Die enigste weg wat na die ewige lewe lei
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”—JOHANNES 14:6.
1, 2. Waarmee het Jesus die weg na die ewige lewe vergelyk, en wat is die punt van sy illustrasie?
IN JESUS se beroemde Bergpredikasie vergelyk hy die weg na die ewige lewe met ’n pad wat ’n mens deur ’n poort betree. Let op dat Jesus beklemtoon dat hierdie weg na die lewe nie ’n maklike weg is nie wanneer hy sê: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die [ewige] lewe lei, en dié wat dit vind, is min.”—Matteus 7:13, 14.
2 Sien jy die punt van hierdie illustrasie? Toon dit nie dat daar slegs een pad, of weg, is wat na die lewe lei nie en dat dit baie inspanning van ons gaan verg om nie van daardie weg na die lewe af te dwaal nie? Wat is dus hierdie enigste weg wat na die ewige lewe lei?
Jesus Christus se rol
3, 4. (a) Hoe toon die Bybel watter onontbeerlike rol Jesus in ons redding speel? (b) Wanneer het God vir die eerste keer geopenbaar dat die mensdom ewige lewe kan verkry?
3 Dit is duidelik dat Jesus ’n belangrike rol speel met betrekking tot daardie weg, soos sy apostel Petrus gesê het: “Daar [is] geen redding in enigiemand anders nie, want daar is nie ’n ander naam onder die hemel [benewens Jesus s’n] wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Die apostel Paulus het eweneens verklaar: “Die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Jesus het self getoon dat die enigste weg na die ewige lewe deur hom is, want hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”—Johannes 14:6.
4 Dit is derhalwe onontbeerlik dat ons die rol wat Jesus daarin speel om ewige lewe moontlik te maak, aanvaar. Kom ons ondersoek dus sy rol van nader. Weet jy hoe lank ná Adam se sonde Jehovah God bekend gemaak het dat die mensdom ewige lewe kan geniet? Dit was onmiddellik ná Adam se val. Kom ons ondersoek nou hoe die voorsiening van Jesus Christus as die mensdom se Redder vir die eerste keer voorspel is.
Die beloofde saad
5. Hoe kan ons die slang identifiseer deur wie Eva verlei is?
5 Jehovah God het die beloofde Redder in simboliese taal geïdentifiseer. Hy het dit gedoen toe hy oordeel uitgespreek het oor “die slang” wat met Eva gepraat het en haar verlei het om ongehoorsaam aan God te wees deur die verbode vrug te eet (Genesis 3:1-5). Daardie slang was natuurlik nie ’n letterlike slang nie. Dit was ’n magtige geesskepsel wat in die Bybel geïdentifiseer word as “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word” (Openbaring 12:9). Satan het hierdie eenvoudige dier as sy mondstuk gebruik om Eva te verlei. Toe God Satan geoordeel het, het hy derhalwe vir hom gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý [die vrou se saad] sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Genesis 3:15.
6, 7. (a) Wie is die vrou wat die “saad” baar? (b) Wie is die beloofde Saad, en wat doen hy?
6 Wie is hierdie “vrou” teenoor wie Satan vyandiggesind, of hatig is? Net soos Openbaring hoofstuk 12 “die oorspronklike slang” identifiseer, identifiseer dit ook hierdie vrou wat deur Satan gehaat word. Let op dat sy volgens vers 1 “versier is met die son, op die maan staan en twaalf sterre op haar kop het”. Hierdie vrou verteenwoordig God se hemelse organisasie van getroue engele, en die “manlike kind” aan wie sy geboorte gee, verteenwoordig God se Koninkryk, met Jesus Christus as Koning.—Openbaring 12:1-5, The Jerusalem Bible.
7 Wie is dan die “saad”, of nageslag, van die vrou waarna Genesis 3:15 verwys, wat Satan se ‘kop sal vermorsel’ en hom sodoende die doodslag sal toedien? Dit is die een wat God uit die hemel gestuur het om wonderdadig uit ’n maagd gebore te word, ja, die mens Jesus (Matteus 1:18-23; Johannes 6:38). Hoofstuk 12 van Openbaring toon dat hierdie Saad, Jesus Christus, as ’n verrese hemelse Heerser die leiding sal neem in die verowering van Satan en, soos Openbaring 12:10 sê, “die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus” tot stand sal bring.
8. (a) Watter nuwe ding het God in verband met sy oorspronklike voorneme voorsien? (b) Wie maak God se nuwe regering uit?
8 Hierdie Koninkryk in die hande van Jesus Christus is dus iets nuuts wat God voorsien het in verband met sy oorspronklike voorneme vir mense om ewige lewe op die aarde te geniet. Ná Satan se opstand het Jehovah onmiddellik opgetree om al die slegte gevolge van goddeloosheid ongedaan te maak deur middel van hierdie nuwe Koninkryksregering. Toe Jesus op die aarde was, het hy getoon dat hy nie alleen in hierdie regering sou wees nie (Lukas 22:28-30). Ander sou uit die mensdom gekies word, en hulle sou by hom in die hemel aansluit om saam met hom te regeer en sodoende sou hulle ’n sekondêre deel van die vrou se saad uitmaak (Galasiërs 3:16, 29). In die Bybel word die getal medeheersers saam met Jesus—wat almal uit die sondige mensdom op die aarde geneem is—as 144 000 aangegee.—Openbaring 14:1-3.
9. (a) Waarom moes Jesus as ’n mens na die aarde kom? (b) Hoe het Jesus die werke van die Duiwel ongedaan gemaak?
9 Maar voordat daardie Koninkryk kon begin regeer, was dit noodsaaklik dat die primêre deel van die saad, Jesus Christus, na die aarde kom. Waarom? Omdat hy deur Jehovah God aangestel is as die Een wat “die werke van die Duiwel [sal] verbreek”, oftewel ongedaan sal maak (1 Johannes 3:8). Een van Satan se werke was dat hy Adam oorgehaal het om te sondig, wat al Adam se nakomelinge tot sonde en die dood veroordeel het (Romeine 5:12). Jesus het hierdie werk van die Duiwel ongedaan gemaak deur Sy lewe as ’n losprys te gee. Hy het sodoende ’n grondslag voorsien vir die mensdom om van die veroordeling tot sonde en die dood vrygemaak te word en die weg tot die ewige lewe gebaan.—Matteus 20:28; Romeine 3:24; Efesiërs 1:7.
Wat die losprys bereik
10. Watter ooreenkoms was daar tussen Jesus en Adam?
10 Aangesien Jesus se lewe uit die hemel na die baarmoeder van ’n vrou oorgeplaas is, is hy as ’n volmaakte mens gebore, sonder enige vlek van Adam se sonde. Hy kon vir ewig op die aarde gelewe het. Adam is eweneens as ’n volmaakte mens geskep met die vooruitsig om ewige lewe op die aarde te geniet. Die apostel Paulus het die ooreenkoms tussen hierdie twee manne in gedagte gehad toe hy geskryf het: “‘Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.’ Die laaste Adam [Jesus Christus] het ’n lewegewende gees geword. Die eerste mens is uit die aarde en is van stof gemaak; die tweede mens is uit die hemel.”—1 Korintiërs 15:45, 47.
11. (a) Hoe is die mensdom geraak deur wat Adam en Jesus gedoen het? (b) Hoe moet ons Jesus se offerande beskou?
11 Die ooreenkoms tussen hulle twee—die enigste twee volmaakte manne wat op die aarde gelewe het—word bevestig deur die Bybel se verklaring dat Jesus “homself as ’n ooreenstemmende losprys vir almal gegee het” (1 Timoteus 2:6). Met wie het Jesus ooreengestem? Wel, met Adam toe hy nog ’n volmaakte mens was! Die eerste Adam se sonde het veroorsaak dat die hele mensdom tot die dood veroordeel is. Die offerande van “die laaste Adam” voorsien die grondslag vir verlossing van sonde en die dood, sodat ons vir ewig kan lewe! Hoe kosbaar is Jesus se offerande tog! Die apostel Petrus het gesê: “Julle [is] nie met verderflike dinge, met silwer of goud, verlos” nie. Petrus het eerder verduidelik: “Dit was met kosbare bloed, soos dié van ’n smetlose en vlekkelose lam, ja, Christus s’n.”—1 Petrus 1:18, 19.
12. Watter beskrywing gee die Bybel van hoe ons veroordeling tot die dood ongedaan gemaak sal word?
12 Die Bybel gee ’n pragtige beskrywing van hoe die mensdom se veroordeling tot die dood ongedaan gemaak sal word en sê: “Soos dit deur een oortreding [dié van Adam] vir alle soorte mense tot veroordeling gelei het, net so lei dit ook deur een daad van regverdiging [Jesus se hele lewensweg van onkreukbaarheid wat in sy dood geëindig het] vir alle soorte mense tot regverdigverklaring tot die lewe. Want net soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens [Adam] tot sondaars gestel is, so sal ook baie deur die gehoorsaamheid van die een persoon [Jesus] tot regverdiges gestel word.”—Romeine 5:18, 19.
’n Wonderlike vooruitsig
13. Wat is die rede vir baie mense se beskouing omtrent die ewige lewe?
13 Hierdie voorsiening van God behoort ons baie gelukkig te maak! Is jy nie bly dat ’n Redder voorsien is nie? Toe ’n koerant in ’n groot Amerikaanse stad mense eenkeer in ’n opname gevra het: “Sou jy graag vir ewig wou lewe?” het 67,4 persent van die mense wat ondervra is verbasend genoeg “Nee” geantwoord. Waarom het hulle gesê dat hulle nie vir ewig wil lewe nie? Klaarblyklik omdat die lewe op aarde nou met soveel probleme vereenselwig word. Een persoon het gesê: “Ek wil nie graag dink hoe ek sal lyk wanneer ek 200 jaar oud is nie.”
14. Waarom sal dit ’n absolute plesier wees om vir ewig te lewe?
14 Maar die Bybel praat nie van die ewige lewe in ’n wêreld waar mense siekte, die ouderdom en ander tragedies moet verduur nie. Nee, want Jesus sal as die Heerser van God se Koninkryk al hierdie probleme wat deur Satan veroorsaak is, ongedaan maak. Volgens die Bybel sal God se Koninkryk alle onderdrukkende regerings van hierdie wêreld “verbrysel en daar ’n einde aan maak” (Daniël 2:44). In daardie tyd sal die gebed wat Jesus sy volgelinge geleer het, verhoor word, wanneer God se “wil [sal] geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Nadat die aarde van alle boosheid gereinig is, sal die voordele van Jesus se losprys in God se nuwe wêreld ten volle aangewend word. Ja, almal wat aan die vereistes voldoen, sal weer volmaakte gesondheid geniet!
15, 16. Watter toestande sal in God se nuwe wêreld bestaan?
15 Die volgende Bybelteks sal van toepassing wees op mense wat in God se nuwe wêreld lewe: “Dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid” (Job 33:25). ’n Ander belofte in die Bybel sal ook vervul word: “Die oë van die blindes [sal] geopen en die ore van die dowes [sal] ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”—Jesaja 35:5, 6.
16 Dink net: Ongeag hoe oud ons is, of ons nou 80, 800 of selfs ouer is, ons liggaam sal blakend gesond bly. Dit sal wees soos die Bybel beloof: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.” In daardie tyd sal hierdie belofte ook vervul word: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Jesaja 33:24; Openbaring 21:3, 4.
17. Watter prestasies kan ons van mense in God se nuwe wêreld verwag?
17 In daardie nuwe wêreld sal ons ons wonderlike brein kan gebruik soos ons Skepper in gedagte gehad het toe hy dit met onbeperkte leervermoë ontwerp het. Dink net aan die wonderlike dinge wat ons sal kan doen! Selfs onvolmaakte mense het uit die aarde se stoorkamers alles gemaak wat ons om ons sien—selfone, mikrofone, horlosies, roepradio’s, rekenaars, vliegtuie, ja, noem maar net wat jy wil. Nie een van hierdie dinge is van materiaal gemaak wat hulle van een of ander verafgeleë plek in die heelal gebring het nie. Met eindelose lewe voor ons sal die potensiaal om dinge te skep in die komende aardse Paradys onbeperk wees!—Jesaja 65:21-25.
18. Waarom sal die lewe in God se nuwe wêreld nooit vervelig wees nie?
18 En die lewe sal nie vervelig wees nie. Selfs nou sien ons uit na ons volgende ete, hoewel ons al tienduisende kere geëet het. In menslike volmaaktheid sal ons die heerlike opbrengs van die Paradysaarde selfs meer geniet (Jesaja 25:6). En ons sal vir ewig genot daaruit put om vir die aarde se ryk dierelewe te sorg en skouspelagtige sonsondergange, berge, riviere en valleie te geniet. Die lewe in God se nuwe wêreld sal waarlik nooit eentonig word nie!—Psalm 145:16.
Voldoen aan God se vereistes
19. Waarom is dit redelik om te glo dat daar vereistes is om God se gawe van lewe te ontvang?
19 Sou jy verwag om God se wonderlike gawe van ewige lewe in die Paradys te ontvang sonder dat jy enigiets doen om dit te kry? Is dit nie redelik dat God iets van ons sal vereis nie? Beslis. Dit is nie asof God net die gawe in ons skoot laat val nie. Hy bied dit vir ons aan, maar ons moet daarna uitreik en dit aanvaar. Ja, dit verg inspanning. Miskien vra jy presies dieselfde vraag wat die ryk jong heerser Jesus gevra het: “Wat moet ek doen wat goed is om die ewige lewe te kry?” Of miskien stel jy die vraag soos ’n Filippensiese tronkbewaarder die apostel Paulus gevra het: “Wat moet ek doen om gered te word?”—Matteus 19:16; Handelinge 16:30.
20. Wat is ’n noodsaaklike vereiste vir ewige lewe?
20 Op die vooraand van Jesus se dood het hy ’n basiese vereiste genoem toe hy in gebed tot sy hemelse Vader gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Is dit nie ’n redelike vereiste dat ons kennis inneem van Jehovah, wat ewige lewe moontlik gemaak het, en van Jesus Christus, wat vir ons gesterf het nie? Maar meer word vereis as om bloot hierdie kennis in te neem.
21. Hoe toon ons dat ons aan die vereiste voldoen om geloof te beoefen?
21 Die Bybel sê ook: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe.” Dan voeg dit by: “Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom” (Johannes 3:36). Jy kan toon dat jy geloof in die Seun beoefen deur veranderinge in jou lewe aan te bring en dit in ooreenstemming met God se wil te bring. Jy moet enige verkeerde weg wat jy dalk gevolg het, verlaat en begin doen wat God behaag. Jy moet doen wat die apostel Petrus beveel het: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word, dat tye van verkwikking van die persoon van Jehovah kan kom.”—Handelinge 3:19.
22. Wat moet ons onder meer doen om Jesus se voetstappe te volg?
22 Mag ons nooit vergeet dat ons die ewige lewe kan geniet slegs as ons geloof in Jesus beoefen nie (Johannes 6:40; 14:6). Ons toon dat ons geloof in Jesus beoefen deur ‘sy voetstappe noukeurig te volg’ (1 Petrus 2:21). Wat sluit dit in? Wel, Jesus het in gebed tot God gesê: “Kyk! Ek kom . . . om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:7). Dit is lewensbelangrik om Jesus na te volg deur in te stem om God se wil te doen en jou lewe aan Jehovah toe te wy. Daarna moet jy daardie toewyding deur waterdoop simboliseer; Jesus het hom ook vir doop aangebied (Lukas 3:21, 22). Dit is heeltemal redelik om hierdie stappe te doen. Die apostel Paulus het gesê dat ‘die liefde wat die Christus het, ons dring’ (2 Korintiërs 5:14, 15). In watter opsig? Wel, liefde het Jesus beweeg om sy lewe ter wille van ons te gee. Behoort dit ons nie te dring om geloof in hom te beoefen nie? Ja, dit behoort ons te dring om sy liefdevolle voorbeeld na te volg om van homself te gee om ander te help. Christus het gelewe om God se wil te doen; ons moet dieselfde doen en nie meer vir onsself lewe nie.
23. (a) Waarby moet diegene wat die lewe ontvang, bygevoeg word? (b) Wat word van diegene in die Christengemeente vereis?
23 Dit is nie al nie. Die Bybel sê dat 3 000 op Pinkster 33 G.J. “bygevoeg” is toe hulle gedoop is. Waarby is hulle bygevoeg? “Hulle het voortgegaan om hulle toe te lê op die leer van die apostels en op mededeelsaamheid”, verduidelik Lukas (Handelinge 2:41, 42). Ja, hulle het vir Bybelstudie en omgang bymekaargekom en is sodoende by die Christengemeente bygevoeg, of het deel daarvan geword. Vroeë Christene het gereeld vergaderinge vir geestelike onderrigting bygewoon (Hebreërs 10:25). Vandag doen Jehovah se Getuies dieselfde, en hulle wil jou graag aanmoedig om hierdie vergaderinge saam met hulle by te woon.
24. Wat is “die werklike lewe”, en hoe en wanneer sal dit verwesenlik word?
24 Miljoene volg nou die smal pad wat na die lewe lei. Dit verg kragtige inspanning om op hierdie smal pad te bly! (Matteus 7:13, 14). Paulus het dit in sy hartlike versoek getoon: “Stry die voortreflike stryd van die geloof, kry ’n stewige houvas op die ewige lewe waartoe jy geroep is.” Ons moet hierdie stryd voer om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry” (1 Timoteus 6:12, 19). Daardie lewe is nie die huidige lewe van pyn, lyding en swaarkry wat deur Adam se sonde oor ons gebring is nie. Dit is eerder lewe in God se nuwe wêreld, wat binnekort verwesenlik sal word nadat hierdie stelsel van dinge uit die weg geruim is en wanneer Christus se losprysofferande aangewend sal word ten behoewe van almal wat Jehovah God en sy Seun liefhet. Mag ons almal die lewe kies—“die werklike lewe”—ewige lewe in God se wonderlike nuwe wêreld.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wie is die slang, die vrou en die saad van Genesis 3:15?
◻ Hoe het Jesus met Adam ooreengestem, en wat is deur die losprys moontlik gemaak?
◻ Waarna kan jy uitsien wat God se nuwe wêreld so aangenaam vir jou sal maak?
◻ Aan watter vereistes moet ons voldoen om in God se nuwe wêreld te lewe?
[Prent op bladsy 10]
Vir oud en jonk is Jesus die enigste weg na die ewige lewe
[Prent op bladsy 11]
Op God se bestemde tyd sal die bejaardes na die dae van hulle jonkheid terugkeer