Het ek die heilige gees my persoonlike helper gemaak?
TEOLOË, sowel as mense oor die algemeen, het uiteenlopende menings oor die identiteit van God se heilige gees. Maar sulke onsekerheid is onnodig. Die Bybel toon duidelik wat die heilige gees is. Dit is nie ’n persoon, soos party mense beweer nie, maar dit is die kragtige werkende krag wat God gebruik om sy wil te volbring.—Psalm 104:30; Handelinge 2:33; 4:31; 2 Petrus 1:21.
Aangesien daar so ’n noue verband tussen die heilige gees en die uitvoering van God se voornemens bestaan, moet dit ons begeerte wees om ons lewe in ooreenstemming daarmee te bring. Dit moet ons begeerte wees om dit ons persoonlike helper te maak.
’n Helper—Waarom nodig?
Net voor Jesus die aarde verlaat het, het hy sy dissipels hierdie versekering gegee: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees.” En weer: “Nietemin vertel ek julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat ek weggaan. Want as ek nie weggaan nie, sal die helper hoegenaamd nie na julle toe kom nie; maar as ek wel heengaan, sal ek hom na julle toe stuur.”—Johannes 14:16, 17; 16:7.
Jesus het sy dissipels ’n gewigtige opdrag gegee toe hy hulle beveel het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Dit sou geensins maklik wees nie, want dit moes ondanks teenstand gedoen word.—Matteus 10:22, 23.
Teenstand van buite sou gepaardgaan met ’n mate van wrywing in die gemeente. “Ek vermaan julle dan nou, broers,” het Paulus omstreeks 56 G.J. aan die Christene in Rome geskryf, “om dié in die oog te hou wat, in stryd met die leer wat julle geleer het, verdeeldheid en aanleiding tot struikeling veroorsaak, en vermy hulle” (Romeine 16:17, 18). Hierdie situasie sou ná die dood van die apostels vererger. Paulus het gewaarsku: “Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek.”—Handelinge 20:29, 30.
God se hulp was nodig om hierdie struikelblokke teë te werk. Hy het dit deur Jesus voorsien. Ná sy opstanding is ongeveer 120 van sy volgelinge, op Pinksterdag 33 G.J., “almal met heilige gees vervul”.—Handelinge 1:15; 2:4.
Die dissipels het besef dat die heilige gees wat by hierdie geleentheid uitgestort is, die hulp was wat Jesus beloof het. Hulle het die identifikasie wat Jesus hulle gegee het nou ongetwyfeld beter verstaan: “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, dié sal julle alles leer en julle weer gedagtig maak aan alles wat ek julle vertel het” (Johannes 14:26). Hy het dit ook ‘die helper, die gees van die waarheid’ genoem.—Johannes 15:26.
In watter opsig is die gees ’n helper?
Die gees moes op etlike maniere as ’n helper dien. Eerstens het Jesus beloof dat dit sy dissipels weer gedagtig sou maak aan die dinge wat hy hulle vertel het. Hy het hiermee meer bedoel as dat dit hulle net sou help om woorde te herroep. Die gees moes hulle help om die dieper betekenis en belangrikheid te verstaan van wat hy hulle geleer het (Johannes 16:12-14). Kortom, die gees moes sy dissipels lei om die waarheid beter te verstaan. Die apostel Paulus het later geskryf: “Dit is aan ons wat God dit deur sy gees geopenbaar het, want die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God” (1 Korintiërs 2:10). Jesus se gesalfde volgelinge kon slegs juiste kennis aan ander oordra as hulle self ’n stewig gegronde begrip gehad het.
Tweedens het Jesus sy dissipels geleer om te bid en om dit dikwels te doen. As hulle soms onseker was waaroor hulle moes bid, kon die gees vir hulle intree of hulle help. “Net so kom ook die gees ons met ons swakheid te hulp; want ons weet nie om wat ons moet bid soos ons moet nie, maar die gees self pleit vir ons met onuitgesproke kreuninge.”—Romeine 8:26.
Derdens moes die gees Jesus se dissipels help om die waarheid in die openbaar te verdedig. Hy het hulle gewaarsku: “Hulle sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer, en hulle sal julle in hulle sinagoges gesel. Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, tot ’n getuienis vir hulle en die nasies. Maar wanneer hulle julle oorlewer, moet julle nie besorg raak oor hoe of wat julle moet spreek nie; want wat julle moet spreek, sal in daardie uur aan julle gegee word; want dié wat spreek, is nie net julle nie, maar dit is die gees van julle Vader wat deur julle spreek.”—Matteus 10:17-20.
Die heilige gees sou mense ook help om die Christengemeente te identifiseer en die lede daarvan beweeg om wyse persoonlike besluite te neem. Kom ons bespreek hierdie twee aspekte van hierdie onderwerp breedvoeriger en sien watter betekenis dit vandag vir ons het.
Om as ’n identifiserende teken te dien
Die Jode het eeue lank as God se uitverkore volk onder die Mosaïese Wet gedien. Omdat hulle Jesus as die Messias verwerp het, het hy voorspel dat hulle self kort voor lank verwerp sou word: “Het julle nooit in die Skrif gelees nie: ‘Die steen wat die bouers verwerp het, is die een wat die hoofhoeksteen geword het. Jehovah het dit teweeggebring, en dit is wonderlik in ons oë’? Daarom sê ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en vir ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matteus 21:42, 43). Toe die Christengemeente op Pinkster 33 G.J. gestig is, het Christus se volgelinge die ‘nasie geword wat die vrugte daarvan voortbring’. Van toe af was hierdie gemeente God se kommunikasiekanaal. Sodat mense kon sien dat God sy guns nou verskuif het, het hy ’n onmiskenbare teken voorsien.
Op Pinksterdag het die heilige gees die dissipels in staat gestel om in tale te praat wat hulle nog nooit geleer het nie, wat omstanders met verbasing laat vra het: “Hoe is dit dan dat elkeen van ons sy eie taal hoor waarin ons gebore is?” (Handelinge 2:7, 8). Die vermoë om in onbekende tale te praat, asook die “baie voortekens en tekens [wat] deur middel van die apostels begin plaasvind” het, het ongeveer drieduisend mense tot die besef laat kom dat God se gees waarlik werksaam was.—Handelinge 2:41, 43.
Christus se dissipels is ook duidelik as God se knegte geïdentifiseer omdat hulle “die vrugte van die gees” voortgebring het—naamlik liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing (Galasiërs 5:22, 23). Trouens, liefde het by uitstek die ware Christengemeente geïdentifiseer. Jesus het voorspel: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.
Lede van die vroeë Christengemeente het die leiding van God se heilige gees aanvaar en gebruik gemaak van die hulp wat dit gebied het. Hoewel Christene van vandag besef dat God nie nou die dooies opwek en wonderwerke verrig soos in die eerste eeu nie, laat hulle toe dat die vrugte van God se gees hulle as ware dissipels van Jesus Christus identifiseer.—1 Korintiërs 13:8.
’n Helper om persoonlike besluite te neem
Die Bybel is ’n produk van die heilige gees. Wanneer ons dus toelaat dat die Bybel ons oortuig, is dit asof die heilige gees ons onderrig (2 Timoteus 3:16, 17). Dit kan ons help om wyse besluite te neem. Maar laat ons dit toe om dit te doen?
Wat van ons keuse van ’n beroep of werk? Die heilige gees sal ons help om ’n betrekking wat ons oorweeg uit Jehovah se oogpunt te beskou. Ons werk moet in ooreenstemming met Bybelbeginsels wees, en dit moet ons verkieslik help om teokratiese doelwitte na te streef. Die salaris of die vernaamheid en aansien wat met ’n werk gepaardgaan, is werklik van minder belang. Van groter belang is of dit ons van lewensbenodigdhede voorsien en ons met genoeg tyd en geleenthede laat om ons Christelike verantwoordelikhede na te kom.
Dit is normaal en gepas om graag die lewe te wil geniet (Prediker 2:24, NW; 11:9). ’n Gebalanseerde Christen sal dalk ontspanning soek om hom te verkwik en te vermaak. Maar hy moet ontspanning kies wat die vrugte van die gees weerspieël, nie die soort wat deur “die werke van die vlees” gekenmerk word nie. Paulus verduidelik: “Die werke van die vlees is openbaar, en hulle is hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodery, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap, swelgerye en dergelike dinge.” Ons moet dit ook vermy om ‘egotisties te word en wedywering met mekaar aan te wakker en afgunstig op mekaar te wees’.—Galasiërs 5:16-26.
Dieselfde geld wat ons keuse van vriende betref. Dit is verstandig om vriende volgens hulle geestelikheid te kies, nie volgens hulle uiterlike voorkoms of besittings nie. Die man Dawid was klaarblyklik God se vriend, want God het hom as “’n man na [sy] hart” beskryf (Handelinge 13:22). God het die uiterlike voorkoms geïgnoreer en Dawid as koning van Israel gekies volgens dié beginsel: “Nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”—1 Samuel 16:7.
Duisende vriendskappe het al verbrokkel omdat dit op die uiterlike voorkoms of op besittings gegrond was. Vriendskappe wat op onsekere rykdom gebou word, kan skielik eindig (Spreuke 14:20). God se geesgeïnspireerde Woord spoor ons aan om vriende te kies wat ons kan help om Jehovah te dien. Dit sê vir ons om ons daarop toe te lê om te gee eerder as om te ontvang omdat dit groter vreugde verskaf om te gee (Handelinge 20:35). Tyd en liefde is van die kosbaarste dinge wat ons ons vriende kan gee.
Vir ’n Christen wat op soek is na ’n huweliksmaat, gee die Bybel geesgeïnspireerde raad. Dit sê in sekere sin: ‘Kyk verder as die gesig en die figuur. Kyk na die voete.’ Die voete? Ja, in dié sin: Word hulle gebruik om Jehovah se werk te doen om die goeie nuus te verkondig, en is hulle dus as ’t ware lieflik in sy oë? Is hulle geskoei met die boodskap van waarheid en die goeie nuus van vrede? Ons lees: “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!”—Jesaja 52:7; Efesiërs 6:15.
Aangesien ons in ‘kritieke tye lewe wat moeilik is om deur te kom’, het ons hulp nodig om God se wil te doen (2 Timoteus 3:1). Die helper, God se heilige gees, het die werk van Christene in die eerste eeu kragtig ondersteun, en dit was ook hulle persoonlike helper. Om God se Woord, wat ’n produk van die heilige gees is, ywerig te bestudeer, is ’n vername manier waarop ons ook die heilige gees ons persoonlike helper kan maak. Het ons dit gedoen?
[Volbladillustrasie op bladsy 23]