Hef lojale hande op in gebed
“Ek [wil] hê dat die manne op elke plek moet aanhou bid en lojale hande moet ophef, sonder gramskap en woordestryde.”—1 TIMOTEUS 2:8.
1, 2. (a) Hoe hou 1 Timoteus 2:8 verband met gebede van Jehovah se volk? (b) Wat gaan ons nou bespreek?
JEHOVAH verwag dat sy volk lojaal aan hom en aan mekaar moet wees. Die apostel Paulus het lojaliteit met gebed verbind toe hy geskryf het: “Ek [wil] hê dat die manne op elke plek moet aanhou bid en lojale hande moet ophef, sonder gramskap en woordestryde” (1 Timoteus 2:8). Paulus het klaarblyklik na openbare gebede verwys “op elke plek” waar Christene byeengekom het. Wie moes God se volk by gemeentelike vergaderinge in gebed verteenwoordig? Slegs heilige, regverdige, godvresende manne wat alle skriftuurlike verpligtinge teenoor God noukeurig nagekom het (Prediker 12:13, 14). Hulle moes geestelik en sedelik rein wees en hulle toegewydheid aan Jehovah God moes onbetwisbaar wees.
2 Dit is veral gemeentelike ouer manne wat ‘lojale hande in gebed moet ophef’. Hulle opregte gebede deur Jesus Christus openbaar lojaliteit aan God en help hulle om woordestryde en woedeuitbarstings te vermy. Eintlik moet alle manne wat bevoorreg is om die Christengemeente in openbare gebed te verteenwoordig vry wees van gramskap, kwaadwilligheid en dislojaliteit teenoor Jehovah en sy organisasie (Jakobus 1:19, 20). Watter verdere Bybelse riglyne is daar vir diegene wat bevoorreg is om ander in openbare gebed te verteenwoordig? En wat is sommige skriftuurlike beginsels wat ons in ons persoonlike en gesinsgebede moet toepas?
Dink na oor wat jy in gebed gaan sê
3, 4. (a) Waarom is dit nuttig om na te dink oor wat ’n mens in ’n openbare gebed gaan sê? (b) Wat dui die Skrif aan oor die lengte van gebede?
3 As ons gevra is om ’n openbare gebed te doen, sal ons waarskynlik kan nadink oor wat ons in ons gebed gaan sê. Wanneer ons dít doen, sal ons gepaste sake wat van belang is, kan dek sonder om ’n langdradige, onsamehangende gebed te doen. Ons persoonlike gebede kan natuurlik ook hardop gedoen word. Hulle kan van enige lengte wees. Jesus het ’n hele nag in gebed deurgebring voor hy sy 12 apostels gekies het. Maar toe hy die herdenking van sy dood ingestel het, was sy gebede oor die brood en wyn blykbaar redelik kort (Markus 14:22-24; Lukas 6:12-16). En ons weet dat selfs Jesus se kort gebede heeltemal aanneemlik vir God was.
4 Sê nou ons is bevoorreg om ’n gesin voor ’n maaltyd in gebed te verteenwoordig. So ’n gebed kan redelik kort wees—maar wat ook al gesê word, moet ’n dankbetuiging vir die kos insluit. As ons ’n openbare gebed voor of ná ’n Christelike vergadering doen, hoef ons nie lank te bid en baie punte te dek nie. Jesus het die skrifgeleerdes veroordeel wat ‘vir die skyn lang gebede gedoen het’ (Lukas 20:46, 47). ’n Godvrugtige persoon sal nooit dit wil doen nie. Maar soms kan ’n ietwat langer openbare gebed gepas wees. ’n Ouer man wat byvoorbeeld gevra word om die slotgebed by ’n byeenkoms te doen, moet nadink oor wat hy gaan sê en sal dalk verskeie punte wil meld. Tog moet selfs so ’n gebed nie uitermate lank wees nie.
Nader God met eerbied
5. (a) Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons ’n openbare gebed doen? (b) Waarom moet ons op ’n waardige en eerbiedige wyse bid?
5 Wanneer ons ’n openbare gebed doen, moet ons onthou dat ons nie mense toespreek nie. Ons is sondige mense wat met die Soewereine Heer Jehovah praat (Psalm 8:4-6, 10; 73:28). Ons moet dus deur wat ons sê en hoe ons dit uitdruk eerbiedige vrees openbaar om hom te mishaag (Spreuke 1:7). Die psalmis Dawid het gesing: “Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees” (Psalm 5:8). Hoe sal ons ons uitdruk wanneer ons gevra word om by ’n vergadering van Jehovah se Getuies te bid as ons daardie gesindheid het? Wel, as ons met ’n menslike koning gepraat het, sou ons dit met eerbied en waardigheid doen. Moet ons gebede nie selfs waardiger en eerbiediger wees aangesien ons tot Jehovah, die “Koning van die ewigheid”, bid nie? (Openbaring 15:3). Wanneer ons bid, sal ons derhalwe nie dinge soos “Goeie môre, Jehovah”, “Ons stuur u ons liefde” of “Geniet u dag” sê nie. Die Skrif toon dat God se enigverwekte Seun, Jesus Christus, nooit sy hemelse Vader so toegespreek het nie.
6. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons ‘die troon van onverdiende goedhartigheid nader’?
6 Paulus het gesê: “Laat ons . . . met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader” (Hebreërs 4:16). Ons kan Jehovah ten spyte van ons sondige toestand met “vrymoedigheid van spraak” nader weens ons geloof in die losprysofferande van Jesus Christus (Handelinge 10:42, 43; 20:20, 21). Tog beteken hierdie “vrymoedigheid van spraak” nie dat ons ’n geselsie met God het nie; ons moet ook nie oneerbiedige dinge vir hom sê nie. As ons wil hê dat ons openbare gebede Jehovah moet behaag, moet hulle met behoorlike eerbied en waardigheid gedoen word, en dit sou ongepas wees om hulle te gebruik om aankondigings te maak, persone raad te gee of ’n gehoor te berispe.
Bid met ’n nederige gees
7. Hoe het Salomo nederigheid geopenbaar toe hy tydens die toewyding van Jehovah se tempel gebid het?
7 Hetsy ons ’n openbare of persoonlike gebed doen, ’n belangrike skriftuurlike beginsel wat ons in gedagte moet hou, is dat ons ’n nederige gesindheid in ons gebede moet openbaar (2 Kronieke 7:13, 14). Koning Salomo het nederigheid geopenbaar in sy openbare gebed tydens die toewyding van Jehovah se tempel in Jerusalem. Salomo het pas een van die luisterrykste geboue voltooi wat nog op die aarde opgerig is. Tog het hy nederig gebid: “Sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.”—1 Konings 8:27.
8. Wat is sommige maniere waarop nederigheid in openbare gebede geopenbaar word?
8 Ons moet ook, soos Salomo, nederig wees wanneer ons ander in openbare gebed verteenwoordig. Hoewel ons nie skynheilig wil klink nie, kan nederigheid deur ons stemtoon geopenbaar word. Nederige gebede is nie hoogdrawend of melodramaties nie. Hulle vestig nie die aandag op die een wat bid nie, maar op die Een wat toegespreek word (Matteus 6:5). Nederigheid word ook geopenbaar deur wat ons in gebed sê. As ons nederig bid, sal dit nie klink of ons eis dat God sekere dinge op ons manier moet doen nie. Ons sal Jehovah eerder versoek om op ’n wyse op te tree wat met sy heilige wil ooreenstem. Die psalmis het getoon wat die regte gesindheid is toe hy gesmeek het: “Ag Jehovah, red tog asseblief! Ag Jehovah, skenk tog asseblief sukses!”—Psalm 118:25, NW; Lukas 18:9-14.
Bid uit die hart
9. Watter goeie raad wat Jesus gegee het, word in Matteus 6:7 gevind, en hoe kan dit toegepas word?
9 As ons wil hê dat ons openbare of persoonlike gebede Jehovah moet behaag, moet dit uit die hart kom. Gevolglik sal ons nie bloot ’n gememoriseerde gebed oor en oor opsê sonder dat ons dink wat ons sê nie. In sy Bergpredikasie het Jesus gemaan: “Wanneer julle bid, moenie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie, want hulle dink [verkeerdelik] dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik.” Jesus se woorde kan anders gestel word: “Moenie babbel nie; moenie leë herhalings uiter nie.”—Matteus 6:7; voetnoot in naslaanuitgawe.
10. Waarom sal dit gepas wees om meer as een keer oor dieselfde saak te bid?
10 Natuurlik sal ons dalk soms herhaaldelik oor dieselfde saak moet bid. Dit sal nie verkeerd wees nie, want Jesus het ons aangespoor: “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word” (Matteus 7:7). Miskien is daar ’n behoefte aan ’n nuwe Koninkryksaal omdat Jehovah die plaaslike predikingswerk seën (Jesaja 60:22). Dit sal gepas wees om aan te hou om hierdie behoefte te meld wanneer ons ’n persoonlike of ’n openbare gebed by vergaderinge van Jehovah se volk doen. Wanneer ons dit doen, beteken dit nie dat ons “leë herhalings uiter” nie.
Onthou dankbaarheid en lof
11. Hoe is Filippense 4:6, 7 op persoonlike en openbare gebede van toepassing?
11 Baie mense bid slegs om vir dinge te vra, maar ons liefde vir Jehovah God moet ons beweeg om hom in persoonlike sowel as in openbare gebede te dank en te loof. “Moet oor niks besorg wees nie,” het Paulus geskryf, “maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Ja, benewens smekinge en versoeke moet ons ons dankbaarheid teenoor Jehovah vir geestelike en materiële seëninge uitspreek (Spreuke 10:22). Die psalmis het gesing: “Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste” (Psalm 50:14). En in een van Dawid se gesange het hy hierdie roerende woorde ingesluit: “Ek wil die Naam van God prys met ’n lied en Hom groot maak met danksegging” (Psalm 69:31). Moet ons nie dieselfde in openbare en persoonlike gebede doen nie?
12. Hoe word Psalm 100:4, 5 vandag vervul, en waarvoor kan ons God derhalwe dank en loof?
12 Die psalmis het oor God gesing: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag” (Psalm 100:4, 5). Vandag kom mense van alle nasies die voorhowe van Jehovah se heiligdom binne, en hiervoor kan ons hom loof en dank. Spreek jy dankbaarheid teenoor God uit vir die plaaslike Koninkryksaal en toon jy jou waardering deur gereeld daar te vergader saam met diegene wat hom liefhet? Hef jy jou stem heelhartig op in lof- en dankliedere tot ons liefdevolle hemelse Vader terwyl jy daar is?
Moet nooit te beskaamd voel om te bid nie
13. Watter skriftuurlike voorbeeld toon dat ons tot Jehovah moet bid selfs as ons weens skuldgevoelens onwaardig voel?
13 Selfs as ons weens skuldgevoelens onwaardig voel, moet ons ons in ernstige gebed tot God wend. Toe die Jode gesondig het deur vir hulle vreemde vroue te neem, het Esra gekniel, sy lojale hande tot God opgehef en nederig gebid: “My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog. Van die dae van ons vaders af tot vandag toe is ons in ’n groot skuld . . . En ná alles wat oor ons gekom het vanweë ons slegte dade en ons groot skuld—want U, onse God, het ons minder toegereken as wat ons ongeregtighede verdien het, en aan ons nog soveel vrygeraaktes gegee—sal ons weer u gebooie verbreek en ons verswaer met hierdie gruwelike volke? Sal U nie op ons vertoorn wees, totdat ons vernietig is, sodat daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie? HERE, God van Israel, U is regverdig; want ons het as vrygeraaktes oorgebly soos dit vandag is. Hier is ons in ons skuld voor u aangesig, want niemand kan om sulke dinge voor u aangesig bestaan nie.”—Esra 9:1-15; Deuteronomium 7:3, 4
14. Wat is nodig om God se vergifnis te ontvang, soos in Esra se dag getoon is?
14 As ons God se vergifnis wil ontvang, moet belydenis voor hom gepaardgaan met gewetenswroeging en ‘vrugte wat by berou pas’ (Lukas 3:8; Job 42:1-6; Jesaja 66:2). In Esra se dag het ’n berouvolle gesindheid gepaardgegaan met ’n poging om wat verkeerd was reg te stel deur die vreemde vroue weg te stuur. (Esra 10:44, NW; vergelyk 2 Korintiërs 7:8-13.) As ons wil hê dat God ’n ernstige oortreding moet vergewe, moet ons in nederige gebed belydenis doen en vrugte voortbring wat by berou pas. ’n Berouvolle gees en ’n begeerte om wat verkeerd is reg te stel, sal ons ook beweeg om die geestelike hulp van Christen- ouer manne te vra.—Jakobus 5:13-15.
Put vertroosting uit gebed
15. Hoe toon Hanna se ondervinding dat ons vertroosting uit gebed kan put?
15 Wanneer ons om die een of ander rede terneergedruk is, kan ons vertroosting put uit gebed (Psalm 51:19; Spreuke 15:13). Lojale Hanna het sulke vertroosting gevind. Sy het gelewe toe groot gesinne iets algemeens in Israel was, maar sy het geen kinders gehad nie. Haar man, Elkana, het seuns en dogters gehad by sy ander vrou, Peninna, wat Hanna getart het omdat sy onvrugbaar was. Hanna het ernstig gebid en belowe dat sy, as sy ’n seun kon kry, hom ‘al die dae van sy lewe aan Jehovah sou gee’. Haar gebed en die woorde van die hoëpriester Eli het haar vertroos, en Hanna “het nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie”. Sy het geboorte gegee aan ’n seun wat sy Samuel genoem het. Later het sy hom na Jehovah se heiligdom geneem om daar te dien. (1 Samuel 1:9-28, vgl NW.) Uit dankbaarheid vir God se goedhartigheid teenoor haar het sy ’n dankgebed gedoen—’n gebed wat Jehovah geprys het as iemand sonder gelyke (1 Samuel 2:1-10). Ons kan, soos Hanna, vertroosting put uit gebed, met die vertroue dat God alle versoeke verhoor wat met sy wil strook. Laat ons, wanneer ons ons hart voor hom uitstort, ‘nie meer besorgd wees nie’, want hy sal ons las verwyder of ons in staat stel om dit te dra.—Psalm 55:23.
16. Waarom moet ons, soos in Jakob se geval toegelig word, bid wanneer ons bevrees of angstig is?
16 As ’n situasie vrees, smart of angs veroorsaak, moet ons nie versuim om ons in gebed tot God te wend vir vertroosting nie (Psalm 55:2-5). Jakob was bang kort voor hy sy vervreemde broer, Esau, weer sou ontmoet. Maar Jakob het gebid: “O God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o HERE, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen—ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword. Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders. U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie” (Genesis 32:9-12). Esau het nie vir Jakob en dié wat by hom was, aangeval nie. Jehovah het dus by daardie geleentheid aan Jakob ‘goed gedoen’.
17. Hoe kan ons, in ooreenstemming met Psalm 119:52, vertroosting put uit gebed wanneer ons swaar beproef word?
17 Wanneer ons bid, kan ons vertroos word deur dinge te herroep wat in God se Woord gesê is. In die langste psalm—’n pragtige gebed wat getoonset is—is dit moontlik prins Hiskia wat gesing het: “Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos” (Psalm 119:52). Terwyl ons nederig bid wanneer ons swaar beproef word, sal ons miskien ’n Bybelbeginsel of -wet herroep wat ons kan help om ’n weg te volg wat tot die vertroostende versekering lei dat ons ons hemelse Vader behaag.
Lojales hou vol met gebed
18. Waarom kan daar gesê word dat ‘elke lojale persoon tot God sal bid’?
18 Almal wat lojaal aan Jehovah God is, sal ‘volhou met gebed’ (Romeine 12:12). In die 32ste Psalm, wat Dawid moontlik geskryf het nadat hy met Batseba gesondig het, het hy vertel van die pyn wat hy ervaar het omdat hy nie vergifnis gevra het nie en van die verligting wat berou en belydenis voor God hom gebring het. Toe het Dawid gesing: “Daarom [omdat Jehovah bereid is om diegene wat waarlik berouvol is te vergewe] sal elke lojale persoon tot u bid op slegs ’n tyd dat u te vinde is.”—Psalm 32:6, NW.
19. Waarom moet ons lojale hande in gebed ophef?
19 As ons ons verhouding met Jehovah God op prys stel, sal ons op grond van Jesus se losprysofferande vir sy barmhartigheid bid. Ons kan in geloof die troon van onverdiende goedhartigheid met vrymoedigheid van spraak nader om barmhartigheid en tydige hulp te verkry (Hebreërs 4:16). Maar daar is soveel redes om te bid! Laat ons derhalwe ‘onophoudelik bid’—dikwels met woorde van hartgrondige lof en dank aan God (1 Tessalonisense 5:17). Laat ons dag en nag lojale hande in gebed ophef.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom is dit nuttig om vooraf te dink wat ’n mens in ’n openbare gebed gaan sê?
◻ Waarom moet ons op ’n eerbiedige en waardige wyse bid?
◻ Watter gees moet ons openbaar wanneer ons bid?
◻ Waarom moet ons dank- en lofbetuigings onthou wanneer ons bid?
◻ Hoe toon die Bybel dat ons vertroosting uit gebed kan put?
[Prent op bladsy 17]
Koning Salomo het nederigheid geopenbaar in sy openbare gebed tydens die toewyding van Jehovah se tempel
[Prente op bladsy 18]
Jy kan, soos Hanna, vertroosting put uit gebed