Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 11/15 bl. 4-7
  • Kan godsdiens in ons behoeftes voorsien?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan godsdiens in ons behoeftes voorsien?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe ons in ons materiële behoeftes kan voorsien
  • Waarom moet ’n mens in godsdiens belangstel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Soek die Koninkryk, nie dinge nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Het godsdiens in ons behoeftes voorsien?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Geniet jou werk
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 11/15 bl. 4-7

Kan godsdiens in ons behoeftes voorsien?

WAT gaan ons eet? Wat gaan ons drink? Wat gaan ons aantrek? Hierdie is dringende vrae, veral wanneer dit moeilik is om die basiese lewensbehoeftes te bekom. Maar let op wat Jesus Christus gesê het: “Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie” (Mattheüs 6:25). Klink dit vreemd? As iemand ’n gebrek aan kos, klere en huisvesting het, het hy immers praktiese hulp nodig en nie wat party dalk as ’n godsdiensgemeenplaas beskou nie.

Jesus was nie onsimpatiek nie, en hy het ook nie probeer om die geskil te ontwyk nie. Hy was terdeë bewus van die mens se behoeftes. Maar hy het ook geweet van ’n baie wesenlike gevaar. Wanneer ons in ons behoeftes moet voorsien, is dit baie maklik om materiële dinge die middelpunt van ons lewe te maak en God as onbelangrik te beskou. Ons moet derhalwe ons prioriteite in orde kry.

Ons sal ons prioriteite in orde kry as ons Jesus se raad volg: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). As ons hierdie raad volg, kan godsdiens—ware godsdiens wat op Bybelwaarhede gegrond is—wel in ons behoeftes voorsien.

Jesus was egter nie so onrealisties om te beweer dat al ons probleme onmiddellik opgelos sal word as ons eenvoudig een van sy dissipels word en sy godsdiensleringe naleef nie; hy het ook nie bedoel dat sy dissipels bloot agteroor moet sit en moet wag dat God wonderdadig vir hulle voorsien nie. Almal sou mos ’n Christen wou word as dit oombliklike vryheid van alle lewensmoeilikhede beteken het! Wat Jesus wel bedoel het, was dat sy Vader, Jehovah God, al die nodige dinge verskaf om in al ons behoeftes te voorsien. Dit is waarom Jesus ook gesê het: “Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Mattheüs 6:32.

Jehovah voorsien ook in ons lewensbelangrike geestelike behoeftes. Hy het ons, deur middel van die Heilige Skrif, geïnspireerde leiding gegee om ons lewe op die beste manier moontlik te rig (Jesaja 48:17). God het ’n gemeenskap van aanbidders tot stand gebring wat hulp verleen wanneer dit nodig is (Handelinge 4:34). Hy tree ook tussenbeide om sy knegte deur middel van sy heilige gees, of werkende krag, te help (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22-25). Verder het God voorsiening gemaak om die Paradys op die aarde te herstel.—Lukas 23:43; Openbaring 21:1-4.

Hoe ons in ons materiële behoeftes kan voorsien

Beskou nou enkele Bybelbeginsels wat mense gehelp het om in hulle materiële behoeftes te voorsien. Die Christenapostel Paulus het geskryf:

“Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig” (2 Korinthiërs 7:1)

Dink aan al die probleme waaraan ons kan ontkom as ons besoedeling deur tabak, dwelms en ander dinge wat die liggaam besmet, vermy. En ons is soveel beter daaraan toe as ons nie ons geld, tyd en gedagtes verkwis aan onsedelike lektuur en vermaak wat ons gees kan besoedel nie!

Die Skrif sê ook:

“Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want ’n drinker en ’n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra” (Spreuke 23:20, 21)

Let op die eindresultaat van dronkenskap en vraatsug—armoede en vodde. Talle mense—selfs streng godsdienstige mense—bly vandag armoedig omdat hulle te veel sterk drank drink of aan dinge verslaaf is wat die vlees besoedel. As ons sulke dinge vermy sodat ons Bybelstandaarde kan naleef, kan dit ons baie help om in ons behoefte aan voedsel, klere en onderdak te voorsien.

Nog ’n beginsel wat Christene gehelp het om in hulle behoeftes te voorsien, blyk uit die apostel Paulus se woorde:

“Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, want ons wil ons in alle dinge eerlik gedra” (Hebreërs 13:18, “NW”)

Eerlikheid in al hulle handelinge het talle Christene gehelp om goed vir hulleself en hulle gesinne te sorg. Dit het hulle ’n goeie reputasie besorg, en ander is gevolglik meer geneë om met hulle sake te doen. ’n Eerlike persoon het miskien nie altyd die meeste materiële dinge nie, maar hy het gewoonlik die basiese lewensbehoeftes en hy behou sy selfrespek.

Iets wat ten nouste hiermee saamhang, is die raad:

“Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is” (Efesiërs 4:28)

Die toepassing van hierdie beginsel het talle mense gehelp om werk te kry en te behou, want hulle is betroubaar. Hulle is gevolglik in staat om vir hulleself en hulle gesinne te sorg. Pleks van besmet te word met die gees van hierdie wêreld, wat menige oneerlike gebruike deur die vingers sien, is Christene eerlik, en dit het goeie gevolge.

Ter toeligting: Een van Jehovah se Getuies in Japan wou elke week minder ure werk sodat hy meer tyd vir geestelike belange sou hê. Maar toe hy hierdie versoek gedoen het, het sy werkgewer hom afgedank. Daarop het die werkgewer se moeder hom gevra: “Het jy die betroubaarste man afgedank?” Sake het vir die Getuie versleg toe hy sy rug beseer het terwyl hy ander werk gedoen het. Kort daarna het hy sy vorige werkgewer teëgekom, wat ontsteld was omdat hy pas tevore verneem het dat een van sy werknemers goud, platina en ringe van sy juweliersmaatskappy gesteel het. Die werkgewer het die Getuie dadelik gevra om weer vir hom te kom werk, hierdie keer op sy eie voorwaardes. Die man wou ’n eerlike werker hê.

Volgens die apostel Paulus moet ’n Christen ‘hard werk’, nie net om in sy eie onderhoud te voorsien nie, maar ook sodat hy ‘iets sal hê om vir die armes te gee’ (Efesiërs 4:28, NAV). Ware Christene is altyd gewillig om ander in tye van nood te help. ’n Sekere gesin in Fidji het dit ondervind toe siklone hulle huis ernstig beskadig het terwyl hulle by ’n Christenbyeenkoms was. By hulle tuiskoms het hulle ’n toneel van verwoesting aangetref. Maar hulle het ook medegelowiges gevind wat met graagte hulle middele gebruik het om die gesin te huisves en hulle te help om hulle huis te herbou. “Dit is vertroostend”, het die vader gesê, “wanneer jy weet dat daar Christene is wat werklik vir jou omgee.”

Jesus Christus het innige medelye met die behoeftiges gehad. Hy het die minderbevoorregtes by verskeie geleenthede persoonlik op die een of ander manier gehelp. Jesus het natuurlik geweet dat solank hierdie verdorwe stelsel toegelaat word om te bestaan armoede en ander maatskaplike probleme sal voortduur (Johannes 12:8). Ofskoon hy dus baie gedoen het om mense materieel te help, was sy bediening hoofsaaklik daarop toegespits om in hulle geestelike behoeftes te voorsien.

Toe ’n skare wie se honger gestil is Jesus na Kapernaüm gevolg het, het hy hierdie belangrike opmerking gemaak: “Julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee” (Johannes 6:26, 27). Wat het Jesus bedoel?

Jesus het bedoel dat daar ’n gevaar was dat mense bloot met die oog op materiële voordeel met hom en sy dissipels sou omgaan. Maar hy het geweet dat dit nie blywende voordele sou bring nie. Daarom het hy gesê: “Gelukkig is hulle wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is hulle wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.”—Mattheüs 5:3, 6, NW.

Benewens ’n honger na materiële voedsel is daar ’n honger na waarheid en geestelike vervulling. Wanneer hierdie geestelike honger gestil word, bring dit ware geluk mee. Die Christendom het ’n materialistiese gemeenskap voortgebring. Oosterse godsdienste het mense in geestelike duisternis gelaat. Maar ware aanbidding—die godsdiens van Jesus Christus—het in mense se geestelike behoeftes voorsien. Dit kan dieselfde vir jou doen. Hierdie voorsieninge kan joune wees as jy daarvan gebruik maak.

’n Jong man in Mauritius het byvoorbeeld ’n eksemplaar van Die Wagtoring en sy medetydskrif Ontwaak! geneem by ’n Christen wat met straatgetuieniswerk besig was. Die daaropvolgende week het hy nog tydskrifte kom haal. Hy het verduidelik dat hy as gevolg van sy finansiële probleme selfmoord oorweeg het, maar dat die tydskrifte hom gehelp het om te besef dat daar ’n God is wat vir ons omgee. ’n Begin is gemaak om die jong man se geestelike honger te stil.

Sal ons ooit ’n tyd beleef wanneer daar ten volle in al ons behoeftes voorsien word? Die Bybel belowe dat ons sal. Mense is weliswaar al sat van herhaaldelike beloftes van beter toestande wat voorlê. Hulle is al so dikwels teleurgestel. Maar ons kan vertroue hê in die beloftes van die Bybel. Die Outeur daarvan, Jehovah God, kom elke belofte na wat hy maak. Josua het dit goed uitgedruk toe hy sy mede-Israeliete herinner het: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.

Die ware oplossing vir al ons probleme lê in die vervulling van God se wonderlike beloftes om die hele aarde te reinig (Openbaring 11:18). Daar sal in al ons behoeftes voorsien word wanneer sy Koninkryk die Paradys op die aarde herstel en sodoende sy oorspronklike voorneme vir die mensdom ten uitvoer bring (Mattheüs 6:9, 10). Dan sal ons nie ‘die stem van geween of geskreeu’ hoor van mense in wie se behoeftes nie voorsien kan word nie. Hulle sal deur middel van eerlike werk en deur die toepassing van goddelike beginsels ’n vol, bevredigende lewe geniet.—Jesaja 65:17-25.

Maria, die voormalige Katolieke non wat vroeër gemeld is, het hierdie sekerheid verkry. Sy het besef dat sy jare lank in geestelike duisternis geleef het, gekwel deur vrees vir die toekoms en nie in staat om die ware sin van die lewe te verstaan nie. Maar kennis van Bybelwaarhede het dit alles verander. “Ek het uit die duisternis gekom in ’n lig wat immer helderder skyn”, het sy gesê (Psalm 43:3; Spreuke 4:18). Dit het haar nie net gehelp om in haar onmiddellike materiële behoeftes te voorsien nie, maar het ook haar geestelike honger en dors bevredig. Ja, godsdiens—ware godsdiens—kan in ons behoeftes voorsien.

[Prent op bladsy 7]

Ware godsdiens sal in al ons behoeftes voorsien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel