Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 10/15 bl. 30-31
  • Juwele uit Markus se Evangelie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Juwele uit Markus se Evangelie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vir wie is dit geskryf?
  • God se Seun ’n wonderdoener
  • Bediening in die Dekapolis
  • Jesus en tradisie
  • Die laaste deel van Jesus se openbare bediening
  • Bybelboek nommer 41—Markus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Markus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Bybelboek nommer 43—Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Bybelboek nommer 40—Mattheüs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 10/15 bl. 30-31

Juwele uit Markus se Evangelie

JEHOVAH se gees het Markus geïnspireer om ’n aksieryke verslag van Jesus se aardse lewe en bediening te skryf. Hoewel hierdie Evangelie nie sê dat Markus die skrywer is nie, is daar bewys hiervan in die werke van Papias, Justinus Martyr, Tertullianus, Origines, Eusebius, Hieronymus en ander wie se geskrifte oor die eerste vier eeue van ons Gewone Jaartelling strek.

Volgens oorlewering het die apostel Petrus die basiese inligting vir hierdie Evangelie voorsien. Origines het byvoorbeeld gesê dat Markus dit “in ooreenstemming met Petrus se aanwysings” geskryf het. Maar Markus het blybaar ook toegang tot ander bronne gehad, want die dissipels het in sy moeder se huis bymekaargekom. Trouens, aangesien Markus waarskynlik die “jongman” was wat diegene ontwyk het wat Jesus gearresteer het, het hy moontlik persoonlike kontak met Christus gehad.—Markus 14:51, 52; Handelinge 12:12.

Vir wie is dit geskryf?

Markus het blykbaar hoofsaaklik met nie-Joodse lesers in gedagte geskryf. Sy bondige styl het byvoorbeeld by die Romeinse geaardheid gepas. Hy het “korban” as “’n offergawe” omskryf (7:11) en getoon dat die tempel vanaf die Olyfberg gesien kon word (13:3). Markus het ook verduidelik dat die Fariseërs ‘gevas het’ en dat die Sadduseërs “sê dat daar geen opstanding is nie” (2:18; 12:18). Sulke verklarings sou vir Joodse lesers onnodig gewees het.

Enigeen kan natuurlik daarby baat vind om Markus se Evangelie te lees. Maar watter agtergrondpunte kan ons help om sommige van die juwele daarin te waardeer?

God se Seun ’n wonderdoener

Markus vertel van wonderwerke wat Christus deur God se krag verrig het. By een geleentheid was daar byvoorbeeld so ’n skare in ’n huis dat mense ’n verlamde deur ’n opening wat in die dak gemaak is naby Jesus moes laat afsak sodat hy genees kon word (2:4). Die man is moontlik met ’n leer of ’n buitetrap boontoe geneem, omdat die huis so vol was. Maar waarom moes daar deur die dak gegrawe word? Wel, die meeste dakke was plat en het op balke gerus wat van muur tot muur gestrek het. Dwars oor die balke was daksparre wat met takke, riete ensovoorts, bedek is. Bo-op was ’n dik laag grond wat met klei of klei en kalk gepleister is. Mans moes gevolglik deur die gronddak grawe om die verlamde by Jesus te kry. Maar wat ’n seën het tog gevolg nadat hulle dit gedoen het! Christus het die man genees, en almal daar het God verheerlik (2:1-12). Wat ’n versekering is dit tog dat Jehovah se Seun wonderbaarlike genesings in die nuwe wêreld sal verrig!

Jesus het een van sy wonderwerke op ’n boot verrig toe hy ’n windstorm oor die See van Galilea stilgemaak het nadat hy wakker gemaak is terwyl hy op ’n “kussing” geslaap het (4:35-41). Die kussing was blykbaar nie die sagte soort wat nou as ’n kopsteun in die bed gebruik word nie. Dit was moontlik bloot ’n skaapvel waarop die roeiers gesit het of ’n matras of ’n sitkussing wat agter in die boot as ’n sitplek gedien het. In alle geval, toe Jesus vir die see sê: “Swyg, wees stil!” het diegene wat daar was bewys van daadwerklike geloof gesien, want “die wind het gaan lê, en daar het ’n groot stilte gekom”.

Bediening in die Dekapolis

Jesus het die See van Galilea oorgesteek, en die Dekapolis, of die gebied van tien stede, binnegegaan. Hoewel hierdie stede ongetwyfeld groot Joodse bevolkings gehad het, was hulle middelpunte van Griekse of Hellenistiese kultuur. Daar, in die land van die Gadareners, het Jesus ’n man “wat sy verblyf in die grafte gehad het” van duiwelbesetenheid genees.—5:1-20.

Grafte wat uit rots gekap is, was soms woonplekke vir die kranksinniges, wegkruipplekke vir misdadigers of blyplekke vir die armes. (Vergelyk Jesaja 22:16; 65:2-4.) Volgens ’n 19de-eeuse werk het ’n besoeker aan die gebied waar Jesus hierdie besetene teëgekom het van so ’n woonplek gesê: “Die binnekant van die graf was omtrent [2,5 meter] hoog, aangesien daar ’n hoë trap van die klipdrumpel na die vloer toe was. In die lengte en breedte was dit omtrent twaalf treë; maar omdat dit geen lig behalwe deur die deur gekry het nie, kon ons nie sien of daar ’n binnekamer was soos in sommige van die ander nie. Daar was nog ’n volmaakte sarkofaag daarin, en die gesin het dit nou as ’n kis vir graan en ander kosvoorraad gebruik sodat dié geskende graf van die dode aldus ’n veilige, koel en gerieflike plek vir die lewendes se gebruik geword het.”

Jesus en tradisie

By een geleentheid het die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes gekla dat Jesus se dissipels met ongewaste hande eet. Markus het, ter wille van nie-Joodse lesers, verduidelik dat die Fariseërs en ander Jode ‘nie geëet het tensy hulle eers hulle hande tot by die elmboë gewas het nie’. Wanneer hulle van die mark af teruggekom het, het hulle slegs geëet nadat hulle hulleself deur besprinkeling gereinig het, en hulle tradisies het die “doop van bekers en kanne en koperware” ingesluit.—7:1-4, NW.

Behalwe om hulleself op skynheilige wyse te besprinkel voor hulle geëet het, het hierdie Jode die bekers, kanne en koperware wat hulle tydens maaltye gebruik het, gedoop, of in water gedompel. John Lightfoot, ’n vakkundige, het verduidelik hoe tradisievas hulle was. Hy het rabbynse werke aangehaal en gewys dat baie aandag gegee is aan besonderhede soos die hoeveelheid water en die manier en die tydsduur van die wassery. Lightfoot het ’n bron aangehaal wat toon dat sekere Jode sorgvuldig voor maaltye gewas het sodat hulle nie leed aangedoen word deur Sjibta nie, “’n bose gees wat in die nag op mans se hande sit: en as enigeen sy kos met ongewaste hande aanraak, sit daardie gees op daardie kos, en dit is gevaarlik”. Geen wonder nie dat Jesus die skrifgeleerdes en die Fariseërs veroordeel het omdat hulle ‘die gebod van God nagelaat het terwyl hulle aan die oorlewering van mense vasgehou het’!—7:5-8.

Die laaste deel van Jesus se openbare bediening

Nadat Markus van Jesus se latere bediening in Galilea en Sy werk in Perea vertel het, het hy die aandag op gebeure in en om Jerusalem gevestig. Hy het byvoorbeeld van ’n geleentheid vertel toe Christus toegekyk het terwyl mense geld in die tempel se skatkiste gooi. Jesus het gesien dat ’n arm weduwee slegs “twee geldstukkies” van geringe waarde bygedra het. Tog het hy gesê dat sy meer as al die ander gegee het, want hulle het uit hulle oorvloed bygedra terwyl ‘sy uit haar gebrek haar hele lewensonderhoud ingegooi het’ (12:41-44). Volgens die Griekse teks het sy twee lepta bygedra. Die lepton was die kleinste Joodse koper- of bronsmuntstuk en sy geldwaarde is vandag so te sê onbeduidend. Maar hierdie arm vrou het gedoen wat sy kon en het ’n uitstekende voorbeeld van onselfsugtigheid in die ondersteuning van ware aanbidding gestel.—2 Korinthiërs 9:6, 7.

Na aan die einde van Jesus se bediening is hy deur Pontius Pilatus ondervra, wie se naam en die titel “prefek” op ’n inskripsie voorkom wat in 1961 in Cesarea gevind is. ’n Goewerneur (prefek) het in afgeleë provinsies soos Judea militêre beheer gehad, was verantwoordelik vir finansiële administrasie en het as ’n regter gedien. Pilatus het die gesag gehad om Christus vry te laat, maar hy het voor Jesus se vyande geswig en die skare probeer tevrede stel deur hom oor te lewer om aan ’n paal genael te word en die opruiende moordenaar Barabbas vry te stel.—15:1-15.

Daar is verskeie tradisies aangaande Pilatus se latere lewe en dood. Die geskiedskrywer Eusebius het byvoorbeeld geskryf: “Pilatus self, die goewerneur van ons Verlosser se dag, was by soveel rampspoed betrokke dat hy noodgedwonge sy eie skerpregter moes word en homself moes straf: dit skyn nie lank te wees voordat goddelike geregtigheid hom ingehaal het nie.” Ongeag so ’n moontlikheid, die allerbelangrikste dood was egter dié van Jesus. Die Romeinse leërowerste wat ’n ooggetuie was van Christus se dood en die buitengewone gebeure wat daarmee gepaard gegaan het, het inderdaad die waarheid gepraat toe hy gesê het: “Waarlik, Hy was die Seun van God.”—15:33-39.

[Foto-erkenning op bladsy 30]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Israel Department of Antiquities and Museums; foto: Israel Museum, Jerusalem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel