Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 3/15 bl. 30-bl. 32 par. 11
  • Glanspunte uit die boek Lukas

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glanspunte uit die boek Lukas
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VROEË BEDIENING
  • (Luk. 1:1–9:62)
  • JESUS SE LATERE BEDIENING
  • (Luk. 10:1–24:53)
  • Bybelboek nommer 42—Lukas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Die Christelike godsdiens—Was Jesus die weg na God?
    Die mensdom se soeke na God
  • Bybelboek nommer 41—Markus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 3/15 bl. 30-bl. 32 par. 11

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Lukas

MATTEUS se Evangelie is blykbaar hoofsaaklik vir die Joodse leser geskryf en Markus se Evangelie vir die nie-Joodse leser. Maar die Evangelie van Lukas was vir mense van alle nasies bedoel. Die boek Lukas is omstreeks 56-58 G.J. geskryf en bevat ’n uitvoerige verslag van Jesus se lewe en bediening.

Lukas, as ’n liefdevolle en pligsgetroue geneesheer, speur “alles van die begin af noukeurig” na en dek ’n tydperk van 35 jaar—vanaf 3 v.G.J. tot 33 G.J. (Luk. 1:3). Byna 60 persent van die inligting in Lukas se Evangelie is uniek.

VROEË BEDIENING

(Luk. 1:1–9:62)

Nadat Lukas besonderhede verskaf oor die geboorte van Johannes die Doper en van Jesus, vertel hy ons dat Johannes sy bediening begin het in die 15de regeringsjaar van keiser Tiberius, dit wil sê in die noordelike lente van 29 G.J. (Luk. 3:1, 2). In die noordelike herfs van daardie jaar is Jesus deur Johannes gedoop (Luk. 3:21, 22). Teen 30 G.J. ‘keer Jesus na Galilea terug en begin hy in hulle sinagoges leer’.—Luk. 4:14, 15.

Jesus begin sy eerste predikingsreis in Galilea. Hy vertel die skare: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak” (Luk. 4:43). Hy neem Simon die visserman en ander saam met hom. Hy sê: “Van nou af sal [julle] mense lewend vang” (Luk. 5:1-11; Matt. 4:18, 19). Die 12 apostels vergesel Jesus gedurende sy tweede predikingsreis deur Galilea (Luk. 8:1). Op die derde reis stuur hy die 12 uit “om die koninkryk van God te verkondig en om gesond te maak”.—Luk. 9:1, 2.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:35—Het Maria se eiersel, of ovum, ’n rol gespeel in haar swangerskap? Vir Maria se kind om ’n ware afstammeling van haar voorvaders Abraham, Juda en Dawid te wees, soos God belowe het, moes haar ovum betrokke gewees het by haar swangerskap (Gen. 22:15, 18; 49:10; 2 Sam. 7:8, 16). Maar Jehovah se heilige gees is gebruik om die volmaakte lewe van God se Seun oor te plaas en bevrugting te laat plaasvind (Matt. 1:18). Dit wil voorkom of dit enige onvolmaaktheid wat in Maria se ovum bestaan het, uitgeskakel het en van die begin af die ontwikkelende embrio teen enigiets skadeliks beskerm het.

1:62—Het Sagaria stom en doof geword? Nee. Net sy spraak is aangetas. Ander het “deur gebare” gevra wat hy graag die kind wou noem, maar nie omdat Sagaria doof was nie. Hy het waarskynlik gehoor wat sy vrou oor hulle seun se naam gesê het. Dalk het ander gebare gebruik om Sagaria hieroor te vra. Die feit dat net sy spraak herstel moes word, dui aan dat Sagaria se gehoor nie aangetas is nie.—Luk. 1:13, 18-20, 60-64.

2:1, 2—Hoe help die verwysing na “hierdie eerste registrasie” ons om die tyd van Jesus se geboorte vas te stel? Onder keiser Augustus het meer as een registrasie plaasgevind—die eerste in 2 v.G.J. ter vervulling van Daniël 11:20 en die tweede in 6 of 7 G.J. (Hand. 5:37). Quirinius het tydens albei hierdie registrasies as goewerneur van Sirië gedien en blykbaar twee keer daardie posisie beklee. Lukas se verwysing na die eerste registrasie dui daarop dat Jesus in 2 v.G.J. gebore is.

2:35—In watter sin sou “’n lang swaard” Maria se siel deurboor? Dit het verwys na die onsteltenis wat Maria sou ervaar wanneer sy sien hoe die meeste mense Jesus as die Messias verwerp, asook die droefheid wat sy sou ondervind oor sy pynlike dood.—Joh. 19:25.

9:27, 28—Waarom sê Lukas dat die gedaanteverandering plaasgevind het “agt dae” nadat Jesus sy dissipels belowe het dat party van hulle “glad nie die dood [sal] smaak” totdat hulle hom in sy Koninkryk sien kom het nie, terwyl beide Matteus en Markus sê dat dit “ses dae later” gebeur het? (Matt. 17:1; Mark. 9:2). Lukas sluit klaarblyklik twee ekstra dae in—die dag waarop die belofte gemaak is en die dag waarop dit vervul is.

9:49, 50—Waarom het Jesus nie ’n man gekeer wat demone uitgedryf het nie, selfs al was die man nie een van sy volgelinge nie? Jesus het die man nie gekeer nie omdat die Christengemeente toe nog nie gevorm was nie. Die man kon dus geloof in Jesus se naam beoefen en demone uitdryf, al het hy Jesus nie fisies vergesel nie.—Mark. 9:38-40.

Lesse vir ons:

1:32, 33; 2:19, 51. Maria het die gebeure en woorde wat profesieë vervul het, in haar hart bewaar. Bewaar ons die dinge wat Jesus oor “die voleinding van die stelsel van dinge” voorspel het in ons hart, en vergelyk ons wat hy gesê het met wat vandag gebeur?—Matt. 24:3.

2:37. Anna se voorbeeld leer ons dat ons Jehovah met standvastigheid moet aanbid, moet “[volhou] met gebed” en nie “ons onderlinge vergadering”, of Christelike vergaderinge, moet nalaat nie.—Rom. 12:12; Heb. 10:24, 25.

2:41-50. Josef het geestelike belange eerste in sy lewe gestel en het na die fisiese en geestelike welsyn van sy gesin omgesien. In hierdie opsigte het hy ’n goeie voorbeeld vir gesinshoofde gestel.

4:4. Ons moenie ’n dag laat verbygaan sonder dat ons oor geestelike sake dink nie.

6:40. ’n Onderrigter van God se Woord moet ’n goeie voorbeeld vir sy studente stel. Sy woorde moet ooreenstem met sy dade.

8:15. Om die woord ‘vas te hou en met volharding vrug te dra’, moet ons die Woord van God verstaan, dit waardeer en dit ons eie maak. Biddende bepeinsing is noodsaaklik wanneer ons die Bybel en Bybelpublikasies lees.

JESUS SE LATERE BEDIENING

(Luk. 10:1–24:53)

Jesus stuur 70 ander voor hom uit na stede en plekke in Judea (Luk. 10:1). Hy reis “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie” terwyl hy ander leer.—Luk. 13:22.

Vyf dae voor die Pasga van 33 G.J. gaan Jesus Jerusalem op ’n hingsvul binne. Die tyd het aangebreek vir die vervulling van sy woorde aan sy dissipels: “Die Seun van die mens moet baie lyding ondergaan en verwerp word deur die ouer manne en hoofpriesters en skrifgeleerdes en doodgemaak word en op die derde dag opgewek word.”—Luk. 9:22, 44.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

10:18—Waarna het Jesus verwys toe hy vir die 70 dissipels gesê het: “Ek het begin sien dat Satan reeds soos weerlig uit die hemel geval het”? Jesus het nie gesê dat Satan reeds uit die hemel gewerp is nie. Dit het eers plaasgevind kort nadat Christus in 1914 as hemelse Koning gekroon is (Op. 12:1-10). Hoewel ons nie dogmaties kan wees nie, het Jesus, deur na ’n toekomstige gebeurtenis in die verlede tyd te verwys, klaarblyklik beklemtoon dat dit beslis sou gebeur.

14:26—In watter sin moet Christus se volgelinge hulle familielede “haat”? In die Bybel kan “haat” daarna verwys om iemand of iets minder lief te hê as iemand of iets anders (Gen. 29:30, 31). Christene moet hulle familielede “haat” in die sin dat hulle hulle minder moet liefhê as wat hulle Jesus liefhet.—Matt. 10:37.

17:34-37—Wie is “die arende”, en wat is “die liggaam” waar hulle bymekaarkom? Diegene wat “saamgeneem”, of gered, word, word vergelyk met versiende arende. “Die liggaam” waar hulle bymekaarkom, is die ware Christus in sy onsigbare teenwoordigheid asook die geestelike voedsel wat Jehovah vir hulle voorsien.—Matt. 24:28.

22:44—Waarom het Jesus soveel sielsangs deurgemaak? Dit was om ’n aantal redes. Jesus was besorg oor watter uitwerking sy dood as ’n misdadiger op Jehovah God en Sy naam sou hê. Verder het Jesus goed geweet dat sy ewige lewe en die toekoms van die hele mensdom van sy getrouheid afhang.

23:44—Het ’n sonsverduistering die drie uur lange duisternis veroorsaak? Nee. Sonsverduisterings vind net plaas tydens nuwemaan, nie wanneer dit volmaan is, soos tydens Pasgatyd nie. Die duisternis op die dag van Jesus se dood was ’n wonderwerk van God.

Lesse vir ons:

11:1-4. Wanneer ons hierdie instruksies vergelyk met die modelgebed, wat omtrent 18 maande vroeër in die Bergpredikasie gegee is, toon die effense verskil in die bewoording duidelik dat ons gebede nie ’n blote herhaling van sekere woorde moet wees nie.—Matt. 6:9-13.

11:5, 13. Hoewel Jehovah gewillig is om ons gebede te verhoor, moet ons in gebed volhard.—1 Joh. 5:14.

11:27, 28. Ware geluk spruit nie voort uit gesinsverhoudings of materiële prestasies nie, maar daaruit dat ons God se wil getrou doen.

11:41. Ons moet barmhartigheidsgawes uit ’n liefdevolle en gewillige hart gee.

12:47, 48. Iemand wat groter verantwoordelikheid het maar dit nie nakom nie, is laakbaarder as iemand wat nie sy pligte ken of dit nie ten volle verstaan nie.

14:28, 29. Ons is wys as ons binne ons inkomste lewe.

22:36-36. Jesus het nie sy dissipels gevra om ’n wapen vir beskerming of selfverdediging te dra nie. Maar die feit dat hulle swaarde byderhand gehad het op die nag toe hy verraai is, het dit vir Jesus moontlik gemaak om vir hulle ’n belangrike les te leer: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.”—Matt. 26:52.

[Prent op bladsy 31]

Josef het ’n goeie voorbeeld as gesinshoof gestel

[Prent op bladsy 32]

Lukas het die uitvoerigste verslag oor Jesus se lewe en bediening geskryf

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel