Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 10/1 bl. 28-31
  • Versterk om nee te sê vir wat verkeerd is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Versterk om nee te sê vir wat verkeerd is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dit is veral vandag belangrik om nee te sê
  • Leer van ’n jong man wat nee gesê het
  • Sê nee vir portuurdwang
  • Om nee te sê—’n saak van lewe of dood
  • “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • God se beskouing van sedelike reinheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Moenie deel hê aan die sondes van ander nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Jehovah help jou om suksesvol te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 10/1 bl. 28-31

Versterk om nee te sê vir wat verkeerd is

“TOE ek nog in my tienerjare was en by ’n kruidenierswinkel gewerk het”, verduidelik Timothy, “het ’n werksmaat my na sy huis toe genooi. Hy het gesê dat sy ouers nie by die huis sou wees nie, dat daar meisies sou wees en dat daar geleentheid sou wees om geslagsomgang te hê.” Vandag sou baie jongmense so ’n uitnodiging gretig aanvaar. Maar wat was Timothy se reaksie? “Ek het onmiddellik vir hom gesê dat ek nie sou kom nie en dat my Christelike gewete my nie sou toelaat om geslagsomgang te hê met iemand met wie ek nie getroud is nie.”

Timothy was onbewus daarvan dat ’n jong vroulike werknemer geluister het toe hy verduidelik het waarom hy nie die uitnodiging sal aanvaar nie. Sy onskuld was vir haar ’n uitdaging, en weldra moes hy vir haar ook nee sê—by ’n hele paar geleenthede, soos ons later sal sien.

Om gedurigdeur voor versoekings te staan te kom, is natuurlik nie iets wat net in ons tyd gebeur nie. Ongeveer 3 000 jaar gelede het koning Salomo geskryf: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; . . . hou jou voet terug van hulle pad” (Spreuke 1:10, 15). Jehovah self het die nasie Israel beveel: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie” (Exodus 23:2). Ja, soms moet ons nee sê, die versoeking weerstaan om iets verkeerds te doen, al is dit dalk nie die gewilde weg nie.

Dit is veral vandag belangrik om nee te sê

Dit was nog nooit maklik om nee te sê vir wat verkeerd is nie, en deesdae kan dit veral moeilik wees, aangesien ons lewe in wat die Bybel “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge noem. Net soos die Bybel voorspel het, het mense oor die algemeen liefhebbers van genot en geweld geword, sonder enige geestelikheid en sedelikheid (2 Timoteus 3:1-5). ’n Jesuïete-universiteitshoof het gesê: “Ons het ’n tradisionele stel standaarde gehad wat betwis is en as ontoereikend en verouderd beskou word. Nou is daar blykbaar geen sedelike bakens nie.” ’n Regter van ’n hoër hof het eweneens gesê: “Niks is meer swart en wit nie. Alles is grys. . . . Minder mense kan tussen reg en verkeerd onderskei. Die sonde is nou nie meer die oortreding nie, maar om gevang te word.”

Die apostel Paulus het aangaande mense met sulke gesindhede geskryf: “Hulle [is] verstandelik in duisternis . . . en vervreemd . . . van die lewe wat tot God behoort, weens die onkunde wat in hulle is, weens die ongevoeligheid van hulle hart. Aangesien hulle alle sedelikheidsgevoel verloor het, het hulle hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met gierigheid elke soort onreinheid te bedryf” (Efesiërs 4:18, 19). Maar moeilikheid wag op hulle. Jesaja het gesê: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis” (Jesaja 5:20). Hierdie mense maai nie net wat hulle nou saai nie, maar hulle sal binnekort hulle grootste “wee” ondervind—ongunstige oordeel van Jehovah.—Galasiërs 6:7.

“As die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg”, sê Psalm 92:8. Met ander woorde, hierdie verskriklike oes van goddeloosheid sal nie vir ’n onbepaalde tyd voortduur en die lewe vir almal ondraaglik maak nie. Trouens, Jesus het gesê dat die “geslag” wat vir hierdie goddeloosheid verantwoordelik is juis die geslag sal wees wat God gedurende ’n “groot verdrukking” sal vernietig (Matteus 24:3, 21, 34). As ons dus deur hierdie verdrukking heen gered wil word, moet ons tussen reg en verkeerd kan onderskei volgens God se standaarde; en ons het natuurlik ook die sedelike krag nodig om nee te sê vir alle vorme van oortreding. Hoewel dit nie maklik is nie, het Jehovah ons van bemoedigende voorbeelde voorsien, hedendaagse voorbeelde sowel as dié in Bybeltye.

Leer van ’n jong man wat nee gesê het

Dit is blykbaar, selfs vir party in die Christengemeente, veral moeilik om nee te sê vir hoerery en egbreuk. Timothy, wat in die eerste paragraaf gemeld is, het die voorbeeld van jong Josef, wat in die Skrif in Genesis 39:1-12 opgeteken is, ter harte geneem. Josef het sedelike krag geopenbaar toe hy herhaaldelik deur die vrou van die Egiptiese amptenaar Potifar gevra is om met haar geslagsomgang te hê. Josef, sê die verslag, “het geweier en . . . gesê: . . . Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?”

Hoe het Josef die sedelike krag verkry om, dag na dag, vir Potifar se vrou nee te sê? Ten eerste het hy sy verhouding met Jehovah van veel groter waarde geag as kortstondige genot. Daarbenewens het Josef ’n duidelike begrip van sedelike beginsels gehad, hoewel hy nie onder ’n Goddelike regskode was nie (die Wet van Moses moes nog kom); hy het geweet dat hoerery met Potifar se vrou nie net ’n sonde teen haar man sou wees nie, maar ook teen God.—Genesis 39:8, 9.

Josef het klaarblyklik verstaan hoe belangrik dit is om nie eers die begeerte te wek wat tot onbeteuelde hartstog kon lei nie. Dit sal verstandig wees van ’n Christen om Josef se voorbeeld te volg. Die Wagtoring van 15 September 1957 het gesê: “Hy moet besef dat hy vleeslike swakhede het en nie dink dat hy sinlike begeertes tot die skriftuurlike grenslyn kan volg en dan daar ophou nie. Al slaag hy miskien ook daarin om dit ’n ruk lank te doen, sal hy uiteindelik oor daardie grenslyn in sonde gesleep word. Dit sal sekerlik gebeur, aangesien welluste wat gekoester word kragtiger word en ’n stewiger houvas op ’n persoon kry. Dan raak dit vir hom moeiliker om sy gedagtes daarvan af te hou. Sy beste verdediging is om dit uit die staanspoor te weerstaan.”

Namate ons ’n liefde aankweek vir wat reg is en ’n haat vir wat verkeerd is, word dit makliker om iets uit die staanspoor te weerstaan (Psalm 37:27). Maar ons moet gedurig daaraan werk, daarin volhard. As ons dit doen, sal ons liefde vir wat reg is en ons afsku van wat verkeerd is met Jehovah se hulp sterker word. Intussen moet ons natuurlik waaksaam bly, soos Jesus beveel het, deur voortdurend te bid dat ons nie in versoeking gebring word nie en dat ons van die bose verlos moet word.—Matteus 6:13; 1 Tessalonisense 5:17.

Sê nee vir portuurdwang

Nog iets wat ons kan beïnvloed om te doen wat verkeerd is, is portuurdwang. Een jong persoon het erken: “Ek lei ’n dubbele lewe—een by die skool en een by die huis. By die skool is ek vriende met kinders wat vloek byna elke keer as hulle hulle mond oopmaak. En ek word nou al net soos hulle. Wat moet ek doen?” Wat nodig is, is die moed om anders te wees, en een manier om dit te verkry, is om die Bybelverslae te lees oor God se lojale knegte soos Josef en daaroor te peins. Ander goeie voorbeelde is Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego—vier jong manne wat die moed gehad het om anders te wees as hulle portuurs.

Terwyl hierdie vier jong Israeliete in die koninklike hof van Babilon onderrig is, is daar van hulle verwag om “’n daaglikse porsie . . . van die lekkernye van die koning” te eet. Hulle wou nie die dieetvoorskrifte van die Wet van Moses skend nie en het dus geweier om hierdie voedsel te eet. Dit het krag geverg—veral omdat die geregte, wat “lekkernye van die koning” was, heel moontlik baie smaaklik gelyk het. Wat ’n goeie voorbeeld het hierdie jong manne tog gestel vir hedendaagse Christene wat dalk in die versoeking kom, selfs onder druk verkeer, om te veel alkohol te drink of om dwelms en tabak te gebruik!—Daniël 1:3-17, NW.

Sadrag, Mesag en Abednego het ook getoon dat wat Jesus Christus later gesê het, waar is: “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou” (Lukas 16:10). Hulle moedige standpunt in die betreklik nietige kwessie van voedsel en hoe goed Jehovah dit laat afloop het, het hulle ongetwyfeld versterk vir ’n latere, ernstiger toets (Daniël 1:18-20). Hierdie toets het gekom toe hulle beveel is om aan afgodediens deel te neem en met ’n vuurdood as straf gedreig is. Die drie jong manne was moedig en het vasbeslote gebly om Jehovah alleen te aanbid, terwyl hulle volle vertroue in hom gestel het ongeag wat die uiteinde sou wees. Jehovah het hulle weer eens geseën vir hulle geloof en moed—hierdie keer deur hulle wonderdadig te beskerm teen die vlamme toe hulle in ’n oorverhitte vuuroond gegooi is.—Daniël 3:1-30.

God se Woord bevat baie ander voorbeelde van mense wat nee gesê het vir wat verkeerd is. Moses het geweier om “die seun van Farao se dogter genoem te word”, hoewel dit hom baie geleenthede sou gebied het om hom oor te gee aan “die tydelike genieting van sonde” (Hebreërs 11:24-26). Die profeet Samuel het geweier om sy gesag te misbruik deur omkoopgeld te aanvaar (1 Samuel 12:3, 4). Die apostels van Jesus Christus het moedig nee gesê toe hulle beveel is om op te hou preek (Handelinge 5:27-29). Jesus self het ferm nee gesê vir alle verkeerde dinge—tot die laaste oomblikke van sy lewe toe soldate hom “wyn gemeng met bedwelmende mirre” aangebied het. As hy dit aanvaar het, kon dit op daardie kritieke tyd sy vasbeslotenheid verswak het.—Markus 15:23; Matteus 4:1-10.

Om nee te sê—’n saak van lewe of dood

Jesus het gesê: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min.”—Matteus 7:13, 14.

Die breë pad is gewild omdat dit die maklike pad is. Die mense wat daarop is, is genotsugtig, geneig tot vleeslike denke en weë en hulle wil nie anders wees nie, maar wil inpas in Satan se wêreld. Hulle voel dat hulle sedelik ingeperk word deur God se wette en beginsels (Efesiërs 4:17-19). En tog het Jesus spesifiek gesê dat die breë pad “na die vernietiging lei”.

Maar waarom het Jesus gesê dat net ’n paar die smal pad kies? Hoofsaaklik omdat baie min mense wil hê dat God se wette en beginsels hulle lewe moet rig en hulle moet help om al die versoekings en geleenthede om verkeerd te doen te weerstaan. Daarbenewens is betreklik min mense bereid om te stry teen ongeoorloofde begeertes, portuurdwang en die vrees om dalk gespot te word weens die weg wat hulle gekies het.—1 Petrus 3:16; 4:4.

Hulle verstaan ten volle hoe die apostel Paulus gevoel het toe hy die stryd beskryf het wat hy gehad het om nee te sê vir sonde. Soos die wêreld van vandag het die Romeinse en Griekse wêreld van Paulus se tyd ’n breë pad van geleenthede voorsien waarop ’n mens jou kon oorgee aan verkeerde dinge. Paulus het verduidelik dat sy verstand, wat geweet het wat reg is, ’n voortdurende “stryd” gevoer het teen sy vlees, wat geneig was tot oortreding (Romeine 7:21-24). Ja, Paulus het geweet dat sy liggaam ’n goeie kneg maar ’n slegte heer was, en dus het hy geleer om vir sy liggaam nee te sê. “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf”, het hy geskryf (1 Korintiërs 9:27). Hoe het hy hierdie beheer oor sy liggaam gekry? Nie in sy eie krag nie, want self was hy nie opgewasse teen die taak nie, maar wel met die hulp van God se gees.—Romeine 8:9-11.

Gevolglik het Paulus, hoewel hy onvolmaak was, sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah tot die einde toe gehandhaaf. Kort voor sy dood kon hy skryf: “Ek het die voortreflike stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar. Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê.”—2 Timoteus 4:7, 8.

Terwyl ons teen ons onvolmaakthede stry, het ons die aanmoedigende voorbeelde, nie net van Paulus nie, maar ook van diegene wat vir hom voorbeelde was—Josef, Moses, Daniël, Sadrag, Mesag, Abednego en baie ander. Hoewel hulle onvolmaakte mense was, het elkeen van hierdie manne van geloof verkeerde dinge vermy, nie weens eiesinnigheid of koppigheid nie, maar weens sedelike krag wat hulle deur Jehovah se gees verkry het (Galasiërs 5:22, 23). Hulle was geestelike manne. Hulle het ’n honger gehad na elke woord wat uit Jehovah se mond uitgaan (Deuteronomium 8:3). Sy woord het vir hulle die lewe beteken (Deuteronomium 32:47). Bowenal het hulle Jehovah liefgehad en hom gevrees, en met sy hulp het hulle geduldig ’n haat vir oortreding aangekweek.—Psalm 97:10; Spreuke 1:7.

Mag ons soos hulle wees. As ons wil aanhou om nee te sê vir alle verkeerde dinge het ons inderdaad Jehovah se gees nodig net soos hulle dit nodig gehad het. Jehovah gee sy gees mildelik vir ons as ons hom opreg daarvoor vra, sy Woord bestudeer en gereeld Christelike vergaderinge bywoon.—Psalm 119:105; Lukas 11:13; Hebreërs 10:24, 25.

Timothy, wat aan die begin gemeld is, was bly dat hy nie sy geestelike behoeftes verwaarloos het nie. Die jong vroulike werknemer, wat na sy gesprek met sy werksmaat geluister het en verkeerdelik tot Timothy aangetrokke was weens sy onskuld, het Timothy later in die geheim na haar huis toe genooi wanneer haar man nie daar was nie. Timothy het haar uitnodiging van die hand gewys. Sy is nie maklik afgeskrik nie en het die uitnodiging baie keer herhaal, soos Potifar se vrou. Timothy het elke keer ferm dog vriendelik nee gesê. Hy het selfs vir hierdie vrou ’n goeie getuienis uit God se Woord gegee. Timothy is baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy hom die sedelike krag gegee het om nee te sê en hy is nou gelukkig getroud met ’n oulike mede-Christen. Jehovah sal almal wat hulle Christelike onkreukbaarheid wil handhaaf deur nee te sê vir wat verkeerd is inderdaad seën en versterk.—Psalm 1:1-3.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel