Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • tp hfst. 2 bl. 10-21
  • Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?
  • Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Oorlogvrye wêreld deur die mens se pogings?
  • Is die mens opgewasse teen die bevolkingsontploffing?
  • Kan die mens met die aarde vrede maak?
  • Veiligheid deur die verwydering van misdadigheid
  • Die allergrootste probleme
  • Waarop gaan jy jou hoop vestig?
  • Ware vrede en veiligheid is ophande!
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Kan mensepogings onheil afwend?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Wie kan blywende vrede bring?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
tp hfst. 2 bl. 10-21

Hoofstuk 2

Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?

1. Watter vrae moet ons stel, en waarom?

HOOP kan alleen sin hê as dit op die werklikheid, op die waarheid, gegrond is. Valse verwagtinge verblind mense net vir die werklikheid. Daarom moet ons vra: Besef ons werklik hoe groot die probleme is wat opgelos moet word om ware vrede en veiligheid tot stand te bring? Besef ons hoe dringend die situasie geword het? Bestaan daar enige rede om te glo dat mense se oplossings teen hierdie ontsaglike taak opgewasse sal wees?

2, 3. (a) Waarom is die soeke na vrede en veiligheid vandag selfs gebiedender? (b) Deur watter ander dinge word lewe op aarde bedreig?

2 Mense probeer al duisende jare lank tevergeefs om blywende vrede en veiligheid tot stand te bring. Maar nou is die situasie baie dringend as gevolg van die bedreiging van kernoorlog. ’n Kanadese berig het gewaarsku: “Daar bestaan nie so iets soos ’n wenbare kernoorlog nie, want die nasleep sal so verskriklik wees dat die oorlewendes die dooies sal beny.”3 Sterrekundige Carl Sagan het op die rede gewys toe hy gesê het: “Daar is nou meer as 50 000 kernwapens, . . . genoeg om ’n miljoen Hirosjima’s uit te wis.” Hy het bygevoeg: “Daar bestaan min twyfel dat ons wêreldbeskawing vernietig sal word.”4

3 Daarbenewens word die lewe op aarde deur ander dinge bedreig. Een is die wêreldwye besoedeling van grond, lug en water. ’n Ander is die bevolkingsontploffing en die honger, siekte en onrus wat daarmee gepaard gaan.

4. Hoe is die mensdom se hedendaagse situasie al beskryf?

4 Aangaande die verskillende bedreigings wat die mensdom nou in die gesig staar, het ’n vredesinstituut in Noorweë gesê: “Vandag se internasionale situasie word gekenmerk deur ’n diepgaande krisis wat feitlik alle sfere van mensebedrywigheid deurdring: ekonomies en maatskaplik, polities en militêr, geestelik en moreel.” Dit het bygevoeg: “Gewelddadigheid neem toe, en die gebruik van mag as ’n instrument van beleid en diplomasie is algemeen. . . . Die balans tussen vrede en oorlog word al hoe wankelriger.”5 Waarheen lei dit? Die sekretaris-generaal van die VVO het gewaarsku: “Ons is gevaarlik na aan ’n nuwe internasionale anargie.”6

’n Oorlogvrye wêreld deur die mens se pogings?

5. Wat toon die geskiedenis oor die mens se vermoë om ’n einde aan oorlog te maak?

5 Bestaan daar enige rede om te glo dat die mens ’n einde aan oorlog kan maak? Die geskiedenis toon dat daar slegs ’n paar jare hier en daar was dat die aarde heeltemal vry van oorlog was. In net hierdie 20ste eeu is om en by 100 miljoen mense al in oorloë gedood! Nòg gister se Volkebond nòg vandag se Verenigde Volke kon ’n einde aan hierdie bloedvergieting maak.

6. Is die vrees vir kernoorlog ’n vaste grondslag vir vrede?

6 Maar sal die vrees vir vernietiging deur kernwapens dit nie verander nie? Is daar nie in 1945 genoeg vrees vir kernwapens gewek toe atoombomme twee Japannese stede uitgewis het nie? Wel, sedertdien het die voorrade baie sterker kernwapens duisendvoudig toegeneem. En net sedert 1945 het daar na skatting 35 000 000 mense in oorloë en opstande in meer as 100 lande omgekom. In ’n onlangse jaar was 45 nasies by botsings betrokke!7 Nee, vrees vir kernwapens het nie ’n einde aan oorlog gemaak nie.

7. Waarborg die ondertekening van ontwapeningsooreenkomste of vredesverdrae blywende vrede?

7 Nasies gaan weliswaar ontwapeningsooreenkomste aan en sluit vredesverdrae, en hulle sal waarskynlik voortgaan om dit te doen. Deur die eeue heen is daar letterlik duisende sulke ooreenkomste onderteken. Maar wanneer oorlogskoors hoog genoeg loop, het hierdie verdrae waardelose stukkies papier geword. Die Verenigde Volke het ook nie daarin geslaag om ’n einde aan oorlog te maak nie, want hoewel feitlik alle lande vandag tot die VVO behoort, ignoreer hulle dit wanneer dit hulle pas. Is dit dan realisties om te hoop dat toekomstige wêreldleiers getrouer aan hulle woord sal wees as dié van die verlede?

8. Hoe het die Bybel die waarheid vertel omtrent die mens se versuim om blywende vrede te bewerkstellig?

8 Die Bybel se standpunt strook andersyds met die lesse van die geskiedenis. Dit spoor ons aan om nie ons vertroue in menslike vredespogings te stel nie. Inteendeel, dit het lank gelede voorspel dat mensepogings nooit blywende vrede sal bring nie. Dit het voorspel dat oorloë en opstande net voor die einde van hierdie stelsel wêreldwyd sal toeneem omdat ‘die een nasie teen die ander sal opstaan en die een koninkryk teen die ander’ (Lukas 21:​9, 10, 31; Openbaring 6:​1-4). Wêreldgebeure sedert 1914 het daardie profesieë vervul. In plaas van valse hoop te wek, sê die Bybel dus eerlik dat “aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie”.—Jeremia 10:⁠23.

Is die mens opgewasse teen die bevolkingsontploffing?

9-11. (a) Hoe vinnig was die aarde se bevolking aan? (b) In watter haglike toestand bevind baie mense hulle?

9 Die aarde se bevolking het in die 19de eeu tot eenmiljard toegeneem. Nou is dit ongeveer vyfmiljard,8 en elke nuwe miljard kom al hoe vinniger. Elke jaar word daar sowat 90 miljoen mense bygevoeg! En die grootste deel van hierdie aanwas vererger net die lyding in gebiede waar armoede, honger en siekte reeds aan die orde van die dag is. Hierdie bevolkingsaanwas is al tereg die bevolkingsontploffing genoem. The New York Times het gesê: “Dit is net so moontlik dat groot dele van die aarde deur die druk van onbeteuelbare bevolking en armoede in ’n woesteny omgeskep sal word as deur ’n kernslagting.”9

10 Aangaande die omvang van wêreldhongersnood het die tydskrif Time gesê: “Die probleem met honger verskil vandag hemelsbreed van dié van die verlede . . . Daar is nou so min kos in soveel dele van die wêreld dat ruim 25% van die aarde se bevolking jaar na jaar honger of ondervoed is.”10 Een bron skat dat 11 miljoen babas elke jaar voor hulle eerste verjaarsdag sterf weens die gevolge van ondervoeding en siekte.

11 Dieselfde verslag sê: “Minstens een uit vyf persone verkeer in volslae armoede, ’n toestand van sulke algehele ontbering dat dit ’n stille menseslagting is.”11 En dít, het The Toronto Star gesê, nadat ’n wêreldvoedselkonferensie in Rome meer as ’n dekade gelede “hulle woord gegee het dat geen kind binne ’n dekade honger bed toe sou gaan nie, geen gesin hom oor die volgende dag se brood sou kwel nie en geen mens se toekoms deur ondervoeding belemmer sou word nie”.12 Hoe leeg was sulke beloftes tog nie! Die werklikheid word deur Engeland se Guardian beskryf: “Die wêreld is op die randjie van ’n menseramp. . . . Hele vastelande het hulle toekomsverwagtinge sien verdwyn.”13

12. Sal dit werklik die probleem oplos as militêre besteding verminder word?

12 Die probleem lê nie by die aarde nie, maar grotendeels by die heersers en die mense en hulle gesindhede. Die nasies bestee byvoorbeeld tans elke jaar ongeveer tweebiljoen rand aan wapentuig terwyl miljoene honger ly. Maar selfs al sou hierdie geweldige militêre besteding gestaak word, sou die wêreld se verdeelde ekonomiese stelsels enige ware oplossing vir die probleem teëwerk. Wanneer voedsel beskikbaar is, verhinder die sug na groot wins dikwels dat dit onder die behoeftiges uitgedeel word. Op sommige plekke het regerings boere betaal om sekere gewasse nie te verbou nie omdat oorproduksie die pryse te veel sou laat daal. Yslike hoeveelhede voedsel is al vernietig omdat daar oorskotte was.

13. Was die Bybel akkuraat toe dit die toestande voorspel het wat gedurende die voleinding van die wêreld sou bestaan?

13 Ondanks al sy wetenskaplike vooruitgang het die hedendaagse samelewing nie daarin geslaag om die einste toestande wat deur die Bybel voorspel is, te voorkom nie. Die Bybel het ernstige “hongersnode” tydens hierdie “voleinding van die wêreld” akkuraat voorspel.—Mattheüs 24:​3, 7; Openbaring 6:​5-8.

Kan die mens met die aarde vrede maak?

14-16. Hoe ernstig is die besoedelingsprobleem?

14 Dekades lank al voer die mens oorlog teen die aarde waarop hy woon. Hy het giftige afvalstowwe in die water, lug en grond laat ophoop. ’n Opskrif in The Toronto Star het gesê: “Besoedeling bedreig die aarde.” Die artikel het gesê: “Die planeet Aarde ondervind ’n dodelike aanval. En die aanvaller is die mens.” Dit het gesê dat “die gif van sy vooruitgang” nou sy bestaan bedreig, en dit het bygevoeg: “Wetenskaplikes beskou die agteruitgang van die omgewing as net so ernstig soos die bedreiging van kernoorlog.”14

15 Die tydskrif Discover sê byvoorbeeld van die Verenigde State: “Gevaarlike chemikalieë en metale wat in die aarde insyfer, hou ’n gevaar in vir die nasie se ondergrondse watervoorrade. Sommige hidroloë vrees dat dit reeds te laat is om ’n kwart daarvan te red.”15 In Engeland het The Observer gesê dat chemiese besoedeling “die meeste van Engeland se drinkwater” besoedel het.16 En New Scientist het berig: “Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat kwale wat deur vuil water veroorsaak word elke dag 50 000 mense se lewens eis.”17

16 In die Verenigde State het ’n ondersoek deur die kongres aan die lig gebring dat daar groot konsentrasies giftige stowwe in die lug is. The New York Times het berig: “Honderde fabrieke stel duisende tonne kankerverwekkende agense en ander baie gevaarlike stowwe in die atmosfeer vry.”18 Voeg hierby die gevaarlike chemikalieë wat byvoorbeeld as plaagdoders in die grond gesit word en as voer in die voedselketting beland.

17. Is dit waarskynlik dat die tegnologie hierdie probleem sal kan oplos?

17 Kan die tegnologie tot ons redding kom? Is dit waarskynlik, aangesien dit baie van die probleme geskep het? Die boek Environmental Ethics sê: “Die tegnologie is ’n dienskneg met slegs beperkte nut, en is baie onbetroubaar. Wanneer dit wel ’n probleem oplos, skep dit dikwels twee nuwes—en dit is gewoonlik moeilik om hulle newegevolge te voorsien.”19

18. Aan watter noodsaaklike kennis ontbreek dit die mens om besoedeling die hoof te bied, maar wie het hierdie kennis?

18 En weer eens het die Bybel die mens se gebrek aan wysheid in die wyse waarop hy die aarde se milde gawes benut, voorspel. ’n Profesie in Openbaring 11:​18 het gepraat van die tyd wanneer God sou moes ingryp “om die verderwers van die aarde te verderf”. Soos toegegee, verstaan die mens die ingewikkelde ekologie van die aarde nie ten volle nie. Maar God verstaan dit wel, want hy het dit geskep. Is dit nie verstandig om ons tot hierdie Bron vir ’n oplossing van die probleme te wend nie?

Veiligheid deur die verwydering van misdadigheid

19. Wat vrees baie mense vandag, en waarom?

19 Besoedeling stel die dinge in gevaar wat die mens nodig het vir sy voortbestaan. Maar dit is die vermeerdering van misdadigheid wat die meeste mense vreesbevange maak. Misdadigheid beroof al hoe meer mense van hulle persoonlike veiligheid, nie alleen in groot stede nie, maar ook in dorpies en op die platteland. Dit is nie net besittings wat in gevaar gestel word nie, maar dikwels jou persoon en lewe.

20, 21. (a) Waarom sal nuwe wetgewing nie misdadigheid uit die weg ruim nie? (b) Sal groter voorspoed of nuwe metodes om misdadigheid te beveg die probleem oplos?

20 Kan die mens vir ons op hierdie gebied ware veiligheid bewerkstellig, moontlik deur nuwe wetgewing? Daar is reeds derduisende wette in die wetboeke van die wêreld. Dit het nogtans nie ’n einde aan misdadigheid gemaak nie. En dikwels ontwikkel diepgewortelde korrupsie reg in die wetstoepassende liggame. Oneerlikheid by hoogwaardigheidsbekleërs kan die pogings om die wet eerlik toe te pas verydel.

21 Lê die oplossing in nuwe metodes om misdade op te spoor en te fnuik? Vir elke nuwe metode wat gebruik word, vind misdadigers nuwe maniere om dit te omseil. Sal groter voorspoed dan die probleem oplos? Dit sou ’n fout wees om die gevolgtrekking te maak dat misdadigheid slegs in die laerinkomstegroepe voorkom. Misdade deur kantoorwerkers skiet ook die hoogte in. In die Verenigde State beloop die verliese weens sulke misdade jaarliks ten minste R200-miljard. Ongeveer 30 persent van alle sakeondernemings wat bankrot speel, gaan onder as gevolg daarvan. Suid-Afrika berig dat diefstal deur werknemers ongeveer 1 500 sakeondernemings in een jaar bankrot laat speel het.20

22. Watter getuienis toon dat mensepogings alleen nie die misdaadprobleem kan oplos nie?

22 Dit is ook nie net ’n paar nasies wat met toenemende misdadigheid te kampe het nie. Dit kom oral voor. Let op enkele opskrifte vanoor die hele wêreld. Brasilië: “Misdaadsyfers skiet die hoogte in.” Kanada: “Vrouemisdaadsyfer skiet die hoogte in.” Engeland: “Kindermisdade neem voortdurend toe.” Indië: “Georganiseerde misdadigheid is ’n florerende bedryf.” Sowjet-Unie: “Sowjet-ontsteltenis oor toenemende misdadigheid.”21 Die tydskrif Maclean’s het gesê: “Gewelddadige misdade in Detroit is so algemeen dat selfs moorde soms net kortliks op die agterblaaie van koerante vermeld word.”22 Toenemende misdadigheid is dus ’n internasionale probleem, en mensepogings alleen kan dit nie oplos nie. As ’n mense-oplossing moontlik was, sou misdadigheid na al hierdie tyd en inspanning nie meer ’n probleem gewees het nie.

23. Is die dinge wat die Bybel oor hedendaagse toestande voorspel het, bewaarheid?

23 Wat nou gebeur, is presies wat die Bybel lank gelede voorspel het: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, . . . bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, . . . meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timotheüs 3:​1-4). Jesus het ook voorspel dat ’n ‘vermeerdering van die ongeregtigheid’ ’n kenmerk sou wees van die tydperk net voordat God se Koninkryk die aarde ’n plek maak wat net deur “sagmoediges” bewoon sal word. Daardie ‘vermeerdering van die ongeregtigheid’ is vandag ’n werklikheid.—Mattheüs 24:​12; 5:5; Psalm 37:⁠29.

Die allergrootste probleme

24. Watter groter vyande sou oorbly, selfs al kon die mens al die probleme oplos wat tot dusver bespreek is?

24 Gestel die mens kon die probleme in verband met oorlog, armoede, honger, besoedeling en misdadigheid oplos. Sou dit vir jou volkome vrede en veiligheid verseker? Nee, daar sou nog iets skort. Siekte en die dood sou nog onoorwonne vyande wees. Trouens, wat maak verligting van ander probleme saak wanneer jy sien hoe ’n dierbare siek word en sterf, of vind dat jou eie liggaam deur ’n dodelike siekte aangeval word?

25, 26. Wat is volgens mediese navorsers die vooruitsigte om siekte te oorwin?

25 Het mediese vooruitgang ons van siekte en die dood bevry? ’n Medikus antwoord: “Aansteeklike kwale is nog nie verower nie. Dit is nog steeds die wêreld se grootste doodsoorsaak en, hier [in die Verenigde State], die vernaamste oorsaak van siekte.”23 ’n Berig sê dat siekte in Afrika so algemeen is “dat ongeveer 500 uit elke 1 000 kinders wat gebore word voor die ouderdom van vyf sal sterf”.24 Dwarsoor die wêreld ly honderdmiljoene aan malaria, slaapsiekte, cholera, melaatsheid en ander siektes. In sommige ontwikkelde lande veroorsaak hartkwale ongeveer die helfte van al die sterftes, en kanker een dood uit elke vyf. En The Lancet, ’n Britse mediese tydskrif, sê: “Daar is jaarliks om en by 250 miljoen nuwe gevalle van gonorree en 50 miljoen nuwe gevalle van sifilis rondom die wêreld. Ander aansteeklike geslagsiektes kom moontlik selfs algemener voor.”25.

26 ’n Wetenskaplike het gesê dat indien geslaagde kure vir kanker, hartkwaal en nierkwaal gevind sou word, ander kwale groter doders sou word. Hy het gesê: “Die kans is skraal dat ons in die nabye toekoms die verwagte lewensduur grootliks sal verleng of die verouderingsproses sal uitstel.”26 En dokters in die Sowjet-Unie sê: “Ondanks al die welslae van die geneeskunde het die biologiese lewensduur van mense in die geboekstaafde geskiedenis onveranderd gebly.”27

27. (a) Watter woorde in die Bybel oor die mens se lewensduur is vandag nog net so waar? (b) Waar kan ons uitvind waarom menselewe so kort en vol probleme is?

27 Hoe waar is die woorde van die Bybel in Job 14:​1, 2 vandag nog: “Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus. Hy spruit uit soos ’n blom en verwelk; ook vlug hy soos ’n skaduwee en hou nie stand nie.” Die Bybel toon ook die rede hiervoor, en dit identifiseer die oorsaak van al die mens se probleme, soos ons later sal sien.

Waarop gaan jy jou hoop vestig?

28-30. Waarom is dit meer realisties om ons vertroue te stel in God se oplossing vir die probleme waarmee die mensdom te kampe het as in die mens s’n?

28 Is dit dan, as ons eerlik wil wees, realisties om op die mens te vertrou om die probleme waarmee die mensdom te kampe het op te los? Of is dit meer realisties om ons vertroue te stel in die oplossing waarop die Bybel wys, naamlik optrede deur God self deur middel van ’n regverdige, hemelse regering?

29 Lank gelede het die geïnspireerde psalmis hierdie woorde neergeskryf: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het.”—Psalm 146:​3-6.

30 Ons moet nooit vergeet dat, ongeag hoe opreg mense is of hoe invloedryk of magtig wêreldleiers is, hulle almal sterwende skepsele is nie. Hulle kan hulself nie red nie. Hoe kan hulle ander dan red? Hulle kan nie. Slegs God kan, deur sy Koninkryksregering.

[Prent op bladsy 13]

Deur die hele geskiedenis heen steier die mensdom blindelings van een ramp na ’n ander—oorlog, toenemende misdadigheid, besoedeling, armoede en baie ander. Die Bybel sê tereg dat dit ‘nie aan ’n man toebehoort om te loop en sy voetstappe te rig nie’

[Prent op bladsy 21]

“Vertrou nie . . . op die mensekind, by wie geen heil is nie”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel