Word jy deur die gees van die wêreld vergiftig?
OP 12 September 1990 was daar ’n ontploffing in ’n fabriek in Kazakstan. Gevaarlike radioaktiwiteit is in die atmosfeer vrygestel, wat ’n bedreiging ingehou het vir die gesondheid van die 120 000 plaaslike inwoners, van wie baie in die strate teen die dodelike gif betoog het.
Maar namate meer inligting bekend geword het, het hulle uitgevind dat hulle dekades lank in ’n giftige omgewing geleef het. Deur die jare heen is 100 000 ton radioaktiewe afvalstowwe op ’n onbewaakte, oop perseel gestort. Hoewel die gevaar digby hulle was, het niemand dit ernstig opgeneem nie. Waarom nie?
Amptenare het elke dag, by die plaaslike sportstadion, ’n bestralingsyfer aangebring wat die indruk geskep het dat daar hoegenaamd geen gevaar was nie. Die syfers was akkuraat, maar dit het slegs die gamma-bestraling aangedui. Die alfa-bestraling, wat nie gemeet is nie, kan net so dodelik wees. Baie ma’s het begin besef waarom hulle kinders so sieklik is.
Geestelik gesproke kan ons ook deur onsigbare besoedeling vergiftig word. En soos daardie ongelukkige mense in Kazakstan is die oorgrote meerderheid onbewus van hierdie dodelike gevaar. Die Bybel identifiseer hierdie besoedeling as “die gees van die wêreld”, wat deur niemand anders nie as Satan die Duiwel gerig word (1 Korintiërs 2:12). God se Teenstander gebruik hierdie gees—of heersende gesindheid—van die wêreld op kwaadwillige wyse om ons godvrugtige toegewydheid te ondermyn.
Hoe kan die gees van die wêreld ons geestelike krag laat afneem? Deur die begeerte van die oë te prikkel en ons ingebore selfsug uit te buit (Efesiërs 2:1-3; 1 Johannes 2:16). Deur voorbeelde sal ons drie verskillende gebiede bespreek waar wêreldse denke ons geestelikheid geleidelik kan vergiftig.
Soek eers die Koninkryk
Jesus het Christene aangespoor om ‘eers die Koninkryk en God se regverdigheid te soek’ (Matteus 6:33). Aan die ander kant kan die wêreld se gees veroorsaak dat ons te veel waarde aan ons eie belange en gerief heg. Die aanvanklike gevaar lê nie daarin dat geestelike belange geheel en al agterweë gelaat word nie, maar dat hulle na die tweede plek geskuif word. Ons kyk dalk die gevaar mis—soos die mense in Kazakstan gedoen het—weens ’n valse gevoel van veiligheid. Ons jare van getroue diens en ons waardering vir ons geestelike broers en susters kan ons laat dink dat ons nooit die weg van die waarheid sal verlaat nie. Baie in die Efesiese gemeente het moontlik so gevoel.
Jesus het omstreeks 96 G.J. vir hulle die volgende raad gegee: “Ek [het] dít teen jou, dat jy die liefde wat jy eers gehad het, verlaat het” (Openbaring 2:4). Hierdie Christene wat al lank gedien het, het baie moeilikhede deurgemaak (Openbaring 2:2, 3). Hulle is deur getroue ouer manne, onder andere die apostel Paulus, geleer (Handelinge 20:17-21, 27). Deur die jare heen het hulle liefde vir Jehovah egter verflou en het hulle hulle geestelike momentum verloor.—Openbaring 2:5.
Van die Efesiërs is waarskynlik deur die kommersialisme en welvaart in die stad beïnvloed. Ongelukkig het die materialistiese stroom van vandag se samelewing sommige Christene eweneens meegesleur. ’n Vasberade strewe na ’n gemaklike lewenswyse sal ons onvermydelik van geestelike doelwitte laat afwyk.—Vergelyk Matteus 6:24.
Jesus het teen hierdie gevaar gewaarsku en gesê: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan eenvoudig is, sal jou hele liggaam lig wees; maar as jou oog goddeloos [“afgunstig”, voetnoot in naslaanuitgawe] is, sal jou hele liggaam duister wees” (Matteus 6:22, 23). ’n “Eenvoudige” oog is ’n oog wat geestelik in fokus is, ’n oog wat op God se Koninkryk gerig is. Aan die ander kant is ’n “goddelose” of ’n “afgunstige” oog kortsigtig, in staat om slegs op die onmiddellike vleeslike begeertes te fokus. Geestelike doelwitte en toekomstige belonings lê buite sy gesigskring.
Jesus het in die voorafgaande vers gesê: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matteus 6:21). Hoe kan ons weet of ons hart op geestelike of materiële dinge gerig is? Ons gesprekke is moontlik ons beste aanduiding, want ‘uit die oorvloed van die hart praat die mond’ (Lukas 6:45). As ons vind dat ons voortdurend oor materiële dinge of wêreldse prestasies praat, is dit ’n bewys dat ons hart verdeeld is en dat daar iets met ons geestelike gesigsvermoë verkeerd is.
Carmen, ’n Spaanse suster, het met hierdie probleem geworstel.a “Ek het in die waarheid grootgeword”, verduidelik Carmen, “maar op 18-jarige ouderdom het ek my eie kleuterskool begin. Drie jaar later het ek vier werknemers gehad, die onderneming het gefloreer en ek het ’n klomp geld verdien. Maar wat my moontlik die grootste bevrediging verskaf het, was die feit dat ek finansieel onafhanklik en ‘suksesvol’ was. Ek moet erken dat my hart in my onderneming was—dit was my grootste liefde.
“Ek het gemeen dat ek nog steeds ’n Getuie kan wees, al het ek die meeste van my tyd aan sakebelange gewy. Aan die ander kant het ek die hele tyd gevoel dat ek meer in Jehovah se diens kon doen. Wat my uiteindelik beweeg het om Koninkryksbelange eerste te stel, was die voorbeeld van twee pioniervriendinne. Een van hulle, Juliana, was in my gemeente. Sy het nie druk op my uitgeoefen om die pionierdiens te betree nie, maar haar gesprekke en die vreugde wat sy klaarblyklik uit haar bediening geput het, het my gehelp om my eie geestelike waardes te heroorweeg.
“’n Ruk later, terwyl ek met vakansie in die Verenigde State was, het ek by Gloria, ’n pioniersuster, gebly. Sy het kort tevore haar man verloor en sy het na haar vyfjarige dogtertjie en haar moeder wat kanker gehad het, omgesien. Tog het sy aan die pionierdiens deelgeneem. Haar voorbeeld en haar hartgrondige waardering vir die bediening het my hart geraak. Die vier kort dae wat ek in haar huis deurgebring het, het my vasbeslote gemaak om my beste vir Jehovah te gee. Ek het eers ’n gewone pionier geword, en ’n paar jaar later is ek en my man genooi om by Bethel te gaan dien. Ek het van my onderneming—’n struikelblok in my geestelike vooruitgang—ontslae geraak, en nou voel ek dat my lewe in Jehovah se oë suksesvol is, en dit is wat werklik saak maak.”—Lukas 14:33.
As ons soos Carmen leer om “seker [te] maak van wat die belangriker dinge is”, sal dit ons help om verstandige besluite te neem aangaande ons werk, opvoeding, behuising en lewenswyse (Filippense 1:10). Maar maak ons ook seker van wat die belangriker dinge is wanneer dit by ontspanning kom? Dit is nog ’n gebied waarop die gees van die wêreld ontsaglike invloed uitoefen.
Hou ontspanning in die regte plek
Die gees van die wêreld buit mense se natuurlike begeerte na rus en ontspanning op slinkse wyse uit. Aangesien die meeste mense geen werklike hoop vir die toekoms het nie, is dit te verstane dat hulle die hede met vermaak en ontspanning wil vul. (Vergelyk Jesaja 22:13; 1 Korintiërs 15:32.) Vind ons dat ons al hoe meer waarde aan ontspanning heg? Dit kan ’n teken wees dat die wêreld se denkwyse besig is om ons sienswyse te vorm.
Die Bybel waarsku: “Wie plesier [“vermaak”, Lamsa] voorop stel, word arm” (Spreuke 21:17, NAV). Om pret te hê, is nie verkeerd nie, maar om dit lief te hê, oftewel dit as van die allergrootste belang te beskou, sal tot geestelike gebrek lei. Ons geestelike aptyt sal onvermydelik gedemp word, en ons sal minder tyd beskikbaar hê om die goeie nuus te verkondig.
Om hierdie rede raai God se Woord ons aan: “Wees verstandelik bevry vir aksie, met volkome selfbeheersing” (1 Petrus 1:13, The New English Bible). Selfbeheersing is nodig om redelike perke op ons vrye tyd te stel. Om bevry vir aksie te wees, beteken om gereed te wees vir geestelike bedrywighede, of dit nou studie, vergaderinge of velddiens is.
Wat van die nodige rus? Moet ons skuldig voel wanneer ons ’n tydjie neem om te ontspan? Glad nie. Rus is noodsaaklik, veral in vandag se spanningsvolle wêreld. Maar as toegewyde Christene kan ons nie toelaat dat ons lewe om ontspanning draai nie. Te veel ontspanning kan daartoe lei dat ons al hoe minder aan betekenisvolle bedrywighede deelneem. Dit kan ons gevoel van dringendheid laat verflou, en dit kan selfs gemaksug bevorder. Hoe kan ons dan ’n gebalanseerde beskouing van rus hê?
Die Bybel moedig eerder ’n handvol rus aan as dat jy jou afsloof—veral as die sekulêre werk onnodig is (Prediker 4:6). Hoewel rus ons liggame help om krag te herwin, is die bron van geestelike energie God se werkende krag (Jesaja 40:29-31). Ons ontvang hierdie heilige gees met betrekking tot ons Christelike bedrywighede. Persoonlike studie voed ons harte en wakker die regte begeertes aan. Vergaderingbywoning kweek waardering vir ons Skepper. Deelname aan die Christelike bediening, moedig besorgdheid oor ander aan (1 Korintiërs 9:22, 23). Dit is soos Paulus realisties verduidelik het: “Die uiterlike mens gaan inderdaad agteruit, maar die innerlike mens ontvang elke dag nuwe krag.”—2 Korintiërs 4:16, Phillips.
Ileana, die ma van ses kinders en vrou van ’n ongelowige man, lei ’n baie besige lewe. Sy het verantwoordelikhede teenoor haar eie gesin en verskeie ander familielede, wat daartoe lei dat sy voortdurend besig is om haar êrens heen te haas. Sy stel nietemin ’n merkwaardige voorbeeld in die predikingswerk en in voorbereiding vir die vergaderinge. Hoe hanteer sy dit om met soveel dinge tegelyk besig te wees?
“Vergaderinge en velddiens help my werklik om my ander verantwoordelikhede na te kom”, verduidelik Ileana. “Nadat ek byvoorbeeld velddiens gedoen het, het ek genoeg om oor na te dink terwyl ek my huiswerk doen. Ek sing dikwels terwyl ek dit doen. Aan die ander kant raak huishoudelike takies ’n regte stryd as ek van ’n vergadering af weggebly het of as ek min velddiens gedoen het.”
Wat ’n teenstelling met die oordrewe waarde wat aan ontspanning geheg word!
Geestelike skoonheid behaag Jehovah
Ons lewe in ’n wêreld wat al hoe meer behep raak met fisiese voorkoms. Mense spandeer groot somme geld aan behandelingsmetodes wat bedoel is om hulle voorkoms te verbeter en die gevolge van veroudering teë te werk. Dit sluit haaroorplantings en -kleuring, borsinplantings en plastiese chirurgie in. Miljoene gaan na sentrums om gewig te verloor, asook gimnasiums en aërobiese klasse, of hulle koop oefenvideo’s en dieetboeke. Die wêreld wil ons laat glo dat ons fisiese voorkoms die sleutel tot geluk is, dat ons “beeld” die allerbelangrikste is.
In die Verenigde State het ’n opname wat deur die tydskrif Newsweek aangehaal is, getoon dat 90 persent van blanke tieners in Amerika “ongelukkig oor hulle liggaam” is. Die desperate strewe na die ideale figuur kan ons geestelikheid beïnvloed. Dora was ’n jong Getuie van Jehovah wat skaam was oor haar fisiese voorkoms omdat sy ietwat oorgewig was. “Wanneer ek inkopies gaan doen het, was dit moeilik om gepaste klere in my grootte te kry”, verduidelik sy. “Dit het gelyk asof modieuse klere net vir skraal tieners gemaak is. Nog erger, mense het neerhalende aanmerkings oor my gewig gemaak, wat my baie ontstel het, veral wanneer dit van my geestelike broers en susters gekom het.
“Ek het gevolglik al hoe meer behep geraak met my voorkoms, in so ’n mate dat geestelike waardes die tweede plek in my lewe begin inneem het. Dit was asof my geluk van die grootte van my middellyf afgehang het. Etlike jare het verloop, en noudat ek as vrou en as Christen ryper geword het, sien ek dinge anders. Hoewel ek op my voorkoms let, besef ek dat dit geestelike skoonheid is wat die meeste saak maak, en dit is wat my die grootste bevrediging bied. Toe ek dít eers begryp het, kon ek Koninkryksbelange hulle regmatige plek gee.”
Sara was ’n getroue vrou van die ou tyd wat hierdie gebalanseerde beskouing gehad het. Hoewel die Bybel van haar fisiese skoonheid praat toe sy al oor die 60 jaar oud was, vestig dit die aandag hoofsaaklik op haar goeie eienskappe—die geheime persoon van die hart (Genesis 12:11; 1 Petrus 3:4-6). Sy het ’n liefdevolle en sagmoedige gees geopenbaar en haar man onderdanig gehoorsaam. Sara was nie oordrewe besorg oor hoe ander haar beskou nie. Hoewel sy uit ’n welgestelde huis gekom het, het sy meer as 60 jaar lank gewillig in tente gewoon. Sy het haar man met sagmoedigheid en onselfsugtigheid ondersteun; sy was ’n vrou van geloof. Dit was wat haar ’n waarlik pragtige vrou gemaak het.—Spreuke 31:30; Hebreërs 11:11.
As Christene stel ons daarin belang om ons geestelike skoonheid te verbeter, ’n skoonheid wat sal groei en sal bly bestaan as ons gereeld daaraan werk (Kolossense 1:9, 10). Ons kan op twee belangrike maniere op ons geestelike voorkoms let.
Ons word mooier in Jehovah se oë namate ons aan ons lewensreddende bediening deelneem (Jesaja 52:7; 2 Korintiërs 3:18–4:2). Daarbenewens neem ons skoonheid toe namate ons leer om Christelike eienskappe te openbaar. Daar is ’n oorvloed van geleenthede om ons geestelike skoonheid te verbeter: “Julle [moet] tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar. . . . Gloei van die gees. . . . Volg die weg van gasvryheid. . . . Verheug julle saam met mense wat hulle verheug; huil saam met mense wat huil. . . . Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . [Wees] vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:10-18). As ons sulke gesindhede aankweek, sal dit ons by God en ons medemens bemind maak, en dit sal die lelike voorkoms van ons oorgeërfde sondige neigings versag.—Galasiërs 5:22, 23; 2 Petrus 1:5-8.
Ons kan die wêreld se gees bestry!
Die giftige gees van die wêreld kan ons onkreukbaarheid op soveel subtiele maniere ondermyn. Dit kan ons ontevrede maak met wat ons het en ons gretig maak om ons eie behoeftes en belange voor God s’n te stel. Of dit kan daartoe lei dat ons mense se gedagtes pleks van God s’n dink, deurdat ons onbehoorlike waarde heg aan ontspanning of ons fisiese voorkoms.—Vergelyk Matteus 16:21-23.
Satan is vasbeslote om ons geestelikheid te vernietig, en die gees van die wêreld is een van sy vernaamste wapens. Onthou dat die Duiwel sy taktiek kan verander van dié van ’n brullende leeu na dié van ’n listige slang (Genesis 3:1; 1 Petrus 5:8). Van tyd tot tyd oorwin die wêreld ’n Christen deur wrede vervolging, maar meer dikwels vergiftig dit hom stadig. Paulus was meer besorg oor laasgenoemde gevaar: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid af wat die Christus toekom.”—2 Korintiërs 11:3.
Om ons teen die slang se geslepenheid te beskerm, moet ons die propaganda identifiseer waarvan die “oorsprong by die wêreld” is, en dit dan op besliste wyse verwerp (1 Johannes 2:16). Ons moet nie mislei word om te glo dat die wêreldse denkwyse skadeloos is nie. Die giftige lug van Satan se stelsel het onrusbarende vlakke bereik.—Efesiërs 2:2.
Sodra ons ’n wêreldse denkwyse bespeur, kan ons dit bestry deur ons verstand en hart met Jehovah se suiwer onderrigting te vul. Laat ons soos koning Dawid sê: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil.”—Psalm 25:4, 5.
[Voetnoot]
a Ander name is gebruik.
[Prent op bladsy 26]
As ons ’n gemaklike lewenswyse nastreef, kan dit ons van geestelike doelwitte laat afwyk