Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • su hfst. 9 bl. 68-74
  • Wie wys die weg na verlossing?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie wys die weg na verlossing?
  • Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE WARE „GOEIE HERDER”
  • Die goeie herder en “hierdie stal” van hom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die goeie herder en die skaapkrale
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Die skaapstalle en die herder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die skaapstalle en die Herder
    Die grootste mens wat nog geleef het
Sien nog
Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
su hfst. 9 bl. 68-74

Hoofstuk 9

Wie wys die weg na verlossing?

1. (a) Waaraan moet ons ons onderwerp indien ons deur die „groot verdrukking” heen bewaar wil word? (b) Hoe is dit toegelig deur die wyse waarop God Moses gebruik het?

ALLEEN deur die leierskap van Jesus Christus te aanvaar en oortuigende bewys te lewer dat ons waarlik na hom luister en in sy voetspore volg, kan ons uit hierdie bose wêreld gered en deur die komende „groot verdrukking” heen bewaar word (Handelinge 4:12). Dit is goed toegelig deur gebeure rondom die verlossing van die natuurlike Israeliete uit Egipte in 1513 v.G.J. Jehovah het Israel wonderdadig deur die Rooi See na veiligheid gelei en die agtervolgende Egiptiese leër vernietig. Deur dit alles het God Moses gebruik om sy volk te lei.—Josua 24:5-7; Exodus 3:10.

2. (a) Wie was die „menigte mense van gemengde bloed” wat Egipte saam met Israel verlaat het? (b) Wat het baie van hulle ongetwyfeld laat besluit om hulle by Israel te skaar? (c) In verband waarmee is hulle eerlank op die proef gestel?

2 Toe die Israeliete uit Egipte getrek het met die vooruitsig om die Beloofde Land binne te gaan, het ander by hulle geledere aangesluit. Soos Moses later geskryf het: „’n Menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek” (Exodus 12:38). Wie was hulle? Hulle was Egiptenaars en ander vreemdelinge wat hulle lot met Israel ingewerp het. Hulle het die vreesaanjaende plae gesien wat Jehovah oor die tirannieke nasie van Egipte gebring het om te toon dat hy die enigste ware God is en dat die gode van Egipte vals is en nie hulle aanbidders kan red nie. Wat hulle van die Israeliete gehoor het oor die vooruitsig om in „’n land wat oorloop van melk en heuning” te woon, het ongetwyfeld ook vir hulle aanloklik geklink (Exodus 3:7, 8; 12:12). Maar het hulle ook waarlik vir Moses erken as die een wat deur God verwek is om owerste en verlosser van Sy volk te wees? Hulle is eerlank op die proef gestel.—Handelinge 7:34, 35.

3. (a) Waarom was dit noodsaaklik dat almal Moses se bevele gehoorsaam? (b) Wat is die betekenis van die ‚doop in Moses’? (c) Waarom is dit vir geestelike Israeliete belangrik?

3 Toe Israel en die „menigte mense van gemengde bloed” naby die kus van die Rooi See was, het die koning van Egipte en sy leër hulle agternagejaag om hulle weer as slawe gevange te neem. As hulle verlos wou word, moes hulle bymekaar bly en Moses se bevele gehoorsaam, want Jehovah het Moses gebruik om hulle te lei. Deur middel van ’n bonatuurlike wolk het Jehovah die vyand teëgehou terwyl hy die waters van die see oopgekloof en die seebedding uitgedroog het. In skerp teenstelling met wat later met die Egiptenaars gebeur het, het die hele Israel en die „menigte mense van gemengde bloed” saam met Moses oor daardie droë seebedding ontsnap (Exodus 14:9, 19-31). Terwyl hulle deurgetrek het, met mure van water aan hulle regter- en aan hulle linkerkant en die wolk van God se teenwoordigheid bo hulle koppe, het iets betekenisvols plaasgevind. Die Bybel praat daarvan as ’n doop—nie ’n letterlike waterdoop nie, maar ’n simboliese doop in Moses as Jehovah se profeet, die een wat deur God gestuur is om hulle te verlos (1 Korinthiërs 10:1, 2). Net so moet alle geestelike Israeliete wat die vernietiging van hierdie bose wêreld wil oorleef in Christus as hulle verlosser gedoop word en oortuigende bewys lewer dat hulle getrou sy leiding volg. Die hedendaagse „menigte mense van gemengde bloed” moet hulle vergesel.

4. Hoe groot is die gesag wat Jehovah aan Christus gegee het?

4 Jehovah het sy Seun, Jesus Christus, met groot gesag beklee. Deur hom het God dit moontlik gemaak dat ons ‚uit die teenwoordige bose wêreld uitgered kan word’ sodat ons nie sy droewige lot hoef te deel nie (Galasiërs 1:3-5; 1 Thessalonicense 1:9, 10). Deur Moses het Jehovah vir Israel wette gegee wat die onmiddellike lewensvooruitsigte van die volk geraak het. Wanneer hulle gehoorsaam was aan daardie wette, het dit hulle tot groot voordeel gestrek. Maar ongehoorsaamheid aan sekere wette is met die dood gestraf. Later het Jesus ’n profeet groter as Moses geword. Sy leringe was „woorde van die ewige lewe”, en moedswillige versuim om hierdie woorde te gehoorsaam, lei tot die dood waaruit daar geen verlossing is nie. Hoe belangrik is dit dan tog dat ons sy woorde ter harte neem!—Johannes 6:66-69; 3:36; Handelinge 3:19-32.

5. Wat maak onderworpenheid aan Jesus so aantreklik?

5 Sommige mense hou nie van die idee om hulle aan ’n leier te onderwerp nie. Hulle het al te veel misbruik van gesag gesien. Maar Jesus se eie woorde weerspieël ’n gees wat gerusstellend is. Hy nooi ons hartlik uit: „Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Mattheüs 11:28-30). Wat ’n aantreklike vooruitsig! Die wat daardie hartlike uitnodiging aanvaar en hulle volle vertroue in hom stel, sal nie teleurgestel word nie (Romeine 10:11). Hulle sal veiligheid geniet soos die van skape in die kudde van ’n liefdevolle herder.

DIE WARE „GOEIE HERDER”

6. (a) Hoe was die nasie van Israel soos skape in ’n skaapstal? (b) Watter belofte het Jehovah gemaak in verband met ’n herder vir hierdie „skape”, en hoe is dit vervul?

6 Die nasie van Israel was soos ’n kudde skape wat aan Jehovah behoort het. Hy het die Wetsverbond voorsien, wat soos die beskuttende mure van ’n skaapstal was en hulle afgeskei het van die lewenswyse van goddelose heidennasies. Dit het ook ontvanklike persone na die Messias gelei (Efesiërs 2:14-16; Galasiërs 3:24). Aangaande daardie Messiaanse Herder-Koning het Jehovah voorspel: „Ek sal een enkele herder oor [my skape] verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid” (Esegiël 34:23, 31). Dit het nie beteken dat Dawid, wat toe reeds dood was, self weer as koning oor God se volk sou begin regeer nie. Jehovah sou eerder uit Dawid se koninklike lyn ’n herder-koning verwek deur wie God veiligheid sou verskaf (Jeremia 23:5, 6). Op verskillende tye het manne hulle valslik as die Messiaanse verlosser voorgedoen, maar in die jaar 29 G.J. het Jehovah Johannes die Doper gebruik om Jesus Christus aan die „skape” van Israel bekend te stel as die een wat waarlik deur God gestuur is, die Messias met betroubare getuigskrifte. Hy was die hemelse Seun van God, wie se lewe na die skoot van ’n Joodse maagd oorgeplaas is sodat hy in die koninklike lyn van Dawid gebore kon word. Die naam Dawid beteken „geliefde”, en daarom het Jehovah gepas ná Jesus se waterdoop hoorbaar uit die hemel gesê: „Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”—Markus 1:11, NAV.

7. (a) Hoe het Jesus, as „die goeie herder”, die diepte van sy liefdevolle besorgdheid oor die „skape” getoon? (b) Hoe het dit vergelyk met die gedrag van vroeëre, valse messiasse?

7 Minder as vier maande voor sy dood het Jesus gesê: „Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Johannes 10:11). Hy het sy rol vergelyk met die van valse messiasse wat vroeër gekom het, en gesê: „Wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”—Johannes 10:1-5, 8.

8. (a) In watter nuwe „skaapstal” het Jesus sy Joodse volgelinge ingelei? (b) Hoeveel het hy in hierdie stal ingebring?

8 Diegene in die Joodse skaapstal wat op die leiding van die Wetsverbond gereageer het, het Jesus as die Messias aanvaar toe die „deurwagter”, Johannes die Doper, hom bekend gestel het. Hulle was Jesus se „eie skape”, en hy het hulle gelei na ’n nuwe, figuurlike skaapstal, of kraal, wat aan Jehovah behoort. Hierdie stal het ’n gunstige verhouding met Jehovah op grond van die nuwe verbond, wat met geestelike Israel gesluit en deur Jesus se eie bloed bekragtig is, voorgestel. Deur middel van hierdie verbond het dit vir hulle moontlik geword om hemelse lewe saam met Christus te verkry as die „saad” van Abraham deur wie mense van al die nasies geseën sou word (Hebreërs 8:6; 9:24; 10:19-22; Genesis 22:18). Jesus Christus, wat deur God uit die dood opgewek en tot hemelse lewe herstel is, is die „deur” van hierdie skaapstal, die nuwe verbond. Ooreenkomstig sy Vader se voorneme het hy net ’n beperkte getal—slegs 144 000—in hierdie stal ingebring, eers uit die Jode en later uit die Samaritane en die heidene. As die Goeie Herder ken Jesus elkeen van sy skape by die naam en gee hy hulle liefdevolle, persoonlike aandag.—Johannes 10:7, 9; Openbaring 14:1-3.

9. Wie is die „ander skape” van wie Jesus melding maak, en wanneer word hulle versamel?

9 Maar Jesus beperk nie sy herderswerk tot hierdie „klein kuddetjie” wat die hemelse Koninkryk beërf nie (Lukas 12:32). Hy het ook gesê: „Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Johannes 10:16). Wie is hulle? Hulle is persone wat nie in die nuwe verbond is nie; hulle is nie geestelike Israeliete nie. Maar hulle word in noue omgang met die lede van geestelike Israel gebring terwyl dié nog op aarde is en behoefte het aan die soort herderswerk wat Jesus beskryf. Die „ander skape” is persone wat gedurende hierdie laaste dae versamel word ingevolge Jehovah se voorsiening vir ewige lewe op aarde op grond van hulle geloof in die offerwaarde van Jesus se bloed. Hulle is dieselfde as die „groot menigte” van Openbaring 7:9, 10, 14, en hulle het derhalwe die vooruitsig om die komende groot verdrukking te oorleef.

10. Wat is nodig om een van daardie „ander skape” te wees?

10 ’n Persoon wat wil voldoen aan die Bybel se beskrywing van sulke „ander skape” wat deur die Goeie Herder beskerm en bewaar word, moet na Sy stem „luister” en toon dat hy werklik ’n deel is van die „een kudde” wat die ware erfgename van die hemelse Koninkryk insluit. Doen jy dit? Hoe aandagtig luister jy na sy stem?

11. Wat sal bewys dat ons waarlik „luister” na wat Jesus in Johannes 15:12 gesê het?

11 Jy weet ongetwyfeld dat Jesus gesê het: „Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12). Hoe raak daardie gebod jou lewe? Toon jy die soort liefde waarvan Jesus die toonbeeld was? Is dit waarlik selfopofferend? Gee jou dade en gevoelens blyk van sulke liefde vir almal in die Christengemeente en vir lede van jou huisgesin?

12. (a) Hoe ’n groot verandering sal dit in ons teweegbring as ons werklik ‚deur middel van Jesus onderrig word’? (b) Wat moet ons dus doen omtrent die dinge wat ons uit die Bybel leer?

12 Die apostel Paulus sê dat as ons Jesus waarlik ‚hoor’ en „deur middel van hom onderrig word”, ons hele persoonlikheid sal verander. Ons sal ontslae raak van die ou persoonlikheid wat met ons vroeëre lewenswandel ooreenkom en sal ons met „die nuwe persoonlikheid” beklee wat Jehovah se voortreflike eienskappe weerspieël (Efesiërs 4:17-24, NW; Kolossense 3:8-14). Dink jy, wanneer jy die Bybel bestudeer, ernstig na oor veranderinge wat jy in jou lewe moet aanbring om God te behaag? Bring jy nougeset sulke veranderinge aan? Neem jy kennis van die lewensbelangrike werk wat Jesus vir ons dag beveel het—die verkondiging van die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk—en soek jy na maniere om daaraan deel te neem? Wek waardering vir Jehovah se onverdiende goedheid teenoor jou ’n opregte begeerte in jou hart om dit te doen?—Mattheüs 24:14.

13. (a) Hoe kan ons harte ons mislei as ons nie versigtig is nie? (b) In watter mate moet ons dus die voetstappe van Christus navolg?

13 Ons moet versigtig wees dat ons hart ons nie mislei nie. Miljoene mense bely dat hulle in Jesus Christus glo, en miskien kan hulle party van sy leringe aanhaal, maar hulle pas net toe wat vir hulle gerieflik is. Party vermy moontlik gedrag wat hulle as skreiend beskou. Die vooruitsig van lewe op ’n paradysaarde onder die Koninkryk van God klink dalk vir hulle goed, en hulle hou miskien daarvan om om te gaan met mense wat opreg probeer om Christelike beginsels in hulle lewe toe te pas. Maar as ons onder diegene wil wees wat tot in die „nuwe aarde” oorlewe, moet ons noukeurig luister na alles wat Jesus sê. Ons móét besef dat ons nie ons eie voetstappe met welslae kan rig nie. Ons móét luister na God se Seun, die een wat deur Jehovah as Verlosser van Sy volk aangestel is, en noukeurig in sy voetspore volg.—Jeremia 10:23; Mattheüs 7:21-27; 1 Petrus 2:21.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel