Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 5/1 bl. 14-19
  • Waar kan ware vertroosting gevind word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar kan ware vertroosting gevind word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kern van die probleme
  • Vertroosting aan ’n volk in benoudheid
  • Vertroosting deur Christus voorsien
  • Die heilige gees as trooster
  • Hulp tydens uiterste druk
  • Vertroos dié wat treur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Hoe God ons vertroos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • ‘Vertroos al die treurendes’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Vertrou op Jehovah, “die God van alle vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 5/1 bl. 14-19

Waar kan ware vertroosting gevind word?

‘Die God en Vader van ons Here Jesus Christus vertroos ons in al ons verdrukking.’—2 KORINTIËRS 1:3, 4.

1. Watter omstandighede kan mense laat voel dat hulle vertroosting dringend nodig het?

’N AFTAKELENDE siekte kan iemand laat voel dat sy lewe besig is om in duie te stort. Aardbewings, storms en hongersnood laat mense sonder heenkome. Oorlog kan tot die dood van gesinslede lei, huise vernietig of huiseienaars dwing om hulle besittings agter te laat. Ongeregtigheid kan mense laat voel dat daar geen uitkoms is nie. Mense wat deur sulke ellendes geteister word, het vertroosting dringend nodig. Waar kan dit gevind word?

2. Waarom is die vertroosting wat Jehovah bied, uniek?

2 Party individue en organisasies probeer vertroosting bied. Mense waardeer vriendelike woorde. Noodlenigingspogings help om in korttermynbehoeftes te voorsien. Maar net Jehovah, die ware God, kan al die skade ongedaan maak en die soort hulp voorsien wat sal verseker dat hierdie ellendes nooit weer plaasvind nie. Die Bybel sê van hom: “Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, geloof word, wat ons in al ons verdrukking vertroos, sodat ons dié wat in enige soort verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word” (2 Korintiërs 1:3, 4). Hoe vertroos Jehovah ons?

Die kern van die probleme

3. Hoe dring die vertroosting wat God gee, deur tot die kern van die mensdom se probleme?

3 Die ganse mensdom het onvolmaaktheid as gevolg van Adam se sonde geërf, en dit veroorsaak tallose probleme wat uiteindelik tot die dood lei (Romeine 5:12). Die situasie word vererger deur die feit dat Satan die Duiwel “die heerser van hierdie wêreld” is (Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19). Jehovah het nie bloot bedroef gevoel oor die ongelukkige situasie waarvoor die mensdom te staan gekom het nie. Hy het sy enigverwekte Seun as ’n losprys gestuur om bevryding moontlik te maak, en Hy het vir ons gesê dat ons verlos kan word van die gevolge van Adamitiese sonde as ons geloof in Sy Seun beoefen (Johannes 3:16; 1 Johannes 4:10). God het ook voorspel dat Jesus Christus, wat alle gesag in hemel en op aarde ontvang het, Satan en sy hele goddelose stelsel van dinge sal vernietig.—Matteus 28:18; 1 Johannes 3:8; Openbaring 6:2; 20:10.

4. (a) Wat het Jehovah voorsien om ons vertroue in sy beloftes van verligting te versterk? (b) Hoe help Jehovah ons om te onderskei wanneer die verligting sal kom?

4 Om ons vertroue in sy beloftes te versterk, het God oorvloedige getuienis bewaar dat alles wat hy voorspel, bewaarheid word (Josua 23:14). Hy het in die Bybel ’n verslag laat opteken van hoe hy sy knegte verlos het uit situasies wat vanuit ’n menslike oogpunt onoorkomelik gelyk het (Eksodus 14:4-31; 2 Konings 18:13–19:37). En deur Jesus Christus het Jehovah getoon dat dit deel van sy voorneme is om mense van “elke soort gebrek” te genees, en selfs die dooies op te wek (Matteus 9:35; 11:3-6). Wanneer sal dit alles plaasvind? Die Bybel verskaf die antwoord deur ’n beskrywing te gee van die laaste dae van hierdie ou stelsel, wat God se nuwe hemel en nuwe aarde voorafgaan. Jesus se beskrywing kom ooreen met die tye waarin ons lewe.—Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5.

Vertroosting aan ’n volk in benoudheid

5. Waarop het Jehovah die aandag van eertydse Israel gevestig toe hy hulle vertroos het?

5 Uit die manier waarop Jehovah met eertydse Israel gehandel het, leer ons hoe hy hulle in tye van benoudheid vertroos het. Hy het hulle herinner aan die soort God wat hy is. Dit het hulle vertroue in sy beloftes versterk. Jehovah het sy profete treffende teenstellings laat gebruik om te toon hoe hy, die ware en lewende God, verskil van afgode, wat nie hulleself of hulle aanbidders kon help nie (Jesaja 41:10; 46:1; Jeremia 10:2-15). Toe Jehovah vir Jesaja gesê het: “Vertroos, vertroos my volk”, het hy sy profeet beweeg om illustrasies en beskrywings van Sy skeppingswerke te gebruik om die grootheid van Jehovah as die enigste ware God te beklemtoon.—Jesaja 40:1-31.

6. Watter aanduidings het Jehovah soms gegee oor wanneer bevryding sou kom?

6 Soms het Jehovah vertroosting gegee deur ’n spesifieke tyd, in die nabye of die verre toekoms, te noem wanneer sy volk verlos sou word. Toe hulle bevryding uit Egipte nader gekom het, het hy vir die onderdrukte Israeliete gesê: “Ek gaan nog een plaag oor Farao en Egipte bring. Daarna sal hy julle hiervandaan wegstuur” (Eksodus 11:1). Toe die gesamentlike magte van drie nasies Juda in die dae van koning Josafat binnegeval het, het Jehovah vir hulle gesê dat Hy “môre” ten behoewe van hulle sou optree (2 Kronieke 20:1-4, 14-17). Hulle bevryding uit Babilon is daarenteen bykans 200 jaar voor die tyd deur Jesaja opgeteken, en verdere besonderhede is amper honderd jaar voor daardie bevryding deur Jeremia voorsien. Hoe bemoedigend was daardie profesieë tog vir God se knegte toe die tyd vir hulle bevryding nader gekom het!—Jesaja 44:26–45:3; Jeremia 25:11-14.

7. Wat was dikwels ingesluit in die bevrydingsbeloftes, en watter uitwerking het dit op getroue mense in Israel gehad?

7 Dit is opmerkenswaardig dat die beloftes wat vertroosting vir God se volk gebring het, dikwels inligting oor die Messias bevat het (Jesaja 53:1-12). Dit het geslagte lank getroue mense wat voor tallose beproewinge te staan gekom het, met hoop vervul. In Lukas 2:25 lees ons: “Kyk! daar was ’n man in Jerusalem met die naam Simeon, en hierdie man was regverdig en godvresend en het gewag op Israel se vertroosting [in werklikheid die koms van die Messias], en heilige gees was op hom.” Simeon was vertroud met die Messiaanse hoop wat in die Skrif uiteengesit is, en die vooruitsig op die vervulling daarvan het sy lewe grootliks beïnvloed. Hy het nie verstaan hoe dit alles vervul sou word nie, en hy het nie gelewe om self te sien hoe die voorspelde redding ’n werklikheid word nie, maar hy was verheug toe hy die Een geïdentifiseer het wat God se “middel tot redding” sou wees.—Lukas 2:30.

Vertroosting deur Christus voorsien

8. Hoe het die hulp wat Jesus voorsien het, vergelyk met wat baie mense gedink het hulle nodig het?

8 Terwyl Jesus Christus sy aardse bediening uitgevoer het, het hy nie altyd die hulp voorsien wat die mense gedink het hulle nodig het nie. Party het uitgesien na ’n Messias wat hulle van die gehate juk van Rome sou bevry. Maar Jesus het nie ’n revolusie voorgestaan nie; hy het vir hulle gesê: “Betaal . . . aan die keiser terug wat aan die keiser behoort” (Matteus 22:21). God se voorneme het veel meer behels as om mense te verlos wat deur ’n politieke mag onderdruk word. Die mense wou Jesus koning maak, maar hy het gesê dat hy “sy siel [sou] gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28; Johannes 6:15). Die tyd het nog nie aangebreek vir hom om die koningskap te aanvaar nie, en die gesag om te heers, sou deur Jehovah aan hom gegee word, nie deur oproerige skares nie.

9. (a) Wat was die boodskap van vertroosting wat Jesus verkondig het? (b) Hoe het Jesus getoon dat die boodskap betrekking het op die situasies waarvoor mense te staan gekom het? (c) Waarvoor het Jesus se bediening ’n grondslag gelê?

9 Die vertroosting wat Jesus gebring het, was omvat in “die goeie nuus van die koninkryk van God”. Dit was die boodskap wat Jesus bekend gemaak het waar hy ook al gegaan het (Lukas 4:43). Hy het beklemtoon hoe daardie boodskap betrekking het op mense se alledaagse probleme deur te toon wat hy as die Messiaanse Heerser vir die mensdom sou doen. Hy het vir diegene wat gely het, opnuut rede gegee om te lewe deur hulle sig en spraak te herstel (Matteus 12:22; Markus 10:51, 52), gebreklike ledemate te genees (Markus 2:3-12), mede-Israeliete van afstootlike siektes te reinig (Lukas 5:12, 13) en hulle van ander verskriklike siektes te genees (Markus 5:25-29). Hy het groot verligting gebring aan bedroefde gesinslede deur hulle kinders uit die dood op te wek (Lukas 7:11-15; 8:49-56). Hy het getoon dat hy die vermoë het om gevaarlike storms te beheer en groot skares te voed (Markus 4:37-41; 8:2-9). Ook het Jesus hulle lewensbeginsels geleer wat hulle kon help om bestaande probleme doeltreffend die hoof te bied en wat hulle harte sou vul met hoop op ’n regverdige heerskappy onder die Messias. Terwyl Jesus dus sy bediening uitgevoer het, het hy nie net mense vertroos wat met geloof geluister het nie, maar hy het ook ’n grondslag gelê sodat mense duisende jare later nog bemoedig kon word.

10. Wat word deur Jesus se offerande moontlik gemaak?

10 Meer as 60 jaar nadat Jesus sy menselewe opgeoffer het en tot hemelse lewe opgewek is, is die apostel Johannes geïnspireer om te skryf: “My kindertjies, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie ’n sonde begaan nie. En tog, as iemand ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige. En hy is ’n soenoffer vir ons sondes, en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:1, 2). Weens die voordele wat Jesus se volmaakte menseoffer meebring, word ons grootliks vertroos. Ons weet dat ons vergifnis van sondes, ’n rein gewete, ’n goedgekeurde verhouding met God en die vooruitsig op ewige lewe kan verkry.—Johannes 14:6; Romeine 6:23; Hebreërs 9:24-28; 1 Petrus 3:21.

Die heilige gees as trooster

11. Watter verdere voorsiening vir vertroosting het Jesus voor sy dood beloof?

11 Terwyl Jesus die laaste aand voor sy offerdood saam met sy apostels was, het hy van nog ’n voorsiening gepraat wat sy hemelse Vader gemaak het om hulle te vertroos. Jesus het gesê: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper [trooster; Grieks, pa·raʹkle·tos] gee om vir ewig by julle te wees, die gees van die waarheid.” Jesus het hulle verseker: “Die helper, die heilige gees, . . . sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat ek julle vertel het” (Johannes 14:16, 17, 26). Hoe het die heilige gees hulle vertroos?

12. Hoe het die heilige gees as geheuehulp Jesus se dissipels gehelp om baie te vertroos?

12 Die apostels het deeglike onderrigting van Jesus ontvang. Hulle sou die ondervinding beslis nooit vergeet nie. Maar sou hulle kon onthou wat hy eintlik gesê het? Sou belangrike voorskrifte verlore gaan weens hulle onvolmaakte geheue? Jesus het hulle verseker dat die heilige gees hulle sou ‘herinner aan alles wat hy hulle vertel het’. Daarom kon Matteus, omtrent agt jaar ná Jesus se dood, die eerste Evangelie skryf, waarin hy Jesus se aangrypende Bergpredikasie, sy talle illustrasies oor die Koninkryk en sy uitvoerige bespreking van die teken van sy teenwoordigheid opgeteken het. Meer as 50 jaar later kon die apostel Johannes ’n betroubare verslag skryf wat breedvoerige besonderhede oor die laaste dae van Jesus se aardse lewe bevat het. Ja, hierdie geïnspireerde verslae is tot vandag toe bemoedigend!

13. Hoe het die heilige gees as onderrigter vir die vroeë Christene gedien?

13 Die heilige gees het die dissipels nie net gehelp om woorde te herroep nie, maar hulle ook geleer en gelei sodat hulle God se voorneme beter kon verstaan. Terwyl Jesus nog by sy dissipels was, het hy hulle dinge vertel wat hulle toe nie so goed verstaan het nie. Maar die heilige gees het Johannes, Petrus, Jakobus, Judas en Paulus beweeg om verdere verwikkelinge in God se voorneme uiteen te sit. Sodoende het die heilige gees as onderrigter gedien, wat hulle die waardevolle versekering van God se leiding gegee het.

14. Op watter maniere het die heilige gees Jehovah se volk gehelp?

14 Die wonderdadige gawes van die gees het ook gehelp om dit duidelik te maak dat God sy guns van vleeslike Israel na die Christengemeente verskuif het (Hebreërs 2:4). Die vrugte wat daardie gees in die lewe van individue voortgebring het, het ook ’n belangrike rol daarin gespeel om diegene te identifiseer wat waarlik Jesus se dissipels was (Johannes 13:35; Galasiërs 5:22-24). En die gees het die lede van daardie gemeente versterk om moedige, vreeslose getuies te wees.—Handelinge 4:31.

Hulp tydens uiterste druk

15. (a) Watter druk het Christene al in die verlede en in ons tyd ervaar? (b) Waarom het diegene wat aanmoediging gee, soms dalk self aanmoediging nodig?

15 Almal wat toegewy en lojaal aan Jehovah is, ondervind die een of ander vorm van vervolging (2 Timoteus 3:12). Maar baie Christene moes al uiterste druk verduur. In ons tyd is party deur oproerige skares aangeval, asook in konsentrasiekampe, tronke en strafkampe gegooi waar die toestande haglik was. Regerings het aktiewe vervolgers geword, of hulle het toegelaat dat wettelose elemente doen net wat hulle wil sonder om gestraf te word. Verder het Christene te kampe met ernstige gesondheidsprobleme of gesinskrisisse. ’n Ryp Christen ondervind dalk ook druk omdat hy die een medegelowige na die ander moet help om moeilike situasies die hoof te bied. In sulke gevalle het die een wat aanmoediging gee, dalk self aanmoediging nodig.

16. Watter hulp het Dawid ontvang toe hy onder groot druk verkeer het?

16 Toe koning Saul Dawid agtervolg het om hom dood te maak, het Dawid hom tot God as sy Helper gewend: “O God, hoor my gebed”, het hy gesmeek. “In die skaduwee van u vleuels soek ek toevlug” (Psalm 54:2, 4; 57:1). Het Dawid hulp ontvang? Ja, hy het. Gedurende daardie tyd het Jehovah die profeet Gad en die priester Abjatar gebruik om leiding aan Dawid te gee, en Hy het Jonatan die seun van Saul gebruik om die jong man te versterk (1 Samuel 22:1, 5; 23:9-13, 16-18). Jehovah het ook toegelaat dat die Filistyne die land binneval, sodat Saul moes omdraai en Dawid nie verder kon agtervolg nie.—1 Samuel 23:27, 28.

17. Tot wie het Jesus hom gewend vir hulp toe hy onder intense druk verkeer het?

17 Jesus Christus het self onder intense druk verkeer toe die einde van sy aardse lewe nader gekom het. Hy was ten volle bewus van hoe sy gedrag die naam van sy hemelse Vader kon raak en wat dit vir die toekoms van die hele mensdom kon beteken. Hy het ernstig gebid, en selfs “in sielsangs geraak”. God het toegesien dat Jesus die nodige ondersteuning gedurende daardie moeilike tyd ontvang.—Lukas 22:41-44.

18. Watter vertroosting het God vroeë Christene gegee wat wreed vervolg is?

18 Die vervolging van Christene ná die stigting van die eerste-eeuse gemeente was so hewig dat almal behalwe die apostels uit Jerusalem gevlug het en verstrooi is. Mans en vroue is letterlik uit hulle huise gesleep. Watter vertroosting het God vir hulle voorsien? Die versekering in sy Woord dat hulle “’n beter en ’n blywende besitting” het, ’n gewisse erfenis in die hemel saam met Christus (Hebreërs 10:34; Efesiërs 1:18-20). Namate hulle aanhou preek het, het hulle bewyse gesien dat God se gees met hulle was, en hulle ondervindinge het hulle verdere rede tot vreugde gegee.—Matteus 5:11, 12; Handelinge 8:1-40.

19. Hoe het Paulus, ondanks hewige vervolging, gevoel oor die vertroosting wat God gee?

19 Na verloop van tyd is Saulus (Paulus), wat ’n wrede vervolger was, self ook vervolg omdat hy ’n Christen geword het. Op die eiland Siprus was daar ’n towenaar wat Paulus se bediening probeer verhinder het deur van bedrog en leuens gebruik te maak. In Galasië is Paulus gestenig en vir dood agtergelaat (Handelinge 13:8-10; 14:19). In Masedonië is hy met stokke geslaan (Handelinge 16:22, 23). Ná gepeupelgeweld in Efese het hy geskryf: “Ons [was] onder uiterste druk bo ons krag . . . , sodat ons selfs ons lewe glad nie seker was nie. Trouens, ons het by onsself gevoel dat ons die doodsvonnis ontvang het” (2 Korintiërs 1:8, 9). Maar in daardie selfde brief het Paulus die vertroostende woorde geskryf wat in paragraaf 2 van hierdie artikel aangehaal word.—2 Korintiërs 1:3, 4.

20. Wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?

20 Hoe kan jy ook hierdie vertroosting aan ander gee? Daar is baie in ons tyd wat vertroosting nodig het wanneer hulle bedroef is, hetsy weens ’n ramp wat duisende tref of weens verdrukking wat hulle alleen ly. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons in hierdie gevalle vertroosting kan gee.

Onthou jy?

• Waarom is die vertroosting wat God gee, van die grootste waarde?

• Watter vertroosting word deur Christus voorsien?

• Hoe het die heilige gees as trooster gedien?

• Gee voorbeelde van die vertroosting wat God gegee het toe sy knegte onder intense druk verkeer het.

[Prente op bladsy 15]

Die Bybel toon dat Jehovah vertroosting gebring het deur sy volk te verlos

[Prente op bladsy 16]

Jesus het vertroosting voorsien deur ander te leer, te genees en die dooies op te wek

[Prent op bladsy 18]

Jesus het hulp van bo ontvang

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel