Wees daders van die woord, nie net hoorders nie
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—MATTHEÜS 7:21.
1. Wat moet die volgelinge van Jesus aanhou doen?
HOU aan vra. Hou aan soek. Hou aan klop. Volhard in die gebed, studie en die toepassing van Jesus se woorde wat in die Bergpredikasie opgeteken is. Jesus sê vir sy volgelinge dat hulle die sout van die aarde is met ’n duursame boodskap wat met sout besprinkel is, en hulle moenie toelaat dat dit laf word en sy smaaklikheid of sy duursaamheid verloor nie. Hulle is die lig van die wêreld, wat die lig van Christus Jesus en Jehovah God weerspieël, nie net deur wat hulle sê nie, maar ook deur wat hulle doen. Hulle goeie werke skyn net soveel soos hulle verligtende woorde—en kan selfs meer krag hê in ’n wêreld wat gewoond is aan die Fariseïese skynheiligheid van godsdiens- sowel as politieke leiers, wat baie sê en min doen.—Mattheüs 5:13-16.
2. Watter vermaning gee Jakobus, maar watter gerieflike standpunt neem sommige verkeerdelik in?
2 Jakobus maan: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22). Baie bedrieg hulleself met die leerstelling ‘eenmaal gered altyd gered’, asof hulle nou maar kan aftree en op ’n sogenaamde hemelse beloning kan wag. Dit is ’n valse leerstelling en ’n ydele hoop. “Wie volhard tot die einde toe,” het Jesus gesê, “hy sal gered word” (Mattheüs 24:13). Om die ewige lewe te verkry, moet jy ‘tot die dood toe getrou wees’.—Openbaring 2:10; Hebreërs 6:4-6; 10:26, 27.
3. Wat leer Jesus vervolgens aangaande oordeel in die Bergpredikasie?
3 Terwyl Jesus sy Bergpredikasie voortgesit het, was daar al hoe meer woorde wat Christene moet probeer toepas. Hier is een wat eenvoudig lyk, maar dit veroordeel een van die moeilikste neigings om van ontslae te raak: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”—Mattheüs 7:1-5.
4. Watter bykomende onderrig gee Lukas se verslag, en wat het die toepassing daarvan tot gevolg?
4 In Lukas se verslag van die Bergpredikasie het Jesus vir sy hoorders gesê om nie met ander fout te vind nie. Hulle moes eerder aanhou ‘vryspreek’, dit wil sê, die tekortkominge van hulle medemens vergewe. Dit sal veroorsaak dat ander dienooreenkomstig optree, soos Jesus gesê het: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”—Lukas 6:37, 38.
5. Waarom is dit soveel makliker om die tekortkominge van ander pleks van ons eie te sien?
5 Gedurende die eerste eeu G.J. was die Fariseërs, vanweë mondelinge oorleweringe, oor die algemeen geneig om ander kras te oordeel. Enige van Jesus se luisteraars wat in daardie gewoonte verval het, moes daarmee ophou. Dit is soveel makliker om die splinters in die oë van ander te sien as die balke in ons eie oë—en baie gerusstellender vir ons ego! Soos een man gesê het: “Ek kritiseer ander graag omdat dit my so goed laat voel!” As ons ander voortdurend berispe, gee dit ons dalk ’n gevoel van deugsaamheid, wat blykbaar vergoed vir ons eie foute wat ons wil wegsteek. Maar indien teregwysing nodig is, moet dit in ’n gees van sagmoedigheid gegee word. Die persoon wat teregwys, moet altyd van sy eie tekortkominge bewus wees.—Galasiërs 6:1.
Probeer verstaan voordat jy oordeel
6. Waarop moet ons oordele, wanneer nodig, gegrond wees, en watter hulp moet ons soek sodat ons nie té krities is nie?
6 Jesus het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om dit te red. Enige oordele wat hy uitgespreek het, was nie syne nie, maar was gegrond op die woorde wat God hom gegee het om te spreek (Johannes 12:47-50). Enige oordele wat ons uitspreek, moet eweneens met Jehovah se Woord strook. Ons moet die menslike neiging om veroordelend te wees, onderdruk. Om dit reg te kry, moet ons voortdurend tot Jehovah bid om hulp: “Hou aan vra, en dit sal vir jou gegee word; hou aan soek, en jy sal vind; hou aan klop, en daar sal vir jou oopgemaak word. Want almal wat vra, ontvang, en almal wat soek, vind, en vir almal wat klop, sal oopgemaak word” (Mattheüs 7:7, 8, NW). Selfs Jesus het gesê: “Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.”—Johannes 5:30.
7. Watter gewoonte moet ons aankweek wat ons sal help om die Gulde Reël toe te pas?
7 Ons moet die gewoonte aankweek om mense nie te oordeel nie, maar om hulle te probeer verstaan deur onsself in hulle posisie te plaas—nie ’n maklike ding om te doen nie, maar noodsaaklik as ons die Gulde Reël wil nakom wat Jesus vervolgens uitgespreek het: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete” (Mattheüs 7:12). Jesus se volgelinge moet dus sensitief wees en begrip toon vir die verstandelike, emosionele en geestelike toestand van ander. Hulle moet op ander se behoeftes let en dit verstaan en persoonlike belangstelling toon deur hulle te help (Filippense 2:2-4). Paulus het jare later geskryf: “Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Galasiërs 5:14.
8. Watter twee weë het Jesus bespreek, en waarom kies die meeste mense een van hulle?
8 “Gaan in deur die nou poort”, het Jesus voorts gesê, “want breed en wyd is die weg wat na vernietiging lei, en daar is baie wat daardeur ingaan; maar nou is die poort en smal die weg wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheüs 7:13, 14, NW). Baie mense in daardie tyd het die weg na vernietiging gekies en baie kies dit steeds. Die breë weg laat mense toe om te dink wat hulle wil en te lewe soos hulle wil: geen reëls, geen verpligtinge nie, net ’n ontspanne lewenstyl waar alles maklik is. Niks van hierdie “stry hard om in te gaan deur die nou poort” vir hulle nie!—Lukas 13:24.
9. Wat behels dit om op die smal weg te wandel, en watter waarskuwing gee Jesus aan diegene wat daarop wandel?
9 Maar dit is die nou poort wat op die weg oopmaak wat na die ewige lewe lei. Dit is ’n lewenswyse wat selfbeheersing vereis. Dit kan dissipline behels wat jou beweegredes sal ondersoek en die aard van jou toegewydheid sal toets. Wanneer vervolginge uitbreek, word die weg moeilik en verg dit volharding. Jesus waarsku diegene wat op hierdie weg wandel: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mattheüs 7:15). Hierdie beskrywing het die Fariseërs volkome gepas (Mattheüs 23:27, 28). Hulle het ‘op die stoel van Moses gesit’ en beweer dat hulle namens God spreek terwyl hulle die oorleweringe van mense gevolg het.—Mattheüs 23:2.
Hoe Fariseërs ‘die koninkryk toesluit’
10. Op watter spesifieke manier het die skrifgeleerdes en Fariseërs ‘die koninkryk voor die mense probeer toesluit’?
10 Daarbenewens het die Joodse geestelikes diegene probeer keer wat deur die nou poort wou ingaan. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Mattheüs 23:13). Die Fariseërs se metode was presies soos Jesus gewaarsku het. Hulle het ‘sy dissipels se naam weggegooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens’ (Lukas 6:22). Omdat die man wat blind gebore was en deur Christus genees is, geglo het dat Jesus die Messias is, het hulle hom uit die sinagoge geban. Sy ouers wou geen vrae beantwoord nie omdat hulle bang was dat hulle uit die sinagoge geban sou word. Ander wat geglo het dat Jesus die Messias was, het om dieselfde rede gehuiwer om dit in die openbaar te erken.—Johannes 9:22, 34; 12:42; 16:2.
11. Watter identifiserende vrugte bring die geestelikes van die Christendom voort?
11 “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken”, het Jesus gesê. “Elke goeie boom [dra] goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Mattheüs 7:16-20). Dieselfde reël geld vandag. Baie geestelikes van die Christendom sê een ding en doen ’n ander. Hoewel hulle beweer dat hulle die Bybel verkondig, onderskryf hulle godlasterlike leerstellinge soos die Drie-eenheid en die helse vuur. Ander verloën die losprys, leer evolusie pleks van die skepping en verkondig populêre sielkunde om die ore te streel. Soos die Fariseërs is talle geestelikes van vandag geldgierig en hulle melk hulle kuddes van miljoene rande (Lukas 16:14). Hulle almal roep uit “Here, Here”, maar Jesus antwoord hulle: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”—Mattheüs 7:21-23.
12. Waarom het sommige wat voorheen op die smal weg gewandel het daarvan afgewyk, en met watter gevolge?
12 Vandag het sommige wat voorheen op die smal weg gewandel het daarvan afgewyk. Hulle sê dat hulle Jehovah liefhet, maar hulle is nie gehoorsaam aan sy opdrag om te preek nie. Hulle sê dat hulle Jesus liefhet, maar hulle voed nie sy skape nie (Mattheüs 24:14; 28:19; Johannes 21:15-17, vgl. NW; 1 Johannes 5:3). Hulle wil nie in dieselfde juk wees saam met diegene wat in Jesus se voetspore wandel nie. Hulle het die smal weg té smal gevind. Hulle het moeg geword vir weldade en het dus “van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het” (1 Johannes 2:19). Hulle het in die donkerheid teruggegaan, en “hoe groot is die donkerheid nie!” (Mattheüs 6:23). Hulle het Johannes se versoek veronagsaam: “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”—1 Johannes 3:18.
13, 14. Watter illustrasie het Jesus gegee oor die toepassing van sy woorde in ons lewe, en waarom was dit so gepas vir diegene in Palestina?
13 Jesus het sy Bergpredikasie afgesluit met ’n dramatiese illustrasie: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.”—Mattheüs 7:24, 25.
14 In Palestina kon swaar reëns water met die droë stroomdale langs in vernietigende blitsvloede laat afstroom. Huise se fondamente moes op soliede rots wees om te bly staan. Lukas se verslag toon dat die man “gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het” (Lukas 6:48). Dit was harde werk, maar dit was die moeite werd toe die storm losgebars het. As ons dus Christelike eienskappe op die woorde van Jesus bou, sal dit lonend wees wanneer die blitsvloed van teenspoed ons tref.
15. Wat sal die gevolge wees vir diegene wat oorleweringe van mense volg, pleks van Jesus se woorde te gehoorsaam?
15 Die ander huis is op sand gebou: “Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.” So sal dit wees vir diegene wat sê “Here, Here”, maar versuim om Jesus se woorde toe te pas.—Mattheüs 7:26, 27.
“Nie soos die skrifgeleerdes nie”
16. Watter uitwerking het die Bergpredikasie gehad op diegene wat daarna geluister het?
16 Watter uitwerking het die Bergpredikasie gehad? “En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mattheüs 7:28, 29). Hulle is in hulle diepste wese geraak deur iemand wat gepraat het met gesag wat hulle nog nooit voorheen gehoor het nie.
17. Wat moes die skrifgeleerdes doen om hulle leer geloofwaardig te maak, en wat het hulle beweer oor afgestorwe wysgere wie se woorde aangehaal is?
17 Geen skrifgeleerde het ooit op eie gesag gepraat nie, soos hierdie geskiedverslag toon: “Die skrifgeleerdes het geloofwaardigheid vir hulle leer aan oorleweringe, en die vaders daarvan, ontleen: en geen preek van enige skrifgeleerde het hoegenaamd gesag of waarde gehad sonder [die woorde] . . . Die Rabbyne het ’n oorlewering, of . . . Die wyse manne sê; of die een of ander soortgelyke tradisionele orakel nie. Hillel die Grote het getrou aan en ooreenkomstig die oorlewering aangaande ’n spesifieke saak onderrig; ‘Maar hoewel hy die hele dag lank oor daardie saak gepraat het, . . . het hulle nie sy leer aanvaar nie, totdat hy uiteindelik gesê het: Dit het ek van Sjemaia en Abtalion gehoor [gesaghebbendes voor Hillel]’” (A Commentary on the New Testament From the Talmud and Hebraica, deur John Lightfoot). Die Fariseërs het selfs van wysgere wat lank reeds dood was, beweer: “Wanneer iemand ’n beginsel van die wet in die regverdiges se naam aanhaal, fluister die regverdiges se lippe in die graf saam.”—Torah—From Scroll to Symbol in Formative Judaism.
18. (a) Watter verskil was daar tussen die lering van die skrifgeleerdes en dié van Jesus? (b) In watter opsigte was Jesus se leer so uitsonderlik?
18 Die skrifgeleerdes het dooies as gesaghebbende bronne aangehaal; Jesus het met die gesag van die lewende God gepraat (Johannes 12:49, 50; 14:10). Rabbi’s het troebel water uit geslote waterputte opgetrek; Jesus het fonteine vars water opgetrek wat ’n innerlike dors geles het. Hy het die hele nag deur gebid en gepeins, en toe hy gepraat het, het hy dieptes in mense geraak waarvan hulle nooit voorheen bewus was nie. Hy het met ’n krag gepraat wat hulle kon aanvoel, ’n gesag wat selfs skrifgeleerdes, Fariseërs en Sadduseërs mettertyd nie wou uitdaag nie (Mattheüs 22:46; Markus 12:34; Lukas 20:40). Nog nooit het ’n mens so gepraat nie! Aan die einde van die predikasie was die skare verstom!
19. Hoe stem sommige onderrigmetodes wat Jehovah se Getuies vandag gebruik ooreen met dié wat Jesus in die Bergpredikasie gebruik het?
19 Wat van vandag? Jehovah se Getuies gebruik as bedienaars van huis tot huis soortgelyke metodes. ’n Huisbewoner sê vir jou: “My kerk sê dat die aarde gaan verbrand.” Jy antwoord: “Jou eie Afrikaanse Bybel sê in Prediker 1:4: ‘Die aarde bly vir ewig staan.’” Die persoon is verbaas. “Wel, ek het nooit geweet dat dit in my Bybel staan nie!” ’n Ander sê: “Ek het nog altyd gehoor dat sondaars in ’n helse vuur sal brand.” “Maar jou eie Bybel sê in Romeine 6:23: ‘Die loon van die sonde is die dood.’” Of oor die Drie-eenheid: “My predikant sê dat Jesus en sy Vader gelyk is.” “Maar in Johannes 14:28 sê jou Bybel dat Jesus gesê het: ‘My Vader is groter as Ek.’” Iemand anders sê vir jou: “Ek het gehoor dat die Koninkryk van God binne-in jou is.” Jou antwoord: “In Daniël 2:44 sê jou Bybel: ‘In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie . . . dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.’ Hoe kan dit binne-in jou wees?”
20. (a) Watter kontras is daar tussen die manier van onderrig van die Getuies en dié van die geestelikes van die Christendom? (b) Waarvoor is dit nou die tyd?
20 Jesus het met gesag van God gepraat. Jehovah se Getuies praat met die gesag van God se Woord. Die geestelikes van die Christendom verkondig godsdiensoorleweringe wat besoedel is met leerstellinge wat uit Babilon en Egipte oorgelewer is. Wanneer opregte mense hoor dat die Bybel hulle opvattings weerlê, is hulle verstom en sê hulle: ‘Ek het nooit geweet dat dit in my Bybel staan nie!’ Maar dit is. Dit is nóú die tyd vir almal wat van hulle geestelike behoefte bewus is om ag te slaan op Jesus se woorde in die Bergpredikasie en sodoende op ’n stewige rotsfondament te bou.
Hersieningsvrae
◻ In plaas van mense te oordeel, wat moet ons probeer doen, en waarom?
◻ Waarom kies so baie mense vandag die breë weg?
◻ Waarom het Jesus se onderrigmetode so verskil van dié van die skrifgeleerdes?
◻ Watter uitwerking het die Bergpredikasie op diegene gehad wat daarna geluister het?