Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 3/15 bl. 25-29
  • Beskou jy ander soos Jehovah hulle beskou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beskou jy ander soos Jehovah hulle beskou?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe Jehovah ons broers beskou
  • Beskou jou broers soos Jehovah hulle beskou
  • Ons volg Jehovah na in ons bediening
  • ’n Verenigde broederskap
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • ‘Die vrug van die gees’ verheerlik God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Behou die eenheid in die gemeente
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Die boodskap wat ons moet verkondig
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 3/15 bl. 25-29

Beskou jy ander soos Jehovah hulle beskou?

‘Daar moet geen verdeeldheid in die liggaam wees nie. Die lede daarvan moet dieselfde sorg vir mekaar dra.’—1 KOR. 12:25.

1. Hoe het jy gevoel toe jy in die geestelike paradys ingekom het?

TOE ons net uit die goddelose wêreld gekom en met Jehovah se volk begin assosieer het, was ons heel waarskynlik verheug om die hartlike liefde en sorg te ervaar wat onder hulle gevind word. Wat ’n teenstelling is dit tog met die onbeskofte, haatdraende en twisgierige mense onder Satan se beheer! Ons het in die geestelike paradys ingekom, waar vrede en eenheid heers.—Jes. 48:17, 18; 60:18; 65:25.

2. (a) Wat kan ons beskouing van ander beïnvloed? (b) Wat moet ons dalk doen?

2 Maar met verloop van tyd begin ons dalk deur die verwronge lens van onvolmaaktheid na ons broers kyk. Ons onvolmaaktheid kan maak dat ons die foute van ons broers vergroot, pleks dat ons na al hulle geestelike eienskappe kyk. Kortom, ons vergeet om hulle te beskou soos Jehovah hulle beskou. As dit met ons gebeur, is dit tyd om aandag te skenk aan ons beskouing en dit in ooreenstemming te bring met Jehovah se duidelike beskouing.—Eks. 33:13.

Hoe Jehovah ons broers beskou

3. Waarmee vergelyk die Bybel die Christengemeente?

3 Soos opgeteken staan in 1 Korintiërs 12:2-26, het die apostel Paulus die gemeente van gesalfde Christene vergelyk met ’n liggaam met “baie lede”. Net soos liggaamsdele van mekaar verskil, verskil lede van die gemeente grootliks wat hulle eienskappe en vermoëns betref. En tog aanvaar Jehovah hierdie verskeidenheid. Hy is lief vir en waardeer elke lid. Paulus maan ons dus ook dat die gemeentelede “dieselfde sorg vir mekaar moet dra”. Dit kan moeilik wees, want ander se persoonlikhede kan van ons s’n verskil.

4. Waarom moet ons dalk ons beskouing van ons broers aanpas?

4 Ons is dalk selfs geneig om op ons broers se swakhede te fokus. As ons dít doen, gebruik ons as ’t ware ’n kamera met ’n lens wat net op ’n klein area fokus. Jehovah beskou dinge egter deur ’n wyehoeklens, waardeur ’n voorwerp sowel as die omliggende dele gesien kan word. Ons is dalk geneig om te fokus op iets waarvan ons nie hou nie, terwyl Jehovah die hele persoon met al sy goeie eienskappe sien. Hoe meer ons daarna streef om soos Jehovah te wees, hoe meer kan ons bydra tot die gees van liefde en eenheid in die gemeente.—Ef. 4:1-3; 5:1, 2.

5. Waarom is dit ongepas om ander te oordeel?

5 Jesus was deeglik bewus daarvan dat onvolmaakte mense dikwels geneig is om ander te oordeel. Hy het gemaan: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matt. 7:1). Let op dat Jesus nie gesê het: “Moenie oordeel nie”; hy het gesê: “Hou op om te oordeel.” Hy het geweet dat baie van sy toehoorders reeds die gewoonte gehad het om krities teenoor ander te wees. Het ons dalk in hierdie gewoonte verval? As ons hierdie neiging het, moet ons ons inspan om te verander sodat ons nie ongunstig geoordeel word nie. Trouens, wie is ons om iemand te oordeel wat deur Jehovah in ’n aangestelde posisie gebruik word of om te sê dat hy nie deel van die gemeente moet wees nie? ’n Broer het dalk sekere tekortkominge, maar as Jehovah hom nog steeds aanvaar, sou dit dan reg wees om hom te verwerp? (Joh. 6:44). Glo ons werklik dat Jehovah sy vergaderde volk lei en dat hy op sy bestemde tyd sal optree as aanpassings gemaak moet word?—Lees Romeine 14:1-4.

6. Hoe beskou Jehovah sy knegte?

6 Iets wonderliks omtrent Jehovah is dat hy in individuele Christene kan sien wat hulle kan wees as hulle eers volmaaktheid in die nuwe wêreld bereik het. Hy weet ook watter geestelike vooruitgang hulle reeds gemaak het. Daarom het hy geen rede om op elke vleeslike swakheid te fokus nie. Ons lees in Psalm 103:12: “So ver as die sonsopgang verwyderd is van die sonsondergang, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder.” Hoe dankbaar kan ons tog daarvoor wees!—Ps. 130:3.

7. Wat leer ons uit Jehovah se beskouing van Dawid?

7 Ons sien bewyse in die Skrif dat Jehovah die uitsonderlike vermoë het om te fokus op die goeie in ’n persoon. God het Dawid beskryf as “my kneg Dawid . . . , wat my gebooie onderhou het en my met sy hele hart gevolg het deur net te doen wat reg was in my oë” (1 Kon. 14:8). Ons weet natuurlik dat Dawid dinge gedoen het wat verkeerd was. Nietemin het Jehovah gekies om op die goeie te fokus omdat hy geweet het dat Dawid se hart opreg was.—1 Kron. 29:17.

Beskou jou broers soos Jehovah hulle beskou

8, 9. (a) In watter opsig kan ons soos Jehovah wees? (b) Hoe kan dit toegelig word, en wat leer ons daaruit?

8 Jehovah kan harte lees, maar ons kan nie. Dit is op sigself ’n goeie rede waarom ons ander nie moet oordeel nie. Ons ken nie al die beweegredes van iemand anders nie. Ons moet Jehovah probeer navolg deur nie te konsentreer op menslike onvolmaakthede, wat uiteindelik sal verdwyn nie. Is dit nie ’n goeie doelwit om in dié opsig soos hy te probeer wees nie? As ons dit doen, sal dit baie bydra tot vreedsame verhoudings met ons broers en susters.—Ef. 4:23, 24.

9 Ter toeligting: Dink aan ’n bouvallige huis—die geute lyk of dit enige oomblik gaan afval, die vensters is stukkend en die plafon is deur water beskadig. Die meeste mense kyk dalk na die huis en dink dat dit gesloop moet word; dit steek ’n mens in die oog. Maar iemand anders sien dit dalk en het ’n heel ander beskouing daarvan. Hy kyk moontlik verder as die sigbare probleme en sien dat daar niks met die struktuur van die huis fout is nie en dat die huis herstel kan word. Hy koop die huis, herstel die sigbare foute en verbeter die voorkoms. Daarna sê verbygangers hoe pragtig die huis is. Kan ons soos hierdie persoon wees wat moeite gedoen het om die huis te herstel? Kan ons eerder ons broers se goeie eienskappe en hulle potensiaal vir verdere geestelike groei probeer raaksien as om te fokus op hulle sigbare tekortkominge? As ons dit doen, sal ons, soos Jehovah, lief word vir ons broers weens hulle pragtige geestelike eienskappe.—Lees Hebreërs 6:10.

10. Hoe kan die raad in Filippense 2:3, 4 ons help?

10 Die apostel Paulus het raad gegee wat ons kan help in ons verhoudings met almal in die gemeente. Hy het Christene aangespoor: “[Julle moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag, terwyl julle nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Fil. 2:3, 4). Nederigheid sal ons help om die regte beskouing van ander te hê. As ons persoonlike belangstelling in ander toon en na die goeie in hulle soek, sal dit ons ook help om hulle te beskou soos Jehovah hulle beskou.

11. Watter veranderinge het party gemeentes geraak?

11 In onlangse tye het wêreldwye verwikkelinge daartoe gelei dat groot getalle mense na ander lande verhuis. Sommige stede word nou bewoon deur mense uit verskeie lande. Party van die mense wat nuut is in ons gebied, het in Bybelwaarheid begin belangstel, en hulle aanbid Jehovah nou saam met ons. Hulle kom “uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Op. 7:9). Gevolglik het baie van ons gemeentes in sekere sin meer internasionaal geword.

12. Watter beskouing van mekaar moet ons behou, en waarom kan dit soms ’n uitdaging wees?

12 In ons gemeente moet ons dalk meer aandag daaraan skenk om ’n gepaste beskouing van mekaar te behou. Dit vereis dat ons die apostel Petrus se raad in gedagte moet hou om “ongeveinsde broederlike geneentheid” aan die dag te lê en om “mekaar intens [lief te hê] uit die hart” (1 Pet. 1:22). Om ware liefde en geneentheid aan te kweek, kan ’n uitdaging wees wanneer ’n mens deur soveel nasionaliteite omring word. Ons medeaanbidders se kultuur verskil dalk grootliks van ons s’n, en so ook hulle opvoedkundige, ekonomiese en etniese agtergrond. Vind jy dit moeilik om die denke of reaksies van party te verstaan? Hulle voel dalk net so oor jou. Nietemin word ons almal beveel: “Wees lief vir die hele gemeenskap van broers.”—1 Pet. 2:17.

13. Watter aanpassings in ons denke moet ons dalk maak?

13 Ons moet dalk sekere aanpassings in ons denke maak sodat ons verruim kan word in ons liefde vir al ons broers. (Lees 2 Korintiërs 6:12, 13.) Vind ons soms dat ons iets sê soos: “Ek is nie rassisties nie, maar . . . ” en dan ’n negatiewe eienskap noem wat ons voel algemeen is onder lede van ’n sekere etniese groep? Sulke gevoelens openbaar dalk dat ons ontslae moet raak van vooroordeel wat ons nog diep binne ons het. Ons kan ons afvra: ‘Wend ek gereeld ’n poging aan om mense van ’n ander kultuur te leer ken?’ Hierdie soort selfondersoek kan ons help om in dié opsig te verbeter sodat ons ons internasionale broederskap kan aanvaar en waardeer.

14, 15. (a) Gee voorbeelde van persone wat hulle beskouing van ander aangepas het. (b) Hoe kan ons hulle navolg?

14 Die Bybel voorsien goeie voorbeelde van diegene wat wel aanpassings gemaak het, waarvan een die apostel Petrus was. As ’n Jood sou Petrus dit vermy het om in die huis van ’n nie-Jood in te gaan. Stel jou net voor hoe hy gevoel het toe hy gevra is om na die huis van die onbesnede nie-Jood Kornelius te gaan! Petrus het aanpassings gemaak, want hy het besef dat dit God se wil is dat mense van alle nasies deel van die Christengemeente word (Hand. 10:9-35). Saulus, wat later die apostel Paulus geword het, moes ook veranderinge aanbring en ontslae raak van vooroordeel. Hy het erken dat hy die Christene soveel gehaat het dat hy “die gemeente van God uitermate bly vervolg en verwoes het”. Maar toe die Here Jesus Paulus tereggewys het, het hy groot veranderinge aangebring en selfs die leiding begin aanvaar van diegene wat hy voorheen vervolg het.—Gal. 1:13-20.

15 Dit ly geen twyfel nie dat ons met die hulp van Jehovah se gees aanpassings in ons gesindheid kan maak. As ons vind dat daar nog verskuilde gevoelens van vooroordeel in ons is, moet ons ons inspan om dit uit te roei en om “die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:3-6). Die Bybel moedig ons aan om ons te “beklee . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid”.—Kol. 3:14.

Ons volg Jehovah na in ons bediening

16. Wat is God se wil met betrekking tot mense?

16 “Daar is geen partydigheid by God nie”, het die apostel Paulus geskryf (Rom. 2:11). Jehovah se voorneme is dat mense van alle nasies deel van sy reëling vir aanbidding moet word. (Lees 1 Timoteus 2:3, 4.) Om dit te verwesenlik, het hy gereël dat “ewige goeie nuus” verkondig word “aan elke nasie en stam en taal en volk” (Op. 14:6). Jesus het gesê: “Die saailand is die wêreld” (Matt. 13:38). Watter betekenis het dit vir jou en jou gesin?

17. Hoe kan ons alle soorte mense help?

17 Nie almal kan na verafgeleë dele van die wêreld gaan om die Koninkryksboodskap aan ander bekend te maak nie. Maar ons is dalk wel in ’n posisie om hierdie boodskap te verkondig aan mense van alle wêrelddele wat in ons gebied woon. Is ons op die uitkyk na geleenthede om te getuig vir alle soorte mense, nie net dié vir wie ons al jare lank preek nie? Wees dus vasbeslote om ander te bereik wat nog nie ’n deeglike getuienis ontvang het nie.—Rom. 15:20, 21.

18. Hoe het Jesus besorgdheid oor mense getoon?

18 Jesus was deeglik bewus van die feit dat alle mense gehelp moet word. Hy het nie net in een gebied gepreek nie. ’n Bybelverslag vertel ons dat hy “op ’n reis deur al die stede en dorpies vertrek” het. En “toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel”, en hy het gesê dat hulle hulp nodig het.—Matt. 9:35-37.

19, 20. Op watter maniere kan ons Jehovah en Jesus se besorgdheid oor alle soorte mense weerspieël?

19 Op watter maniere kan ons ’n soortgelyke gesindheid aan die dag lê? Party het hulle daarop toegelê om te getuig in dele van hulle gebied wat nie dikwels gedek word nie. Dit sluit dalk plekke in soos sakegebiede, parke, treinstasies, bushaltes of voor woongeboue waar ’n mens nie maklik kan inkom nie. Ander het hulle ingespan om ’n nuwe taal aan te leer sodat hulle kan getuig vir sekere etniese groepe wat nou in hulle gebied woon of vir groepe wat in die verlede nie dikwels ’n getuienis ontvang het nie. As ons leer hoe om daardie mense in hulle moedertaal te groet, kan dit toon hoeveel ons in hulle welsyn belangstel. Ons is dalk nie in ’n posisie om ’n ander taal aan te leer nie, maar ons kán diegene aanmoedig wat dit wel doen. Ons wil beslis nie negatief wees of bevraagteken waarom ander hulle inspan om vir mense van ’n ander land te getuig nie. Alle lewens is kosbaar in God se oë, en ons wil dieselfde beskouing hê.—Kol. 3:10, 11.

20 Om God se beskouing van mense te hê, behels ook dat ons vir almal getuig, ongeag hulle omstandighede. Party is dalk haweloos, verslons of lei duidelik ’n onsedelike lewe. As sekere persone ons onvriendelik behandel, moet dit ons nie ’n negatiewe mening laat vorm van hulle nasionaliteit of etniese groep as ’n geheel nie. Paulus is sleg behandel deur sommige, maar hy het nie toegelaat dat dit hom verhinder om vir mense van daardie agtergrond te getuig nie (Hand. 14:5-7, 19-22). Hy was vol vertroue dat party individue met waardering sou reageer.

21. Hoe sal dit jou help as jy Jehovah se beskouing van ander het?

21 Dit is nou duideliker as ooit tevore dat die regte beskouing—Jehovah se beskouing—nodig is in ons handelinge met ons plaaslike broers, ons internasionale broederskap en mense in die veld. Hoe nader ons daaraan kom om Jehovah se beskouing te weerspieël, hoe meer sal ons vrede en eenheid bevorder. En ons sal in ’n beter posisie wees om ander te help om waardering op te bou vir Jehovah, die God wat “geen partydigheid . . . betoon” nie, maar wat liefdevolle belangstelling in almal toon, “want hulle almal is die werk van sy hande”.—Job 34:19.

Kan jy antwoord?

• Watter beskouing van ons broers moet ons probeer vermy?

• Hoe kan ons Jehovah navolg in ons beskouing van ons broers?

• Watter lesse het jy geleer oor hoe ons ons internasionale broederskap moet beskou?

• Hoe kan ons Jehovah se beskouing van mense in ons bediening navolg?

[Prent op bladsy 26]

Hoe kan jy mense van ander kulture leer ken?

[Prente op bladsy 28]

Op watter maniere kan jy meer mense met die goeie nuus bereik?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel