“Betoon julle dankbaar”
“Laat die vrede van die Christus in julle harte heers . . . En betoon julle dankbaar.”—KOLOSSENSE 3:15, NW.
1. Waarteen moet Christene in hierdie ondankbare wêreld waak?
HIERDIE veelbewoë 20ste eeu het die stadium bereik waar talle mense vergeet het hoe om dankbaar te wees. Die woorde van waardering “asseblief” en “dankie” word elke jaar al hoe minder gehoor. Ondankbaarheid het deel geword van “die lug”, die selfsugtige gees wat mense van hierdie wêreld oorheers (Efesiërs 2:1, 2). Hoewel Christene “nie van die wêreld is nie”, moet hulle daarin woon solank as wat die huidige stelsel van dinge bestaan (Johannes 17:11, 16). Hulle moet derhalwe oppas dat hierdie ondankbare gees hulle nie beïnvloed en veroorsaak dat hulle dankbaarheid afneem nie.
2. (a) Wat is party maniere waarop Jehovah se knegte dankbaarheid teenoor hom kan betuig? (b) Wat benewens mondelinge dankbetuigings is nodig?
2 Waardering vir God se goedheid kan dikwels in gesprekke met medegelowiges uitgespreek word. Die meeste toegewyde Christene bedank waarskynlik hulle hemelse Vader, Jehovah, etlike kere per dag in persoonlike gebed vir sy goedheid. Dankbaarheid word ook betuig in gemeentelike gebede en terwyl Koninkryksliedere by Christenvergaderinge gesing word. Dit is natuurlik betreklik maklik om dankbaarheid in woorde te betuig. Die apostel Paulus het egter sy broers in Kolosse aangespoor om nie net te sê dat hulle dankbaar is nie, maar ook hulle dankbaarheid in hulle daaglikse lewens te toon of te openbaar. Hy het geskryf: “Laat die vrede van die Christus in julle harte heers, want daartoe word julle inderdaad in een liggaam geroep. En betoon julle dankbaar.”—Kolossense 3:15.
Meer as genoeg rede tot dankbaarheid
3. Waarom moet ons almal dankbaar wees teenoor God?
3 Elke lewende persoon het meer as genoeg rede tot dankbaarheid. Die vernaamste rede is die genieting van die lewe self, want alles wat ons het of dalk beplan, sal skielik waardeloos word as ons ons lewe verloor. Die psalmis Dawid het alle mense aangespoor om te onthou: “By U [Jehovah God] is die fontein van die lewe” (Psalm 36:10). En die apostel Paulus het die Atheners aan dieselfde ewige waarheid herinner toe hy op die Areopagus gepraat het (Handelinge 17:28). Ja, om net te lewe, is meer as genoeg rede tot dankbaarheid. En ons waardering verdiep wanneer ons dink aan die vermoëns wat God ons gegee het—die smaak-, tas-, reuk-, gesig- en gehoorsin—sodat ons die lewe en die pragtige skeppingswerke om ons kan geniet.
4. Wat sal verhoed dat ons die seëninge in die lewe as vanselfsprekend aanneem?
4 Maar talle neem hierdie goeie dinge as vanselfsprekend aan. Slegs wanneer hulle een van hulle vermoëns verloor, soos hulle gesig of gehoor, word baie mense bewus van die seëninge wat hulle nie waardeer het toe hulle goeie gesondheid geniet het nie. Toegewyde Christene moet voortdurend oppas dat hulle nie stadigaan in ’n soortgelyke gebrek aan waardering verval nie. Hulle moet hulle daarop toelê om dieselfde dankbare gesindheid te behou wat betoon is deur die psalmis wat gesê het: “Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.”—Psalm 40:6.
5. Watter skandelike weg het Israel gevolg ondanks hulle bykomende seëninge van Jehovah?
5 Die 106de Psalm gee ’n poëtiese opsomming van die magtige dade wat Jehovah ten behoewe van sy volk, Israel, verrig het. God se handelinge met hulle was benewens die goedheid en normale seëninge in die lewe wat hy aan die mensdom oor die algemeen verleen. Die psalmis wys daarop dat die Israeliete egter ondanks hierdie voordele nie aangehou het om waardering vir hulle unieke seëninge te toon nie. Vers 13 sê: “Hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie.” Nee, dit was nie die verloop van tyd wat geleidelik hulle dankbaarheid laat afneem het sodat hulle dekades later nie meer onthou het wat God vir hulle gedoen het nie. Hulle het eerder gou—binne weke van Jehovah se uitsonderlike wonderdade ten behoewe van hulle by die Rooi See—vergeet (Exodus 16:1-3). Toekomstige gebeure het getoon dat ondankbaarheid ongelukkig ’n patroon in hulle lewe geword het.
Hoe om dankbaarheid te betoon
6. Waarom was die vereiste om ’n tiende te gee geen ontbering nie?
6 Jehovah het drie spesifieke maniere waarop die Israeliete opregte waardering vir sy goedheid moes toon uitvoerig omskryf. Een was deur die vereiste in verband met tiendes na te kom deur aan Jehovah ’n tiende van alle opbrengste en vee te gee (Levitikus 27:30-32). Dit sou geen ontbering wees nie, want God was verantwoordelik vir die son, die vrugbare grond, die reën en die wonder van groei. Dit was dus ’n praktiese betoning van dankbaarheid teenoor Jehovah self wanneer ’n tiende aan die priesters by Jehovah se heiligdom gegee is.
7. (a) Watter groot verskil was daar tussen die tiendeheffing en bydraes aan Jehovah? (b) Wat omtrent hulleself kon die Israeliete hierdeur toon?
7 Nog ’n vereiste was die bydraes aan God waar die hoeveelheid deur die hartsgesindheid van die individuele Israeliet bepaal is. Hoewel geen spesifieke hoeveelheid gespesifiseer is nie, moes die bydraes van die eerste vrugte wees—die eerstelinge van die koring, die wyn en die wol van die kuddes (Numeri 15:17-21; Deuteronomium 18:4). Jehovah het boonop gestipuleer dat sy volk ‘nie aarselend moes gee nie’ en “die beste van die eerstelinge” moes gee (Exodus 22:29, vgl. NW; 23:19). Dit het die Israeliete die geleentheid gebied om hulle dankbaarheid teenoor Jehovah op ’n tasbare wyse te betoon. Hulle kon die diepte van hulle dankbaarheid toon deur hoeveel hulle bygedra het. Sou hulle net een tros druiwe bydra? Of sou ’n vrygewige hart hulle beweeg om ’n hele mandjievol te gee? Elke persoon of gesin kon dus sonder dwang dankbaarheid betoon.
8. (a) Watter twee voordele het die nalesingsreëling gebied? (b) Hoe kon almal wat by die nalesingsreëling betrokke was vrygewigheid en dankbaarheid betoon?
8 ’n Derde spesifieke manier waarop dankbaarheid betoon kon word, het verband gehou met God se voorsiening van nalesing. Gedurende die oestyd moes dele ongeoes bly vir die behoeftiges. Dit het nie net medelye met en bedagsaamheid teenoor die armes in die hand gewerk nie, maar dit het ook verseker dat hulle nie leef van demoraliserende aalmoese wat geen inspanning van hulle kant geverg het nie (Levitikus 19:9, 10). Daar is nie gespesifiseer presies hoeveel vir die behoeftiges gelaat moes word nie. Maar as die Israelitiese boere vrygewigheid aan die dag gelê het deur baie om die kant van hulle lande te los en sodoende guns aan die armes bewys het, sou hulle God verheerlik (Spreuke 14:31). Dit is aan hulle oorgelaat om te besluit of hulle ’n smal of ’n wye strook ongeoes sou laat. Maar God het duidelike riglyne ten opsigte van vrygewigheid gegee deur te beveel dat enige gerwe wat in die land vergeet is en enige vrugte wat aan die boom of wingerd oorgebly het vir die nalesers gelos moes word (Deuteronomium 24:19-22). Nalesers kon weer hulle dankbaarheid teenoor Jehovah vir hierdie voorsiening betoon deur ’n tiende van die oesoorblyfsels wat hulle ingesamel het by sy plek van aanbidding te skenk.
Vrygewigheid van hart
9. Waarom het diegene wat ’n selfsugtige gesindheid aan die dag gelê het hulleself in werklikheid benadeel?
9 Wanneer die Israeliete vrygewige bydraes gemaak het, het Jehovah se seën op hulle huise gerus. (Vergelyk Esegiël 44:30; Maleagi 3:10.) Ondanks oorvloedige oeste het hulle egter dikwels versuim om bydraes te maak. Dan het God vermaninge deur konings of profete gebruik om hulle dankbaarheid weer aan te wakker. Selfsugtige Israeliete was eintlik diegene wat aan die kortste ent getrek het, want Jehovah kon nie diegene seën wat bydraes in verband met sy aanbidding of vir die armes agtergehou het nie.
10. (a) Wat was die gelukkige gevolge van koning Hiskia se vermaninge oor dankbaarheid? (b) Het hierdie toestande voortgeduur?
10 By een geleentheid het koning Hiskia se vermaninge tot ’n vreugdevolle fees van 14 dae in Jerusalem gelei. Die volk is geestelik weer aangevuur. Hulle het eerstens alle voorwerpe van afgodediens vernietig en toe “hope en hope [kom neersit]. . . . Toe Hiskia en die amptenare kom en die hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel geprys” (2 Kronieke 30:1, 21-23; 31:1, 6-8, NAV). Maar ongelukkig het die volk na sulke periodieke herlewing tot ondankbaarheid verval. Uiteindelik het God se geduld opgeraak en het hy toegelaat dat sy volk as gevangenes na Babilon weggevoer word. Hulle stad en pragtige tempel is vernietig (2 Kronieke 36:17-21). Later, na die herstelling, het toestande weer so ernstig geword dat Jehovah gesê het dat die Jode deur hulle inhaligheid as ’t ware van hom steel, hom beroof!—Maleagi 3:8.
11. By watter beginsel wat uit Israel se geskiedenis geleer word, kan Christene wat nou lewe baat vind?
11 Watter beginsel kan ons uit die Israeliete se wisselvallige geskiedenis leer? Dit: Solank hulle harte vol dankbaarheid was, het hulle dit vreugdevol geopenbaar deur “hope en hope” aan Jehovah te gee. Maar wanneer dankbaarheid vergeet is of ’n laagtepunt bereik het, het vreugdevolle materiële geëry feitlik opgehou. Kan toegewyde Christene vandag so ’n slegte gesindheid aan die dag lê? Ja, want menslike onvolmaaktheid is steeds by ons. Hoe bly is ons tog dat God sy handelinge met Israel opgeteken het sodat ons, wat aan die einde van hierdie stelsel van dinge lewe, daaruit kan leer en daarby baat kan vind!—Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11.
12. (a) Hoe verkeer Jehovah se volk vandag in ’n soortgelyke posisie as die Israeliete? (b) Watter vrae moet ons vra?
12 Soos die Israeliete, het Jehovah se volk vandag baie redes om dankbaar te wees. Ons ontvang ook meer seëninge as wat deur ons medemens geniet word. Trouens, ons weet baie meer omtrent Jehovah se voornemens as wat die nasie Israel geweet het. Ons het geleer hoe God gewilliglik sy Seun opgeoffer het en ons is bewus van die seëninge wat dit sal meebring vir diegene wat goddelike goedkeuring geniet. En ons het vandag die voorreg om in ’n geestelike paradys te wees, want sedert 1919 het Jehovah ’n wonderlike geestelike toestand vir sy volk geskep. Ja, Jehovah se Getuies het talle bykomende redes om dankbaar te wees. Ons moet dus vra: Hoe diep is ons dankbaarheid teenoor God? En hoe kan ons ons in hierdie 20ste eeu dankbaar betoon?
Hedendaagse parallelle
13, 14. Is daar vir Christene ’n parallel aan die wet oor tiendes, hoewel hulle nie onder die Mosaïese Wet is nie?
13 Christene is nie onder die Mosaïese Wet wat uiteengesit het hoe om dankbaarheid teenoor God te betoon nie (Galasiërs 3:24, 25). Ons ‘lofoffer’ aan Jehovah is “die vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Hebreërs 13:15). Dit is dan die vernaamste manier waarop toegewyde Christene dankbaarheid teenoor God kan betoon. Maar interessante parallelle kan getrek word tussen die wette oor tiendes, bydraes en nalesing.
14 Die tiendeheffing het beteken dat die spesifieke hoeveelheid van een tiende gegee word—en daar was geen keuse hieraan verbonde nie. Daar is vandag eweneens spesifieke gebooie waarby al Jehovah se knegte moet hou, wat ook geen keuse behels nie. Ons moet gereeld saam vergader en ons moet die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk in die openbaar verkondig en ander help om Christus se dissipels te word.—Hebreërs 10:24, 25; Mattheüs 24:14; 28:19.
15. Watter aanduidings van vrygewige harte in ons dag kom ooreen met die wat getoon is deur die bydraes en nalesingsreëlings in eertydse Israel?
15 Dink ook aan die bydraes en reëlings vir nalesing. Spesifieke hoeveelhede is nie gestipuleer nie. Die Skrif skryf eweneens nie voor spesifiek hoeveel tyd elke getuie van Jehovah aan heilige diens moet bestee nie. Die hoeveelheid tyd wat daaraan gewy word om God se Woord te bestudeer en vir ander te preek, word aan die motivering van vrygewige, onselfsugtige harte oorgelaat. Die omvang van materiële bydraes ter bevordering van Koninkryksbelange word insgelyks aan die inspraak van elke individu se hart oorgelaat. Die diepte van dankbaarheid sal bepaal of ’n kneg van God vandag “hope en hope” of net-net genoeg sal bring (2 Kronieke 31:6, NAV). Maar hoe groter jou blyk van dankbaarheid is, des te oorvloediger is die seëninge wat van God ontvang word, net soos met Israel die geval was.
Maniere om dankbaarheid te betoon
16-18. Op watter spesifieke maniere kan toegewyde Christene hulle dankbaar betoon?
16 Een van die mees regstreekse maniere om dankbaarheid teenoor Jehovah te betoon, is om aan die voltydse bediening deel te neem. Is jou dankbaarheid groot genoeg vir jou hart om daardie begeerte te hê? Daar is tereg opgemerk dat ’n suksesvolle pionier eers die begeerte moet hê om te dien en dan die regte omstandighede. Wanneer dankbaarheid sterk is, wel ’n dwingende begeerte om God te dien in groter mate in ’n waarderende hart op. Is dit hoe jy voel? Selfs as jou huidige omstandighede dit nie vir jou moontlik maak om aan die voltydse bediening deel te neem nie, hoef dit nie die pioniergees te blus nie. Jy kan die pioniers heelhartig ondersteun en aanspoor.
17 Kan jy van tyd tot tyd hulppionierdiens doen as jy nie nou ’n voltydse pionier kan wees nie? Daar is elke jaar spesiale tydperke wanneer die Christengemeente buitengewone inspanning in die predikingswerk aanmoedig. Die somermaande is byvoorbeeld vir talle ideaal, en in Oktober is daar bykomende bedrywigheid met betrekking tot die tydskrifintekeningkampanje. Wat meer tyd vir heilige diens betref, geld die beginsel dat dankbaarheid vrygewige geëry in die hand werk.
18 Nog ’n spesifieke manier om dankbaarheid te betoon, is deur die teokratiese bouprogram te ondersteun wat rondom die wêreld aan die gang is. In baie lande word nuwe Koninkryksale gebou en word bestaande sale vergroot omdat hulle te vol is. Nuwe Byeenkomssale word opgerig en aanbousels word by Bethelhuise en fabrieke gevoeg. Wat ’n praktiese manier is dit tog om dankbaarheid teenoor Jehovah te betoon—deur werk of geld tot hierdie bouprojekte by te dra!
Die goeie voorbeeld van die arm weduwee
19. Wat beïndruk jou die meeste omtrent die arm weduwee by die tempel?
19 ’n Bekende Bybelse voorbeeld van dankbetoning deur vrygewige materiële gawes is die van die weduwee wat deur Jesus beskryf is (Lukas 21:1-4). Sy moes besef het dat haar twee muntstukkies met so min waarde min verskil sou maak aan die materiële welsyn van die tempel en die wat daar dien. Maar sy het nie na die tempel en die priesters wat daar dien gekyk en gedink nie: ‘Hulle lewe baie beter as ek en het ’n beter gebou as my nederige huisie.’ Die tempel was weliswaar baie weelderiger en mooier. “Dit [was] met mooi klippe en gewyde geskenke versierd” (Lukas 21:5). Maar dit het nie die weduwee daarvan weerhou om ’n bydrae te maak nie. Sy wou haar dankbaar betoon teenoor Jehovah, nie teenoor die manne wat by die tempel gedien het nie.
20. Hoe kan ons dieselfde uitmuntende gesindheid openbaar as wat die arm weduwee aan die dag gelê het?
20 Jehovah se volk leer vandag uit hierdie voorbeeld. Soos die arm weduwee, weet hulle dat hulle bydraes, hetsy groot of klein, aan God gegee word. En hulle word gerusgestel deur die wete dat die struktuur van Jehovah se aardse organisasie van so ’n aard is dat geen individu ooit finansieel wins daaruit kan maak nie. Die Genootskap se fasiliteite word gebou en gebruik om harde werkers toe te rus om die beste resultate te verkry in die gehaltevervaardiging van Bybels en Bybelhulpe en om Koninkryksbelange te bevorder. Dit vorm ’n treffende teenstelling met die skandelike misbruik van geldskenkings wat onlangs in verband met party televisie-evangeliste gepubliseer is.
Herinneringe om dankbaar te wees is nuttig
21, 22. Watter uitwerking behoort vriendelike vermaninge om ons dankbaar te betoon op waarderende harte te hê?
21 Die Israeliete moes voortdurend herinner word aan hulle plig teenoor Jehovah, veral aan die nodigheid om dankbaarheid te betoon. Wanneer hierdie sake onder hulle aandag gebring is, is dankbaarheid gewoonlik weer in hulle harte aangewakker, en dit het gewoonlik daartoe gelei dat hulle hulle waardering in meer as woorde betoon het. Hulle was bereid om “hope en hope” van die opbrengs aan Jehovah te gee vir gebruik by sy huis van aanbidding.
22 Mag diegene van die hedendaagse “Israel van God” en die “groot menigte” van hulle metgeselle dus altyd net so voel (Galasiërs 6:16; Openbaring 7:9). Mag hulle dankbare harte hulle beweeg om “hope en hope” lof aan Jehovah te gee. Dan kan hulle waarlik sê: “Ons betoon ons dankbaar teenoor ons vrygewige en liefdevolle God, Jehovah.”
Onthou jy?
◻ Waarom moet Christene voortdurend die omvang van hulle dankbaarheid ondersoek?
◻ Waarom het Jehovah se volk altyd ’n ekstra rede tot dankbaarheid gehad?
◻ Op watter spesifieke maniere kon die Israeliete hulle dankbaarheid teenoor Jehovah betoon?
◻ Watter spesifieke dinge kan ons, soos die Israeliete, doen om dankbaarheid te betoon?
◻ Wat kan ons van die arm weduwee by die tempel leer?
[Prent op bladsy 7]
Die Israeliete het dankbaarheid betoon deur tiendes en die eerste vrugte te bring en deur voorsiening te maak dat die armes oesoorblyfsels op hulle lande kon insamel
[Prent op bladsy 8]
Die psalmis het Jehovah gedank vir Sy wonderlike werke en gedagtes ten opsigte van Sy volk
[Prente op bladsy 10]
Jehovah se Getuies toon vandag dankbaarheid deur aan velddiens en teokratiese bouprojekte deel te neem asook deur materiële gawes te gee