerus. Ons moet ons ook daarin berus wanneer ons samewerking in verband met die stigting van ’n nuwe gemeente gevra word of wanneer die een of ander teokratiese aanpassing onder die leiding van God se heilige gees gemaak word. Ons heelhartige samewerking sal Jehovah behaag en sal ons help om ons eenheid in hierdie laaste dae te handhaaf.

Hou vas aan die waarheid

6. Watter invloed het die waarheid op die eenheid van Jehovah se aanbidders?

6 As ’n deel van Jehovah se gesin van aanbidders handhaaf ons eenheid omdat ons almal “deur Jehovah geleer word” en stewig vashou aan sy geopenbaarde waarheid (Johannes 6:45; Psalm 43:3). Aangesien ons leringe op God se Woord gegrond is, spreek ons almal eenstemmig. Ons aanvaar met graagte die geestelike voedsel wat Jehovah deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” beskikbaar stel (Matteus 24:45-47). Sulke eenvormige onderrigting help ons om ons wêreldwye eenheid te handhaaf.

7. Wat moet ons doen en wat moet ons nie doen nie as ons dit persoonlik moeilik vind om ’n sekere gedagte te verstaan?

7 Sê nou ons vind dit persoonlik moeilik om ’n sekere gedagte te verstaan of te aanvaar? Ons moet vir wysheid bid en in die Skrif en Christelike publikasies navorsing doen (Spreuke 2:4, 5; Jakobus 1:5-8). ’n Bespreking met ’n ouer man sal dalk help. As die gedagte nog steeds nie verstaan kan word nie, is dit dalk raadsaam om die saak daarby te laat. Miskien sal meer inligting oor die onderwerp gepubliseer word, en dan sal ons begrip verbreed word. Dit sal egter verkeerd wees om ander in die gemeente daarvan te probeer oortuig om ons afwykende mening te aanvaar. Ons sal dan besig wees om tweedrag te saai en nie daarna streef om eenheid te bewaar nie. Hoeveel beter is dit tog om ‘voort te gaan om in die waarheid te wandel’ en om ander aan te moedig om dit te doen!—3 Johannes 4.

8. Watter gesindheid teenoor die waarheid is gepas?

8 Paulus het in die eerste eeu gesê: “Nou sien ons deur middel van ’n metaalspieël in vae omtrekke, maar dan sal dit van aangesig tot aangesig wees. Nou ken ek gedeeltelik, maar dan sal ek ten volle ken net soos ek ten volle geken word” (1 Korintiërs 13:12). Hoewel die vroeë Christene nie al die besonderhede onderskei het nie, het hulle verenig gebly. Ons het nou ’n baie duideliker begrip van Jehovah se voorneme en sy Woord van waarheid. Laat ons dus dankbaar wees vir die waarheid wat ons deur middel van die ‘getroue slaaf’ ontvang het. En laat ons dankbaar wees dat Jehovah ons deur middel van sy organisasie lei. Hoewel ons nie altyd die kennis gehad het wat ons nou het nie, het ons nie geestelik honger of dors gely nie. Ons Herder, Jehovah, het ons eerder verenig gehou en goed vir ons gesorg.—Psalm 23:1-3.

Gebruik die tong reg!

9. Hoe kan die tong gebruik word om eenheid te bevorder?

9 Om die tong te gebruik om ander aan te moedig, is ’n belangrike manier om eenheid en ’n gees van broederskap te bevorder. Die brief wat ’n vraag oor die besnydenis opgelos het en deur die eerste-eeuse bestuursliggaam uitgestuur is, was ’n bron van aanmoediging. Nadat die Heidense dissipels in Antiogië dit gelees het, het hulle “hulle oor die aanmoediging verheug”. Judas en Silas, wat van Jerusalem af met die brief gestuur is, het “die broers met baie toesprake aangemoedig en hulle versterk”. Die teenwoordigheid van Paulus en Barnabas het medegelowiges in Antiogië ook ongetwyfeld aangemoedig en versterk (Handelinge 15:1-3, 23-32). Ons kan baie dieselfde doen wanneer ons vir Christelike vergaderinge bymekaarkom en deur ons teenwoordigheid en opbouende kommentare “mekaar aanmoedig”.—Hebreërs 10:24, 25.

10. Wat moet dalk gedoen word om die eenheid te handhaaf as iemand hom aan kwaadsprekery skuldig maak?

10 Tog kan die verkeerde gebruik van die tong ons eenheid bedreig. “Die tong [is] ’n klein lid, en tog praat hy baie groot”, het die dissipel Jakobus geskryf. “Kyk! Wat ’n klein vuurtjie is nodig om so ’n groot bos aan die brand te steek!” (Jakobus 3:5). Jehovah haat diegene wat tweedrag saai (Spreuke 6:16-19). Sulke spraak kan onenigheid veroorsaak. Gestel iemand maak hom dus skuldig aan kwaadsprekery, dit wil sê om iemand te belaster of te beledig? Die ouer manne sal die oortreder probeer help. ’n Onberouvolle kwaadspreker moet egter uitgesit word sodat die gemeente se vrede, orde en eenheid gehandhaaf kan word. Paulus het op stuk van sake geskryf: ‘Hou op om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n kwaadspreker is, en om selfs nie saam met so iemand te eet nie.’—1 Korintiërs 5:11.

11. Waarom is nederigheid belangrik as ons iets gesê het wat spanning tussen ons en ’n medegelowige veroorsaak het?

11 As ons ons tong in toom hou, help dit ons om die eenheid te handhaaf (Jakobus 3:10-18). Maar gestel iets wat ons gesê het, het spanning tussen ons en ’n mede-Christen veroorsaak. Sal dit nie gepas wees om die inisiatief te neem en vrede met ons broer te maak nie, selfs om verskoning te vra indien nodig? (Matteus 5:23, 24). Dit vereis weliswaar nederigheid, oftewel ootmoed, maar Petrus het geskryf: “Omgord julle julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Nederigheid sal ons beweeg om ‘vrede na te streef’ met ons broers deur ons foute te erken en op gepaste wyse om verskoning te vra. Dit help om die eenheid van Jehovah se gesin te handhaaf.—1 Petrus 3:10, 11.

12. Hoe kan ons die tong gebruik om die eenheid van Jehovah se volk te bevorder en te handhaaf?

12 Ons kan die gesinsgees onder diegene in Jehovah se organisasie bevorder as ons ons tong reg gebruik. Aangesien Paulus dit gedoen het, kon hy die Tessalonisense herinner: “Julle [weet] goed hoe ons, soos ’n vader sy kinders, aangehou het om elkeen van julle te vermaan en te troos en aan julle getuienis af te lê, sodat julle sou voortgaan om te wandel op ’n wyse wat God . . . waardig is” (1 Tessalonisense 2:11, 12). Paulus het ’n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel, en daarom kon hy mede-Christene aanspoor om ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat’ (1 Tessalonisense 5:14). Dink net hoeveel ons tot voordeel van ander kan doen as ons die tong gebruik om ander te vertroos, aan te moedig en op te bou. Ja, “hoe goed is ’n woord op sy tyd!” (Spreuke 15:23). Bowendien help sulke spraak om die eenheid van Jehovah se volk te bevorder en te handhaaf.

Wees vergewensgesind!

13. Waarom moet ons vergewensgesind wees?

13 As ons Christelike eenheid wil handhaaf, is dit noodsaaklik om iemand wat ons aanstoot gegee het en om verskoning gevra het te vergewe. En hoe dikwels moet ons ander vergewe? Jesus het vir Petrus gesê: “Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’” (Matteus 18:22). As ons nie vergewensgesind is nie, benadeel ons onsself. Hoe so? Wel, dit ontneem ons ons gemoedsrus as ons vyandiggesind is en ’n wrok koester. En as ons bekend word vir ons wrede en onvergewensgesinde maniere, kan ons onsself pynig (Spreuke 11:17). Dit mishaag God wanneer ons ’n wrok koester, en dit kan tot ernstige sonde aanleiding gee (Levitikus 19:18, NW). Onthou dat Johannes die Doper onthoof is weens ’n komplot van die goddelose Herodias, wat “’n wrok teen hom gekoester” het.—Markus 6:19-28.

14. (a) Wat leer Matteus 6:14, 15 ons oor vergifnis? (b) Moet ons altyd wag dat iemand om verskoning vra voordat ons hom vergewe?

14 Jesus se modelgebed sluit hierdie woorde in: “Vergewe ons ons sondes, want ons vergewe self ook elkeen wat by ons in die skuld is” (Lukas 11:4). As ons onvergewensgesind is, loop ons gevaar dat Jehovah God eendag nie meer ons sondes sal vergewe nie, want Jesus het gesê: “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe; maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie” (Matteus 6:14, 15). As ons dus werklik ons deel wil bydra om die eenheid in Jehovah se gesin van aanbidders te handhaaf, sal ons vergewensgesind wees, en miskien ’n onbesonne oortreding wat sonder kwade bedoelings begaan is bloot vergeet. Paulus het gesê: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Wanneer ons vergewensgesind is, help ons om die kosbare eenheid van Jehovah se organisasie te handhaaf.

Eenheid en persoonlike besluite

15. Wat help Jehovah se volk om hulle eenheid te handhaaf wanneer hulle persoonlike besluite neem?

15 God het ons met wilsvryheid geskep, met die voorreg en verantwoordelikheid om persoonlike besluite te neem (Deuteronomium 30:19, 20; Galasiërs 6:5). Tog is ons in staat om ons eenheid te handhaaf omdat ons Bybelwette en -beginsels gehoorsaam. Ons neem dit in ag wanneer ons persoonlike besluite neem (Handelinge 5:29; 1 Johannes 5:3). Gestel daar ontstaan ’n vraag oor neutraliteit. Ons kan ’n ingeligte persoonlike besluit neem deur te onthou dat ons “geen deel van die wêreld” is nie en dat ons ‘van ons swaarde pikke gesmee het’ (Johannes 17:16; Jesaja 2:2-4). Wanneer ons eweneens ’n persoonlike besluit in verband met ons verhouding met die Staat moet neem, hou ons in gedagte wat die Bybel sê oor die betaling “aan God wat aan God behoort”, terwyl ons ons aan “die hoër owerhede” onderwerp wat sekulêre sake betref (Lukas 20:25; Romeine 13:1-7; Titus 3:1, 2). Ja, as ons Bybelwette en -beginsels in ag neem wanneer ons persoonlike besluite neem, help dit ons om ons Christelike eenheid te handhaaf.

16. Hoe kan ons help om die eenheid te handhaaf wanneer ons besluite neem wat skriftuurlik nie reg of verkeerd is nie? Lig dit toe.

16 Ons kan help om Christelike eenheid te handhaaf selfs wanneer ons ’n besluit neem wat heeltemal persoonlik is en skriftuurlik nie reg of verkeerd is nie. Hoe so? Deur liefdevolle besorgdheid teenoor ander te betoon wat dalk deur ons besluit geraak word. Ter toeligting: In die gemeente in eertydse Korinte het ’n vraag ontstaan oor vleis wat aan afgode geoffer is. ’n Christen sou natuurlik nie aan ’n afgodiese seremonie deelneem nie. Dit was egter nie verkeerd om sulke oorskietvleis te eet wat behoorlik gebloei is en in ’n openbare mark verkoop is nie (Handelinge 15:28, 29; 1 Korintiërs 10:25). Dit het nietemin die gewete van sommige Christene gekwel om hierdie vleis te eet. Paulus het ander Christene derhalwe aangespoor om nie hulle broers te laat struikel nie. Trouens, hy het geskryf: “As voedsel my broer laat struikel, sal ek nóóit weer vleis eet nie, sodat ek my broer nie sal laat struikel nie” (1 Korintiërs 8:13). Hoe liefdevol is dit tog om ander in ag te neem wanneer ons persoonlike besluite neem wat die eenheid van God se gesin kan beïnvloed al is geen Bybelwet of -beginsel daarby betrokke nie!

17. Wat is raadsaam om te doen wanneer ons persoonlike besluite moet neem?

17 As ons onseker is oor wat ons moet doen, is dit raadsaam om ’n besluit te neem wat ons in staat stel om ’n skoon gewete te behou, en ander moet ons besluit respekteer (Romeine 14:10-12). Wanneer ons ’n persoonlike besluit moet neem, moet ons Jehovah natuurlik in gebed om leiding vra. Soos die psalmis kan ons met vertroue bid: “Neig u oor tot my. . . . Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur.”—Psalm 31:3, 4.

Handhaaf altyd Christelike eenheid

18. Hoe het Paulus die eenheid van die Christengemeente toegelig?

18 In 1 Korintiërs hoofstuk 12 het Paulus die menseliggaam gebruik om die eenheid van die Christengemeente toe te lig. Hy het onderlinge afhanklikheid en die belangrikheid van elke lid beklemtoon. “As hulle almal een lid was, waar sou die liggaam wees?” het Paulus gevra. “Maar nou is hulle baie lede, en tog een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek het jou nie nodig nie’; of ook die kop vir die voete: ‘Ek het julle nie nodig nie’” (1 Korintiërs 12:19-21). Ons verrig eweneens nie almal dieselfde funksie in die gesin van Jehovah se aanbidders nie. Maar ons is verenig, en ons het mekaar nodig.

19. Hoe kan ons by God se geestelike voorsienings baat vind, en wat het ’n ouer broer hieroor gesê?

19 Soos die liggaam voedsel, sorg en leiding nodig het, het ons die geestelike voorsienings nodig wat God ons deur middel van sy Woord, gees en organisasie gee. Om by hierdie voorsienings baat te vind, moet ons deel wees van Jehovah se aardse gesin. Ná baie jare in God se diens het een broer geskryf: “Ek is so dankbaar dat ek in ooreenstemming met die kennis van Jehovah se voornemens gelewe het van daardie vroeë dae kort voor 1914 toe alles nie so duidelik was nie . . . tot hierdie dag toe wanneer die waarheid soos die middagson skyn. Die een ding wat vir my van die grootste belang was, was om na aan Jehovah se sigbare organisasie te bly. My vroeë ondervinding het my geleer hoe onverstandig dit is om op menslike wysheid te vertrou. Toe ek eers oor daardie saak tot ’n besluit gekom het, was ek vasbeslote om by die getroue organisasie te bly. Hoe anders kan ’n mens Jehovah se guns en seën ontvang?”

20. Wat moet ons vasbeslote wees om ten opsigte van ons eenheid as Jehovah se volk te doen?

20 Jehovah het sy volk uit wêreldse duisternis en onenigheid geroep (1 Petrus 2:9). Hy het ons in ’n geseënde eenheid met homself en met ons medegelowiges gebring. Hierdie eenheid sal in die nuwe stelsel van dinge bestaan wat nou so naby is. Laat ons dus in hierdie kritieke laaste dae voortgaan om ‘ons met liefde te beklee’ en alles in ons vermoë te doen om ons kosbare eenheid te bevorder en te handhaaf.—Kolossense 3:14.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom kan dit ons help om eenheid te handhaaf as ons God se wil doen en aan die waarheid vashou?

◻ Hoe hou eenheid verband met die gepaste gebruik van die tong?

◻ Wat behels dit om vergewensgesind te wees?

◻ Hoe kan ons eenheid handhaaf wanneer ons persoonlike besluite neem?

◻ Waarom moet ons Christelike eenheid handhaaf?

[Prent op bladsy 16]

Net soos hierdie herder sy kudde bymekaar hou, hou Jehovah sy volk verenig

[Prente op bladsy 18]

Ons help om die eenheid te bevorder deur nederig om verskoning te vra wanneer ons iemand aanstoot gee

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel