Jesus se lewe en bediening
Vertroue gedurende die laaste dae
WANNEER Dinsdag, 11 Nisan, ten einde loop, is Jesus saam met sy apostels op die Olyfberg. Hulle het ’n tydjie gelede die tempelterrein, wat hulle onder hulle kan sien, verlaat, en Jesus het die teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag en van die einde van die stelsel van dinge met hulle bespreek.
Jesus waarsku hulle voorts om nie agter valse Christusse aan te gaan nie. Hy sê dat daar pogings sal wees “om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei”. Maar hierdie uitverkorenes sal soos versiende arende saamkom waar die ware geestelike voedsel gevind kan word, naamlik saam met die ware Christus tydens sy onsigbare teenwoordigheid. Hulle sal nie mislei word en met ’n valse Christus saamkom nie.
Valse Christusse kan net ’n sigbare verskyning maak. Jesus se teenwoordigheid sal daarenteen onsigbaar wees. Dit sal plaasvind gedurende ’n skrikwekkende tyd in die mensegeskiedenis, soos Jesus sê: “Die son [sal] verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie.” Ja, dit sal die donkerste tydperk in die mensebestaan wees. Dit sal wees asof die son gedurende die dag verduister is en asof die maan nie gedurende die nag sy glans gee nie.
“Die kragte van die hemele sal geskud word”, sê Jesus voorts. Hy dui dus aan dat die fisiese hemele ’n onheilspellende voorkoms sal aanneem. Die hemele sal nie bloot die domein van voëls wees nie, maar sal gevul wees met krygsvliegtuie, vuurpyle en ruimtetuie. Die vrees en geweld sal erger wees as enigiets wat ooit voorheen in die mensegeskiedenis ervaar is.
Jesus sê dat daar gevolglik “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid [sal wees], wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”. Hierdie donkerste tydperk van die mensebestaan sal gewis tot die tyd lei wanneer, soos Jesus sê, “die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf”.
Maar nie almal sal rou bedryf wanneer ‘die Seun van die mens met groot krag kom’ om hierdie goddelose stelsel van dinge te vernietig nie. Die “uitverkorenes”, die 144 000 wat saam met Christus in sy hemelse Koninkryk sal regeer, en hulle metgeselle, diegene wat Jesus vroeër sy “ander skape” genoem het, sal nie rou bedryf nie. Ondanks die feit dat hulle in die donkerste tydperk in die mensegeskiedenis lewe, gee hulle ag op Jesus se aanmoediging: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”
Om sy dissipels wat gedurende die laaste dae lewe te help om vas te stel hoe naby die einde is, gee Jesus hierdie gelykenis: “Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.”
Wanneer sy dissipels dus al die verskillende fasette van die teken in vervulling sien gaan, moet hulle besef dat die einde van die stelsel van dinge naby is en dat God se Koninkryk binnekort alle goddeloosheid sal uitwis. Trouens, die einde sal kom binne die leeftyd van die mense wat die vervulling sien van al die dinge wat Jesus voorspel! Jesus waarsku daardie dissipels wat gedurende die betekenisvolle laaste dae sal lewe, en sê:
“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Mattheüs 24:23-51, vgl. NW; Markus 13:21-37; Lukas 21:25-36; Openbaring 14:1, 3; Johannes 10:16.
◆ Deur watter wêreldtoestande word Christus se teenwoordigheid gekenmerk?
◆ Wanneer sal “al die stamme van die aarde rou bedryf”, maar wat sal Christus se volgelinge doen?
◆ Watter gelykenis gee Jesus om sy toekomstige dissipels te help onderskei wanneer die einde naby is?
◆ Watter waarskuwing gee Jesus sy dissipels wat gedurende die laaste dae sal lewe?