Jesus se lewe en bediening
Die beroemdste preek wat ooit gelewer is
DIE toneel is een van die onvergeetlikstes in Bybelgeskiedenis: Jesus sit teen ’n berghelling en lewer sy beroemde Bergpredikasie. Dit is digby die see van Galilea, waarskynlik naby Kapernaüm. Jesus het die hele nag in gebed tot God deurgebring, en die volgende oggend het hy 12 van sy dissipels uitgekies om apostels te wees. Toe het hy saam met hulle almal afgeklim na hierdie gelykte op die berg.
’n Mens sou dink dat Jesus teen hierdie tyd baie moeg sou wees en sou wou slaap. Maar groot skares het gekom, party al die pad van Judea en Jerusalem, wat sowat 100 tot 110 kilometer daarvandaan is. Ander het van die kusgebied van Tirus en Sidon in die noorde gekom. Hulle het gekom om na Jesus te luister en van hulle siektes genees te word. Daar is selfs mense wat deur die demone gekwel word.
Terwyl Jesus afkom, kom siekes nader om hom aan te raak, en hy maak hulle almal gesond. Daarna klim Jesus blykbaar na ’n hoër plek teen die berg. Hy gaan sit daar en begin om die skares wat op die gelykte voor hom is te leer. En dink net daaraan! Daar is nou nie eers een persoon in die hele gehoor wat aan ’n ernstige kwaal ly nie!
Die mense is gretig om die onderrigter te hoor wat hierdie verbasende wonderwerke kan verrig. Maar Jesus lewer sy preek hoofsaaklik tot nut van sy dissipels, wat waarskynlik die naaste aan hom sit. Mattheüs sowel as Lukas het dit egter neergeskryf sodat ons ook daarby baat kan vind.
Mattheüs se verslag van die preek is nagenoeg vier keer langer as Lukas s’n. Daarbenewens is van die dinge wat Mattheüs opteken volgens Lukas op ’n ander tydstip in Jesus se bediening gesê, soos jy sal sien as jy Mattheüs 6:9-13 met Lukas 11:1-4 en Mattheüs 6:25-34 met Lukas 12:22-31 vergelyk. Maar dit behoort ons nie te verbaas nie. Jesus het klaarblyklik dieselfde dinge meer as een keer geleer en Lukas het verkies om party van hierdie leringe teen ’n ander agtergrond op te teken.
Dit is nie net die ryk geestelike inhoud van Jesus se preek wat dit so waardevol maak nie, maar die eenvoudige en duidelike manier waarop hy hierdie waarhede oorgedra het. Hy het gebruik gemaak van alledaagse ondervindinge en dinge waarmee mense bekend is, en so het hy sy idees maklik verstaanbaar gemaak vir almal wat ’n beter lewenswyse op God se weg soek. In ons volgende nommers sal ons van die dinge bespreek wat hy gesê het. Lukas 6:12-20; Mattheüs 5:1, 2.
♦ Waar het Jesus sy onvergeetlikste preek gelewer, wie was teenwoordig en wat het plaasgevind kort voor hy dit gelewer het?
♦ Waarom is dit nie verbasend dat Lukas party van die leringe van die preek teen ’n ander agtergrond opteken nie?
♦ Wat maak Jesus se preek so waardevol?