Het jy geweet?
Het Christene uit Judea gevlug voordat Jerusalem in 70 HJ vernietig is?
“Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan” (Lukas 21:20, 21). Jesus het hierdie instruksies aan sy dissipels gegee in verband met die vernietiging wat oor Jerusalem sou kom. Is daar bewyse dat die dissipels op Jesus se waarskuwing ag geslaan het?
Etlike dekades ná Jesus se dood het ’n Romeinse leër onder die bevel van Cestius Gallus Palestina binnegeval om ’n opstand te onderdruk. Hierdie inval is bevestig deur die Joodse geskiedskrywer Josefus, wat destyds gelewe het. Die legioensoldate het Jerusalem omsingel, en dit het gelyk of hulle die stad beslis sou verower. Skielik het Gallus beveel dat hulle terugtrek. Volgens die kerkgeskiedskrywer Eusebius het Judese Christene hierdie geleentheid aangegryp en na Pella gevlug, ’n stad in ’n bergstreek van die Dekapolis.
’n Paar jaar later, in 70 HJ, het ’n ander Romeinse leër, onder die bevel van generaal Titus, teruggekeer en die Joodse hoofstad beleër. Hierdie keer het die soldate die taak wat Gallus ongedaan gelaat het, voltooi en die stad vernietig. Honderdduisende is in Jerusalem vasgekeer en het gesterf.
Wie was “die profeteseuns”?
Bybelverslae oor die profete Samuel, Elia en Elisa praat van manne wat “die profeteseuns” genoem is. Toe Elisa Jehu byvoorbeeld as koning van Israel laat aanstel het, het hy “een van die profeteseuns” gestuur om hom te salf.—2 Konings 9:1-4.
Geleerdes meen dat die woord verwys na ’n opleidingskool of na ’n groep profete wat saamgewerk het eerder as na die letterlike nakomelinge van profete. Volgens die Journal of Biblical Literature was die lede van hierdie groepe waarskynlik persone wat “hulle aan Jahweh [Jehovah] se diens gewy het onder die leiding van ’n profeet wat . . . hulle geestelike vader was” (2 Konings 2:12). Trouens, die verslag oor Jehu se salwing noem die een wat deur Elisa gestuur is “die profeet se dienaar”.—2 Konings 9:4.
“Die profeteseuns” het blykbaar eenvoudige lewens gelei. Die verslag sê dat een van hierdie groepe in Elisa se tyd hulle eie woning gebou het en dat hulle ’n geleende byl gebruik het (2 Konings 6:1-5). Dat party in hierdie groepe getroud was, kan gesien word uit die verwysing na ’n weduwee “van die profeteseuns” (2 Konings 4:1). Getroue Israeliete het klaarblyklik waardering gehad vir die profeteseuns en het, in een opgetekende geval, vir hulle voedsel as ’n geskenk gegee.—2 Konings 4:38, 42.