Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 11/1 bl. 9-15
  • Jehovah—ons Vader vol tere medelye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah—ons Vader vol tere medelye
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Perke aan Goddelike medelye
  • Medelye met sy naam
  • Die grootste blyk van medelye
  • Toe Jesus deernis gevoel het
  • Gelykenisse wat medelye beklemtoon
  • Jehovah heers met medelye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Betoon tere medelye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • “Die genade wat ons God so liefdevol betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Betoon “tere medelye”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 11/1 bl. 9-15

Jehovah—ons Vader vol tere medelye

“Jehovah [is] baie teer in geneentheid en medelydend.”—JAKOBUS 5:11, voetnoot in NW.

1. Waarom word nederige mense na Jehovah God toe aangetrek?

DIE heelal is so ontsaglik dat sterrekundiges nie eers weet hoeveel sterrestelsels daar is nie. Ons sterrestelsel, die Melkweg, is so ontsaglik dat die mens nie eers al sy sterre kan tel nie. Sekere sterre, soos Antares, is duisende kere groter en helderder as ons son. Hoeveel krag moet die Grootse Skepper van al die sterre in die heelal tog nie hê nie! Ja, “Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam” (Jesaja 40:26). Tog is hierdie selfde ontsagwekkende God ook “baie teer in geneentheid en medelydend”. Hoe verkwikkend is sulke kennis vir nederige knegte van Jehovah tog, veral vir diegene wat weens vervolging, siekte, depressie of ander ontberinge ly!

2. Hoe beskou mense van hierdie wêreld tere gevoelens dikwels?

2 Baie beskou die teerder emosies, soos die “tere geneenthede en medelye” van Christus, as swakhede (Filippense 2:1, NW). Weens die invloed van evolusionêre filosofieë moedig hulle mense aan om hulleself eerste te stel, al beteken dit dat hulle ander se gevoelens vertrap. ’n Hele paar rolmodelle in die vermaaklikheids- en sportwêreld is macho’s wat nie trane stort of tere geneentheid toon nie. Sommige politieke heersers tree net so op. Die Stoïsynse filosoof Seneka, wat die wrede keiser Nero onderrig het, het beklemtoon dat “deernis ’n swakheid is”. M’Clintock en Strong se Cyclopædia sê: “Die invloed van Stoïsisme . . . het selfs vandag nog ’n uitwerking op die denke van mense.”

3. Hoe het Jehovah homself aan Moses beskryf?

3 In teenstelling hiermee is die persoonlikheid van die mensdom se Skepper hartverblydend. Hy het homself met hierdie woorde aan Moses beskryf: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; . . . wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie” (Exodus 34:6, 7). Jehovah het weliswaar hierdie beskrywing van homself afgesluit deur sy geregtigheid te beklemtoon. Hy sal opsetlike sondaars nie verdiende straf kwytskeld nie. Nogtans beskryf hy homself eerstens as ’n God wat barmhartig is.

4. Wat is die aangrypende betekenis van die Hebreeuse woord wat dikwels met “barmhartigheid” vertaal word?

4 Soms word daar net aan die woord “barmhartigheid” gedink in die koue, geregtelike sin, naamlik om nie straf toe te dien nie. Maar ’n vergelyking van Bybelvertalings gee ’n aanduiding van die diepe betekenis van die Hebreeuse byvoeglike naamwoord wat van die werkwoord ra·chamʹ afgelei word. Volgens sommige geleerdes is die grondbetekenis daarvan “om sag te wees”. “Racham”, verduidelik die boek Synonyms of the Old Testament, “druk ’n diep en tere gevoel van medelye uit, soos die gevoel wat by ons gewek word wanneer ons swakheid of lyding sien in diegene wat vir ons dierbaar is of ons hulp nodig het.” Ander aangrypende definisies van hierdie begeerlike eienskap kan in Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 375-9, gevind word.

5. Hoe het die Mosaïese Wet bewys gelewer van barmhartigheid?

5 God se tere medelye kan duidelik gesien word in die Wet wat hy aan die nasie Israel gegee het. Minder bevoorregtes, soos weduwees, wese en die armes, moes met medelye behandel word (Exodus 22:22-27; Levitikus 19:9, 10; Deuteronomium 15:7-11). Almal, met inbegrip van slawe en diere, het by die weeklikse Sabbatsrus baat gevind (Exodus 20:10). Daarbenewens het God ag gegee op mense wat minder bevoorregtes met teerheid behandel het. Spreuke 19:17 sê: “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.”

Perke aan Goddelike medelye

6. Waarom het Jehovah profete en boodskappers na sy volk toe gestuur?

6 Die Israeliete het God se naam gedra en by die tempel in Jerusalem aanbid, wat ‘’n huis vir die Naam van Jehovah’ was (2 Kronieke 2:4; 6:33). Mettertyd het hulle egter onsedelikheid, afgodediens en moord begin duld, wat groot smaad op Jehovah se naam gebring het. In ooreenstemming met sy medelydende persoonlikheid het God geduldig probeer om hierdie slegte situasie reg te stel sonder om rampspoed oor die hele nasie te bring. Hy “het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad. Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.”—2 Kronieke 36:15, 16.

7. Wat het met die koninkryk van Juda gebeur toe Jehovah se medelye tot die uiterste toe beproef is?

7 Hoewel Jehovah medelydend en lankmoedig is, toon hy wel geregverdigde woede wanneer dit nodig is. Destyds is Goddelike medelye tot die uiterste toe beproef. Ons lees wat die gevolge was: “So het [Jehovah] dan die koning van die Chaldeërs teen hulle laat optrek, en dié het hulle jongmanne met die swaard in die huis van hulle heiligdom gedood en geen jongman of jongmeisie, oue of gryse, verskoon nie: Hy het alles in sy hand gegee” (2 Kronieke 36:17). Só is Jerusalem en sy tempel vernietig en is die nasie in ballingskap na Babilon geneem.

Medelye met sy naam

8, 9. (a) Waarom het Jehovah gesê dat hy medelye met sy naam sou hê? (b) Hoe is Jehovah se vyande die swye opgelê?

8 Die omliggende nasies het hulle oor hierdie rampspoed verheug. Op ’n spottende wyse het hulle gesê: “Hierdie mense is die volk van Jehovah, en uit sy land het hulle uitgegaan.” Jehovah het hierdie smaad nie geïgnoreer nie en gesê: “Ek sal medelye hê met my heilige naam . . . En ek sal my groot naam sekerlik heilig . . . en die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is.”—Esegiël 36:20-23, NW.

9 Nadat sy volk 70 jaar in ballingskap was, het die medelydende God, Jehovah, hulle vrygelaat en hulle toegelaat om terug te keer en die tempel in Jerusalem te herbou. Dit het die omliggende nasies, wat in verwondering toegekyk het, die swye opgelê (Esegiël 36:35, 36). Ongelukkig het die nasie Israel weer in slegte gebruike verval. ’n Getroue Jood, Nehemia, het gehelp om die situasie reg te stel. In ’n openbare gebed het hy God se medelydende handelinge met die nasie saamgevat en gesê:

10. Hoe het Nehemia Jehovah se medelye beklemtoon?

10 “Wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het Ú uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat dié hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos. Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered. . . . U was baie jare lank lankmoedig oor hulle.”—Nehemia 9:26-30; sien ook Jesaja 63:9, 10.

11. Watter verskil is daar tussen Jehovah en die gode van mense?

11 Uiteindelik het die Joodse nasie, nadat hulle God se geliefde Seun wreed verwerp het, hulle bevoorregte posisie vir altyd verloor. God se lojale gehegtheid aan hulle het langer as 1 500 jaar geduur. Dit dien as ’n ewige getuienis van die feit dat Jehovah inderdaad ’n God van barmhartigheid is. Wat ’n skerp teenstelling vorm dit tog met die wrede gode en ongevoelige godhede wat deur sondige mense versin is!—Sien venster op bladsy 8.

Die grootste blyk van medelye

12. Wat was die grootste blyk van God se medelye?

12 Die grootste blyk van God se medelye was toe hy sy geliefde Seun na die aarde toe gestuur het. Jesus se lewe van onkreukbaarheid het Jehovah weliswaar groot genot verskaf en hom van ’n volmaakte antwoord op die Duiwel se valse aantygings voorsien (Spreuke 27:11). Maar terselfdertyd moes dit Jehovah ongetwyfeld groter pyn besorg het om sy geliefde Seun ’n wrede en vernederende dood te sien sterf as wat enige mense-ouer tot nog toe moes verduur. Dit was ’n baie liefdevolle opoffering, wat die weg tot die mensdom se redding gebaan het (Johannes 3:16). Soos Sagaria, die vader van Johannes die Doper, voorspel het, het dit “die tere medelye van ons God” verheerlik.—Lukas 1:77, 78, NW.

13. In watter belangrike opsig het Jesus die persoonlikheid van sy Vader weerspieël?

13 Die feit dat God se Seun na die aarde toe gestuur is, het die mensdom ook ’n beter begrip van Jehovah se persoonlikheid gegee. Hoe so? Deurdat Jesus die persoonlikheid van sy Vader volmaak weerspieël het, veral in die manier waarop hy die geringes met tere medelye behandel het! (Johannes 1:14; 14:9). In hierdie verband gebruik die drie Evangelieskrywers Mattheüs, Markus en Lukas ’n Griekse werkwoord, splag·khniʹzo·mai, wat van die Griekse woord vir “ingewande” kom. “Uit die blote herkoms daarvan”, verduidelik die Bybelgeleerde William Barclay, “kan daar gesien word dat dit nie gewone deernis of medelye beskryf nie, maar ’n emosie wat ’n mens tot in jou diepste wese raak. In Grieks is dit die sterkste woord vir die gevoel van medelye.” Dit word met “voel deernis” of “ontroer deur deernis” vertaal.—Markus 6:34, NW; 8:2, NW.

Toe Jesus deernis gevoel het

14, 15. Hoe word Jesus in ’n stad in Galilea deur deernis ontroer, en wat lig dit toe?

14 Die plek is ’n stad in Galilea. ’n Man “vol van melaatsheid” nader Jesus sonder om die gebruiklike waarskuwing uit te roep (Lukas 5:12). Berispe Jesus hom kwaai omdat hy nie “onrein, onrein” uitgeroep het soos God se Wet vereis het nie? (Levitikus 13:45). Nee. Jesus luister eerder na die man se desperate pleidooi: “As u net wil, kan u my rein maak.” “Deur deernis ontroer”, steek Jesus sy hand uit en raak die melaatse aan en sê: “Ek wil. Word gereinig.” Die man se gesondheid word onmiddellik herstel. Jesus toon sodoende nie net sy wonderdadige, godgegewe vermoëns nie, maar ook die tere gevoelens wat hom beweeg om hierdie vermoëns te gebruik.—Markus 1:40-42, NW.

15 Moet Jesus genader word voordat hy medelye sal toon? Nee. ’n Ruk later kom hy ’n lykstoet teë wat uit die stad Nain kom. Jesus het ongetwyfeld al baie begrafnisse gesien, maar hierdie een is veral tragies. Dit afgestorwene is die enigste seun van ’n weduwee. “Ontroer deur deernis” gaan Jesus na haar en sê: “Hou op huil.” Dan verrig hy die uitsonderlike wonderwerk om haar seun uit die dood op te wek.—Lukas 7:11-15, NW.

16. Waarom voel Jesus deernis vir die groot skare wat hom volg?

16 Die treffende les wat ons uit die voorgaande gebeure leer, is dat Jesus iets positiefs doen om te help wanneer hy ‘deur deernis ontroer’ word. By ’n latere geleentheid bekyk Jesus die groot skare wat hom bly volg. Mattheüs berig dat “hy deernis vir hulle gevoel [het], want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Mattheüs 9:36, NW). Die Fariseërs doen nie juis iets om die geestelike honger van die gewone mense te stil nie. Hulle belas die nederiges eerder met talle onnodige reëls (Mattheüs 12:1, 2; 15:1-9; 23:4, 23). Hulle beskouing van die gewone mense het aan die lig gekom toe hulle van diegene wat na Jesus geluister het, gesê het: “Hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!”—Johannes 7:49.

17. Wat beweeg Jesus se deernis met die skares hom om te doen, en watter verreikende riglyne voorsien hy daar?

17 In teenstelling hiermee word Jesus diep ontroer deur die ellendige geestelike toestand van die skares. Maar daar is net te veel belangstellendes vir hom om hulle individuele aandag te gee. Hy sê dus vir sy dissipels dat hulle om meer arbeiders moet bid (Mattheüs 9:35-38). In ooreenstemming met sulke gebede stuur Jesus sy apostels uit met die boodskap: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Die instruksies wat by daardie geleentheid gegee is, dien tot vandag toe as waardevolle riglyne vir Christene. Jesus se medelye beweeg hom ongetwyfeld om die geestelike honger van die mensdom te stil.—Mattheüs 10:5-7.

18. Hoe tree Jesus op wanneer ’n skare op sy privaatheid inbreuk maak, en watter les leer ons hieruit?

18 By ’n ander geleentheid is Jesus weer eens besorg oor die geestelike behoeftes van die skare. Hierdie keer is hy en sy apostels moeg ná ’n besige predikingsreis, en hulle soek ’n plek op waar hulle kan rus. Maar die mense vind hulle weldra. Hierdie inbreuk op hulle privaatheid irriteer Jesus nie, maar Markus sê hy is eerder “ontroer deur deernis”. En wat was die rede vir Jesus se innige gevoelens? “Hulle was soos skape sonder ’n herder.” Jesus tree weer eens in ooreenstemming met sy gevoelens op en begin die skare “oor die koninkryk van God” leer. Ja, hy was so diep geraak deur hulle geestelike honger dat hy nodige rus opgeoffer het om hulle te onderrig.—Markus 6:34, NW; Lukas 9:11.

19. Hoe het Jesus se besorgdheid oor die skare selfs verder gestrek as hulle geestelike behoeftes?

19 Hoewel Jesus hoofsaaklik besorg was oor mense se geestelike behoeftes, het hy nooit hulle basiese fisiese behoeftes oor die hoof gesien nie. By daardie selfde geleentheid het hy ook “die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak” (Lukas 9:11). By ’n latere geleentheid was die skare al ’n lang ruk by hom, en hulle was ver van die huis af. Jesus het hulle fisiese behoefte besef en vir sy dissipels gesê: “Ek voel deernis vir die skare, want dit is al drie dae dat hulle by my bly, en hulle het niks om te eet nie; en ek wil hulle nie wegstuur sonder dat hulle geëet het nie. Anders beswyk hulle miskien op die pad” (Mattheüs 15:32, NW). Jesus doen nou iets om moontlike lyding af te weer. Hy voorsien duisende mans, vrouens en kinders op wonderdadige wyse van ’n maaltyd deur sewe brode en ’n paar vissies te gebruik.

20. Wat leer ons uit die laaste opgetekende geval waar Jesus deur deernis ontroer word?

20 Die laaste opgetekende geval waar Jesus deur deernis ontroer word, is tydens sy laaste reis na Jerusalem. ’n Groot skare reis saam met hom om die Pasga te vier. Op die pad naby Jerigo hou twee blinde bedelaars aan uitroep: “Here, wees ons barmhartig.” Die skare probeer hulle stilmaak, maar Jesus roep hulle en vra wat hulle wil hê hy moet doen. “Here, laat ons oë geopen word”, pleit hulle. “Ontroer deur deernis” raak hy hulle oë aan, en hulle kan weer sien (Mattheüs 20:29-34, NW). Wat ’n belangrike les leer ons tog hieruit! Jesus staan op die punt om die laaste week van sy aardse bediening te begin. Hy het baie werk om te doen voordat hy deur die toedoen van Satan se gesante ’n wrede dood sterf. Tog laat hy nie toe dat sy tere gevoel van medelye met minder belangrike menslike behoeftes verdring word deur die druk van hierdie belangrike tyd nie.

Gelykenisse wat medelye beklemtoon

21. Wat word toegelig deur die heer wat sy slaaf sy groot skuld kwytgeskeld het?

21 Die Griekse werkwoord splag·khniʹzo·mai, wat in hierdie verslae oor Jesus se lewe gebruik word, word ook in drie van Jesus se gelykenisse gebruik. In een verhaal smeek ’n slaaf om uitstel om ’n groot skuld terug te betaal. Sy heer, wat “tot deernis beweeg” word, skeld hom die skuld kwyt. Dit lig toe dat Jehovah God groot medelye toon deurdat hy elke individuele Christen wat geloof in die losprysoffer van Jesus beoefen ’n groot sondeskuld kwytskeld.—Mattheüs 18:27, NW; 20:28.

22. Wat lig die gelykenis van die verlore seun toe?

22 Dan is daar die verhaal van die verlore seun. Dink terug aan wat gebeur het toe die eiesinnige seun teruggekeer het huis toe. “Terwyl hy nog ’n hele ent weg was, het sy vader hom gesien en is hy deur deernis ontroer, en hy het gehardloop en hom om die hals geval en hom teer gesoen” (Lukas 15:20, NW). Dit toon dat wanneer ’n Christen wat afgedwaal het opregte berou toon Jehovah deernis sal voel en hom met teerheid sal terugneem. Deur hierdie twee gelykenisse toon Jesus dus dat ons Vader, Jehovah, “baie teer in geneentheid en medelydend is”.—Jakobus 5:11, voetnoot in NW.

23. Watter les leer ons uit Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan?

23 Die derde gebruik van splag·khniʹzo·mai in ’n gelykenis het te doen met die barmhartige Samaritaan wat “deur deernis ontroer” is weens die ellendige toestand van ’n Jood wat beroof en half dood gelaat is (Lukas 10:33, NW). Die Samaritaan het in ooreenstemming met hierdie gevoelens opgetree en alles in sy vermoë gedoen om die vreemdeling te help. Dit toon dat Jehovah en Jesus verwag dat ware Christene hulle voorbeeld moet volg deur teerheid en medelye te toon. Van die maniere waarop ons dit kan doen, sal in die volgende artikel bespreek word.

Vrae ter hersiening

◻ Wat beteken dit om barmhartig te wees?

◻ Hoe het Jehovah medelye met sy naam getoon?

◻ Wat is die grootste blyk van medelye?

◻ Op watter uitsonderlike wyse weerspieël Jesus die persoonlikheid van sy Vader?

◻ Wat leer ons uit Jesus se blyke van medelye en uit sy gelykenisse?

[Venster op bladsy 12, 13]

’N TREFFENDE TERM VIR “TERE, LIEFDEVOLLE SORG”

‘O MY ingewande, my ingewande!’ het die profeet Jeremia uitgeroep. Het hy oor ’n ingewandskwaal gekla omdat hy iets verkeerds geëet het? Nee. Jeremia het ’n Hebreeuse metafoor gebruik om sy diep besorgdheid te beskryf oor die rampspoed wat die koninkryk van Juda sou tref.—Jeremia 4:19.

Aangesien Jehovah God diep gevoelens het, word die Hebreeuse woord vir “ingewande” (me·ʽimʹ) ook gebruik om sy tere emosies te beskryf. Dekades voor die dae van Jeremia is die tienstammeryk van Israel byvoorbeeld deur die koning van Assirië in ballingskap weggevoer. Jehovah het dit toegelaat as straf vir hulle ontrouheid. Maar het God hulle in ballingskap vergeet? Nee. Hy was steeds innig geheg aan hulle as deel van sy verbondsvolk. Jehovah het by name van die belangrike stam Efraim na hulle verwys en gevra: “Is Efraim vir My ’n dierbare seun of ’n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm.”—Jeremia 31:20.

Deur te sê ‘my ingewande is in beroering’ het Jehovah beeldspraak gebruik om sy diep gevoelens van toegeneentheid vir sy volk in ballingskap te beskryf. Die 19de-eeuse Bybelgeleerde E. Henderson het in sy kommentaar oor hierdie vers geskryf: “Niks kan die roerende betoning van tere ouerlike geneentheid teenoor ’n verlore kind oortref, wat hier deur Jehovah getoon word nie. . . . Hoewel hy hom só teenoor [die afgodsaanbiddende Efraimiete] uitgespreek het en hulle gestraf het . . . , het hy hulle nooit vergeet nie, inteendeel; hy het behae geskep in die verwagting van hulle uiteindelike herstel.”

Die Griekse woord vir “ingewande” word op ’n soortgelyke wyse in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik. Wanneer dit nie letterlik gebruik word nie, soos in Handelinge 1:18, verwys dit na tere emosies van toegeneentheid of medelye (Filemon 12, NW). Die woord word soms aan die Griekse woord gekoppel wat “goed” of “wel” beteken. Die apostels Paulus en Petrus het die saamgestelde uitdrukking gebruik toe hulle Christene aangemoedig het om “tere medelye” te hê, letterlik “goed geneig tot deernis” (Efesiërs 4:32, NW; 1 Petrus 3:8, NW). Die Griekse woord vir “ingewande” kan ook aan die Griekse woord pol·uʹ gekoppel word. Die samestelling beteken letterlik “om baie ingewande te hê”. Hierdie uiters seldsame Griekse uitdrukking word slegs een keer in die Bybel gebruik, en dit verwys na Jehovah God. Die New World Translation gee dit as volg weer: “Jehovah [is] baie teer in geneentheid.”—Jakobus 5:11.

Hoe dankbaar moet ons tog wees dat die magtigste persoon in die heelal, Jehovah God, so anders as die wrede gode is wat deur hardvogtige mense versin is! In navolging van hulle God wat “vol tere medelye” is, word ware Christene beweeg om op soortgelyke wyse teenoor mekaar op te tree.—Efesiërs 5:1.

[Prent op bladsy 10]

Toe Goddelike medelye tot die uiterste toe beproef is, het Jehovah toegelaat dat die Babiloniërs sy opstandige volk oorwin

[Prent op bladsy 11]

Toe Jehovah God sy geliefde Seun sien sterf het, moes dit hom die grootste pyn veroorsaak het wat enigiemand tot nog toe moes deurmaak

[Prent op bladsy 15]

Jesus het sy Vader se medelydende persoonlikheid volmaak weerspieël

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel