Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 10/15 bl. 10-16
  • Waarom die messias moes kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom die messias moes kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onmiskenbare identifisering
  • Gesalf as Koning en Hoëpriester
  • Hoofverdediger van Jehovah se soewereiniteit
  • Die behoefte aan regstelling
  • “Ons het die Messias gevind”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • “Ons het die Messias gevind”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Jesus Christus–die sleutel tot die kennis van God
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Die Messias! God se middel tot redding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 10/15 bl. 10-16

Waarom die messias moes kom

“Ons het die Messias gevind.”—JOHANNES 1:42.

1. Watter verrassende mededeling is in die Bybel opgeteken, en wanneer is dit gedoen?

’NJOOD genaamd Andreas het meer as 1 950 jaar gelede die verrassende nuus hierbo aan sy broer meegedeel. Kan jy die opgewondenheid in sy woorde, wat deur die Christenapostel Johannes opgeteken is, aanvoel? ’n Christengeskiedskrywer, Lukas, het gesê dat daardie onvergeetlike jaar “die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius” was. Tiberius se 15de jaar, van die tyd toe hy tot Romeinse keiser verklaar is, het in September 28 G.J. begin en in September 29 G.J. geëindig.—Lukas 3:1-3, 21, 22; Johannes 1:32-35, 42.

2. Hoe het die profesie van Daniël aandag op die jaar 29 G.J. gevestig?

2 Die jaar wanneer die Messias sou verskyn, is akkuraat voorspel. Presies 483 jaar het verbygegaan sedert die Persiese koning Artasasta in die 20ste jaar van sy regering, 455 v.G.J., die opdrag gegee het om Jerusalem te herboua (Nehemia 2:1-8). Die profeet Daniël het voorspel: “Van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle [“weke”, NW]; en twee-en-sestig sewetalle [“weke”, NW]” (Daniël 9:25). Gevolglik sou hierdie twee belangrike gebeurtenisse deur ’n tydperk van 7 + 62 = 69 profetiese weke geskei word. Nege-en-sestig letterlike weke is gelyk aan 483 dae. Volgens die profetiese reël van “’n dag vir ’n jaar” sou die Messias 483 jaar later verskyn, dit wil sê, in 29 G.J.—Esegiël 4:6, NW.

3. (a) Wat beteken die titel “Messias”? (b) Watter profesieë moes die Messias vervul?

3 In 29 G.J. was “die volk” tereg “in verwagting” van die Messias (Lukas 3:1, 15). Die titel “Messias” beteken dieselfde as “Christus” in Grieks; albei beteken “Gesalfde” (Johannes 1:42). Die brandende vraagstuk onder baie Jode was: ‘Wie sal deur Jehovah God as koning gesalf word om, nie net oor Israel nie, maar oor die hele wêreld te regeer?’ Deur middel van profesieë was die keuse verminder tot ’n afstammeling van Abraham se agterkleinseun Juda. Daarbenewens moes die Messias ’n erfgenaam van die troon van die Judese koning Dawid wees en in Dawid se tuisdorp Betlehem gebore word.—Genesis 17:5, 6; 49:10; Psalm 132:11; Daniël 7:13, 14; Miga 5:1; Johannes 7:42.

Onmiskenbare identifisering

4, 5. (a) Wat het in die belangrike jaar 29 G.J. gebeur? (b) Op watter onmiskenbare manier is die een wat gekies is om die Messias te wees, geïdentifiseer?

4 In daardie belangrike jaar, 29 G.J., het die volgende gebeur: “Die woord van God [het] gekom tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn. En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig” (Lukas 3:2, 3). Johannes se bediening het berouvolle Jode voorberei om die naderende koms van die Messias te aanvaar. Daarbenewens het Jehovah vir Johannes ’n teken gegee. Hy moes soek na die een ‘op wie hy die gees sou sien neerdaal en bly’.—Johannes 1:33.

5 Nadat Johannes Jesus van Nasaret gedoop het, het hy hierdie onmiskenbare salwing gesien. Jesus is nie, soos sy aardse voorvader Dawid, met olie gesalf nie, maar met Jehovah God se heilige gees (1 Samuel 16:13; Handelinge 10:38). Terselfdertyd het God self gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mattheüs 3:16, 17). Soos Johannes later getuig het: “Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.”—Johannes 1:32, 34.

6. Watter goeie voorbeeld het Andreas en Johannes vir ons gestel?

6 Johannes die Doper het sy dissipels met sulke woorde getrou aan Jesus voorgestel, en het hom ook “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, genoem (Johannes 1:29). Twee dissipels het gou gereageer. Nadat hulle een dag saam met Jesus deurgebring het, was hulle heeltemal oortuig. Die een se naam was Andreas, en hy het sy broer, Simon Petrus, gretig opgesoek. Die ander dissipel was blykbaar Johannes die seun van Sebedeüs, wat Jesus se geliefde apostel geword het. Nadat hy byna 70 jaar van die Messias getuig het, het hierdie Johannes die inligting hierbo vir ons onthalwe neergeskryf. Raak sy voorbeeld en dié van Andreas jou hart? Is jy net so gretig soos hulle en die ander “apostels van die Lam” om die opwindende waarhede oor die Messias te verkondig?—Openbaring 1:9; 21:14; Johannes 1:35-42; Handelinge 5:40-42.

Gesalf as Koning en Hoëpriester

7. Waarom kon Jesus nie in Jerusalem se tempel as priester dien nie?

7 Jesus is “gebore onder die wet”, omdat hy as deel van die Joodse nasie gebore is (Galasiërs 4:4). Hy was van die stam van Juda en kon dus nie as priester by Jehovah se tipiese tempel dien nie, want die priesters wat daar gedien het, was almal afstammelinge van Aäron uit die stam van Levi. “Onse Here [het] uit Juda voortgespruit . . . , en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie”, het die apostel Paulus mede-Christene herinner.—Hebreërs 7:14.

8. Wat is deur Jehovah se aardse tempel voorafgeskadu?

8 Die apostel Johannes het geskryf: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld” (Johannes 1:6-9). Toe Jesus gedoop is, was dit asof ’n groot geestelike tempel geskep is, omdat daar nou ’n geestelike hoëpriester was wat die mensdom kon red van slawerny aan Satan se wêreld van geestelike duisternis.—Hebreërs 8:1-5; 9:24.

9, 10. (a) Wat het Jesus bedoel met die woorde: “Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie” en: “U het vir My ’n liggaam berei”? (b) Hoe het Jesus persoonlik hieroor gevoel?

9 Jesus was besig om te bid toe hy gedoop is. Die Bybel bevat van sy betekenisvolle woorde, soos die apostel Paulus dit later aangehaal het: “Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ’n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God.”—Hebreërs 10:5-7; Lukas 3:21.

10 Sodoende het Jesus die profesie in Psalm 40:7-9, wat Jehovah se voorneme voorspel het om ’n einde te maak aan diere-offers wat deur Aäronitiese priesters in Jerusalem se tempel geoffer is, op homself toegepas. Daardie offerandes het Jehovah nie “behaag” nie, want hulle was net afbeeldings en kon nie ten volle versoening doen vir mensesonde nie. Jehovah het derhalwe ’n volmaakte menseliggaam vir Jesus voorberei sodat hy dit kon offer. God het die lewe van sy hemelse Seun na die baarmoeder van ’n Joodse maagd oorgeplaas. Jesus is dus onbesmet deur Adam se sonde gebore. Hy was ’n volmaakte menseseun van God, wie se lewe versoening kon doen vir die sonde van die mensdom (Lukas 1:30-35). Soos Psalm 40:9 voorspel het, was dit Jesus se opregte begeerte om sy Vader se wil te doen. “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal [“eens vir altyd”, NW].”—Hebreërs 10:10, 11.

11. Watter profesie is deur die Messias se dood vervul, en hoe het dit ‘slagoffer laat ophou’?

11 Die feit dat Jesus se menselewe eens vir altyd geoffer is, het verdere offerandes by die tipiese tempel in Jerusalem onnodig gemaak. Daarbenewens het hy op die Pasgadag van 33 G.J. gesterf. Dit was ongeveer drie en ’n half jaar na hy gedoop is. Die drie en ’n half jaar is gelyk aan ’n halwe profetiese week (Numeri 14:34). Sake het dus presies uitgewerk soos Daniël oor die afsnyding van die Messias voorspel het: “Gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou” (Daniël 9:26, 27). Hoewel die tipiese priesterdom in Jerusalem gefunksioneer het tot die tempel in 70 G.J. vernietig is, het die offerandes wat die priesters gedurende daardie jare gebring het geen waarde meer gehad nie, aangesien Jesus se beter offerande hulle vervang het.—Mattheüs 23:37, 38.

12. Op watter manier is Jesus se priesterskap beter as dié van Aäron?

12 Aäron was die eerste in ’n lang reeks Israelitiese hoëpriesters. Nadat hy met heilige olie gesalf is, moes hy sewe dae lank in die tabernakel wag voor hy in staat gestel is om as hoëpriester te begin dien (Levitikus 8:12, 33). Jesus moes eweneens wag voordat hy in staat gestel is om ten behoewe van die mensdom op te tree. Dit was van die tyd toe hy as Hoëpriester gesalf is tot sy opstanding. Anders as Aäron, het die onsterflike Seun van God geen opvolgers nodig nie, en hy dien as Priester sowel as Koning “volgens die orde van Melgisedek”.—Psalm 110:1-4; Genesis 14:18-20; Hebreërs 6:20; 7:1-3, 11-17, 23-25.

13. (a) Watter swaar verantwoordelikheid het die hoëpriesters van Israel gedra? (b) Hoe het Jesus Christus ’n selfs groter verantwoordelikheid op hom geneem?

13 In eertydse Israel het die hoëpriester die grootste verantwoordelikheid vir juiste godsdiensonderrig gedra (Levitikus 10:8-11; Maleagi 2:7). Jesus het gevolglik Jehovah se regverdige vereistes bekend gemaak aan almal wat die Koninkryk en die ewige lewe wil beërwe (Mattheüs 6:9, 10, 33; 7:28, 29; 11:12, NW; 25:34, 46). Toe Jesus in ’n sinagoge in Nasaret was, het hy hierdie profesie gelees en op homself toegepas: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring.” Daarna, nadat hy ’n ruk in Kapernaüm gebly het, het hy gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:18, 19, 43; Jesaja 61:1, 2). Jesus het ook 70 van sy volgelinge opgelei om hierdie Koninkrykspredikingswerk uit te brei, en hy het voorspel dat hulle groter werke sou doen as wat hy self gedoen het (Lukas 10:1-9; Johannes 14:12). Dit het die grondslag gelê vir ’n wêreldwye Bybelonderrigtingsveldtog wat Jesus deur middel van ‘die getroue dienskneg’, wat uit sy gesalfde volgelinge bestaan, sou lei.—Mattheüs 24:45-47; 28:19.

Hoofverdediger van Jehovah se soewereiniteit

14. (a) Waarom het Israel se hoëpriester op die jaarlikse Versoendag in die Allerheiligste ingegaan? (b) Wat is deur die geurige reukwerk afgebeeld?

14 Die belangrikste rede waarom God se Seun na die aarde toe gekom het, was nie om die mensdom te red nie. Dit was eerder om die lasterlike geskille te besleg wat Satan in verband met Jehovah se soewereiniteit geopper het. Ons sal dit beter verstaan as ons dink aan Israel se jaarlikse Versoendag, waartydens die tipiese hoëpriester ’n paar keer in die Allerheiligste moes ingaan. Die eerste keer het hy ingegaan met geurige reukwerk wat op ’n wierookpan met gloeiende kole gegooi is (Levitikus 16:12-16). Dit was ’n goeie voorstelling van wat die antitipiese Hoëpriester op aarde sou doen voordat hy na die hemel opgevaar het om met die waarde van sy mense-offer voor Jehovah te verskynb (Hebreërs 9:24). Soos deur die gebruik van die reukwerk getoon word, is Jesus se getroue lewe gekenmerk deur opregte gebede, ’n brandende ywer vir ware aanbidding en ’n innige liefde vir Jehovah (Psalm 141:2; Markus 1:35; Johannes 2:13-17; 12:27, 28; 14:30, 31; Hebreërs 5:7). Jesus het daarin geslaag om volmaakte onkreukbaarheid te handhaaf ondanks al die subtiele versoekings, bespotting en wrede vervolging wat Satan en sy trawante oor hom gebring het.—Spreuke 27:11; Mattheüs 22:15-19; Markus 14:60-65; 15:16-32; Lukas 4:13, 29; Johannes 8:44, 59.

15. Hoe kan ons ons dankbaarheid teenoor Jehovah toon omdat hy ons so ’n uitstekende hoëpriester gegee het? (Hebreërs 10:21-26).

15 Omdat Jesus Jehovah se soewereiniteit verdedig het, is hy beloon met ’n opstanding tot onsterflike lewe in die hemel. Hoe dankbaar moet ons tog wees dat Jehovah ons so ’n uitstekende Hoëpriester gegee het! “Terwyl ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou” (Hebreërs 4:14). Is dit jou opregte begeerte om Jesus se voorbeeld van onkreukbaarheid te volg, ongeag wat die Duiwel doen? Indien wel, kan jy op hulp reken, en jy kan slaag. Dit is omdat die heel beste hulp beskikbaar is. “Ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”—Hebreërs 4:15, 16; 5:7-10; Filippense 4:13; 1 Johannes 2:1, 2.

Die behoefte aan regstelling

16. Watter verwagtinge het die Messias se vroeë dissipels met betrekking tot sy Koninkryksheerskappy gehad?

16 Andreas en Johannes het die ware Messias gou geïdentifiseer, maar hulle en ander vroeë dissipels moes nog baie leer (Johannes 16:12, 13). Soos talle godsdienstige Jode van daardie tyd het hulle gehoop dat die Messiaanse Koninkryk destyds sou begin regeer en dat dit die nasie Israel en sy hoofstad, Jerusalem, van nie-Joodse oorheersing sou verlos (Lukas 2:38; 3:15; 19:11; 23:51; 24:21). Maar watter blywende voordeel sou dit vir die sondige mensdom ingehou het?

17, 18. Waarom het Jesus die gelykenis oor “’n man van hoë geboorte” vertel?

17 Dit was noodsaaklik dat die Messias eers soos ’n offerlam doodgemaak word sodat sonde en die dood van sy toekomstige Koninkryksonderdane verwyder kon word (Johannes 1:29; Jesaja 53:7, 12). Toe Jesus voorspel het hoe dit sou gebeur en hoe hy opgewek sou word, het Petrus gesê: “Wees goed vir uself, Heer, u sal hierdie bestemming geensins hê nie” (Mattheüs 16:21, 22, NW). Maar Jesus het geweet dat sy dissipels “die gesegde nie verstaan nie”.—Markus 9:31, 32; vergelyk Mattheüs 17:22, 23.

18 Gedurende sy laaste reis na Jerusalem het Jesus dit selfs duideliker gestel (Mattheüs 20:18, 19). Hy het ook getoon watter groot voordeel sy dood inhou en gesê: ‘Die Seun van die mens het gekom om sy lewe te gee as ’n losprys vir baie’ (Mattheüs 20:28). Verkeerde verwagtinge het veroorsaak dat sy dissipels dit nie kon verstaan nie. Lukas berig: ‘Hy was naby Jerusalem en hulle het gedink dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn.’ Om hulle denke reg te stel het Jesus ’n gelykenis vertel waarin hy homself vergelyk het met “’n man van hoë geboorte” wat eers ‘na ’n ver land moes reis om vir homself ’n koningskap te ontvang’ (Lukas 19:11, 12). Daardie “land” was die hemel, waarheen Jesus ná sy dood en opstanding opgevaar het.

19. (a) Watter verkeerde verwagting het Jesus se dissipels na sy opstanding uitgespreek? (b) Watter verandering in God se verhouding met mense het met Pinkster 33 G.J. ingetree? (Hebreërs 8:7-9, 13).

19 Maar net voor Jesus se hemelvaart het sy dissipels gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Handelinge 1:6). Het Jesus hulle verwerp omdat hulle dit gevra het? Nee, hy het verduidelik dat dit nog nie die tyd daarvoor was nie en dat hulle hul moes besig hou met die belangrike werk om van die ware Messias te getuig (Handelinge 1:7, 8). God se verbondsverhouding met natuurlike Israel sou kort voor lank eindig. Die toekomstige Messiaanse Koninkryk sou gevolglik nie aan daardie ontroue aardse nasie teruggegee word nie. Jesus het vir sy Joodse teenstanders gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Mattheüs 21:43). Tien dae na Jesus in die hemel opgevaar het, is daardie nasie gebore. Heilige gees is op 120 van Jesus se dissipels uitgegiet en hulle is dus gesalf om God se “heiliges” en “mede-erfgename van Christus” in die komende Messiaanse Koninkryk te wees.—Daniël 7:13, 14, 18; Romeine 1:7; 8:1, 16, 17; Handelinge 2:1-4; Galasiërs 6:15, 16.

20. Wat het getroue eerste-eeuse Christene gedoen ondanks die feit dat hulle verkeerde verwagtinge gehad het?

20 Selfs nadat hulle gesalf is, het die eerste-eeuse Christene verkeerde verwagtinge gehad (2 Thessalonicense 2:1, 2). Maar pleks van ontevrede tou-opgooiers te word, het hulle die teregwysing nederig aanvaar. Met die krag van God se heilige gees, het hulle die toewysing om te getuig en ‘dissipels van al die nasies te maak’ vreugdevol aanvaar.—Mattheüs 28:19; Handelinge 1:8; Kolossense 1:23.

21. Watter vrae sal in ons volgende artikel bespreek word?

21 Wat van ons 20ste eeu? Was Jehovah se hedendaagse knegte wakker vir die oprigting van Jehovah se Messiaanse Koninkryk? En moes hulle verwagtinge, soos dié van hulle eerste-eeuse broers, ook in sommige opsigte reggestel word?

[Voetnote]

a The Encyclopedia Americana en die Great Soviet Encyclopedia sê albei dat Artasasta se regering in 424 v.G.J. geëindig het. Wanneer het dit begin? In 474 v.G.J. Ter stawing hiervan is een argeologiese inskripsie gedateer in Artasasta se 50ste jaar; ’n ander toon dat hy in sy 51ste jaar opgevolg is. As ’n mens 50 volle jare van 424 v.G.J. af terugtel, kom jy op 474 v.G.J. uit as die begin van sy heerskappy. Artasasta se 20ste jaar, toe die bevel gegee is, sal dus 19 volle jare in sy regering in wees, dit wil sê, 455 v.G.J. Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 616, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word, vir verdere besonderhede.

b Sien Die Wagtoring van 15 Junie 1974, bladsye 269-70.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat beteken die titel “Messias”?

◻ Watter belangrike gebeurtenis het in die jaar 29 G.J. plaasgevind?

◻ Hoe het die Messias ‘slagoffer gedurende die helfte van die week laat ophou’?

◻ Watter verantwoordelikheid het Jesus op hom geneem vandat hy gesalf is?

◻ Wat was die hoofdoel van die Messias se eerste koms, en hoe behoort dit ons te raak?

[Prent op bladsy 16]

Die hoëpriester se eerste ingang in die Allerheiligste het iets voorgestel wat belangriker is as die redding van die mensdom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel