Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 11/15 bl. 15-20
  • Wandel met God—met die ewigheid in die vooruitsig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wandel met God—met die ewigheid in die vooruitsig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah tree op sy bestemde tyd op
  • Dien met onvermoeide ywer
  • Ondersoek jou motiewe
  • Beplan met die ewigheid in gedagte!
  • Dien met eindelose lewe in die vooruitsig
  • Loof die Koning van die ewigheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Deel 1: Christelike oortuigings
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • “Loof Jah!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ‘Hou aan waak’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 11/15 bl. 15-20

Wandel met God—met die ewigheid in die vooruitsig

“Óns sal wandel in die Naam van [Jehovah, NW] onse God vir ewig en altoos.”—MIGA 4:5.

1. Waarom kan Jehovah die “Koning van die ewigheid” genoem word?

JEHOVAH GOD het nie ’n begin gehad nie. Hy word gepas “die Oue van dae” genoem, aangesien sy bestaan vanuit die eindelose verlede strek (Daniël 7:9, 13). Jehovah sal ook ’n ewige toekoms geniet. Hy alleen is die “Koning van die ewigheid” (Openbaring 10:6; 15:3). En in sy oë is duisend jaar “soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak”.—Psalm 90:4.

2. (a) Wat is God se voorneme met gehoorsame mense? (b) Waarop moet ons ons hoop en planne vestig?

2 Aangesien die Lewegewer ewig is, kon hy eindelose lewe in die Paradys vir die eerste mensepaar, Adam en Eva, in die vooruitsig stel. Weens ongehoorsaamheid het Adam egter die reg op ewige lewe verbeur en sonde en die dood aan sy nakomelinge oorgedra (Romeine 5:12). Maar Adam se opstand het nie God se oorspronklike voorneme gedwarsboom nie. Dit is Jehovah se wil dat gehoorsame mense vir ewig lewe, en hy sal sy voorneme beslis volbring (Jesaja 55:11). Hoe gepas is dit dus dat ons ons hoop en planne daarop vestig om Jehovah met die ewigheid in die vooruitsig te dien. Hoewel ons “die dag van Jehovah” goed in gedagte wil hou, is dit lewensbelangrik om te onthou dat dit ons doel is om vir ewig met God te wandel.—2 Petrus 3:12.

Jehovah tree op sy bestemde tyd op

3. Hoe weet ons dat Jehovah ’n “vasgestelde tyd” het om sy voornemens te vervul?

3 As mense wat met God wandel, stel ons intens daarin belang om sy wil te doen. Ons weet dat Jehovah die Groot Tydhouer is, en ons het die vertroue dat hy nooit in gebreke bly om sy voornemens op sy bestemde tyd te vervul nie. Byvoorbeeld, “toe die voleinding van die tyd aangebreek het, het God sy Seun uitgestuur” (Galasiërs 4:4). Die apostel Johannes is meegedeel dat daar ’n “vasgestelde tyd” is vir die vervulling van die profetiese gebeure wat hy in tekens gesien het (Openbaring 1:1-3). Daar is “die vasgestelde tyd vir die dooies om geoordeel te word” (Openbaring 11:18). Meer as 1900 jaar gelede is die apostel Paulus geïnspireer om te sê dat God “’n dag vasgestel [het] waarop hy voornemens is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel”.—Handelinge 17:31.

4. Hoe weet ons dat Jehovah hierdie goddelose stelsel van dinge tot niet wil maak?

4 Jehovah sal hierdie goddelose stelsel van dinge tot niet maak, want sy naam word in vandag se wêreld oneer aangedoen. Die goddeloses het geweldig toegeneem (Psalm 92:8). Hulle beledig God deur hulle woorde en dade, en dit grief hom om te sien hoe sy knegte gesmaad en vervolg word (Sagaria 2:8). Dit is geen wonder dat Jehovah verorden het dat Satan se hele organisasie binnekort tot niet gemaak sal word nie! God het presies bepaal wanneer dit sal gebeur, en die vervulling van Bybelprofesieë maak dit duidelik dat ons nou in “die tyd van die einde” lewe (Daniël 12:4). Hy sal binnekort ten behoewe van almal optree wat hom liefhet.

5. Hoe het Lot en Habakuk die toestande om hulle beskou?

5 Jehovah se eertydse knegte het uitgesien na die einde van goddeloosheid. Die regverdige Lot was “grootliks deur die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag gekwel” (2 Petrus 2:7). Die profeet Habakuk was bedroef oor die toestande om hom en het gesmeek: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld!—maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin.”—Habakuk 1:2, 3.

6. Wat het Jehovah in antwoord op Habakuk se gebed gesê, en wat kan ons hieruit leer?

6 Deel van Jehovah se antwoord aan Habakuk was met hierdie woorde: “Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim [“laat wees”, NW] nie” (Habakuk 2:3). God het dit dus bekend gemaak dat hy op “die vasgestelde tyd” sal optree. Al lyk dit of daar ’n vertraging is, Jehovah sal sy voorneme beslis vervul!—2 Petrus 3:9.

Dien met onvermoeide ywer

7. Hoe het Jesus sy werk gedoen, al het hy nie geweet presies wanneer Jehovah se dag sal aanbreek nie?

7 Hoef ons presies te weet wat Jehovah se tydrooster vir gebeure is voor ons ywerig met God kan wandel? Nee, ons hoef nie. Neem ’n paar voorbeelde. Jesus het intens belanggestel in die tyd wanneer God se wil, soos in die hemel, so ook op die aarde gedoen sal word. Trouens, Christus het sy volgelinge geleer om te bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Hoewel Jesus geweet het dat hierdie versoek verhoor sou word, het hy nie die presiese tyd daarvoor geweet nie. In sy groot profesie oor die einde van hierdie stelsel van dinge het hy gesê: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:36). Aangesien Jesus Christus ’n baie belangrike rol speel in die verwesenliking van God se voornemens, sal hy regstreeks betrokke wees by die teregstelling van sy hemelse Vader se vyande. Maar toe Jesus op die aarde was, het selfs hy nie geweet wanneer God sal optree nie. Het dit hom minder ywerig in Jehovah se diens gemaak? Beslis nie! Toe Jesus se dissipels hom ywerig die tempel sien reinig, het hulle “hulle herinner dat daar geskrywe staan: ‘Die ywer vir u huis sal my verteer’” (Johannes 2:17; Psalm 69:9). Jesus het hom ten volle besig gehou met die werk wat hy gestuur is om te doen, en hy het dit met onvermoeide ywer gedoen. Hy het God ook met die ewigheid in die vooruitsig gedien.

8, 9. Wat is daar vir die dissipels gesê toe hulle oor die herstel van die Koninkryk gevra het, en hoe het hulle gereageer?

8 Dit was ook waar van Christus se dissipels. Jesus het met hulle vergader net voordat hy na die hemel opgevaar het. Die verslag sê: “En toe hulle vergader het, het hulle hom begin vra: ‘Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?’” Soos hulle Heer het hulle na die koms van die Koninkryk verlang. Maar Jesus het geantwoord: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—Handelinge 1:6-8.

9 Daar is geen aanduiding dat die dissipels ontmoedig is deur hierdie antwoord nie. Hulle het hulle eerder ywerig met die predikingswerk besig gehou. Hulle het Jerusalem binne weke met hulle leer vervul (Handelinge 5:28). En binne 30 jaar het hulle hulle predikingswerk tot so ’n mate uitgebrei dat Paulus kon sê dat die goeie nuus verkondig is “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). Hoewel die Koninkryk nie ‘vir Israel herstel’ is soos die dissipels verkeerdelik verwag het nie en dit nie in hulle leeftyd in die hemel opgerig is nie, het hulle aangehou om Jehovah ywerig met die ewigheid in die vooruitsig te dien.

Ondersoek jou motiewe

10. Waarvan kan ons bewys lewer, aangesien ons nie weet wanneer God Satan se stelsel gaan vernietig nie?

10 Hedendaagse knegte van Jehovah verlang ook om die einde van hierdie bose stelsel van dinge te sien. Maar wat vir ons van die grootste belang is, is nie dat ons tot in God se beloofde nuwe wêreld behoue bly nie. Ons wil sien dat Jehovah se naam geheilig en sy soewereiniteit geregverdig word. As gevolg hiervan kan ons bly wees dat God ons nie die ‘dag of uur’ gegee het waarop Satan se stelsel vernietig gaan word nie. Dit gee ons die geleentheid om te toon dat ons vasbeslote is om vir ewig met God te wandel omdat ons hom liefhet en nie omdat ons selfsugtige korttermyndoelwitte het nie.

11, 12. Hoe is Job se onkreukbaarheid op die proef gestel, en hoe raak daardie uitdaging ons?

11 As ons ons onkreukbaarheid teenoor God handhaaf, help dit ook om te bewys dat die Duiwel verkeerd was toe hy die aantyging gemaak het dat die opregte man Job—en derhalwe mense soos hy—God uit eiebelang dien. Nadat Jehovah sy kneg Job as ’n vroom, opregte, godvresende man beskryf het, het Satan kwaadwillig beweer: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën” (Job 1:8-11). Deurdat Job sy onkreukbaarheid onder beproewing gehandhaaf het, het hy bewys dat hierdie bose bewering vals is.

12 As ons eweneens ’n weg van onkreukbaarheid volg, kan ons enige sataniese aantyging weerlê dat ons God dien slegs omdat ons weet dat ons binnekort beloon sal word. Die feit dat ons nie presies weet wanneer God oordeel aan die goddeloses gaan voltrek nie, gee ons die geleentheid om te bewys dat ons Jehovah werklik liefhet en vir ewig in sy weë wil wandel. Dit toon dat ons lojaal is aan God en vertroue stel in die manier waarop hy sake behartig. Daarbenewens help die feit dat ons nie die dag en die uur weet nie ons om waaksaam en geestelik wakker te bly omdat ons besef dat die einde te eniger tyd, soos ’n dief in die nag, kan kom (Matteus 24:42-44). As ons daagliks met Jehovah wandel, verbly ons sy hart en voorsien ons ’n antwoord aan die Duiwel, wat hom smaad.—Spreuke 27:11.

Beplan met die ewigheid in gedagte!

13. Wat sê die Bybel oor beplanning vir die toekoms?

13 Diegene wat met God wandel, weet dat dit verstandig is om redelike toekomsplanne te maak. Omdat baie mense weet watter probleme en beperkings met die ouderdom gepaardgaan, probeer hulle hulle jeug en krag goed gebruik sodat hulle finansiële sekuriteit op hulle oudag kan geniet. Wat dan van ons baie belangriker geestelike toekoms? Spreuke 21:5 sê: “Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek.” Dit is waarlik voordelig om vooruit te beplan met die ewigheid in die vooruitsig. Aangesien ons nie presies weet wanneer die einde van hierdie stelsel van dinge gaan kom nie, moet ons beplan vir ons toekomstige behoeftes. Maar laat ons gebalanseerd wees en God se belange eerste in ons lewe stel. Mense sonder geloof dink miskien dat dit kortsigtig is om die uitvoering van God se wil die middelpunt van jou lewe te maak. Maar is dit?

14, 15. (a) Watter illustrasie het Jesus vertel aangaande planne vir die toekoms? (b) Waarom was die ryk man van Jesus se illustrasie kortsigtig?

14 Jesus het ’n illustrasie vertel wat insiggewend is in hierdie verband. Hy het gesê: “Die land van ’n sekere ryk man het goed gedra. Gevolglik het hy by homself begin redeneer en gesê: ‘Wat sal ek doen, noudat ek geen plek het om my oes te versamel nie?’ Hy het dus gesê: ‘Ek sal dít doen: ek sal my voorraadskure afbreek en groteres bou, en daar sal ek al my graan en al my goeie dinge versamel; en ek sal vir my siel sê: “Siel, jy het talle goeie dinge wat vir baie jare weggesit is; ontspan, eet, drink, wees vrolik.”’ Maar God het vir hom gesê: ‘Onredelike mens, vannag eis hulle jou siel van jou op. Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?’ So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”—Lukas 12:16-21.

15 Het Jesus bedoel dat die ryk man nie moes gewerk het om toekomstige materiële sekuriteit te hê nie? Nee, want die Skrif spoor ons aan om hard te werk (2 Tessalonisense 3:10). Die fout wat die ryk man gemaak het, was dat hy nie gedoen het wat nodig was om ‘ryk teenoor God’ te wees nie. Selfs as hy sy materiële rykdom baie jare lank kon geniet het, sou hy uiteindelik sterf. Hy was kortsigtig en het nie aan die ewigheid gedink nie.

16. Waarom kan ons ten volle op Jehovah vir ’n veilige toekoms vertrou?

16 Dit is prakties sowel as versiende om met die ewigheid in die vooruitsig met Jehovah te wandel. Dit is die beste manier om vir die toekoms te beplan. Hoewel dit verstandig is om praktiese planne in verband met opvoeding, werk en gesinsverantwoordelikhede te maak, moet ons altyd onthou dat Jehovah nooit sy lojale knegte verlaat nie. Koning Dawid het gesing: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25). Jesus het eweneens die versekering gegee dat God vir almal sal sorg wat eers die Koninkryk soek en in Jehovah se regverdige weë wandel.—Matteus 6:33.

17. Hoe weet ons dat die einde naby is?

17 Hoewel ons God met die ewigheid in die vooruitsig dien, hou ons nog steeds Jehovah se dag goed in gedagte. Die vervulling van Bybelprofesieë lewer veelseggende getuienis van die nabyheid van daardie dag. Hierdie eeu is gekenmerk deur oorloë, peste, aardbewings en voedseltekorte, asook die vervolging van ware Christene en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Dit is alles kenmerke van die tyd van die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge (Matteus 24:7-14; Lukas 21:11). Die wêreld is vol mense wat “liefhebbers van hulleself [is], liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-5). In hierdie kritieke laaste dae is die lewe moeilik vir ons as Jehovah se knegte. Hoe verlang ons tog na die dag wanneer Jehovah se Koninkryk alle kwaad tot niet sal maak! Laat ons intussen vasbeslote wees om met die ewigheid in die vooruitsig met God te wandel.

Dien met eindelose lewe in die vooruitsig

18, 19. Wat toon dat getroue knegte van die ou tyd God met die ewigheid in die vooruitsig gedien het?

18 Laat ons, terwyl ons met Jehovah wandel, die geloof van Abel, Henog, Noag, Abraham en Sara in gedagte hou. Nadat Paulus hulle gemeld het, het hy geskryf: “In geloof het hulle almal gesterf, hoewel hulle nie die vervulling van die beloftes verkry het nie, maar hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom en in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is” (Hebreërs 11:13). Hierdie getroue knegte het ‘gestreef na ’n beter plek, dit is een wat tot die hemel behoort’ (Hebreërs 11:16). Hulle het in geloof uitgesien na ’n beter plek onder die heerskappy van God se Messiaanse Koninkryk. Ons kan seker wees dat God hulle sal beloon met die ewige lewe in daardie beter plek—die aardse Paradys onder Koninkryksheerskappy.—Hebreërs 11:39, 40.

19 Die profeet Miga het die vasbeslotenheid van Jehovah se volk om God vir ewig te aanbid in woorde weergegee. Hy het geskryf: “Al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van [Jehovah, NW] onse God vir ewig en altoos” (Miga 4:5). Miga het Jehovah lojaal tot die dood gedien. Wanneer hierdie profeet in die nuwe wêreld opgewek word, sal hy ongetwyfeld voortgaan om tot in alle ewigheid met God te wandel. Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir ons wat diep in die tyd van die einde lewe!

20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

20 Jehovah waardeer die liefde wat ons vir sy naam toon (Hebreërs 6:10). Hy weet dat dit in hierdie wêreld wat deur die Duiwel oorheers word moeilik is vir ons om ons onkreukbaarheid teenoor hom te handhaaf. Maar ‘die wêreld gaan verby, terwyl hy wat die wil van God doen, vir ewig bly’ (1 Johannes 2:17; 5:19). Laat ons dan vasbeslote wees om met Jehovah se hulp die beproewinge te verduur waarvoor ons van dag tot dag te staan kom. Mag ons denke en ons lewenswyse toegespits wees op die wonderlike seëninge wat ons liefdevolle hemelse Vader beloof het. Ons kan hierdie seëninge geniet as ons aanhou om met die ewigheid in die vooruitsig met God te wandel.—Judas 20, 21.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat is God se voorneme met gehoorsame mense?

◻ Waarom het Jehovah nog nie die goddelose wêreld vernietig nie?

◻ Waarom moet die feit dat ons nie presies weet wanneer God sal optree nie, nie ons ywer laat afkoel nie?

◻ Wat is sommige van die voordele as ons met die ewigheid in die vooruitsig met God wandel?

[Prent op bladsy 17]

As ons met God wil wandel, moet ons, soos Christus se vroeë dissipels, hom ywerig dien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel