Insig uit die twee boeke van die Konings
EENMAAL toe Jesus in sy tuisdorp Nasaret gepraat het, het hy iets gesê wat ’n verbasend sterk reaksie uitgelok het. Die inwoners van Nasaret het skynbaar gewonder waarom hy daar nie so baie wonderwerke verrig het as in ander dorpe nie. Toe Jesus die rede verstrek het, het hy twee Skriftuurlike voorbeelde gebruik. Hy het gesê:
„Dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, „geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ’n groot hongersnood in die hele land gekom het. Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër” (Lukas 4: 24-27, NAV). Hierdie woorde het die hoorders so vertoorn dat hulle probeer het om Jesus dood te maak. Waarom het hulle so heftig gereageer?
Om die antwoord te vind, moet ons teruggaan na die Hebreeuse Skrifte en die verhale van Elia en Elisa lees. Die eerste-eeuse Christene was deeglik bekend met daardie boeke, en so ook hulle Joodse hoorders. By verskeie geleenthede het Christelike Bybelskrywers melding gemaak van gebeurtenisse en persone in daardie vroeëre boeke om ’n punt toe te lig, soos Jesus hier gedoen het. Die hoorders het dadelik hierdie vermeldings erken en verstaan. As ons Jesus se leringe behoorlik wil begryp, moet ons ook daardie vermeldings herken.
Dit is inderdaad onmoontlik om die Christelike Griekse Skrifte ten volle te verstaan as ons nie met die Hebreeuse Skrifte bekend is nie. Die verhale van die profete waarna Jesus verwys het, Elia en Elisa, is in die twee boeke van die Konings opgeteken. Kom ons beskou hierdie twee boeke om die punt toe te lig en te sien hoe kennis daarvan ons ’n dieper en duideliker begrip van die Christelike Griekse Skrifte gee.
’n Ongunstige vergelyking
Ten eerste, waarom was die inwoners van Nasaret so ontsteld toe Jesus melding gemaak het van twee wonderwerke wat meer as 900 jaar tevore deur Elia en Elisa verrig is? Wel, Jesus het die Nasareners duidelik vergelyk met die Israeliete van die noordelike koninkryk van Israel gedurende die dae van Elia en Elisa, en volgens die twee boeke van die Konings was Israel op daardie tydstip nie in ’n gesonde geestelike toestand nie. Die Israeliete het heeltemal oorgegaan tot Baälse aanbidding en het die profete van Jehovah vervolg. Elia het glad vir sy eie landgenote gevlug toe ’n weduwee in Sarfat, in ’n vreemde land, hom geherberg en gevoed het. Dit was toe dat hy die wonderwerk verrig het waarvan Jesus melding gemaak het (1 Konings 17:17-24). Israel was nog steeds deurtrek van die Baälse aanbidding toe Elisa die Siriese leerowerste Naäman van sy melaatsheid genees het.—2 Konings 5:8-14.
Die inwoners van Nasaret het nie daarvan gehou om met die verheidende Jode van daardie dae vergelyk te word nie. Was Jesus se vergelyking geregverdig? Seer sekerlik. Net soos Elia se lewe in Israel in gevaar was, so was Jesus se lewe nou in gevaar. Die verslag deel ons mee: „Almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi.” Maar Jehovah het Jesus beskerm, net soos hy vroeër vir Elia beskerm het.—Lukas 4:28-30.
Koning Salomo se heerlikheid
Dit is een voorbeeld van hoe die twee boeke van die Konings betekenis gee aan die woorde van Jesus en die vroeë Christene. Kyk na nog ’n voorbeeld. In sy Bergpredikasie het Jesus sy hoorders aangespoor om op Jehovah te vertrou vir hulle lewensbenodigdhede. Hy het onder meer gesê: „En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie” (Mattheüs 6:28, 29). Waarom het Jesus hier na Salomo verwys?
Sy Joodse hoorders sou verstaan het, daar hulle bekend was met die heerlikheid van Salomo. Dit word breedvoerig beskryf in die boek Eerste Konings (sowel as Tweede Kronieke). Hulle sou by voorbeeld onthou het dat die voedsel vir Salomo se huis vir een dag „dertig kor fynmeel en sestig kor meel; tien vetgemaakte beeste en twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe die takbokke en gemsbokke en gestippelde takbokke en vetgemaakte ganse” was (1 Konings 4:22, 23). Dit was sommer baie kos!
Daarbenewens was die gewig van die goud wat Salomo in een jaar gekry het „seshonderd-ses-en-sestig talente goud”, ver oor die R500-miljoen teen die huidige prys. En al die ornamente van Salomo se huis was van goud. „Silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie” (1 Konings 10:14, 21). Toe Jesus se woorde sy hoorders aan hierdie dinge herinner het, het hulle gou die punt gesnap.
Jesus het in ’n ander verband na Salomo verwys. Party skrifgeleerdes en Fariseërs het daarop aangedring dat hy ’n teken gee, en Jesus het geantwoord: „Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en—meer as Salomo is hier!” (Mattheüs 12:42). Waarom was hierdie vermelding ’n skerp bestraffing van die godsdiensleiers wat daar teenwoordig was?
As ons bekend is met die eerste boek van die Konings, weet ons dat „die koningin van die Suide” die koningin van Skeba was. Sy was onteenseglik ’n vrou van groot aansien, die koningin van ’n welvarende ryk. Toe sy Salomo besoek het, het sy „’n baie groot gevolg”, kosbare kruie en „’n groot hoeveelheid goud en edelstene” saamgebring (1 Konings 10:1, 2, NAV). Vreedsame kommunikasie tussen landsregeerders geskied gewoonlik deur middel van ambassadeurs. Daarom was dit buitengewoon vir die koningin van Skeba, ’n heersende vorstin, om self al die pad na Jerusalem te reis om koning Salomo te sien. Waarom het sy dit gedoen?
Koning Salomo was baie ryk, maar die koningin van Skeba was ook ryk. Sy sou nie so ’n reis onderneem het net om ’n ryk vors te sien nie. Salomo was egter nie net ryk nie, maar was groter „as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid” (1 Konings 10:23). Onder sy wyse heerskappy het „Juda en Israel veilig gewoon . . . elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo”.—1 Konings 4:25.
Dit was Salomo se wysheid wat die koningin van Skeba gelok het. Toe sy „die gerug van Salomo hoor in verband met die Naam van die HERE, het sy gekom om hom met raaisels op die proef te stel”. By haar aankoms in Jerusalem „het sy met hom [Salomo] gespreek oor alles wat in haar hart was. En Salomo het haar al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie.”—1 Konings 10:1-3.
Jesus het ook buitengewone wysheid besit „in verband met die Naam van die HERE”. Hy was trouens „meer as Salomo” (Lukas 11:31). Die koningin van Skeba, wat nie ’n Jodin was nie, het ’n lang, ongerieflike reis onderneem net om Salomo met haar eie oë te sien en by sy wysheid baat te vind. Die skrifgeleerdes en Fariseërs moes tog sekerlik met waardering geluister het na die een ,groter as Salomo’ toe hy daar vlak voor hulle was. Maar hulle het nie. „Die koningin van die Suide” het ’n baie groter waardering vir Godgegewe wysheid gehad as hulle.
Toespelinge op die profete
Gedurende die tydperk van die geskiedenis wat in die boeke Eerste en Tweede Konings verhaal word, het daar konings geheers in die twaalfstammeryk—en later in die verdeelde koninkryke van Israel en Juda. Gedurende daardie tyd was Jehovah se profete baie bedrywig onder Sy volk. Prominent onder hulle was Elia en Elisa, van wie ons reeds melding gemaak het. Jesus se verwysing na hulle in Nasaret was nie die enigste keer dat hulle in die Christelike Griekse Skrifte vermeld is nie.
Die apostel Paulus het in sy brief aan die Hebreeuse Christene geskryf oor die geloof van God se knegte van vervloeë tye en, as een voorbeeld hiervan, gesê: „Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry” (Hebreërs 11:35). Hy het ongetwyfeld Elia en Elisa in gedagte gehad, daar hulle albei gebruik is om mense op te wek (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37). Toe drie van Jesus se apostels tydens die gedaantewisseling ,aanskouers van Jesus se majesteit’ geword het, het hulle gesien hoe Jesus met Moses en Elia praat (2 Petrus 1:16-18; Mattheüs 17:1-9). Waarom is Elia gekies as verteenwoordiger van die lyn van voorchristelike profete wat van Jesus getuig het? As jy die boek Eerste Konings lees en sien watter groot geloof hy gehad en hoe magtig Jehovah hom gebruik het, sal jy weet waarom.
Elia was nietemin ’n doodgewone mens soos ons. Jakobus het na ’n ander gebeurtenis in Eerste Konings verwys toe hy geskryf het: „Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag. Elia was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.”—Jakobus 5:16-18; 1 Konings 17:1; 18:41-46.
Ander toespelinge uit Konings
Talle ander verwysings in die Christelike Griekse Skrifte bevat toespelinge op die twee boeke van die Konings. Stefanus het die Joodse Sanhedrin daaraan herinner dat Salomo vir Jehovah ’n huis in Jerusalem gebou het (Handelinge 7:47). Ons kry baie van die besonderhede van daardie bouwerk in die boek Eerste Konings (1 Konings 6:1-38). Toe Jesus met ’n vrou in Samaria gepraat het, het die vrou verras vir hom gesê: „Hoe is dit dat U wat ’n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie” (Johannes 4:9). Waarom het die Jode nie met die Samaritane omgegaan nie? Die verslag in Tweede Konings wat die oorsprong van hierdie volk beskryf, werp lig op die saak.—2 Konings 17:24-34.
In die boek Openbaring is daar ’n brief aan die gemeente van Thiatire wat hierdie kragtige raad bevat: „Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet” (Openbaring 2:20). Wie was Isebel? Die dogter van ’n Baälspriester in Tirus. Soos die boek Eerste Konings ons vertel, het sy met koning Agab van Israel getrou en koningin van Israel geword. Sy het op haar man se kop gesit, Baälsaanbidding in ’n reeds afvallige Israel ingevoer, ’n menigte Baälspriesters in die land ingebring en Jehovah se profete vervolg. Sy het uiteindelik ’n gewelddadige dood gesterf.—1 Konings 16: 30-33; 18:13; 2 Konings 9:30-34.
Die vrou in die gemeente van Thiatire wat die gees van Isebel geopenbaar het, het die gemeente blykbaar probeer leer om onsedelik te wees en God se wette te oortree. So ’n gees moes uit die gemeente uitgeroei word, net soos die geslag van Isebel uit die Israelitiese nasie uitgeroei moes word.
Ja, ons het die Hebreeuse Skrifte nodig om die Christelike Griekse Skrifte te verstaan. Baie besonderhede sal niksseggend wees sonder die agtergrond wat die Hebreeuse Skrifte voorsien. Jesus en die vroeë Christene, sowel as die Jode met wie hulle gepraat het, was deeglik vertroud met daardie geskrifte. Neem gerus self die tyd om net so vertroud te raak daarmee. Sodoende sal jy ten volle gebruik maak van „die hele Skrif”, wat ,deur God ingegee en nuttig tot lering is’.—2 Timotheüs 3:16.