Wanneer Jesus in Koninkryksheerlikheid kom
‘Party van dié wat hier staan, sal glad nie die dood smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.’—MATTEUS 16:28.
1, 2. Wat het kort ná Pinkster 32 G.J. plaasgevind, en wat was die doel van die gebeurtenis?
KORT ná Pinkster 32 G.J. het drie van Jesus Christus se apostels ’n onvergeetlike visioen gesien. Volgens die geïnspireerde verslag “het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle alleen teen ’n hoë berg opgeneem. En hy het voor hulle van gedaante verander.”—Matteus 17:1, 2.
2 Die visioen van die gedaanteverandering het op ’n kritieke tyd gekom. Jesus het sy volgelinge begin vertel dat hy in Jerusalem sou ly en sterf, maar dit was vir hulle moeilik om sy woorde te verstaan (Matteus 16:21-23). Die visioen het die geloof van Jesus se drie apostels versterk as voorbereiding vir sy komende dood en ook vir die jare van harde werk en toetsing wat vir die Christengemeente voorgelê het. Kan ons vandag iets uit die visioen leer? Ja, want wat dit voorafgeskadu het, vind in werklikheid in ons tyd plaas.
3, 4. (a) Wat het Jesus ses dae voor die gedaanteverandering gesê? (b) Beskryf wat gedurende die gedaanteverandering gebeur het.
3 Ses dae voor die gedaanteverandering het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Die Seun van die mens is bestem om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal hy elkeen volgens sy gedrag vergeld.” Hierdie woorde sou tydens “die voleinding van die stelsel van dinge” vervul word. Jesus het voorts gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle dat daar party van dié is wat hier staan wat glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matteus 16:27, 28; 24:3; 25:31-34, 41; Daniël 12:4). Die gedaanteverandering het ter vervulling van hierdie laaste woorde plaasgevind.
4 Presies wat het die drie apostels gesien? Hier volg Lukas se beskrywing van die gebeurtenis: “Terwyl [Jesus] gebid het, het die voorkoms van sy gesig anders geword, en sy klere het skitterend wit geword. En kyk! twee manne was in gesprek met hom; dit was Moses en Elia. Hulle het met heerlikheid verskyn en begin praat oor sy vertrek wat hy bestem was om in Jerusalem te vervul.” Toe “het ’n wolk gevorm en [die apostels] begin oorskadu. Toe hulle in die wolk ingaan, het hulle bevrees geword. En ’n stem het uit die wolk gekom en gesê: ‘Dit is my Seun, die een wat uitgekies is. Luister na hom.’”—Lukas 9:29-31, 34, 35.
Geloof versterk
5. Watter uitwerking het die gedaanteverandering op die apostel Petrus gehad?
5 Die apostel Petrus het Jesus reeds as “die Christus, die Seun van die lewende God” geïdentifiseer (Matteus 16:16). Jehovah se woorde vanuit die hemel het daardie identifikasie bevestig, en die visioen van Jesus se gedaanteverandering was ’n voorsmaak van Christus se koms in Koninkryksmag en -heerlikheid om uiteindelik die mensdom te oordeel. Meer as 30 jaar ná die gedaanteverandering het Petrus geskryf: “Dit was nie deur kunstig versinde valse stories te volg dat ons die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie, maar deurdat ons ooggetuies van sy luisterrykheid geword het. Want hy het eer en heerlikheid van God die Vader ontvang toe woorde soos hierdie deur die luisterryke heerlikheid tot hom gekom het: ‘Dit is my seun, my geliefde, wat ek self goedgekeur het.’ Ja, hierdie woorde het ons uit die hemel hoor kom terwyl ons saam met hom op die heilige berg was.”—2 Petrus 1:16-18; 1 Petrus 4:17.
6. Hoe het gebeure ná die gedaanteverandering ontwikkel?
6 Vandag word ons geloof ook versterk deur wat die drie apostels gesien het. Gebeure het sedert 32 G.J. natuurlik verder ontwikkel. Die volgende jaar het Jesus gesterf en is hy opgewek, waarna hy na die regterhand van sy Vader opgevaar het (Handelinge 2:29-36). Op Pinkster van daardie jaar is die nuwe “Israel van God” voortgebring, en ’n predikingsveldtog het begin wat eers in Jerusalem gedoen is en later na die uiterstes van die aarde uitgebrei het (Galasiërs 6:16; Handelinge 1:8). Die geloof van Jesus se volgelinge is byna onmiddellik op die proef gestel. Die apostels is gearresteer en erg geslaan omdat hulle geweier het om op te hou met die predikingswerk. Weldra is Stefanus vermoor. Toe is Jakobus, ’n ooggetuie van die gedaanteverandering, doodgemaak (Handelinge 5:17-40; 6:8–7:60; 12:1, 2). Petrus en Johannes het egter bly lewe om Jehovah nog baie jare lank getrou te dien. Trouens, teen die einde van die eerste eeu G.J. het Johannes nóg visioenêre vooruitskouings van Jesus in hemelse heerlikheid opgeteken.—Openbaring 1:12-20; 14:14; 19:11-16.
7. (a) Wanneer het die visioen van die gedaanteverandering in vervulling begin gaan? (b) Wanneer het Jesus party volgens hulle gedrag vergeld?
7 Sedert die begin van “die dag van die Here” in 1914 is baie van die visioene wat Johannes gesien het, vervul (Openbaring 1:10). Wat van Jesus se ‘koms in die heerlikheid van sy Vader’, soos voorafgeskadu deur die gedaanteverandering? Hierdie visioen het met die geboorte van God se hemelse Koninkryk in 1914 in vervulling begin gaan. Toe Jesus, soos ’n dagster, as ’n pasgekroonde Koning op die universele toneel verskyn het, was dit as ’t ware die aanbreek van ’n nuwe dag (2 Petrus 1:19; Openbaring 11:15; 22:16). Het Jesus op daardie tydstip party volgens hulle gedrag vergeld? Ja. Daar bestaan kragtige getuienis dat die hemelse opstanding van gesalfde Christene kort daarna begin het.—2 Timoteus 4:8; Openbaring 14:13.
8. Watter gebeure sal die klimaks van die vervulling van die visioen van die gedaanteverandering kenmerk?
8 Jesus gaan egter binnekort “in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom” om die hele mensdom te oordeel (Matteus 25:31). Dan sal hy hom in al sy luisterryke heerlikheid openbaar en aan “elkeen” regverdige vergelding gee vir sy of haar gedrag. Skaapgeaardes sal die ewige lewe beërf in die Koninkryk wat vir hulle berei is, en bokagtiges sal in “die ewige afsnyding” weggaan. Wat ’n wonderlike slot sal dit tog wees tot die vervulling van die visioen van die gedaanteverandering!—Matteus 25:34, 41, 46; Markus 8:38; 2 Tessalonisense 1:6-10.
Jesus se verheerlikte metgeselle
9. Moet ons verwag dat Moses en Elia saam met Jesus in die vervulling van die visioen van die gedaanteverandering sal wees? Verduidelik.
9 Jesus was nie alleen in die gedaanteverandering nie. Moses en Elia is saam met hom gesien (Matteus 17:2, 3). Was hulle letterlik teenwoordig? Nee, want albei manne het lank tevore gesterf en het in die graf geslaap, waar hulle op ’n opstanding wag (Prediker 9:5, 10; Hebreërs 11:35). Sal hulle saam met Jesus verskyn wanneer hy in hemelse heerlikheid kom? Nee, want Moses en Elia het gelewe voordat die hemelse hoop aan mense gebied is. Hulle sal deel hê aan die aardse “opstanding van die regverdiges” (Handelinge 24:15). Hulle verskyning in die visioen van die gedaanteverandering is dus simbolies. Waarvan?
10, 11. Wie word deur Elia en Moses in die verskillende kontekste voorgestel?
10 In ander kontekste is Moses en Elia profetiese afbeeldings. As middelaar van die Wetsverbond het Moses vir Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, afgebeeld (Deuteronomium 18:18; Galasiërs 3:19; Hebreërs 8:6). Elia het Johannes die Doper, ’n voorloper van die Messias, afgebeeld (Matteus 17:11-13). Verder, in die konteks van Openbaring hoofstuk 11 beeld Moses en Elia die gesalfde oorblyfsel af in die tyd van die einde. Hoe weet ons dit?
11 Wel, blaai gerus na Openbaring 11:1-6. In vers 3 lees ons: “Ek sal my twee getuies duisend-tweehonderd-en-sestig dae laat profeteer, geklee in saklinne.” Hierdie profesie is deur die oorblyfsel van gesalfde Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog vervul.a Waarom twee getuies? Omdat die gesalfde oorblyfsel werke doen wat, in geestelike sin, ooreenkom met dié van Moses en Elia. Verse 5 en 6 sê voorts: “As iemand [die twee getuies] kwaad wil aandoen, gaan vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande; en as iemand hulle kwaad sal wil aandoen, moet hy op hierdie manier doodgemaak word. Hulle het die gesag om die hemel toe te sluit sodat geen reën sal val gedurende die dae wat hulle profeteer nie, en hulle het gesag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde so dikwels as hulle wil met allerhande plae te tref.” Ons word dus herinner aan wonderwerke wat deur Elia en Moses gedoen is.—Numeri 16:31-34; 1 Konings 17:1; 2 Konings 1:9-12.
12. Wie word in die konteks van die gedaanteverandering deur Moses en Elia voorgestel?
12 Wie beeld Moses en Elia dan af in die konteks van die gedaanteverandering? Lukas sê dat hulle saam met Jesus “met heerlikheid” verskyn het (Lukas 9:31). Dit is duidelik dat hulle Christene afbeeld wat met heilige gees gesalf is as “mede-erfgename” met Jesus en wat sodoende die wonderlike hoop ontvang het om “saam [met hom] verheerlik” te word (Romeine 8:17). Verrese gesalfdes sal saam met Jesus wees wanneer hy in die heerlikheid van sy Vader kom om “elkeen volgens sy gedrag [te] vergeld”.—Matteus 16:27.
Getuies soos Moses en Elia
13. Watter kenmerke maak Moses en Elia gepaste profetiese afbeeldings van Jesus se gesalfde mede-erfgename wat saam met hom verheerlik word?
13 Daar is merkwaardige kenmerke wat Moses en Elia gepaste profetiese afbeeldings van Jesus se gesalfde mede-erfgename maak. Moses en Elia het albei jare lank as Jehovah se woordvoerders gedien. Altwee het die toorn van ’n heerser ondervind. In tyd van nood is elkeen van hulle gehelp deur ’n gesin wat uitlanders was. Albei het moedig vir konings geprofeteer en ferm standpunt ingeneem teen valse profete. Moses en Elia het albei openbarings van Jehovah se krag op die berg Sinai (ook Horeb genoem) gesien. Altwee het opvolgers aan die oostekant van die Jordaan aangestel. En in die dae van beide Moses (met Josua) en Elia (met Elisa) is die meeste wonderwerke verrig, buiten dié wat gedurende Jesus se leeftyd plaasgevind het.b
14. Hoe het die gesalfdes as Jehovah se woordvoerder gedien, soos Moses en Elia?
14 Laat dit alles ons nie aan die Israel van God dink nie? Ja, beslis. Jesus het vir sy getroue volgelinge gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20). In gehoorsaamheid aan hierdie woorde het gesalfde Christene vanaf Pinkster 33 G.J. tot vandag toe as Jehovah se woordvoerder gedien. Soos Moses en Elia het hulle die toorn van heersers ondervind en vir hulle getuig. Jesus het vir sy 12 apostels gesê: “Julle sal . . . voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, tot ’n getuienis vir hulle en die nasies” (Matteus 10:18). Sy woorde is al herhaaldelik gedurende die geskiedenis van die Christengemeente vervul.—Handelinge 25:6, 11, 12, 24-27; 26:3.
15, 16. Watter parallelle is daar tussen die gesalfdes aan die een kant en Moses en Elia aan die ander kant wat betref (a) ’n onverskrokke standpunt vir waarheid? (b) hulp wat hulle van nie-Israeliete ontvang het?
15 Daarbenewens was en is gesalfde Christene net so onverskrokke soos Moses en Elia om standpunt in te neem vir waarheid teen godsdiensleuens. Onthou jy hoe Paulus die Joodse valse profeet Bar-Jesus veroordeel het en taktvol dog ferm die valsheid van die Ateners se gode blootgelê het (Handelinge 13:6-12; 17:16, 22-31). Hou ook in gedagte dat die gesalfde oorblyfsel in hedendaagse tye die Christendom moedig aan die kaak gestel het, en hierdie getuieniswerk het die Christendom geteister.—Openbaring 8:7-12.c
16 Toe Moses van die toorn van Farao gevlug het, het hy skuiling gevind in die huis van ’n nie-Israeliet, Rehuel, wat ook Jetro genoem is. Op ’n later stadium het Moses waardevolle raad wat organisasie betref by Rehuel gekry, wie se seun, Hobab, Israel deur die woestyn gelei het (Exodus 2:15-22; 18:5-27; Numeri 10:29).d Is lede van die Israel van God ook so gehelp deur individue wat nie gesalfde lede van die Israel van God is nie? Ja, hulle is ondersteun deur die “groot skare” “ander skape”, wat gedurende hierdie laaste dae op die toneel verskyn het (Openbaring 7:9; Johannes 10:16; Jesaja 61:5). Toe Jesus die hartlike, liefdevolle ondersteuning voorspel het wat hierdie “skape” aan sy gesalfde broers sou verleen, het hy profeties vir hulle gesê: “Ek het honger geword, en julle het my iets gegee om te eet; ek het dors geword, en julle het my iets gegee om te drink. Ek was ’n vreemdeling, en julle het my gasvry ontvang; naak, en julle het my geklee. Ek het siek geword, en julle het na my omgesien. Ek was in die gevangenis, en julle het na my toe gekom. . . . Voorwaar, ek sê vir julle: In soverre julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.”—Matteus 25:35-40.
17. Hoe het die gesalfdes ’n ondervinding soos dié van Elia op die berg Horeb gehad?
17 Verder het die Israel van God ’n ondervinding soos dié van Elia op die berg Horeb gehad.e Soos Elia toe hy van koningin Isebel gevlug het, het die bevreesde gesalfde oorblyfsel gedink dat hulle werk aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog voltooi was. Toe het hulle, ook soos Elia, ’n ontmoeting gehad met Jehovah, wat gekom het om die organisasies te oordeel wat beweer het dat hulle “die huis van God” is (1 Petrus 4:17; Maleagi 3:1-3). Terwyl die Christendom te lig bevind is, is die gesalfde oorblyfsel as “die getroue en verstandige slaaf” herken en is hulle oor al Jesus se aardse besittings aangestel (Matteus 24:45-47). In Horeb het Elia “’n rustige, sagte stem” gehoor wat die stem was van Jehovah, wat hom nog werk gegee het om te doen. In die stil tydperk van die naoorlogse jare het getroue gesalfde knegte van Jehovah sy stem deur die bladsye van die Bybel gehoor. Ook hulle het onderskei dat hulle ’n opdrag het om uit te voer.—1 Konings 19:4, 9-18, vgl. NW; Openbaring 11:7-13.
18. Hoe het uitsonderlike openbarings van Jehovah se krag deur middel van die Israel van God gekom?
18 Laastens: Het uitsonderlike openbarings van Jehovah se krag deur middel van die Israel van God gekom? Ná Jesus se dood het die apostels baie wonderwerke verrig, maar dit het geleidelik opgehou (1 Korintiërs 13:8-13). Deesdae sien ons nie wonderwerke in die fisiese sin nie. Jesus het daarenteen aan sy volgelinge gesê: “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Hy wat geloof in my beoefen, hy sal ook self die werke doen wat ek doen; en hy sal groter werke as dié doen” (Johannes 14:12). Dit het ’n eerste vervulling gehad toe Jesus se dissipels die goeie nuus in die eerste eeu dwarsdeur die Romeinse Ryk verkondig het (Romeine 10:18). Selfs groter werke is vandag gedoen namate die gesalfde oorblyfsel die voortou geneem het met die verkondiging van die goeie nuus “in die hele bewoonde aarde . . . tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Die resultaat? Die 20ste eeu het die insameling gesien van die grootste getal toegewyde, getroue knegte van Jehovah in die geskiedenis (Openbaring 5:9, 10; 7:9, 10). Wat ’n wonderlike bewys van Jehovah se krag!—Jesaja 60:22.
Jesus se broers kom in heerlikheid
19. Wanneer word Jesus se gesalfde broers saam met hom in heerlikheid gesien?
19 Namate die oorblyfsel van Jesus se gesalfde broers hulle aardse loopbaan voltooi, word hulle saam met hom verheerlik (Romeine 2:6, 7; 1 Korintiërs 15:53; 1 Tessalonisense 4:14, 17). Sodoende word hulle onsterflike konings en priesters in die hemelse Koninkryk. Saam met Jesus sal hulle dan “met ’n ysterstaf as herder teenoor die mense optree, sodat hulle soos kleivoorwerpe in stukke gebreek sal word” (Openbaring 2:27; 20:4-6; Psalm 110:2, 5, 6). Hulle sal saam met Jesus op trone sit en “die twaalf stamme van Israel” oordeel (Matteus 19:28). Die kreunende skepping wag gretig op hierdie gebeure, wat deel is van “die openbaring van die seuns van God”.—Romeine 8:19-21; 2 Tessalonisense 1:6-8.
20. (a) Met betrekking tot watter vooruitsig is Petrus se geloof deur die gedaanteverandering versterk? (b) Hoe versterk die gedaanteverandering Christene vandag?
20 Paulus het van Jesus se openbaring gedurende die “groot verdrukking” gepraat toe hy geskryf het: “Hy kom om verheerlik te word in verband met sy heiliges en om in daardie dag met verwondering beskou te word in verband met almal wat geloof beoefen het” (Matteus 24:21; 2 Tessalonisense 1:10). Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog vir Petrus, Jakobus, Johannes en alle geesgesalfde Christene! Die gedaanteverandering het Petrus se geloof versterk. Wanneer ons daaroor lees, versterk dit beslis ook ons geloof en verhoog dit ons vertroue dat Jesus binnekort “elkeen volgens sy gedrag [sal] vergeld”. Getroue gesalfde Christene wat vandag nog leef, sien hoe hulle vertroue versterk word in die feit dat hulle saam met Jesus verheerlik sal word. Die ander skape se geloof word versterk in die wete dat hy hulle deur die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge tot in die glorieryke nuwe wêreld sal red (Openbaring 7:14). Wat ’n aanmoediging om standvastig te bly tot die einde toe! En hierdie visioen kan ons nog baie leer, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnote]
a Sien die boeke “Laat u Naam geheilig word”, bladsye 309-10, en Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 164-5, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Exodus 2:15-22; 3:1-6; 5:2; 7:8-13; 8:18; 19:16-19; Deuteronomium 31:23; 1 Konings 17:8-16; 18:21-40; 19:1, 2, 8-18; 2 Konings 2:1-14.
d Sien die boek U kan Armageddon oorlewe in God se nuwe wêreld in, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., bladsye 282-4.
e Sien “Laat u Naam geheilig word”, bladsye 313-16.
Onthou jy?
◻ Wie het saam met Jesus in die gedaanteverandering verskyn?
◻ Hoe is die apostels se geloof deur die gedaanteverandering versterk?
◻ Toe Moses en Elia “met heerlikheid” saam met Jesus in die gedaanteverandering verskyn het, wie het hulle voorgestel?
◻ Watter parallelle is daar tussen Moses en Elia aan die een kant en die Israel van God aan die ander kant?
[Prent op bladsy 10]
Die gedaanteverandering het die geloof van eertydse sowel as hedendaagse Christene versterk