Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 10/15 bl. 5-8
  • Vrees—Nou algemeen, maar nie vir altyd nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrees—Nou algemeen, maar nie vir altyd nie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geregverdigde vrees vir oorlog
  • Nog verderwing van die aarde en die lewe daarop
  • Sal dit erger of beter word?
  • Landmyne—Die prys wat betaal word
    Ontwaak!—2000
  • Landmyne—’n wêreldwye bedreiging
    Ontwaak!—1994
  • ’n Tree weg van die dood
    Ontwaak!—2000
  • Hoe oorlog kinderlewens verwoes
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 10/15 bl. 5-8

Vrees—Nou algemeen, maar nie vir altyd nie!

STUDENTE van God se Woord is nie verbaas dat vrees so algemeen is nie. Jehovah se Getuies het al wyd en syd bekend gemaak dat daar oorvloedige bewys is dat ons in ’n besondere tyd van die mensegeskiedenis lewe. Jy weet dat dit deur wydverspreide vrees gekenmerk word. Maar lank gelede het Jesus die aandag op ons tyd gevestig. Hy het die apostels se vrae beantwoord oor sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge, of ‘die einde van die wêreld’.—Matteus 24:3.

Hier is ’n deel van wat Jesus voorspel het:

“Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk; en daar sal groot aardbewings wees, en op die een plek na die ander peste en voedseltekorte; en daar sal vreesaanjaende gesigte wees, en groot tekens van die hemel af.”—Lukas 21:10, 11.

Het jy sy kommentaar oor “vreesaanjaende gesigte” opgemerk? Later in daardie selfde antwoord het Jesus ’n ander betekenisvolle opmerking gemaak oor vrees wat jou en jou dierbares direk en beslissend kan raak. Maar laat ons, voordat ons daaraan aandag skenk, kortliks ’n paar bykomende bewyse hersien wat toon dat ons in die laaste dae lewe.—2 Timoteus 3:1.

Geregverdigde vrees vir oorlog

Militêre konflikte het baie dele van die aarde verwoes. Die tydskrif Geo het oliebronne wat aan die einde van ’n onlangse Midde-Oosterse konflik gelos is om te brand byvoorbeeld bestempel as “die grootste omgewingskatastrofe wat tot nog toe deur die mens veroorsaak is”. Oorloë het al miljoene der miljoene mense gedood of vermink. Buiten die miljoene militêre en burgerlike sterfgevalle in die Eerste Wêreldoorlog is 55 miljoen in die Tweede Wêreldoorlog gedood. Onthou dat Jesus as deel van die teken dat die einde van die wêreld naby is, gesê het dat ‘nasie teen nasie sal opstaan en koninkryk teen koninkryk’.

Ons kan ook nie die mens se pogings tot volksmoorde—die uitwissing van ’n hele ras of volk—ignoreer nie. Die dood van miljoene Armeniërs, Kambodjane, Jode, Rwandese, Oekraïners en andere het tot die skokkende bloedskuld van die mensdom gedurende die 20ste eeu bygedra. Die slagting gaan voort in lande waar etniese haat deur godsdiensekstremiste aangeblaas word. Ja, oorloë deurweek steeds die aarde met mensebloed.

Hedendaagse oorloë eis slagoffers selfs nadat die gevegte opgehou het. Dink byvoorbeeld aan landmyne wat na willekeur geplant word. Volgens ’n verslag deur die navorsingsorganisasie Human Rights Watch “is daar wêreldwyd sowat 100 miljoen myne wat ’n bedreiging vir burgerlikes inhou”. Sulke myne bly gevaarlik vir onskuldige mans, vrouens en kinders lank nadat die oorlog beëindig is waarin dit gebruik is. Daar word gesê dat duisende elke maand in meer as 60 lande deur landmyne vermink of gedood word. Waarom word hierdie bedreiging vir lewe en liggaam nie stelselmatig verwyder nie? The New York Times het gesê: “Daar word elke dag baie meer myne geplant as wat deur mynveëry onskadelik gestel word, gevolglik neem die ongevallesyfer geleidelik toe.”

Daardie koerantartikel in 1993 het berig dat die verkoop van hierdie myne ’n bedryf geword het wat “jaarliks tot $200 miljoen [R725 miljoen] beloop”. “Ongeveer 100 maatskappye en regeringsagentskappe in 48 lande” is betrokke by “die uitvoer van 340 verskillende soorte” myne. Hoe diabolies tog dat sommige myne ontwerp is om soos speelgoed te lyk sodat hulle kinders se aandag kan trek! Kan jy jou dit indink dat onskuldige kinders doelbewus die teiken van verminking en vernietiging gemaak word! ’n Hoofartikel met die titel “100 miljoen duiwelse masjiene” het beweer dat myne “meer mense gedood of vermink het as chemiese, biologiese en kernoorlogvoering”.

Maar landmyne is nie die enigste dodelike produk wat op die wêreldmark verkoop word nie. Gierige wapenhandelaars dryf wêreldwyd handel met wapens ter waarde van miljarde rande. The Defense Monitor, wat uitgegee word deur die Sentrum vir Verdedigingsinligting, berig: “Gedurende die afgelope dekade het [’n vername land] wapens ter waarde van $135 miljard [R490 miljard] uitgevoer.” Hierdie magtige nasie het ook “die verkope van wapens, militêre konstruksie en opleiding ter waarde van ’n verstommende $63 miljard [R228 miljard] aan 142 nasies goedgekeur”. Saadjies word dus vir toekomstige oorlogvoering en menselyding gesaai. Volgens The Defense Monitor was daar “in 1990 alleen 5 miljoen mense wat as gevolg van oorloë bewapen is, het dit meer as $50 miljard [R180 miljard] gekos en het ’n kwartmiljoen mense hulle lewe verloor, waarvan die meeste burgerlikes was”. Jy kan ongetwyfeld aan talle oorloë dink wat sedertdien gewoed het en wat vrees en dood oor nog miljoene mense gebring het!

Nog verderwing van die aarde en die lewe daarop

Professor Barry Commoner waarsku: “Ek glo dat die volgehoue besoedeling van die aarde, indien dit ongehinderd voortgaan, hierdie planeet uiteindelik ongeskik vir menselewe sal maak.” Hy sê voorts dat die probleem nie onkunde is nie, maar eiesinnige hebsug. Dink jy dat ons regverdige en liefdevolle God hierdie situasie vir ’n onbepaalde tyd sal toelaat en ons sal blootstel aan ’n toenemende vrees vir besoedeling? Die plundering van die aarde roep uit om ’n afrekening met die plunderaars en dan ’n Goddelike herstelling van die planeet. Dit is deel van Jesus se antwoord aan die apostels aangaande ‘die einde van die wêreld’.

Voordat ons die manier bespreek waarop God daardie afrekening teweeg gaan bring, wil ons eers verder na die mensdom se rekord kyk. Selfs ’n gedeeltelike lys van die vernietiging wat die mensdom aanrig, maak ’n mens hartseer: suurreën en hebsugtige houtkappery wat hele woude vernietig; onverskillige storting van kernafval, giftige chemikalieë en onverwerkte riool; verswakking van die beskermende osoonlaag en die onverskillige gebruik van onkruid- en plaagdoders.

Kommersiële belange besoedel die aarde op ander maniere ter wille van wins. Tonne afvalprodukte word daagliks in die riviere, oseane, lug en grond gestort. Wetenskaplikes besoedel die hemele met ruimterommel en maak nie skoon waar hulle as ’t ware gemors het nie. Die aarde is vinnig besig om deur ’n wentelende vullishoop omring te word. Was dit nie vir die natuurlike prosesse wat God gemaak het sodat die aarde homself kan herstel nie, sou ons aardse tuiste nie lewe onderhou het nie, en sou die mensdom waarskynlik al lank gelede in sy eie afval versmoor het.

Die mens besoedel selfs homself. Dink byvoorbeeld aan die gebruik van tabak en ander dwelms. In die Verenigde State is sulke dwelmmisbruik al “die nasie se grootste gesondheidsprobleem” genoem. Dit kos daardie land jaarliks $238 miljard (R863 miljard), waarvan $34 miljard (R123 miljard) aan “onnodige [dit wil sê vermybare] gesondheidsorg” bestee word. Wat dink jy kos tabak in terme van geld en lewens waar jy woon?

Permissiewe en afwykende lewenswyses, waarop baie mense aandring as hulle reg, het ’n skrikwekkende oes van dodelike seksueel oordraagbare siektes opgelewer, wat ’n vroeë dood vir baie beteken. Daar is opgemerk dat die lys doodsberigte in groot stedelike koerante toon dat al hoe meer mense deesdae in hulle dertiger- en veertigerjare sterf. Waarom? Dikwels omdat dodelike gewoontes vinnig hulle tol geëis het. So ’n tragiese toename in geslagsiektes en ander siektes pas ook by Jesus se profesie, want hy het gesê dat daar “op die een plek na die ander peste” sal wees.

Die ergste besoedeling is egter dié van die mens se verstand en gees, of gesindheid. Is dit nie waar dat die meeste vorme van besoedeling wat ons tot dusver gemeld het die gevolg van besoedelde verstande is nie? Kyk na die verwoesting wat siek verstande veroorsaak in die vorm van moord, verkragting, roof en ander soorte geweld wat die een mens die ander aandoen. Baie besef ook dat die miljoene aborsies wat jaarliks uitgevoer word ’n teken van verstandelike en geestelike besoedeling is.

Ons sien heelwat in die gesindheid van die jeug. Oneerbiedigheid teenoor ouerlike en ander gesag dra by tot gesinsverbrokkeling en opstand teen reg en orde. Hierdie gebrek aan ’n gesonde vrees vir gesag hou direk verband met die jeug se gebrek aan geestelikheid. Diegene wat evolusie, ateïsme en ander geloofafbrekende teorieë aan ander leer, dra gevolglik aansienlike skuld. Die talle godsdiensonderrigters is ook skuldig omdat hulle in hulle pogings om as modern en “korrek” aanvaar te word God se Woord die rug toegekeer het. Hulle en ander wat met die wysheid van die wêreld vervul is, leer teenstrydige filosofieë van mense.

Die gevolge is vandag duidelik. Mense word nie deur liefde vir God en hulle medemens beweeg nie, maar deur hebsug en haat. Die slegte vrugte is wydverspreide onsedelikheid, geweld en wanhoop. Dit veroorsaak ongelukkig dat eerlike mense in vrees lewe, onder andere in vrees dat die mens homself en die planeet sal vernietig.

Sal dit erger of beter word?

Wat hou die nabye toekoms in wat vrees betref? Sal vrees bly toeneem of sal dit oorkom word? Kom ons kyk weer na wat Jesus vir sy apostels gesê het.

Hy het na iets verwys wat in die nabye toekoms gaan gebeur—groot verdrukking. Hier volg sy woorde: “Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in weeklag slaan, en hulle sal die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom.”—Matteus 24:29, 30.

Ons kan dus verwag dat die groot verdrukking binnekort gaan begin. Ander Bybelprofesieë toon dat die eerste deel daarvan ’n weerwraak op valse godsdiens oor die hele wêreld sal wees. Dan sal die skokkende gebeure plaasvind wat so pas aangehaal is, waaronder hemelse verskynsels van die een of ander aard. Wat sal die uitwerking daarvan op miljoene mense wees?

Wel, let op Jesus se antwoord in ’n parallelle verslag waar ons aanvullende profetiese kommentare kry:

“Daar sal tekens in son en maan en sterre wees, en op die aarde angs van nasies, wat radeloos is as gevolg van die gebulder van die see en sy onstuimigheid, terwyl die mense flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom; want die kragte van die hemele sal geskud word.”—Lukas 21:25, 26.

Dit lê vir ons voor. Maar nie alle mense sal dan so bevrees wees dat hulle flou sal word nie. Inteendeel, Jesus het gesê: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, rig julle dan op en hef julle hoofde op, want julle verlossing kom nader.”—Lukas 21:28.

Hy het daardie bemoedigende woorde aan sy ware volgelinge gerig. Pleks van flou of lam van vrees te word, sal hulle rede hê om hulle hoofde vreesloos op te lig, al weet hulle dat die klimaks van die groot verdrukking op hande is. Waarom sonder enige vrees?

Omdat die Bybel duidelik sê dat daar oorlewendes van die “groot verdrukking” sal wees (Openbaring 7:14). Die verslag wat dít belowe, sê dat ons ongeëwenaarde seëninge uit God se hand kan geniet as ons onder die oorlewendes is. Dit sluit af met die versekering dat Jesus “as herder oor hulle [sal] optree en . . . hulle na fonteine van waters van die lewe [sal] lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee.”—Openbaring 7:16, 17.

Diegene—en dit kan ons insluit—wat sulke seëninge geniet, sal nie die vrese hê wat mense vandag teister nie. Tog beteken dit nie dat hulle absoluut geen vrees sal hê nie, want die Bybel toon wel dat daar ’n goeie en gesonde vrees is. Die volgende artikel sal bespreek wat dit is en hoe dit ons moet beïnvloed.

[Prent op bladsy 8]

Jehovah se aanbidders sien met blydskap uit na die naderende nuwe wêreld

[Foto-erkennings op bladsy 7]

Besoedeling: Godo-Foto; vuurpyl: U.S. Army photo; brandende bome: Richard Bierregaard, Smithsonian Institution

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel