Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 8/1 bl. 8-9
  • Afskeidsvermaning

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Afskeidsvermaning
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Jesus berei die apostels voor op sy vertrek
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Verdere afskeidsraad
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • ‘Die Seun is bereid om die Vader te openbaar’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 8/1 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

Afskeidsvermaning

DIE gedenkmaalete is verby, maar Jesus en sy apostels is nog in die bovertrek. Hoewel Jesus binnekort nie meer daar sal wees nie, is daar nog baie dinge wat hy wil sê. “Laat julle hart nie ontsteld word nie”, troos hy hulle. “Glo in God.” Maar meer is nodig. “Glo ook in My”, voeg hy by.

“In die huis van my Vader is daar baie wonings”, sê Jesus voorts. “Ek gaan om vir julle plek te berei . . . sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle.” Die apostels snap nie dat Jesus bedoel dat hy weggaan hemel toe nie, en Thomas vra dus: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?”

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, antwoord Jesus. Ja, slegs deur hom te aanvaar en sy lewensweg na te volg kan ’n mens in die hemelse huis van die Vader ingaan want, soos Jesus sê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

“Here, toon ons die Vader”, versoek Filippus, “en dit is vir ons genoeg.” Filippus wil blykbaar hê dat Jesus ’n sigbare openbaring van God moet voorsien, soos Moses, Elia en Jesaja in die ou tyd in visioene gesien het. Maar die apostels het in werklikheid iets wat baie beter is as sulke visioene, soos Jesus opmerk: “Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.”

Jesus weerspieël sy Vader se persoonlikheid so volkome dat dit in werklikheid is asof hulle die Vader sien as hulle saam met Jesus lewe en hom dophou. Nogtans is die Vader groter as die Seun, soos Jesus erken: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie.” Jesus skryf tereg alle eer vir sy leringe aan sy hemelse Vader toe.

Hoe bemoedigend moet dit tog nou vir die apostels wees om te hoor dat Jesus vir hulle sê: “Wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit”! Jesus bedoel nie dat sy volgelinge se vermoë om wonderwerke te doen groter as syne sal wees nie. Nee, maar hy bedoel dat hulle die bediening oor ’n veel langer tydperk, oor ’n veel groter gebied en aan baie meer mense sal uitdra.

Jesus sal sy dissipels na sy vertrek nie aan hulle lot oorlaat nie. “Wat julle ook al in my Naam mag vra”, belowe hy, “dit sal Ek doen.” Hy sê verder: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster [“helper”, NW] gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid.” Later, nadat hy opgevaar het hemel toe, giet Jesus die heilige gees, hierdie ander helper, op sy dissipels uit.

Jesus se vertrek is naby, soos hy sê: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie.” Jesus sal ’n geesskepsel wees wat vir mense onsigbaar is. Maar Jesus belowe sy getroue apostels weer eens: “Julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.” Ja, Jesus sal nie net ná sy opstanding in mensegedaante aan hulle verskyn nie, maar hy sal hulle mettertyd opwek om as geesskepsele saam met hom in die hemel te woon.

Jesus meld nou die eenvoudige reël: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”

Hier onderbreek die apostel Judas, die een wat ook Thaddeüs genoem word, Jesus: “Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie?”

“As iemand My liefhet”, antwoord Jesus, “sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê . . . Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie.” In teenstelling met Christus se gehoorsame volgelinge ignoreer die wêreld sy leringe. Hy openbaar hom dus nie aan hulle nie.

Gedurende sy aardse bediening het Jesus sy apostels baie dinge geleer. Hoe sal hulle dit alles onthou, veral aangesien hulle, selfs op hierdie stadium, nie soveel dinge kan snap nie? Gelukkig belowe Jesus: “Die [helper], die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Jesus bemoedig hulle weer en sê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle . . . Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” Jesus gaan wel weg, maar hy verduidelik: “As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.”

Jesus se oorblywende tyd saam met hulle is min. “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie”, sê hy, “want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie [“het geen houvas op my nie”, NW].” Satan die Duiwel, die een wat in Judas kon vaar en ’n houvas op hom kon kry, is die owerste van die wêreld. Maar daar is geen sondige swakheid in Jesus wat Satan kan uitbuit om hom sy diens aan God te laat versaak nie. Johannes 14:1-31; 13:27; Lukas 22:3, 4; Exodus 24:10; 1 Konings 19:9-13; Jesaja 6:1-5.

▪ Waarheen gaan Jesus, en watter antwoord ontvang Thomas oor die weg aldaar?

▪ Wat wil Filippus blykbaar hê moet Jesus voorsien?

▪ Waarom het iemand wat Jesus gesien het ook die Vader gesien?

▪ Hoe doen Jesus se volgelinge groter werke as hy?

▪ In watter opsig het Satan geen houvas op Jesus nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel