Die teken—Slaan jy daarop ag?
“ONS wil hê dat mense van elke land voorspoed, welvaart en geluk moet geniet. Die weg daarheen is deur oorgang tot ’n kernvrye, geweldlose wêreld.”—Perestroika, deur Sowjetleier Mikhail Gorbatsjof.
Baie mense twyfel tereg of die mens werklik sulke wêreldtoestande kan bewerkstellig. ’n Ander leier, Jesus Christus, het iets beters beloof—’n paradysaarde waar selfs die afsterwingsproses ongedaan gemaak sal word (Mattheüs 5:5; Lukas 23:43; Johannes 5:28, 29). Dit sal natuurlik deur goddelike ingryping bewerkstellig word. In antwoord op die vraag “wanneer” sulke ingryping sou kom, het Jesus gesê: “Die koninkryk van God kom nie met opvallende waarneembaarheid nie.” Aanvanklik sal net besonder oplettende mense met figuurlike arendsoë dit besef (Lukas 17:20, 37, NW). Waarom?
Waarom ons die teken nodig het
Sedert sy hemelvaart woon Jesus Christus in “ontoeganklike lig . . . , wat geen mens gesien het of kan sien nie” (1 Timotheüs 6:16). Letterlike mense-oë sal hom dus nooit weer sien nie. Soos Jesus op die laaste dag van sy aardse lewe gesê het: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie” (Johannes 14:19). Hy kan net figuurlik gesien word.—Efesiërs 1:18; Openbaring 1:7.
Tog het Jesus gesê dat dit vir sy dissipels moontlik sou wees om te onderskei wanneer God se Koninkryk sou begin heers. Hoe? Deur middel van ’n teken. In antwoord op die vraag: “Wat is die teken van u [teenwoordigheid]?”, het Jesus sigbare bewyse van sy toekomstige, onsigbare heerskappy beskryf.—Mattheüs 24:3, vgl. NW.
Die teken het ’n illustrasie ingesluit wat toon watter soort mense daarby sou baat vind. “Want oral waar die dooie liggaam lê”, het Jesus gesê, “daar sal die [arende] saamkom” (Mattheüs 24:28, vgl. NW). Almal wat die einde van die huidige stelsel wil oorlewe en in God se nuwe wêreld wil ingaan, moet “saamkom” en saam met Christus se arendagtige “uitverkorenes” geestelike voedsel nuttig.—Mattheüs 24:31, 45-47.
Waak teen ongeduld
Geen mens kan die datum van die einde van die huidige goddelose stelsel bereken nie. “Van daardie dag en die uur”, het Jesus gesê, “weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.”—Markus 13:32, 33.
Maar kan die teken oor ’n tydperk van talle mensegeslagte voorkom? Nee. Die teken sal in een bepaalde geslag voorkom. Dieselfde geslag wat die begin van die teken gesien het, sal ook die hoogtepunt daarvan sien in ’n verdrukking soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af nie’. Drie geskiedskrywers, Mattheüs, Markus en Lukas, het Jesus se versekering hieroor opgeteken.—Markus 13:19, 30; Mattheüs 24:13, 21, 22, 34; Lukas 21:28, 32.
Die gevaar bestaan egter dat ’n mens ongeduldig kan word. Vier-en-sewentig jaar het sedert die begin van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 verloop. Uit ’n menslike oogpunt lyk dit dalk soos ’n baie lang tyd. Maar sommige skerpsiende Christene wat die Eerste Wêreldoorlog gesien het, is nog springlewendig. Hulle geslag het nog nie verbygegaan nie.
Toe Jesus die teken gegee het, het hy gewaarsku teen die gevaar van ongeduld. Hy het gepraat van individue wat in hulle hart sou sê: “My heer talm om te kom.” Jesus het getoon dat sulke gevoelens tot dwase optrede kan lei as dit nie bedwing word nie (Mattheüs 24:48-51). Christus se apostels het meer hieroor te sê gehad.
“Spotters”
Volgens die Bybelskrywer Judas het Christus se apostels die volgende waarskuwing gegee: “In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel.”—Judas 17, 18.
Die begeerte na lewe in ’n rein nuwe wêreld kan maklik deur “goddelose begeerlikhede” vervang word. Dit is vandag veral gevaarlik vanweë die wêreld se uitbeeldings- en kommunikasiemetodes. Nooit tevore in die mensegeskiedenis is geweld, spiritisme en geslagsonsedelikheid in so ’n mate ten toon gesprei nie. Dit is dikwels die tema van radio- en musiekprogramme, en word in talle TV-programme, video’s, advertensies, boeke en tydskrifte gesien.
Die teken wys op die einde van sulke goddeloosheid. Dit is dus natuurlik dat sommige mense wat hul in goddelose dinge verlustig met die teken spot. Soos voorspel is, voer hulle aan dat “alles [bly] soos dit was van die begin van die skepping of”.—2 Petrus 3:3, 4.
‘Liefde verkoel’
Die tydskrif Newsweek het onlangs ’n onderhoud met ’n 75-jarige Amerikaanse skrywer, Paul Bowles, gevoer. In antwoord op die vraag: “Hoe beskou jy die wêreld?”, het Bowles gesê: “Die wêreld het moreel verbrokkel. Niemand is meer eerlik soos hulle 60 jaar gelede was nie. Mense het geweet wat ’n heer is; dit was ’n gewaardeerde kenmerk van ons Westerse kultuur. Nou [gee] niemand [om] nie. Daar is ook ontsaglike klem op geld.”
Hierdie situasie is presies soos die Bybel voorspel het. Jesus het geprofeteer: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12; 2 Timotheüs 3:1-5). Namate selfsug en hebsug toeneem, neem liefde vir God af. AI hoe meer mense toon dat hulle hul eie begeertes bo God se wette stel deur by misdade, terrorisme, oneerlike sakepraktyke, geslagsonsedelikheid en dwelmmisbruik betrokke te raak.
Party mense herken die vervulling van die teken, maar versuim om daarvolgens te handel omdat hulle so besig is om hulself te behaag. As ’n mens op die teken ag slaan, vereis dit daarenteen dat jy volhardend onselfsugtige liefde vir God en jou naaste aan die dag lê.—Mattheüs 24:13, 14.
“Sorge van die lewe”
Jesus het ook gewaarsku dat daar, benewens selfsugtige genietinge, geoorloofde fisiese behoeftes is wat sommige mense so besig kan hou dat hulle die teken veronagsaam. Hy het gemaan: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en die dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.”—Lukas 21:34, 35.
Die Bybel staan natuurlik ’n gelukkige gesinslewe voor (Efesiërs 5:24–6:4). Dit is dikwels nodig dat ’n gesinshoof by die een of ander soort werk of onderneming betrokke moet wees om sy vrou en kinders te onderhou (1 Timotheüs 5:8). Maar dit sou kortsigtig wees om toe te laat dat ’n mens se lewe uitsluitend om die gesin, sake-aangeleenthede en materiële dinge draai. Vanweë hierdie gevaar het Jesus gewaarsku: “Soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. . . . Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.”—Lukas 17:26-30; Mattheüs 24:36-39.
“Saamgeneem” of “agtergelaat”?
Daar is min tyd oor. God se Koninkryk gaan binnekort tussenbeide tree om sake reg te stel. Dan sal elke mens op een van twee maniere geraak word. Soos Jesus verduidelik het: “Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.”—Mattheüs 24:40, 41, NAV.
Wat sal jou posisie wees wanneer daardie beslissende tyd aanbreek? Sal jy vir vernietiging agtergelaat word, of sal jy vir oorlewing saamgeneem word? Kyk weer na die illustrasie wat Jesus gegee het, om jou te help om die regte weg te kies: “Waar die liggaam lê, daar sal die [arende] saamkom.”—Lukas 17:34-37, vgl. NW; Mattheüs 24:28, vgl. NW
Jesus het sodoende beklemtoon dat versiende, verenigde optrede nodig is. Diegene wat vir oorlewing saamgeneem word, is mense wat gereeld vergader en baat vind by die geestelike voedsel wat God voorsien. Miljoene ontvang sulke geestelike voeding deur noue omgang met een van die meer as 55 000 gemeentes van Jehovah se Getuies en deur Bybelse publikasies soos dié wat jy nou lees te bestudeer.
Meer as driemiljoen getuies van Jehovah toon geloof in die teken deur die “goeie nuus van die koninkryk” aan hulle medemens te verkondig (Mattheüs 24:14, NW). Gee jy gehoor aan die goeie nuus? Dan kan jy die belofte van oorlewing tot in ’n aardse paradys ter harte neem.
[Prent op bladsy 5]
Baie is so betrokke by genietinge dat hulle die teken veronagsaam
[Prent op bladsy 6]
Mense wat op die teken ag slaan, sal saamkom om hulle met God se Woord te voed