Van ons lesers
Was jou hande Ek is 11, en ek wil vir julle dankie sê vir die artikel “Was jou hande en droog hulle af!” (22 November 1998). Dit het my gewys dat ek my hande moet was voordat ek eet en nadat ek die toilet gebruik het. In ons dorp is infeksies iets algemeens en daarom het die artikel baie gehelp.
M. F., Italië
Eenvoudige dinge Dankie vir die brokkie “Kinders verkies eenvoudige dinge” in “Ons beskou die wêreld” (22 November 1998). Ek woon nie by my kinders nie, en ek mag hulle net een keer elke drie maande sien. Ek het nie geweet wat om te doen wanneer ons tyd saam deurbring nie, en omdat ek bang was dat hulle verveeld sou raak, het ek baie dinge beplan. Net voordat ons dag saam aangebreek het, het ek hierdie brokkie gelees. Dit het net op die regte tyd gekom!
M. J., Japan
Slange Baie dankie vir julle artikel “Algemene mites oor slange” (22 Oktober 1998). Die sewe punte wat julle genoem het, het beslis baie onkunde by die publiek uit die weg geruim oor hierdie fassinerende diere waarvan ons dikwels ’n wanbegrip het.
R. K., Verenigde State
Voorkom brandwonde Ek was besorg toe ek die brokkie “Voorsorgmaatreëls terwyl jy kosmaak” in “Ons beskou die wêreld” (8 Desember 1998) gelees het. Dit het verwys na ’n nuusbrief wat mense aangeraai het om op die voorste branders van die stoof kos te maak. Maar dit is teenstrydig met raad wat ek gehoor het aan ouers gegee is—dat hulle altyd die agterste branders moet gebruik, waar kinders nie kan bykom nie.
M. B., Engeland
Ons waardeer hierdie veiligheidswenk. Die raad waaroor ons verslag gedoen het, was hoofsaaklik op bejaardes gerig, van wie sommige se moue aan die brand geraak het terwyl hulle potte op die agterste branders probeer bykom het. Moeders met jong kinders moet natuurlik kospotte buite hulle bereik hou.—RED.
Hoe Jesus gelyk het Baie dankie vir die reeks artikels “Jesus—Hoe het hy werklik gelyk? Wat is hy nou?” (8 Desember 1998). Jesus word dikwels verkeerd uitgebeeld in kerke, prente en films. Ek het dit veral geniet om te lees oor die rol wat Jesus nou speel en wat hy in die toekoms sal speel. Hy is nie net ’n babatjie in ’n krip nie.
M. W., Oostenryk
Ek was nog nooit so bly oor ’n artikel nie! Ek is oortuig dat hierdie reeks baie mense sal help om Jehovah se Getuies en ons tydskrifte te vertrou.
B. D., Joego-Slawië
Dit was wonderlik om te lees dat Jesus nie ’n swakkeling was nie en dat hy nie die heeltyd met ’n treurige uitdrukking op sy gesig rondgeloop het soos gewilde kunswerke hom al uitgebeeld het nie. Hy was eerder ’n manlike en sterk persoon wat sy Vader, “die gelukkige God”, nagevolg het.—1 Timoteus 1:11.
R. O. R., Brasilië
Op bladsy 8 het julle gesê dat “God die lewe van Jesus na die baarmoeder van ’n Joodse maagd oorgeplaas” het. Aangesien Jesus volmaak was, beteken dit dan dat daar geen spoor van Adam se gene in hom was nie?
J. G., Verenigde State
Voordat Maria Jesus ontvang het, het die engel Gabriël vir haar gesê: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Om dié rede sal ook wat gebore word heilig, God se Seun, genoem word” (Lukas 1:35). God se heilige gees het klaarblyklik ’n eiersel in Maria se baarmoeder vrugbaar laat word, en die lewe van God se eersgebore Seun van die geesteryk na die aarde toe oorgeplaas. Die heilige gees het ongetwyfeld verseker dat hierdie Seun se volmaakte manlike lewenskrag enige Adamitiese onvolmaaktheid in Maria se eiersel sou uitskakel, terwyl sekere genetiese eienskappe behoue gebly het. Jesus het waarskynlik na Maria gelyk.—RED.