Jesus se lewe en bediening
Medelye met die geteisterdes
NADAT Jesus die Fariseërs weens hulle selfsugtige tradisies veroordeel het, vertrek hy saam met sy dissipels. Jy onthou dalk dat Jesus kort tevore verhinder is om saam met hulle weg te kom om ’n bietjie te rus toe die skare hulle gevind het. Nou vertrek hy saam met sy dissipels na die streke van Tirus en Sidon, wat talle kilometers na die noorde geleë is. Dit is blykbaar die enigste reis wat Jesus buite Israel se grense saam met sy dissipels onderneem.
Nadat Jesus huisvesting gevind het, laat hy hulle verstaan dat hy nie wil hê enigiemand moet te wete kom waar hulle tuis is nie. Maar selfs in hierdie nie-Israelitiese gebied kan hy nie onopgemerk bly nie. ’n Griekse vrou, wat hier in Siro-Fenicië gebore is, vind hom en begin smeek: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.” Maar Jesus antwoord glad nie.
Oplaas sê Jesus se dissipels vir hom: “Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan.”
Jesus verduidelik waarom hy haar ignoreer deur te sê: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.”
Maar die vrou gooi nie tou op nie. Sy kom na Jesus toe, val voor hom neer en smeek: “Here, help my!”
Die vrou se dringende smeking moet Jesus inderdaad ontroer! Hy wys egter weer daarop dat sy eerste verantwoordelikheid is om God se volk, Israel, te dien. Waarskynlik om haar geloof te toets, gebruik Jesus terselfdertyd die Jode se bevooroordeelde beskouing van diegene van ander nasionaliteite deur te sê: “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.”
Jesus openbaar ongetwyfeld deur sy deernisvolle stemtoon en gesigsuitdrukking sy eie teergevoeligheid teenoor nie-Jode. Hy versag selfs die bevooroordeelde vergelyking van heidene met honde deur hulle “hondjies” te noem. Eerder as om aanstoot te neem, voer die vrou Jesus se melding van Joodse vooroordele verder en maak die nederige aanmerking: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.”
“O Vrou, groot is jou geloof”, sê Jesus. “Laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” En dit gebeur so! Toe sy tuiskom, vind sy haar dogter op die bed, heeltemal genees.
Jesus en sy dissipels reis van die kusstreek van Sidon af na die boloop van die Jordaanrivier. Hulle steek die Jordaan blykbaar êrens bokant die See van Galilea oor en kom in die gebied van die Dekapolis, oos van die see. Daar klim hulle ’n berg, maar die skare vind hulle en bring hulle verlamdes, kreupeles, blindes en stommes, en nog baie wat andersins siek en gebreklik is, na Jesus toe. Hulle sit hulle voor Jesus se voete neer, en hy genees hulle. Die mense is verwonderd wanneer hulle sien dat die stommes praat, die verlamdes loop en die blindes sien, en hulle verheerlik die God van Israel.
Jesus gee spesiale aandag aan een man wat doof is en nouliks kan praat. Die dowes raak dikwels maklik verbouereerd, veral wanneer hulle hulle in ’n skare bevind. Jesus merk moontlik hierdie man se buitengewone senuweeagtigheid op. Daarom neem Jesus hom uit medelye opsy, weg van die skare af. Toe hulle alleen is, dui Jesus aan wat hy vir hom gaan doen. Hy steek sy vingers in die man se ore en, nadat hy gespoeg het, raak hy sy tong aan. Daarna kyk Jesus na die hemel op, sug swaar en sê: “Gaan oop!” Daarop is die man se gehoor herstel, en hy kan normaal praat.
Nadat Jesus al hierdie genesings gedoen het, antwoord die skare met waardering: “Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.” Mattheüs 15:21-31; Markus 7:24-37.
◻ Waarom genees Jesus die Griekse vrou se kind nie onmiddellik nie?
◻ Waarheen neem Jesus sy dissipels daarna?
◻ Hoe behandel Jesus die dowe man wat nouliks kan praat met medelye?