Gelukkig is dié wat wakker bly!
“Kyk! Ek kom soos ’n dief. Gelukkig is die een wat wakker bly en sy boklere bewaar.”—OPENBARING 16:15.
1. Wat kan ons verwag, aangesien Jehovah se dag naby is?
JEHOVAH se groot dag is naby, en dit beteken oorlog! Die apostel Johannes het in ’n visioen gesien hoe padda-agtige “uitinge wat deur demone geïnspireer is” na al die “konings”, of heersers, van die aarde uitgaan. Om wat te doen? “Om hulle te versamel vir die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”! Johannes het verder gesê: “Hulle het hulle versamel na die plek wat in Hebreeus Har–Magedon genoem word.”—Openbaring 16:13-16.
2. Wie is Gog van Magog, en wat sal gebeur wanneer hy Jehovah se volk aanval?
2 Jehovah sal binnekort die politieke element van hierdie stelsel beweeg om Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, te vernietig (Openbaring 17:1-5, 15-17). Dan sal Gog van Magog, Satan die Duiwel wat na die omgewing van die aarde neergewerp is, sy hordes aanvoer en ’n hewige aanval op Jehovah se vreedsame, skynbaar onbeskermde volk rig (Esegiël 38:1-12). Maar God sal optree om sy volk te red. Dit sal die begin van “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” aandui.—Joël 2:31, NW; Esegiël 38:18-20.
3. Hoe sou jy die gebeurtenisse beskryf wat in Esegiël 38:21-23 voorspel word?
3 Ja, Jehovah sal sy volk red en die laaste spoor van Satan se stelsel vernietig wanneer ons die wêreldsituasie bereik wat Har–Magedon, of Armageddon, genoem word. Lees die profetiese woorde van Esegiël 38:21-23, en stel jou die toneel voor. Jehovah oefen sy krag uit en bring oorstromende wolkbreuke, vernietigende haelstene, flitsende vuur, dodelike pes. Paniek heers wêreldwyd wanneer Gog se hordes verwar word sodat hulle teen mekaar veg. Enige oorlewende vyande van die almagtige God word tereggestel wanneer Jehovah van bonatuurlike middele gebruik maak om sy knegte te red. Wanneer die voorspelde “groot verdrukking” verby is, sal daar niks van Satan se goddelose stelsel oorbly nie (Matteus 24:21). Selfs tydens hulle doodsnikke sal die goddeloses egter besef wie verantwoordelik is vir die onheil wat hulle tref. Ons seëvierende God self sê: ‘Hulle sal weet dat Ek Jehovah is.’ Hierdie buitengewone gebeure sal in ons dag plaasvind, gedurende Jesus se teenwoordigheid.
Hy kom soos ’n dief
4. Hoe gaan Jesus kom om hierdie goddelose stelsel van dinge te vernietig?
4 Die verheerlikte Here Jesus Christus het gesê: “Kyk! Ek kom soos ’n dief.” As hy soos ’n dief kom, sal dit skielik wees, op ’n tyd wanneer dit nie verwag word nie, wanneer die meeste mense slaap. Wanneer Jesus soos ’n dief kom om hierdie goddelose stelsel te vernietig, sal hy dié wat waarlik wakker is, bewaar. Hy het vir Johannes gesê: “Gelukkig is die een wat wakker bly en sy boklere bewaar, sodat hy nie naak sal loop en mense sy skande sien nie” (Openbaring 16:15). Wat beteken hierdie woorde? En hoe kan ons geestelik wakker bly?
5. Watter reëling vir tempeldiens het bestaan toe Jesus op aarde was?
5 Gewoonlik sou ’n wag nie kaal uitgetrek word as hy op sy pos aan die slaap geraak het nie. Maar dit het by die tempel in Jerusalem gebeur toe Jesus op aarde was en afdelings van priesters en Leviete by die tempel in Jerusalem gedien het. In die 11de eeu v.G.J. het koning Dawid Israel se honderde priesters en hulle duisende Levitiese helpers in ’n organisasie met 24 afdelings ingedeel (1 Kronieke 24:1-18). Elke afdeling van meer as duisend opgeleide werkers het ten minste twee maal per jaar sy beurt geneem om ’n volle week op ’n slag die fasette van tempeldiens te behartig. By die Huttefees was al 24 afdelings egter teenwoordig vir diens. Ekstra hulp was ook met die Pasgavierings nodig.
6. Waarna het Jesus moontlik verwys toe hy gesê het: “Gelukkig is die een wat wakker bly en sy boklere bewaar”?
6 Toe Jesus gesê het: “Gelukkig is die een wat wakker bly en sy boklere bewaar”, het hy moontlik na ’n gebruik verwys wat destyds gevolg is met betrekking tot wagdiens by die tempel. Die Joodse Misjna sê: “Die priesters het op drie plekke in die Tempel wag gehou: by die Vertrek van Abtinas, by die Vertrek van die Vlam en by die Vertrek van die Vuurherd; en die Leviete op een-en-twintig plekke: vyf by die vyf poorte van die Tempelberg, vier by sy vier binnehoeke, vyf by vyf van die poorte van die Tempelvoorhof, vier by sy vier buitehoeke en een by die Vertrek van die Offers en een by die Vertrek van die Voorhangsel en een agter die plek van die Versoendeksel [buitekant die agterste muur van die Allerheiligste]. Die beampte van die Tempelberg het die rondte gedoen by elke wag met aangesteekte fakkels voor hom uit, en as enige wag nie opgestaan het en vir hom gesê het: ‘O beampte van die Tempelberg, vrede vir u!’ nie, en daar gesien kon word dat hy slaap, het hy hom met sy staf geslaan en het hy die reg gehad om sy klere te verbrand.”—Die Misjna, Middot (“Mate”), 1, paragrawe 1-2, vertaal deur Herbert Danby.
7. Waarom moes priesters en Leviete wat by die tempel wag gestaan het wakker bly?
7 Al die Leviete en priesters van die afdeling wat gedien het, het die hele nag wakker gebly om wag te staan en te keer dat enigiemand wat onrein is in die tempel se voorhowe inkom. Aangesien die “beampte van die Tempelberg”, of “die hoofman van die tempel”, gedurende die nagwake al 24 wagposte besoek het, moes elke wag op sy pos wakker bly as hy nie onverhoeds betrap wou word nie.—Handelinge 4:1.
8. Wat is die Christen se figuurlike boklere?
8 Gesalfde Christene en hulle medeknegte moet geestelik wakker bly en hulle figuurlike boklere aanhou. Dit is die uiterlike blyk dat ons in ’n bediening by Jehovah se geestelike tempel aangestel is. Ter erkenning hiervan het ons God se heilige gees, of werkende krag, om ons te help om ons pligte na te kom en ons voorregte as Koninkryksverkondigers uit te voer. As ons as God se bedienaars aan die slaap raak op ons pos sal ons gevaar loop om deur Jesus Christus, die Hoofman van die groot geestelike tempel, gevang te word. As ons in daardie tyd geestelik aan die slaap is, sal ons figuurlik kaal uitgetrek word en sal ons simboliese klere verbrand word. Hoe kan ons dan geestelik wakker bly?
Hoe ons wakker kan bly
9. Waarom is Bybelstudie met behulp van Christelike publikasies so belangrik?
9 Ywerige studie van die Skrif met behulp van Christelike publikasies werk geestelike waaksaamheid in die hand. Sulke studie sal ons vir die bediening toerus, sal ons help om krisisse die hoof te bied en sal ons die weg wys na ewige geluk (Spreuke 8:34, 35; Jakobus 1:5-8). Ons studie moet deeglik en progressief wees (Hebreërs 5:14–6:3). As ’n mens voedsame kos gereeld eet, kan dit jou help om wakker te bly. Dit kan die lusteloosheid voorkom wat ’n teken van ondervoeding kan wees. Ons het geen rede om geestelik ondervoed en lomerig te wees nie, want God maak oorvloedig voorsiening vir geestelike voedsel deur middel van die gesalfde “getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45-47). Gereelde inname van geestelike voedsel deur persoonlike en gesinstudie is een manier om wakker te bly en “gesond in die geloof” te wees.—Titus 1:13.
10. Hoe help Christelike vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste ons om geestelik wakker te bly?
10 Christelike vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste help om ons geestelik wakker te hou. Hulle voorsien aanmoediging en geleenthede om ‘mekaar tot liefde en voortreflike werke aan te spoor’. Ons moet gereeld vergader, veral namate ons “die dag sien nader kom”. Daardie dag is nou beslis naby. Dit is “Jehovah se dag”, wanneer hy sy soewereiniteit sal regverdig. As daardie dag vir ons werklik belangrik is—en dit moet so wees—sal ons ‘ons onderlinge vergadering nie nalaat nie’.—Hebreërs 10:24, 25; 2 Petrus 3:10.
11. Waarom kan daar gesê word dat die Christelike bediening noodsaaklik is vir geestelike waaksaamheid?
11 Heelhartige deelname aan die Christelike bediening is noodsaaklik vir geestelike waaksaamheid. ’n Gereelde en ywerige deelname aan die verkondiging van die goeie nuus hou ons wakker. Ons bediening bied ons baie geleenthede om met mense oor God se Woord, sy Koninkryk en sy voornemens te praat. Dit is bevredigend om van huis tot huis te getuig, herbesoeke te doen en tuisbybelstudies te hou in publikasies soos Kennis wat tot die ewige lewe lei. Ouer manne in eertydse Efese kon getuig dat Paulus hulle “in die openbaar en van huis tot huis” geleer het (Handelinge 20:20, 21). Party getroue Getuies van Jehovah het natuurlik ernstige gesondheidsprobleme wat hulle bediening tot ’n mate beperk, maar hulle vind maniere om ander van Jehovah en sy koningskap te vertel en put groot vreugde daaruit wanneer hulle dit doen.—Psalm 145:10-14.
12, 13. Om watter redes moet ons oormatige etery en strawwe drinkery vermy?
12 As ons onmatigheid vermy, sal dit ons help om geestelik wakker te bly. Toe Jesus van sy teenwoordigheid gepraat het, het hy sy apostels aangespoor: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon” (Lukas 21:7, 34, 35). Vraatsug en dronkenskap is strydig met Bybelbeginsels (Deuteronomium 21:18-21, NW). Spreuke 23:20, 21 sê: “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want ’n drinker en ’n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.”—Spreuke 28:7, NW.
13 Maar al het oormatige etery en strawwe drinkery nog nie daardie stadium bereik nie, kan dit ’n mens lomerig maak, selfs lui en nalatig om God se wil te doen. Daar sal natuurlik bekommernisse wees met betrekking tot gesinslewe, gesondheid, ensovoorts. Maar ons sal gelukkig wees as ons Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel en die vertroue het dat ons hemelse Vader in ons behoeftes sal voorsien (Matteus 6:25-34). Anders sal “dié dag . . . soos ’n strik” oor ons kom, moontlik soos ’n gekamoefleerde strik wat ons onverhoeds sal vang of soos ’n lokval met aas, soos dié wat niksvermoedende diere lok en vang. Dit sal nie gebeur as ons wakker bly en ten volle daarvan bewus is dat ons in “die tyd van die einde” lewe nie.—Daniël 12:4.
14. Waarom moet ons opreg bid?
14 Opregte gebed is nog ’n hulp om geestelik wakker te bly. In sy groot profesie het Jesus verder gemaan: “Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Ja, laat ons bid dat ons altyd aan Jehovah se kant sal wees en ’n goedgekeurde posisie sal geniet wanneer Jesus, die Seun van die mens, kom om hierdie goddelose stelsel van dinge te vernietig. Ons moet ‘wakker bly in gebed’ vir ons eie beswil en tot voordeel van medeaanbidders vir wie ons bid.—Kolossense 4:2; Efesiërs 6:18-20.
Die tyd raak min
15. Wat word deur ons werk as predikers van regverdigheid bereik?
15 Terwyl ons op die groot dag van Jehovah wag, is dit ongetwyfeld ons begeerte om soveel moontlik in sy diens te doen. As ons opreg tot hom bid hieroor, kan “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei” vir ons oopgemaak word (1 Korintiërs 16:8, 9). Op God se vasgestelde tyd sal Jesus oordeel vel en regverdige “skape” wat die ewige lewe waardig is, afskei van goddelose “bokke” wat ewige vernietiging verdien (Johannes 5:22). Dit is nie ons wat die skape van die bokke afskei nie. Maar ons werk as predikers van regverdigheid gee mense nou die geleentheid om ’n lewe van diens aan God te kies en gevolglik die hoop te hê om afgeskei te word om die lewe te beërf wanneer Jesus “in sy heerlikheid kom”. Die kort tydjie wat vir hierdie stelsel van dinge oorbly, vergroot die nodigheid vir heelhartige aktiwiteit terwyl ons diegene soek ‘wat die regte gesindheid vir die ewige lewe het’.—Matteus 25:31-46; Handelinge 13:48.
16. Waarom moet ons ywerige Koninkryksverkondigers wees?
16 Die tyd het opgeraak vir die wêreld van Noag se dag, en dit gaan binnekort opraak vir hierdie stelsel van dinge. Laat ons dus ywerige Koninkryksverkondigers wees. Ons predikingswerk gaan vooruit, want daar word elke jaar honderdduisende gedoop as simbool van hulle toewyding aan God. Hulle word deel van Jehovah se geseënde organisasie—“sy volk en die skape van sy weide” (Psalm 100:3). Wat ’n vreugde is dit tog om aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem, wat voor “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” vir so baie mense hoop bring!
17, 18. (a) Watter reaksie moet ons van party mense verwag wanneer ons preek? (b) Wat sal spotters beslis oorval?
17 Soos Noag geniet ons God se ondersteuning en beskerming. Ja, die mense, die gematerialiseerde engele en die Nefilim het sekerlik met Noag se boodskap gespot, maar dit het hom nie gekeer nie. Vandag spot party wanneer ons hulle aandag vestig op die oorvloedige bewys dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Sulke bespotting is ter vervulling van Bybelprofesieë aangaande Christus se teenwoordigheid, want Petrus het geskryf: “In die laaste dae [sal daar] spotters . . . kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan presies soos van die begin van die skepping af.’”—2 Petrus 1:16; 3:3, 4.
18 Hedendaagse spotters dink dalk: ‘Sedert die skepping het niks verander nie. Die lewe gaan voort, en mense eet, drink, trou en maak gesinne groot. Al is Jesus teenwoordig, sal hy tog nie in my dag oordeel voltrek nie.’ Hoe verkeerd is hulle tog! As hulle intussen nie weens ander oorsake sterf nie, sal die vreesinboesemende dag van Jehovah hulle beslis oorval, net soos rampspoedige vernietiging tydens die Vloed ’n einde gebring het aan ’n goddelose geslag in Noag se dag.—Matteus 24:34.
Ons moet wakker bly!
19. Hoe moet ons ons dissipelmaakwerk beskou?
19 As ons aan Jehovah toegewy is, mag ons nooit aan die slaap gesus word deur verkeerde redenasies nie. Dit is nou die tyd om wakker te bly, om geloof te beoefen in Goddelike profesieë en om ons opdrag uit te voer om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies’ (Matteus 28:19, 20). Noudat hierdie stelsel voor sy finale einde staan, kan ons geen groter voorreg hê nie as om Jehovah God onder die leierskap van Jesus Christus te dien en aan die wêreldwye werk deel te neem om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig voor die einde kom.—Matteus 24:14; Markus 13:10.
20. Watter voorbeeld het Kaleb en Josua gestel, en wat toon hulle lewenswandel vir ons?
20 Party van Jehovah se volk dien hom al dekades, moontlik hulle hele lewe lank. En al het ons eers onlangs ware aanbidding aangeneem, laat ons soos die Israeliet Kaleb wees, wat “Jehovah ten volle gevolg het” (Deuteronomium 1:34-36, NW). Hy en Josua was heeltemal gereed om die Beloofde Land in te gaan kort nadat Israel uit slawerny in Egipte gered is. Oor die algemeen het volwasse Israeliete egter ’n gebrek aan geloof gehad en moes hulle 40 jaar in die wildernis deurbring, waar hulle gesterf het. Kaleb en Josua het gedurende daardie hele tyd saam met hulle ontberinge verduur, maar daardie twee manne het uiteindelik die Beloofde Land binnegegaan (Numeri 14:30-34; Josua 14:6-15). As ons ‘Jehovah ten volle volg’ en geestelik wakker bly, sal ons die vreugde hê om God se beloofde nuwe wêreld in te gaan.
21. Wat sal ons te beurt val as ons geestelik wakker bly?
21 Die bewyse is duidelik dat ons in die tyd van die einde lewe en dat die groot dag van Jehovah naby is. Dit is nie nou die tyd om lomerig en nalatig te word wat die uitvoering van God se wil betref nie. Ons sal alleenlik geseën word as ons geestelik wakker bly en ons klere behou wat ons as Christenbedienaars en knegte van Jehovah identifiseer. Mag ons vasbeslote wees om ‘wakker te bly, vas te staan in die geloof, ons soos manne te gedra en sterk te word’ (1 Korintiërs 16:13). Mag ons almal as knegte van Jehovah standvastig en moedig wees. Dan sal ons onder diegene wees wat gereed is wanneer die groot dag van Jehovah aanbreek, en wat getrou dien in die geledere van die gelukkiges wat wakker bly.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe sou jy ons figuurlike boklere definieer, en hoe kan ons hulle behou?
◻ Wat is ’n paar maniere om geestelik wakker te bly?
◻ Waarom moet ons spotters verwag, en hoe moet ons hulle beskou?
◻ Hoe moet ons ons dissipelmaakwerk in hierdie laaste dae beskou?
[Prent op bladsy 16]
Christene het God se heilige gees om hulle te help om wakker te bly en hulle pligte uit te voer
[Prent op bladsy 15]
Is jy vasbeslote om geestelik wakker te bly en jou figuurlike boklere aan te hou?