Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 1/15 bl. 29-bl. 31 par. 5
  • Glanspunte uit die boek Matteus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glanspunte uit die boek Matteus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “DIE KONINKRYK VAN DIE HEMELE HET NABY GEKOM”
  • (Matt. 1:1–20:34)
  • “DIE SEUN VAN DIE MENS GAAN OORGELEWER WORD”
  • (Matt. 21:1–28:20)
  • Bybelboek nommer 40—Mattheüs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ‘Die uur het gekom!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Glanspunte uit die boek Markus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Glanspunte uit die boek Johannes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 1/15 bl. 29-bl. 31 par. 5

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Matteus

DIE eerste persoon wat ’n opwindende verslag van Jesus se lewe en bediening geskryf het, is Matteus—’n intieme metgesel van Jesus Christus en ’n voormalige belastinggaarder. Die Evangelie van Matteus, wat oorspronklik in Hebreeus geskryf en later in Grieks vertaal is, is omstreeks 41 G.J. voltooi en vorm ’n brug tussen die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte.

Hierdie aangrypende en betekenisvolle Evangelie, wat blykbaar hoofsaaklik vir ’n Joodse gehoor bedoel was, beeld Jesus uit as die beloofde Messias, die Seun van God. As ons noukeurig aandag skenk aan die boodskap daarin, sal dit ons geloof in die ware God, sy Seun en Sy beloftes versterk.—Heb. 4:12.

“DIE KONINKRYK VAN DIE HEMELE HET NABY GEKOM”

(Matt. 1:1–20:34)

Matteus lê klem op die Koninkrykstema en Jesus se leringe, al beteken dit dat hy gebeure nie in ’n streng chronologiese volgorde meld nie. Die Bergpredikasie verskyn byvoorbeeld vroeg in die boek, hoewel Jesus dit ongeveer halfpad deur sy bediening gelewer het.

Gedurende die verloop van sy bediening in Galilea verrig Jesus wonderwerke, gee hy instruksies oor die bediening aan die 12 apostels, veroordeel hy die Fariseërs en vertel hy illustrasies aangaande die Koninkryk. Dan vertrek hy uit Galilea en kom hy by “die grensgebiede van Judea oorkant die Jordaan” (Matt. 19:1). Langs die pad sê Jesus vir sy dissipels: ‘Ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal ter dood veroordeel word, en op die derde dag sal hy opgewek word.’—Matt. 20:18, 19.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

3:16—In watter opsig is ‘die hemele geopen’ toe Jesus gedoop is? Dit beteken blykbaar dat Jesus se herinnering aan sy voormenslike bestaan in die hemel na hom teruggekeer het.

5:21, 22—Is dit ernstiger om aan woede uiting te gee as om dit op te krop? Jesus het gewaarsku dat iemand wat smeulende toorn teen sy broer koester, ’n ernstige sonde pleeg. Maar om aan woede uiting te gee deur ’n woord van minagting te spreek, is ernstiger en daarvoor moet ’n mens aan ’n hoër hof as die plaaslike geregshof rekenskap gee.

5:48—Is dit werklik vir ons moontlik om “volmaak [te] wees, soos [ons] hemelse Vader volmaak is”? Ja, in relatiewe sin. Jesus het hier liefde bespreek, en hy het vir sy toehoorders gesê om God na te volg en volmaak, of volkome, in hulle liefde te wees (Matt. 5:43-47). Hoe? Deur hulle liefde te verruim om hulle vyande in te sluit.

7:16—Watter “vrugte” kenmerk die ware godsdiens? Hierdie vrugte behels meer as ons gedrag. Dit sluit ook ons oortuigings in—die leringe waaraan ons vashou.

10:34-38—Is die Bybelboodskap verantwoordelik vir skeuringe in ’n gesin? Glad nie. Skeuringe word eerder veroorsaak deur die standpunt wat deur ongelowige gesinslede ingeneem word. Hulle besluit dalk om die Christelike godsdiens te verwerp of teë te staan, wat verdeeldheid in die gesin veroorsaak.—Luk. 12:51-53.

11:2-6—Waarom het Johannes gevra of Jesus “die Een [is] wat sou kom”, aangesien hy reeds geweet het dat Jesus die Messias is omdat hy God se stem van goedkeuring gehoor het? Johannes het dit dalk gevra sodat Jesus dit self kon bevestig. Daarbenewens wou Johannes weet of daar “’n ander een” sou wees wat met Koninkryksmag sou kom en al die verwagtinge van die Jode sou vervul. Jesus se antwoord het getoon dat daar geen opvolger sou wees nie.

19:28—Wat word voorgestel deur “die twaalf stamme van Israel” wat geoordeel sal word? Dit stel nie die 12 stamme van geestelike Israel voor nie (Gal. 6:16; Op. 7:4-8). Die apostels met wie Jesus gepraat het, sou deel van geestelike Israel wees, nie regters oor die lede daarvan nie. Jesus het ‘met hulle ’n verbond vir ’n koninkryk’ gesluit, en hulle sou ‘’n koninkryk en priesters vir God’ wees (Luk. 22:28-30; Op. 5:10). Die lede van geestelike Israel sal ‘die wêreld oordeel’ (1 Kor. 6:2). Gevolglik stel “die twaalf stamme van Israel”, wat deur dié op die hemelse trone geoordeel word, blykbaar die mensdom voor wat nie deel is van daardie koninklike, priesterlike klas nie, soos afgebeeld deur die 12 stamme op die Versoendag.—Lev., hfst. 16.

Lesse vir ons:

4:1-10. Hierdie verslag leer ons dat Satan ’n werklike persoon en nie ’n hoedanigheid van boosheid is nie. Hy gebruik “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” om ons te versoek. Maar as ons skriftuurlike beginsels toepas, sal dit ons help om aan God getrou te bly.—1 Joh. 2:16.

5:1–7:29. Wees bewus van jou geestelike behoefte. Wees vredeliewend. Verwerp onsedelike gedagtes. Hou jou woord. Gee voorkeur aan geestelike dinge bo materiële belange wanneer jy bid. Wees ryk teenoor God. Soek eers die Koninkryk en God se regverdigheid. Moenie ander oordeel nie. Doen God se wil. Watter praktiese lesse bevat die Bergpredikasie tog!

9:37, 38. Ons moet optree in ooreenstemming met ons versoek aan die Heer om “werkers in sy oes uit te stuur” deur ywerig aan die dissipelmaakwerk deel te neem.—Matt. 28:19, 20.

10:32, 33. Ons moet nooit bang wees om oor ons geloof te praat nie.

13:51, 52. As ons die sin van Koninkrykswaarhede begryp, bring dit die verantwoordelikheid mee om ander te leer en hierdie skatte met hulle te deel.

14:12, 13, 23. Tye van privaatheid is noodsaaklik vir betekenisvolle bepeinsing.—Mark. 6:46; Luk. 6:12.

17:20. Ons het geloof nodig om bergagtige struikelblokke wat ons geestelike vooruitgang belemmer, te oorkom en om probleme die hoof te bied. Ons moenie nalaat om ons geloof in Jehovah en sy beloftes op te bou en te versterk nie.—Mark. 11:23; Luk. 17:6.

18:1-4; 20:20-28. Menslike onvolmaaktheid en ’n godsdiensagtergrond wat posisie beklemtoon het, het daartoe gelei dat Jesus se dissipels behep was met vernaamheid. Ons moet nederigheid aankweek terwyl ons teen sondige neigings waak en ’n gepaste beskouing van voorregte en verantwoordelikhede behou.

“DIE SEUN VAN DIE MENS GAAN OORGELEWER WORD”

(Matt. 21:1–28:20)

Jesus kom op 9 Nisan 33 G.J. “op ’n esel” na Jerusalem (Matt. 21:5). Die volgende dag kom hy na die tempel en reinig hy dit. Op 11 Nisan onderrig hy in die tempel en veroordeel hy die skrifgeleerdes en Fariseërs, en daarna gee hy vir sy dissipels “die teken van [sy] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 24:3). Die volgende dag sê hy vir hulle: “Julle weet dat die pasga oor twee dae plaasvind, en die Seun van die mens gaan oorgelewer word om aan die paal gehang te word.”—Matt. 26:1, 2.

Dit is 14 Nisan. Nadat Jesus die Herdenking van sy naderende dood ingestel het, word hy verraai, in hegtenis geneem, verhoor en aan die paal gehang. Op die derde dag word hy uit die dode opgewek. Voor sy hemelvaart beveel die verrese Jesus sy volgelinge: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.”—Matt. 28:19.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

22:3, 4, 9—Wanneer gaan die drie oproepe na die huweliksfees uit? Die eerste oproep om die bruidsklas in te samel, het uitgegaan toe Jesus en sy volgelinge in 29 G.J. begin preek het, en dit het tot 33 G.J. voortgeduur. Die tweede oproep het gestrek vanaf die tyd dat die heilige gees op Pinkster 33 G.J. uitgestort is tot 36 G.J. Albei oproepe is net tot die Jode, Joodse proseliete en Samaritane gerig. Maar die derde oproep is gerig tot die mense op die paaie buite die stad, dit wil sê tot die onbesnede nie-Jode, en het in 36 G.J. met die bekering van die Romeinse leëroffisier Kornelius begin en duur in ons dag nog voort.

23:15—Waarom was ’n proseliet, of ’n bekeerling, van die Fariseërs “’n voorwerp vir Gehenna, twee keer erger” as die Fariseërs self? Party wat proseliete van die Fariseërs geword het, was moontlik voorheen ernstige sondaars. Maar deur hulle te bekeer tot die ekstremisme van die Fariseërs, het hulle versleg deur moontlik meer ekstremisties as hulle veroordeelde onderrigters te word. Hulle was dus ‘voorwerpe vir Gehenna’, twee keer erger as die Joodse Fariseërs.

27:3-5—Waaroor het Judas spyt gevoel? Daar is geen aanduiding dat Judas se spyt ware berou was nie. In plaas van God se vergifnis te soek, het hy sy oortreding aan die hoofpriesters en ouer manne bely. Omdat Judas “’n sonde wat wel die dood meebring”, gepleeg het, was hy tereg oorweldig deur skuldgevoelens en wanhoop (1 Joh. 5:16). Sy spyt was as gevolg van die feit dat hy in ’n desperate situasie verkeer het.

Lesse vir ons:

21:28-31. Wat werklik vir Jehovah saak maak, is dat ons sy wil doen. Ons moet byvoorbeeld ywerig aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem.—Matt. 24:14; 28:19, 20.

22:37-39. Wat ’n bondige opsomming gee die twee grootste gebooie tog van wat God van sy aanbidders vereis!

[Prent op bladsy 31]

Neem jy ywerig aan die oeswerk deel?

[Erkenning]

© 2003 BiblePlaces.com

[Prent op bladsy 31]

Matteus lê klem op die Koninkrykstema

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel