Ons lesers vra
Hoeveel moet ek bydra?
“God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Miljoene regoor die wêreld is vertroud met hierdie woorde. Maar party kerkgangers voel dalk verplig om meer by te dra as wat hulle kan bekostig. Trouens, sommige kerke vereis dat hulle lidmate ’n vasgestelde bedrag moet bydra. Die gebruik word tiendeheffing genoem, dit wil sê om 10 persent van ’n mens se inkomste aan die kerk te gee.
Vereis die Bybel werklik dat ons ’n vasgestelde bedrag as ’n bydrae moet gee? Of meer persoonlik gestel, hoeveel moet ek bydra?
Vereistes en vrywillige bydraes in die verlede
Die Bybel bevat duidelike instruksies aan die nasie Israel oor hoeveel God van hulle vereis het om te gee (Levitikus 27:30-32; Numeri 18:21, 24; Deuteronomium 12:4-7, 11, 17, 18; 14:22-27). Hierdie vereistes was nie onredelik nie. Jehovah het belowe dat hy die nasie “voorspoed in oorvloedige mate [sou] gee” as hulle aan sy wette gehoorsaam sou wees.—Deuteronomium 28:1, 2, 11, 12.
In ander gevalle kon die Israeliete vrywillig soveel of so min bydra as wat hulle wou. Toe koning Dawid byvoorbeeld beplan het om ’n tempel vir Jehovah te bou, het sy onderdane “goud ter waarde van vyfduisend talente” bygedra (1 Kronieke 29:7).a Vergelyk dit met wat Jesus gesien het toe hy op die aarde was. Hy het gesien hoe “’n sekere behoeftige weduwee twee muntstukkies van baie min waarde” in die skatkiste van die tempel ingooi. Hoeveel het haar bydrae beloop? Net 1/64 van ’n dagloon. Tog het Jesus gesê dat hierdie klein bedrag aanvaarbaar was.—Lukas 21:1-4.
Moet Christene ’n vasgestelde bedrag gee?
Christene is nie onder die Wetsverbond wat aan Israel gegee is nie. Hulle staan dus nie onder verpligting om ’n vasgestelde bedrag aan God te gee nie. In die ware Christengemeente bring dit egter baie vreugde om te gee. Jesus Christus het self gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
Jehovah se Getuies ondersteun hulle wêreldwye predikingswerk deur middel van vrywillige bydraes. Hierdie bydraes word gebruik om lektuur te druk, soos die tydskrif wat jy nou lees, en om hulle plekke van aanbidding, wat as Koninkryksale bekend staan, te bou en in stand te hou. Die geld wat ontvang word, word glad nie gebruik om salarisse te betaal nie. Party wat hulle beskikbaar stel om voltyds aan die dissipelmaakwerk deel te neem, ontvang wel geldelike ondersteuning om hulle vervoerkoste en ander persoonlike onkoste te dek. Maar niemand dring aan op sulke hulp nie. Trouens, die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies ontvang geen finansiële hulp om hulle in hulle predikingswerk te ondersteun nie. Die meeste doen eerder sekulêre werk om hulle te onderhou, net soos Paulus gedoen het toe hy as ’n tentmaker gewerk het.—2 Korintiërs 11:9; 1 Tessalonisense 2:9.
Hoeveel moet iemand gee as hy ’n bydrae wil maak vir die werk wat deur Jehovah se Getuies gedoen word? Die apostel Paulus het geskryf: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korintiërs 8:12; 9:7.
[Voetnoot]
a In 2008 was die gemiddelde goudprys $871 per ons, wat beteken dat hierdie bydrae sowat R50 106 234 750 werd was.