“Die lelies van die veld”
WERKLOOSHEID. Stygende pryse. Armoede. Ekonomiese depressie. Hierdie woorde kom al hoe meer in die nuusberigte voor. En dit weerspieël die probleme waarvoor miljoene te staan kom wat hulle gesinne probeer voed en klee en ’n dak oor hulle kop probeer hou.
Gelowiges, asook ongelowiges, word hierdeur geraak. Maar gelowiges word nie aan hulleself oorgelaat wanneer hulle voor hierdie probleme te staan kom nie. Toe Jesus met nederige mense van die eerste eeu gepraat het, het hy gesê: “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”—Mattheüs 6:26.
Jesus het ook gesê: “Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld . . . so beklee, hoeveel te meer vir julle?”—Mattheüs 6:28-30.
Beteken dit dat ’n Christen nie hoef te werk om ’n bestaan te maak nie? Hoegenaamd nie! ’n Christen werk so hard as wat nodig is om sy rekeninge te betaal. Die apostel Paulus het gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thessalonicense 3:10). Nietemin is ’n Christen bewus van God se liefdevolle sorg en glo hy dat sy hemelse Vader na hom omsien. Gevolglik versteur die sorge van die lewe nie sy ewewig nie. Selfs in moeilike tye stel hy belangrike dinge—geestelike dinge—eerste. Hy glo Jesus se woorde: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:33.