Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 10/1 bl. 15-20
  • Hou aan om die Koninkryk en God se geregtigheid te soek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan om die Koninkryk en God se geregtigheid te soek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gebede wat God behaag
  • Maak hemelse skatte bymekaar
  • Geloof wat kwelling uit die weg ruim
  • Hoe om God se Koninkryk en sy geregtigheid te verkry
  • Geregtigheid nie deur mondelinge oorleweringe nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Wees daders van die woord, nie net hoorders nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die mondelinge wet—Waarom is dit op skrif gestel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Die beroemde Bergpredikasie
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 10/1 bl. 15-20

Hou aan om die Koninkryk en God se geregtigheid te soek

“Hou dan aan om eers die koninkryk en sy geregtigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—MATTHEÜS 6:33.

1, 2. Waarin het die skrifgeleerdes en Fariseërs dade verander wat op sigself goed was, en watter waarskuwing het Jesus aan sy volgelinge gegee?

DIE skrifgeleerdes en Fariseërs het geregtigheid op hulle manier gesoek, wat nie God se manier was nie. Dit is nie al nie. Wanneer hulle wel dinge gedoen het wat op sigself goed was, het hulle dit in skynheilige vertonings verander om deur mense gesien te word. Hulle het, nie God nie, maar hulle eie ydelheid gedien. Jesus het sy dissipels teen sulke toneelspelery gewaarsku: “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie.”—Mattheüs 6:1.

2 Jehovah waardeer diegene wat aan die armes gee—maar nie diegene wat gee soos die Fariseërs gegee het nie. Jesus het sy dissipels gewaarsku om hulle nie na te boots nie: “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ’n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon [ten volle] weg.”—Mattheüs 6:2, vgl. NW.

3. (a) In watter sin is die skrifgeleerdes en Fariseërs ten volle betaal vir hulle gawes? (b) Hoe het Jesus se beskouing ten opsigte van gawes verskil?

3 Die Griekse woord vir ‘hulle het ten volle’ (a·peʹkho) was ’n term wat dikwels in sakekwitansies verskyn het. Die gebruik daarvan in die Bergpredikasie toon dat “hulle hul loon ontvang het”, dit wil sê, “hulle het die kwitansie van hulle loon onderteken: hulle reg om hulle loon te ontvang is verwesenlik, presies asof hulle reeds ’n kwitansie daarvoor gegee het” (An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine). Gawes vir die armes is plegtig in die openbaar in die strate beloof. Die name van skenkers is in die sinagoges aangekondig. Diegene wat groot hoeveelhede gegee het, is spesiaal vereer deur tydens aanbidding sitplekke langs die rabbi’s te kry. Hulle het gegee om deur mense gesien te word; hulle is deur mense gesien en verheerlik; daarom kon hulle die woorde “Ten volle betaal” op die kwitansie vir die loon wat hulle vir hulle gawes ontvang het, stempel. Hoe het Jesus se beskouing tog nie verskil nie! Gee “in die verborgene. . . ; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”—Mattheüs 6:3, 4; Spreuke 19:17.

Gebede wat God behaag

4. Waarom het die Fariseërs se gebede daartoe gelei dat Jesus hulle geveinsdes genoem het?

4 Jehovah waardeer gebede wat tot hom gerig word—maar nie soos die Fariseërs gebid het nie. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het” (Mattheüs 6:5). Die Fariseërs moes daagliks op spesifieke tye baie gebede opsê, ongeag waar hulle was. Teoreties moes hulle privaat bid. Hulle het egter met opset “op die hoeke van die strate” gaan staan wanneer die uur van die gebed aangebreek het sodat hulle sigbaar was vir mense wat uit vier rigtings verbygeloop het.

5. (a) Watter ander gebruike het tot gevolg gehad dat die Fariseërs se gebede nie deur God verhoor is nie? (b) Watter dinge het Jesus eerste gestel in sy modelgebed, en pas mense dit vandag toe?

5 In ’n vertoon van valse heiligheid het hulle ‘vir die skyn lang gebede gedoen’ (Lukas 20:47). Een mondelinge oorlewering het gelui: “Vanmelewe se vroom manne het ’n uur lank gewag voordat hulle die Tefillah [gebed] opgesê het” (Misjna). Teen daardie tyd sou almal beslis hulle vroomheid sien en hulle daaroor verwonder! Sulke gebede het nie hoër as hulle eie koppe gegaan nie. Jesus het gesê hulle moet privaat bid, sonder ydele herhaling, en hy het hulle ’n eenvoudige model gegee (Mattheüs 6:6-8; Johannes 14:6, 14; 1 Petrus 3:12). Jesus se modelgebed het die belangrike dinge eerste gestel: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied” (Mattheüs 6:9-13). Min mense ken vandag God se naam; nog minder wil hulle hê dat dit verheerlik word. Hulle maak hom sodoende ’n naamlose god. Laat God se Koninkryk kom? Baie mense dink dat dit reeds hier is, binne-in hulle. Hulle bid dalk dat sy wil moet geskied, maar die meeste doen wat húlle wil.—Spreuke 14:12.

6. Waarom het Jesus die Joodse vaste as sinloos veroordeel?

6 ’n Vas is vir Jehovah aanvaarbaar—maar nie soos die Fariseërs gevas het nie. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs se vaste net soos hulle aalmoesgeëry en gebede as sinloos verwerp: “Wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg” (Mattheüs 6:16). Die Fariseërs se mondelinge oorleweringe het aangedui dat hulle hul gedurende vastye nie moes was of salf nie maar as op hulle hoofde moes smeer. Wanneer hulle nie gevas het nie, het die Jode hul gereeld gewas en hulle liggame met olie gesmeer.

7. (a) Hoe moes Jesus se volgelinge optree wanneer hulle gevas het? (b) Wat het Jehovah in Jesaja se dag vereis ten opsigte van vaste?

7 Wat vas betref, het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader” (Mattheüs 6:17, 18). In Jesaja se dag het afvallige Jode behae geskep in hul vaste deur hulle siele te kwel, hulle hoofde te buig en in sak en as te sit. Maar Jehovah wou hê dat hulle die onderdruktes bevry, die hongerlyers voed, huisvesting aan die haweloses gee en die naaktes klee.—Jesaja 58:3-7.

Maak hemelse skatte bymekaar

8. Wat het daartoe gelei dat die skrifgeleerdes en Fariseërs uit die oog verloor het hoe om God se guns te verkry, en watter beginsel, wat later deur Paulus geuiter is, het hulle veronagsaam?

8 In hulle strewe na geregtigheid het die skrifgeleerdes en Fariseërs uit die oog verloor hoe hulle God se guns moet verkry en het hulle hul daarop toegelê om die bewondering van mense te kry. Hulle het so behep geraak met die oorleweringe van mense dat hulle die geskrewe Woord van God veronagsaam het. Hulle het hul hart op aardse posisie gesit in plaas van op hemelse skatte. Hulle het ’n eenvoudige waarheid veronagsaam wat jare later opgeteken is deur ’n Christen wat voorheen ’n Fariseër was: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang” (Kolossense 3:23, 24).

9. Watter gevare kan ’n bedreiging vir aardse skatte wees, maar wat sal ware skatte veilig bewaar?

9 Jehovah stel belang in jou toegewydheid aan hom, nie in jou bankrekening nie. Hy weet jou hart is waar jou skat is. Kan roes en motte jou skat verteer? Kan diewe deur kleimure grawe en dit steel? Of kan inflasie in hierdie moderne tye van ekonomiese onbestendigheid die koopkrag daarvan laat krimp of kan aandelemarkineenstortings dit uitwis? Sal die stygende misdaadsyfer veroorsaak dat jou skat gesteel word? Nie as dit in die hemel bymekaargemaak is nie. Nie as jou oog—’n lamp wat jou hele liggaam verlig—eenvoudig en op God se Koninkryk en sy geregtigheid gerig is nie. Rykdom verdwyn dikwels. “Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!” (Spreuke 23:4, 5). Waarom dus slaap verloor oor rykdom? “Die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie” (Prediker 5:11). Onthou Jesus se waarskuwing: “Julle kan nie God en die Rykdom as slaaf dien nie.”—Mattheüs 6:19-24, vgl. NW.

Geloof wat kwelling uit die weg ruim

10. Waarom is dit so belangrik om jou geloof in God, pleks van materiële besittings te stel, en watter raad het Jesus gegee?

10 Jehovah wil hê dat jy in hom geloof stel, nie in materiële besittings nie. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Jesus het gesê: “Iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Miljoene in die bank sal nie aangetaste longe laat aanhou werk of ’n moeë hart laat aanhou pomp nie. “Daarom sê Ek vir julle”, het Jesus sy Bergpredikasie vervat: “Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?”—Mattheüs 6:25.

11. Waar het Jesus baie van sy illustrasies gekry, en hoe is dit in die Bergpredikasie geopenbaar?

11 Jesus was ’n meester op die gebied van mondelinge illustrasies. Hy het aan illustrasies gedink waar hy ook al gekyk het. Hy het ’n vrou gesien wat ’n verligte lamp op ’n staander sit en het dit in ’n illustrasie omskep. Hy het ’n herder gesien wat skape van bokke skei; dit het ’n illustrasie geword. Hy het kinders in die mark sien speel; dit het ’n illustrasie geword. En dit was ook die geval in die Bergpredikasie. Terwyl hy oor kwelling oor fisiese behoeftes gepraat het, het hy illustrasies in die voëls gesien wat heen en weer gefladder het en die lelies waarmee die heuwels bedek was. Saai en maai die voëls? Nee. Spin en weef die lelies? Nee. God het hulle gemaak; hy sorg vir hulle. Julle is egter meer werd as voëls en lelies (Mattheüs 6:26, 28-30). Hy het sy Seun vir julle, nie vir hulle nie, gegee.—Johannes 3:16.

12. (a) Het die illustrasies oor die voëls en die blomme beteken dat Jesus se dissipels nie sou hoef te werk nie? (b) Wat het Jesus toegelig aangaande werk en geloof?

12 Jesus het nie hier vir sy volgelinge gesê dat hulle nie hoef te werk om hulleself te voed en te klee nie. (Sien Prediker 2:24; Efesiërs 4:28; 2 Thessalonicense 3:10-12.) Op daardie lenteoggend was die voëls besig om kos te soek, mekaar die hof te maak, neste te bou, op eiers te broei en hulle kleintjies te voer. Hulle het gewerk maar sonder om hulle te kwel. Die blomme was ook besig om hulle wortels in die grond in te stoot op soek na water en minerale en om hulle blare te laat uitreik na sonlig. Hulle moes ryp word en blom en hulle saad uitstort voordat hulle doodgaan. Hulle het gewerk maar sonder om hulle te kwel. God sorg vir die voëls en lelies. ‘Hoeveel te meer sal hy vir julle sorg, kleingelowiges?’—Mattheüs 6:30.

13. (a) Waarom was dit gepas dat Jesus ’n elmaat gebruik het toe hy van die verlenging van ’n mens se lewensduur gepraat het? (b) Hoe kan jy jou lewe as ’t ware met eindelose miljoene kilometers verleng?

13 Toon dus geloof. Moet jou nie kwel nie. Kwelling sal niks verander nie. “Wie van julle kan deur besorg te wees”, het Jesus gevra, “een el aan sy lewensduur toevoeg?” (Mattheüs 6:27, NW). Maar waarom verbind Jesus ’n fisiese afstandmaat, ’n el, met ’n tydmaat in ’n lewensduur? Waarskynlik omdat die Bybel gedurig die lewensduur van mense met ’n reis vergelyk deur uitdrukkings te gebruik soos “die weg van die sondaars”, “die pad van die regverdiges”, ’n ‘breë pad na die verderf’ en ’n ‘smal pad na die lewe’ (Psalm 1:1; Spreuke 4:18; Mattheüs 7:13, 14). Kwelling oor daaglikse behoeftes kan ’n mens se lewe nie eers met ’n fraksie, so te sê “een el”, verleng nie. Maar daar is ’n manier waarop ’n mens jou lewe as ’t ware met eindelose miljoene kilometers kan verleng. Nie deur jou te kwel en te sê: “Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?”, maar deur geloof te toon en te doen wat Jesus sê ons moet doen: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy geregtigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:31-33, vgl. NW.

Hoe om God se Koninkryk en sy geregtigheid te verkry

14. (a) Wat is die tema van die Bergpredikasie? (b) Op watter verkeerde manier het die skrifgeleerdes en Fariseërs die Koninkryk en geregtigheid gesoek?

14 In die openingsin van sy Bergpredikasie het Jesus gepraat van die Koninkryk van die hemele wat aan dié behoort wat bewus is van hulle geestelike behoefte. In die vierde sin het hy gesê dat dié wat na geregtigheid honger en dors, versadig sal word. Hier stel Jesus die Koninkryk sowel as Jehovah se geregtigheid eerste. Dit is die tema van die Bergpredikasie. Dit is die oplossing vir die behoeftes van die hele mensdom. Maar hoe kan God se Koninkryk en God se geregtigheid verkry word? Hoe hou ons aan om daarna te soek? Nie soos die skrifgeleerdes en Fariseërs nie. Hulle het die Koninkryk en geregtigheid deur middel van die Mosaïese Wet gesoek, wat, soos hulle beweer het, die mondelinge oorleweringe ingesluit het, aangesien hulle geglo het dat God beide die geskrewe Wet en die mondelinge oorleweringe aan Moses by die berg Sinai gegee het.

15. (a) Wanneer het die Jode se mondelinge oorleweringe volgens hulle ontstaan, en hoe het hulle dit bo die geskrewe Mosaïese Wet verhef? (b) Wanneer het hierdie oorleweringe werklik begin, en met watter gevolg vir die Mosaïese Wet?

15 Hulle oorlewering hieroor het gesê: “Moses het die Wet [voetnoot, “Die ‘Mondelinge Wet’”] op Sinai ontvang en dit aan Josua toevertrou, en Josua het dit aan die ouere manne, en die ouere manne het dit aan die Profete toevertrou; en die Profete het dit aan die manne van die Groot Sinagoge toevertrou.” Mettertyd is hulle mondelinge wet selfs bo die geskrewe Wet verhef: “[As] hy die woorde van die [geskrewe] Wet oortree, is hy nie strafbaar nie”, maar as “hy aan die woorde van die Skrifgeleerdes [mondelinge oorleweringe] toevoeg, is hy strafbaar” (Misjna). Hulle mondelinge oorleweringe het nie by Sinai begin nie. Trouens, dit het ongeveer twee eeue voor Christus vinnig begin toeneem. Hulle het by die geskrewe Mosaïese Wet bygevoeg, daarvan weggelaat en dit kragteloos gemaak.—Vergelyk Deuteronomium 4:2; 12:32.

16. Hoe kan die mensdom God se geregtigheid verkry?

16 God se geregtigheid word nie verkry deur middel van die Wet nie maar daarsonder: “Uit die werke van die wet [sal] geen vlees voor Hom geregverdig . . . word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus” (Romeine 3:20-22). God se geregtigheid word dus deur middel van geloof in Christus Jesus verkry—daarvan het “die wet en die profete” ruimskoots getuig. Die Messiaanse profesieë is in Jesus vervul. Hy het ook die Wet vervul; dit is uit die weg geruim deurdat dit aan die folterpaal genael is.—Lukas 24:25-27, 44-46; Kolossense 2:13, 14; Hebreërs 10:1.

17. Hoe het die Jode, volgens die apostel Paulus, versuim om die geregtigheid van God te ken?

17 Die apostel Paulus het gevolglik aangaande die Jode se versuim om geregtigheid te soek geskryf: “Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Romeine 10:2-4). Paulus het ook aangaande Christus Jesus geskryf: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”—2 Korinthiërs 5:21.

18. Hoe het die Joodse tradisievereerders, die Griekse filosowe en “die wat geroep is” “Christus aan ’n paal genael” beskou?

18 Die Jode het ’n sterwende Messias as ’n swak nikswerd beskou. Die Griekse filosowe het so ’n Messias as dwaasheid bespot. Dit is nietemin soos Paulus gesê het: “Die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig [“aan ’n paal genael”, NW] is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Korinthiërs 1:22-25). Christus Jesus is ’n manifestasie van God se mag en wysheid en is God se instrument waardeur die gehoorsame mensdom geregtigheid en die ewige lewe kan verkry. “Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”—Handelinge 4:12.

19. Wat sal die volgende artikel toon?

19 Die volgende artikel sal toon dat ons moet aanhou om God se Koninkryk en sy geregtigheid te soek as ons vernietiging wil vryspring en die ewige lewe wil verkry. Ons moet dit doen deur nie net na Jesus se woorde te luister nie maar deur hulle ook toe te pas.

Hersieningsvrae

◻ Waarin het die Joodse godsdiensyweraars hulle genadegawes, gebede en vaste verander?

◻ Waar is die veilige plek om jou skatte bymekaar te maak?

◻ Waarom moet ons ons nie oor ons materiële behoeftes kwel nie?

◻ Watter valse bewering het die Jode gemaak aangaande die oorsprong van hulle mondelinge oorleweringe?

◻ Waardeur kan God se Koninkryk en sy geregtigheid verkry word?

[Prent op bladsy 16]

Die Fariseërs het graag op straathoeke gestaan en bid waar hulle deur die mense gesien kon word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel