Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 9/1 bl. 4-6
  • ‘Volg sy voetstappe noukeurig na’—Hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Volg sy voetstappe noukeurig na’—Hoe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy het gekom om God se wil te doen
  • Hy het die bediening eerste gestel
  • “Sagmoedig en nederig van hart”
  • Volg hom na!
  • “Kom word my volgeling”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Wie is Jesus Christus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Stel jou dit ten doel om God vir ewig te dien
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Sal jy op Jesus se liefde reageer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 9/1 bl. 4-6

‘Volg sy voetstappe noukeurig na’​—Hoe?

“EK KAN nooit so volmaak soos Jesus wees nie, ongeag hoe baie ek bid of hoe hard ek probeer.” Nege-en-tagtig persent van die wat deur U.S. Catholic uitgevra is, was dit met daardie stelling eens. Die vooruitsig om in Christus se voetspore te volg, kan inderdaad oorweldigend lyk​—veral wanneer jy dink aan die beeld van Christus wat deur die kerke geskilder word. Een Katolieke man het gesê: “Oor die algemeen dink ek aan Jesus as ’n hartlike, liefdevolle, bedagsame, verdraagsame persoon wat nie te veel van my verwag nie. Maar wanneer ek in die kerk kom, word Jesus so vroom vergoddelik dat ek verlore en ootmoedig voel weens my onvolmaakthede.”

In die Evangelieverslae word Christus egter nie “vroom vergoddelik” nie. Hulle toon dat Jesus nie uit aristokrate gebore is nie, maar in ’n gesin uit die werkerstand. Sy pleegvader Josef was ’n timmerman. Hoewel daar min oor Jesus se kinderdae bekend is, onthul een voorval heelwat. Toe Jesus 12 jaar oud was, het sy ouers hom saamgeneem op hulle jaarlikse besoek aan Jerusalem vir die Pasga. By hierdie geleentheid het hy verdiep geraak in ’n Skriftuurlike bespreking, en sy gesin het sonder hom vertrek. Josef en Maria, wat begryplikerwys bekommerd was, het hom drie dae later in die tempel gevind, “terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra”. Boonop was “almal wat Hom gehoor het, . . . verbaas oor sy verstand en sy antwoorde”. Stel jou voor, op die ouderdom van slegs 12 jaar kon hy nie net gedagteprikkelende vrae oor geestelike dinge stel nie, maar ook intelligente antwoorde gee. Sy ouers se opleiding het hom ongetwyfeld gehelp!​—Lukas 2:41-50.

Kan jy, as jy ’n jong persoon is, Christus se voorbeeld volg? Jy kan inderdaad! Want Christus self het vir jou ‘’n voorbeeld nagelaat sodat jy sy voetstappe noukeurig kan navolg’.​—1 Petrus 2:21.

’n Mens se jeug is ’n goeie tyd om ’n basiese kennis van God en sy Woord op te doen. Ander wat jy ken, verkwis miskien baie tyd op strokiesverhale en die TV. Maar waarom volg jy nie liewer in die voetspore van Jesus, wat in sy kinderjare daarin behae geskep het om van Jehovah te leer nie? Weens sy liefde vir geestelike dinge ‘het Jesus toegeneem in wysheid’ (Lukas 2:52). Jy kan ook.

Ter toeligting: ’n Onderwyser in ’n Suid-Afrikaanse skool is gevra of hy kan bewys dat die Bybel waar is. Hy het erken dat hy dit nie kon doen nie. ’n Jong seun, een van Jehovah se Getuies, het moedig gesê: “Ek kan beslis bewys dat die Bybel waar is!” Hoe? Hy het inligting onthou wat hy in ’n onlangse nommer van Die Wagtoring bestudeer het. Nadat hy toestemming ontvang het om te praat, het hy derhalwe die betekenis verduidelik van ’n profesie wat in Daniël hoofstuk 2 opgeteken is. Die klas was verbaas toe hy getoon het hoe die profesie die ontstaan en val van opeenvolgende wêreldregerings en hulle uiteindelike vernietiging deur God se Koninkryk voorspel het. ’n Goeie bespreking het gevolg, waartydens hy die geleentheid gehad het om talle vrae te beantwoord.

Hy het gekom om God se wil te doen

Die grondslag van Bybelkennis en -begrip wat Jesus in sy jeug gelê het, het hom later beweeg om ’n ernstige stap te doen. “Toe het Jesus . . . na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word.” Die bestemde tyd het vir hom aangebreek om sy verantwoordelikhede as God se dienaar te aanvaar. Die doop het beteken dat hy hom aangebied het om God se wil te doen.​—Mattheüs 3:13-15.

Daar word insgelyks van Christene vereis om Christus na te volg deur hulle te laat doop. Die doop is ’n heilige simbool, ’n uiterlike bewys van toewyding. Wanneer ons instem om vir ’n persoon of ’n firma te werk, stel ons eers vas wat die vereistes en voorwaardes is en teken dikwels daarna ’n kontrak. Maar die kontrak is nie bindend sonder ’n handtekening nie. Dit is dieselfde met die doop​—dit maak ons toewyding aan God geldig. In sekere sin sê ons soos Jesus: ‘Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God’ (Hebreërs 10:7). So word ons God se knegte, sy bedienaars!​—2 Korinthiërs 3:5, 6, NAV.

Soos Jesus sal jy natuurlik eers ’n basiese kennis van God moet opdoen. Maar Jehovah se Getuies kan jou​—en jou kinders—​help om dit te doen deur ’n stelselmatige studie van die Bybel.

Hy het die bediening eerste gestel

Nadat hy gedoop is, het Jesus ’n tyd lank gevas, gepeins en gebid. Dit het hom ongetwyfeld voorberei vir die versoeking waarvoor hy vervolgens te staan gekom het. Satan die Duiwel het hom heerskappy oor “al die koninkryke van die wêreld” aangebied. Wat ’n loopbaan kon Jesus tog gehad het as hy die Duiwel se aanbod aanvaar het! Christus het egter besef dat so ’n loopbaan van korte duur sou wees. Hy het die Duiwel onmiddellik verwerp en eerder “begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:2, 8-10, 17). Christus was die res van sy aardse lewe ’n voltydse bedienaar van God se Koninkryk.

’n Christen sal vandag eweneens nie toelaat dat Satan se wêreld hom verlei om hoog besoldigde betrekkings en loopbane sy lewensdoel te maak nie. Toe Jesus sy vroeë dissipels geroep het, het hulle immers “dadelik . . . hul nette laat staan en Hom gevolg” (Markus 1:17-21). Sou dit derhalwe verstandig wees om verstrik te raak in ’n net van wêreldse strewes? Jesus beveel sy volgelinge vandag om ‘die goeie nuus van die koninkryk te verkondig’ (Mattheüs 24: 14). Jy het moontlik ’n gesin of ander verantwoordelikhede om na om te sien. Daarom gebruik baie van Jehovah se Getuies aande en naweke om hulle Christelike verantwoordelikheid om te preek na te kom. Party reël selfs om dit voltyds te doen!

In Suid-Afrika was een jongman van plan om universiteit toe te gaan nadat hy die skool verlaat het. Maar nadat hy sy toewyding aan Jehovah deur doop gesimboliseer het, het hy dit sy plig geag om die voltydse diens te betree. Sy vader, wat nie ’n Getuie was nie, het dit aanvanklik afgekeur. Maar na talle besprekings het hy uiteindelik ingestem dat sy seun by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Suid-Afrika dien.

Na nege gelukkige jare daar het hy getrou en saam met sy bruid die voltydse predikingswerk betree. Later het hulle ’n kind gehad. Hulle het Jehovah nietemin gevra om hulle te help om voltydse bedienaars te bly. Hulle het Jesus se belofte onthou dat as ’n mens God se Koninkryk eerste stel ‘al hierdie dinge (materiële behoeftes) vir jou bygevoeg sal word’ (Mattheüs 6:33). Dit is bewaarheid. “Ons het deur die jare heen spaarsaam gelewe”, sê die vader, “maar ons het ons dogter ’n aangename huis gegee en in al haar materiële behoeftes voorsien.”

“Sagmoedig en nederig van hart”

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is”, het Jesus gesê, “en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”​—Mattheüs 11:28-30.

Wanneer hy wonderwerke verrig het, soos om duiwels uit te dryf, het Jesus hom nie die eer toegeëien nie, maar openlik erken dat hy sulke dinge “deur die Gees van God” doen (Mattheüs 12:28). En hoewel hy ’n gehoor so kon boei dat ‘hulle verslae was oor sy leer’, het hy nie eer vir homself gesoek nie (Lukas 4:32). Hy het eerder gesê: “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het.”​—Johannes 7:16.

Ware Christene vandag probeer om dieselfde nederigheid te openbaar. Wanneer hulle ander leer, vestig hulle byvoorbeeld nie die aandag op hulleself nie. Hulle gee Jehovah en sy organisasie eerder geredelik die eer vir watter vermoë hulle ook al het om die boodskap van God se Woord oor te dra. “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie?” vra die apostel Paulus.​—1 Korinthiërs 4:7.

Jesus se nederigheid is ook getoon in sy bereidwilligheid om as ’n reisende prediker duisende kilometers af te lê, nie in ’n wa nie, maar te voet. By een geleentheid was hy en sy dissipels so moeg dat hulle ‘’n bietjie moes rus’. Maar toe ’n groot skare daar opdaag, honger na geestelike bemoediging, het Jesus sy moegheid vergeet en “hulle baie dinge begin leer”.​—Markus 6:31-34.

In Lesotho het ’n reisende bedienaar van Jehovah se Getuies (wat ’n kringopsiener genoem word) en twee metgeselle onlangs ’n soortgelyke gees geopenbaar. Hulle het 22 uur lank oor bergagtige terrein gestap om ’n paar afgesonderde mede-Christene te besoek. Die kringopsiener was moeg van die reis en het besluit om die volgende dag te rus. Maar so ’n groot skare het hom kom groet en vrae gestel dat hy, al was hy so moeg, opgestaan en hulle van die goeie nuus van die Koninkryk geleer het. Die reaksie was so bemoedigend dat die moeë reisigers gevoel het dat hulle pogings goed beloon is.

Volg hom na!

Die apostel Paulus spoor ons aan om “die oog gevestig [te hou] op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2). Ons kan dit doen deur gereeld die Evangelieverslae te lees en na te dink oor maniere waarop ons Christus kan navolg. Jesus het byvoorbeeld moed aan die dag gelê toe hy die skynheiligheid en selfvoldaanheid van godsdiensleiers veroordeel het, hoewel hy geweet het dat hulle hom gehaat het en hom sou doodmaak (Mattheüs 23:1-36; 26:3, 4). Wanneer hy aangeval is, het hy kalm gebly en sy selfbeheersing behou (1 Petrus 2:23). In sy leer het hy begrip van die mensenatuur geopenbaar, asook die vermoë om ingewikkelde waarhede in eenvoudige taal uit te druk.

Maar Jesus se uitsonderlikste gawe was sy liefde. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13). Hy het selfs ’n nuwe dimensie by die woord liefde gevoeg deur vir ons te sê om ons vyande lief te hê.​—Mattheüs 5:43-48.

Wat ’n voortreflike voorbeeld was Jesus tog vir ons! Dit is nie maklik om hom na te volg nie, en ons sal moontlik van tyd tot tyd struikel. Maar ons moet nooit tou opgooi nie (Galasiërs 6:9). Want daar is miljoene wat slaag in hulle pogings om Jesus na te volg. Die einste persoon wat hierdie tydskrif vir jou gebring het, is ongetwyfeld een van hulle en sal jou ook baie graag wil help om Jesus se voetstappe NOUKEURIG na te volg!

[Lokteks op bladsy 5]

Selfs as ’n jeugdige het Jesus ’n intense belangstelling in geestelike sake getoon. Volg jy hom in hierdie opsig na?

[Lokteks op bladsy 6]

Christus het ’n wêreldlike loopbaan ter wille van die bediening verwerp

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel