Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 7/1 bl. 14-19
  • Jehovah se groot geestelike tempel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se groot geestelike tempel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die hemelse Allerheiligste
  • Ander aspekte van God se geestelike tempel
  • Die Heilige
  • Die groter heerlikheid van God se geestelike tempel
  • Waardeer jou voorreg om in Jehovah se geestelike tempel te aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “’n Huis van gebed vir al die nasies”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Waarom die messias moes kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 7/1 bl. 14-19

Jehovah se groot geestelike tempel

“Ons het só ’n hoëpriester, . . . ’n openbare dienaar van die heiligdom en van die ware tent, wat Jehovah opgerig het en nie ’n mens nie.”—HEBREËRS 8:1, 2.

1. Watter liefdevolle voorsiening het God ten behoewe van die sondige mensdom gemaak?

JEHOVAH GOD het uit sy groot liefde vir die mensdom ’n offerande voorsien om die sondes van die wêreld weg te neem (Johannes 1:29; 3:16). Dit het vereis dat hy die lewe van sy eersgebore Seun vanuit die hemel na die baarmoeder van ’n Joodse maagd met die naam Maria oorplaas. Jehovah se engel het aan Maria verduidelik dat die kind wat sy sou baar “heilig, God se Seun, genoem [sou] word” (Lukas 1:34, 35). Josef, wat aan Maria verloof was, is aangaande die wonderdadige aard van Jesus se bevrugting ingelig, en daar is vir hom gesê dat hierdie kind “sy volk van hulle sondes [sou] red”.—Matteus 1:20, 21.

2. Wat het Jesus gedoen toe hy ongeveer 30 jaar oud was, en waarom?

2 Terwyl Jesus grootgeword het, het hy ongetwyfeld sommige van hierdie feite aangaande sy wonderdadige geboorte begryp. Hy het geweet dat sy hemelse Vader wou hê dat hy ’n lewensreddende werk op aarde moes doen. Daarom het Jesus, as ’n volwasse man van ongeveer 30, na God se profeet Johannes gegaan om in die Jordaanrivier gedoop te word.—Markus 1:9; Lukas 3:23.

3. (a) Wat het Jesus bedoel met die woorde: “Offerande en offer wou u nie hê nie”? (b) Watter uitstaande voorbeeld het Jesus vir almal gestel wat sy dissipels wil word?

3 Jesus het ten tyde van sy doop gebid (Lukas 3:21). Hy het klaarblyklik van hierdie tydstip af in sy lewe die woorde van Psalm 40:7-9 vervul, soos later deur die apostel Paulus getoon word: “Offerande en offer wou u nie hê nie, maar u het vir my ’n liggaam berei” (Hebreërs 10:5). Jesus het dus getoon dat hy bewus was daarvan dat God ‘nie wou hê’ dat mense moes voortgaan om diereofferandes by Jerusalem se tempel te offer nie. Hy het besef dat God eerder ’n volmaakte menseliggaam vir hom, Jesus, berei het om as ’n offerande te bring. Diereofferandes sou nie meer nodig wees nie. Jesus het getoon dat dit sy hartgrondige begeerte was om hom aan God se wil te onderwerp deur verder te bid: “Kyk! Ek kom (in die rol van die boek staan daar van my geskrywe) om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:7). Wat ’n uitstekende voorbeeld van moed en onselfsugtige toegewydheid het Jesus tog op daardie dag gestel vir almal wat later sy dissipels sou word!—Markus 8:34.

4. Hoe het God getoon dat hy dit goedkeur dat Jesus homself geoffer het?

4 Het God getoon dat hy Jesus se gebed ten tyde van sy doop goedgekeur het? Laat een van Jesus se gekose apostels ons die antwoord gee: “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom; en kyk! die hemele is geopen, en hy het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom kom. Kyk! Ook was daar ’n stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.’”—Matteus 3:16, 17; Lukas 3:21, 22.

5. Wat is deur die letterlike tempelaltaar afgebeeld?

5 Die feit dat God die aanbieding van Jesus se liggaam as offerande aanvaar het, het in geestelike sin beteken dat ’n altaar wat groter was as die een in Jerusalem se tempel na vore gekom het. Die letterlike altaar waar diere gebring is om geoffer te word, het daardie geestelike altaar voorafgeskadu, wat in werklikheid God se “wil” of reëling was om Jesus se menselewe as ’n offerande te aanvaar (Hebreërs 10:10). Dit is waarom die apostel Paulus aan mede-Christene kon skryf: “Ons het ’n altaar waarvan dié wat by die tent [of, tempel] heilige diens verrig geen reg het om te eet nie” (Hebreërs 13:10). Met ander woorde, ware Christene vind baat by ’n voortrefliker soenofferande, wat deur die meeste Joodse priesters verwerp is.

6. (a) Wat het na vore gekom toe Jesus gedoop is? (b) Wat beteken die titel Messias, of Christus?

6 Die salwing van Jesus met heilige gees het beteken dat God nou sy hele geestelike tempelreëling voortgebring het, met Jesus wat as Hoëpriester dien (Handelinge 10:38; Hebreërs 5:5). Die dissipel Lukas is geïnspireer om die jaar van hierdie betekenisvolle gebeurtenis noukeurig aan te wys, naamlik “die vyftiende regeringsjaar van Tiberius Caesar” (Lukas 3:1-3). Dit kom ooreen met die jaar 29 G.J.—presies 69 weke van jare, oftewel 483 jaar, van die tyd af dat koning Artasasta die bevel gegee het dat Jerusalem se mure herbou moes word (Nehemia 2:1, 5-8). Volgens profesie sou “’n Gesalfde, ’n Vors” in daardie vasgestelde jaar verskyn (Daniël 9:25). Baie Jode was klaarblyklik bewus hiervan. Lukas deel ons mee dat “die volk in afwagting verkeer het” oor die verskyning van die Messias, oftewel Christus, titels wat afkomstig is van Hebreeuse en Griekse woorde wat dieselfde betekenis het, naamlik “gesalfde”.—Lukas 3:15.

7. (a) Wanneer het God “die Heilige van Heiliges” gesalf, en wat het dit beteken? (b) Wat anders het met Jesus gebeur toe hy gedoop is?

7 Toe Jesus gedoop is, is God se hemelse woning gesalf, of afgesonder, as “die Heilige van Heiliges” in die groot geestelike tempelreëling (Daniël 9:24, NW). “Die ware tent [of, tempel], wat Jehovah opgerig het en nie ’n mens nie” het in werking getree (Hebreërs 8:2). Deur sy doop met water en heilige gees is die mens Jesus Christus ook weer gebore as ’n geestelike Seun van God. (Vergelyk Johannes 3:3.) Dit het beteken dat God op sy bepaalde tyd sy Seun tot hemelse lewe sou terugroep, waar hy “vir ewig . . . volgens die wyse van Melgisedek” aan sy Vader se regterhand as Koning en Hoëpriester sou dien.—Hebreërs 6:20; Psalm 110:1, 4.

Die hemelse Allerheiligste

8. Watter nuwe betekenis het God se troon in die hemel nou aangeneem?

8 Op die dag toe Jesus gedoop is, het God se hemelse troon nuwe betekenis aangeneem. Die identifisering van ’n volmaakte menseofferande om versoening te doen vir die sondes van die wêreld het God se heiligheid in teenstelling met die mens se sondigheid beklemtoon. God se barmhartigheid is ook na vore gebring deurdat hy nou sy gewilligheid getoon het om versoening te laat plaasvind, oftewel dat die vrede herstel kan word. God se troon in die hemel het dus soos die binneste vertrek van die tempel geword, waar die hoëpriester een keer per jaar met dierebloed ingegaan het om op sinnebeeldige wyse versoening te doen vir sonde.

9. (a) Wat het die voorhangsel tussen die Heilige en die Allerheiligste afgebeeld? (b) Hoe het Jesus toegang verkry tot anderkant die voorhangsel van God se geestelike tempel?

9 Die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het, het Jesus se vleeslike liggaam afgebeeld (Hebreërs 10:19, 20). Dit is die versperring wat Jesus verhinder het om in sy Vader se teenwoordigheid in te gaan terwyl hy ’n mens op die aarde was (1 Korintiërs 15:50). Toe Jesus gesterf het, is “die voorhangsel van die heiligdom . . . van bo tot onder in twee geskeur” (Matteus 27:51). Dit het op treffende wyse aangedui dat die versperring wat Jesus daarvan weerhou het om in die hemel in te gaan nou verwyder is. Drie dae later het Jehovah God ’n uitsonderlike wonderwerk verrig. Hy het Jesus uit die dood opgewek, nie as ’n sterflike mens van vlees en bloed nie, maar as ’n glorieryke geesskepsel wat “vir ewig bly lewe” (Hebreërs 7:24). Veertig dae later het Jesus na die hemel opgevaar en die werklike “Heilige van Heiliges” binnegegaan, om “vir ons voor die persoon van God te verskyn”.—Hebreërs 9:24.

10. (a) Wat het gebeur nadat Jesus die waarde van sy offerande vir sy hemelse Vader aangebied het? (b) Wat het die salwing met heilige gees vir Christus se dissipels beteken?

10 Het God die waarde van Jesus se vergote bloed as versoening vir die sondes van die wêreld aanvaar? Hy het beslis. Presies 50 dae ná Jesus se opstanding, op die dag van die Pinksterfees, is daar bewys gelewer hiervan. God se heilige gees is uitgestort op 120 van Jesus se dissipels wat in Jerusalem vergader het (Handelinge 2:1, 4, 33). Soos hulle Hoëpriester, Jesus Christus, was hulle nou gesalf om te dien as “’n heilige priesterdom . . . , om geestelike offerandes te bring” onder God se groot geestelike tempelreëling (1 Petrus 2:5). Hierdie gesalfdes het daarbenewens ’n nuwe nasie uitgemaak, God se “heilige nasie” van geestelike Israel. Voortaan sou alle profesieë van goeie dinge wat op Israel betrekking het, soos die belofte vir ’n “nuwe verbond” wat in Jeremia 31:31 opgeteken staan, op die gesalfde Christengemeente, die ware “Israel van God”, van toepassing wees.—1 Petrus 2:9; Galasiërs 6:16.

Ander aspekte van God se geestelike tempel

11, 12. (a) Wat is deur die priesterlike voorhof in die geval van Jesus afgebeeld, en wat is dit in die geval van sy gesalfde volgelinge? (b) Wat beeld die waskom af, en hoe word dit gebruik?

11 Hoewel die Allerheiligste “die hemel self” afgebeeld het, waar God op sy troon sit, hou al die ander aspekte van God se geestelike tempel verband met dinge op die aarde (Hebreërs 9:24). In die tempel in Jerusalem was daar ’n binneste priesterlike voorhof waarin daar ’n offeraltaar en ’n groot waskom met water was, wat die priesters gebruik het om hulle te reinig voordat hulle heilige diens verrig het. Wat beeld hierdie dinge af in God se geestelike tempelreëling?

12 In die geval van Jesus Christus het die binneste priesterlike voorhof sy sondelose toestand as ’n volmaakte menslike Seun van God afgebeeld. Deur geloof in Jesus se offerande te beoefen, word regverdigheid aan gesalfde volgelinge van Christus toegeskryf. Daarom kan God tereg met hulle handel asof hulle sondeloos is (Romeine 5:1; 8:1, 33). Gevolglik beeld hierdie voorhof ook die toegeskrewe regverdige menslike toestand af wat individuele lede van die heilige priesterdom voor God geniet. Terselfdertyd is gesalfde Christene steeds onvolmaak en kan hulle nog sondig. Die waskom in die voorhof beeld God se Woord af, wat die Hoëpriester gebruik om die heilige priesterdom progressief te reinig. Deur hulle aan hierdie reinigingsproses te onderwerp, het hulle ’n skitterende voorkoms verkry wat God vereer en buitestanders na sy rein aanbidding aantrek.—Efesiërs 5:25, 26; vergelyk Maleagi 3:1-3.

Die Heilige

13, 14. (a) Wat beeld die Heilige van die tempel af in die geval van Jesus en sy gesalfde volgelinge? (b) Wat word deur die goue kandelaar afgebeeld?

13 Die eerste vertrek van die tempel beeld ’n toestand af wat voortrefliker is as dié van die voorhof. In die geval van die volmaakte mens Jesus Christus beeld dit sy wedergeboorte as ’n geestelike Seun van God af wat bestem was om tot hemelse lewe terug te keer. Nadat die gesalfde volgelinge regverdig verklaar is op grond van hulle geloof in Christus se vergote bloed, ondervind hulle ook hierdie spesiale werking van God se gees (Romeine 8:14-17). Deur “water [dit wil sê hulle doop] en gees” word hulle “weer gebore” as geestelike seuns van God. As sodanig het hulle die hoop om opgewek te word tot hemelse lewe as geesseuns van God, mits hulle tot die dood getrou bly.—Johannes 3:5, 7; Openbaring 2:10.

14 Priesters wat in die Heilige van die aardse tempel gedien het, is nie gesien deur aanbidders wat buite was nie. Gesalfde Christene ondervind eweneens ’n geestelike toestand waaraan die meeste aanbidders van God, wie se hoop dit is om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe, nie ’n aandeel het nie of wat hulle nie ten volle verstaan nie. Die goue kandelaar van die tabernakel beeld die verligte toestand van gesalfde Christene af. Die werking van God se heilige gees, soos die olie in die lampe, werp lig op die Bybel. Die begrip wat Christene as gevolg hiervan verkry, hou hulle nie vir hulleself nie. Hulle is eerder gehoorsaam aan Jesus, wat gesê het: “Julle is die lig van die wêreld. . . . Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:14, 16.

15. Wat word deur die brood op die tafel van toonbrode afgebeeld?

15 Om in hierdie verligte toestand te bly, moet gesalfde Christene hulle gereeld voed met wat deur die brood op die tafel van toonbrode afgebeeld word. Hulle vernaamste bron van geestelike voedsel is die Woord van God, wat hulle daagliks probeer lees en bepeins. Jesus het ook belowe om hulle van “voedsel op die regte tyd” te voorsien deur middel van sy “getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45). Hierdie “slaaf” is die hele liggaam van gesalfde Christene op aarde op enige gegewe tyd. Christus het hierdie gesalfde liggaam gebruik om inligting oor die vervulling van Bybelprofesieë te publiseer en om tydige riglyne te gee oor die toepassing van Bybelbeginsels in ons hedendaagse tye. Gevolglik waardeer gesalfde Christene al hierdie geestelike voorsienings waardeur hulle gevoed word. Maar hulle geestelike lewe word nie net onderhou deur kennis van God in hulle verstande en harte in te neem nie. Jesus het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Gesalfde Christene put eweneens bevrediging daaruit om hulle daagliks daarop toe te lê om God se geopenbaarde wil te doen.

16. Wat word deur diens by die reukaltaar afgebeeld?

16 In die oggend en in die aand het ’n priester reukwerk op die reukaltaar in die Heilige aan God geoffer. Niepriesterlike aanbidders sou terselfdertyd tot God bid terwyl hulle in die buitenste voorhowe van sy tempel gestaan het (Lukas 1:8-10). “Die reukwerk”, verduidelik die Bybel, “beteken die gebede van die heiliges” (Openbaring 5:8). “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan”, het die psalmis Dawid geskryf (Psalm 141:2). Gesalfde Christene koester ook hulle voorreg om Jehovah deur Jesus Christus in gebed te nader. Vurige gebede wat uit die hart kom, is soos aangename reukwerk. Gesalfde Christene loof God ook op ander maniere deur hulle lippe te gebruik om ander te onderrig. God word veral deur hulle volharding ten spyte van teenspoed en hulle onkreukbaarheid onder beproewing behaag.—1 Petrus 2:20, 21.

17. Wat was betrokke by die vervulling van die profetiese afbeelding wat voorsien is deur die hoëpriester se eerste ingang in die Allerheiligste op die Versoendag?

17 Op die Versoendag moes Israel se hoëpriester in die Allerheiligste ingaan en reukwerk op ’n goue wierookbak brand waarin daar gloeiende kole was. Dit moes gedoen word voordat hy die bloed van die sondoffer ingebring het. Ter vervulling van hierdie profetiese afbeelding het die mens Jesus algehele onkreukbaarheid teenoor Jehovah God gehandhaaf voordat hy sy lewe as die een blywende offerande vir ons sondes geoffer het. Hy het dus getoon dat ’n volmaakte mens wel sy onkreukbaarheid teenoor God kan handhaaf ongeag die druk wat Satan op hom uitoefen (Spreuke 27:11). Toe Jesus beproef is, het hy gebid “met sterk uitroepe en trane . . . , en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor” (Hebreërs 5:7). Sodoende het hy Jehovah as die regverdige en regmatige Soewerein van die heelal verheerlik. God het Jesus beloon deur hom uit die dood tot onsterflike hemelse lewe op te wek. In hierdie verhewe posisie skenk Jesus aandag aan die sekondêre rede waarom hy aarde toe gekom het, naamlik om berouvolle mensesondaars met God te versoen.—Hebreërs 4:14-16.

Die groter heerlikheid van God se geestelike tempel

18. Hoe het Jehovah uitsonderlike heerlikheid aan sy geestelike tempel verleen?

18 “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre”, het Jehovah voorspel (Haggai 2:9). Deur Jesus as ’n onsterflike Koning en Hoëpriester op te wek, het Jehovah sy geestelike tempel met uitsonderlike heerlikheid vervul. Jesus is nou in ’n posisie om “ewige redding van almal wat hom gehoorsaam” te bewerk (Hebreërs 5:9). Die eerstes wat sulke gehoorsaamheid getoon het, was die 120 dissipels wat op Pinkster 33 G.J. heilige gees ontvang het. Die boek Openbaring het voorspel dat hierdie geestelike seuns van Israel uiteindelik 144 000 in getal sou wees (Openbaring 7:4). Nadat hulle gesterf het, moes baie van hulle in ’n toestand van onbewustheid in die mensdom se gemeenskaplike graf lê en wag vir die tyd van Jesus se teenwoordigheid in koninklike mag. Die profetiese chronologie in Daniël 4:10-17, 20-27 wys na 1914 as die tyd vir Jesus om te midde van sy vyande te begin heers (Psalm 110:2). Gesalfde Christene het dekades voor die tyd gretig op daardie jaar gewag. Die eerste wêreldoorlog en die gepaardgaande weë wat oor die mensdom gekom het, het bewys gelewer dat Jesus inderdaad in 1914 as Koning gekroon is (Matteus 24:3, 7, 8). Kort daarna, toe die tyd aangebreek het vir “oordeel om by die huis van God te begin”, het Jesus die belofte aan sy ontslape gesalfde dissipels vervul: “Ek [kom] weer en sal julle tuis ontvang by my.”—1 Petrus 4:17; Johannes 14:3.

19. Hoe sal die oorblyfsel van die 144 000 toegang verkry tot die hemelse Allerheiligste?

19 Die 144 000 lede van die heilige priesterdom is nog nie almal finaal verseël en na hulle hemelse tuiste geneem nie. ’n Oorblyfsel van hulle lewe steeds op die aarde in die geestelike toestand wat deur die Heilige afgebeeld word, afgeskei van God se heilige teenwoordigheid deur die “voorhangsel”, of versperring, van hulle vleeslike liggame. Wanneer hierdie persone getrou sterf, word hulle onmiddellik as onsterflike geesskepsele opgewek om by diegene van die 144 000 aan te sluit wat reeds in die hemel is.—1 Korintiërs 15:51-53.

20. Watter lewensbelangrike werk verrig die oorblywende lede van die heilige priesterdom tans, en wat het dit tot gevolg?

20 Met soveel priesters wat saam met die groot Hoëpriester in die hemel dien, het God se geestelike tempel bykomende heerlikheid ontvang. Intussen verrig die oorblywende lede van die heilige priesterdom ’n belangrike werk op aarde. Deur middel van hulle prediking ‘skud God al die nasies’ met uitinge van sy oordeel, soos in Haggai 2:7 (NW) voorspel is. Terselfdertyd stroom miljoene aanbidders wat beskryf word as “die begeerlike dinge van al die nasies” na die aardse voorhowe van Jehovah se tempel. Hoe pas hierdie persone by God se reëling vir aanbidding in, en watter toekomstige heerlikheid kan ons vir sy groot geestelike tempel verwag? Hierdie vrae sal in die volgende artikel ondersoek word.

Hersieningsvrae

◻ Watter uitstaande voorbeeld het Jesus in 29 G.J. gestel?

◻ Watter reëling het in 29 G.J. in werking getree?

◻ Wat word deur die Heilige en die Allerheiligste afgebeeld?

◻ Hoe is die groot geestelike tempel verheerlik?

[Prent op bladsy 17]

Toe Jesus in 29 G.J. met heilige gees gesalf is, het God se groot geestelike tempel in werking getree

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel