Wêreld
Definisie: Wanneer dit ’n vertaling van die Griekse woord koʹsmos is, kan “wêreld” die volgende beteken: (1) die mensdom in sy geheel, ongeag hulle morele toestand of handelwyse, (2) die raamwerk van menslike omstandighede waarin ’n persoon gebore word of waarin hy lewe, of (3) die mensemassa, Jehovah se goedgekeurde knegte uitgesluit. Sommige Bybelvertalers het verkeerde indrukke geskep deur “wêreld” ook te gebruik as die ekwivalent van Griekse uitdrukkings wat “aarde”, “bewoonde aarde” en “stelsel” beteken. Die volgende bespreking vestig hoofsaaklik die aandag op die derde van die betekenisse van “wêreld” wat hierbo gegee word.
Sal die wêreld met vuur vernietig word?
2 Pet. 3:7: “Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord [van God] as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.” (Let op dat dit die “goddelose mense” is wat vernietig gaan word, nie die mensdom in sy geheel nie. Vers 6 verwys eweneens na die vernietiging van die “wêreld” in Noag se dag. Goddelose mense is vernietig, maar die aarde sowel as godvresende Noag en sy huisgesin het behoue gebly. Is die “vuur” in die komende oordeelsdag letterlik of is dit ’n simbool van algehele vernietiging? Watter uitwerking sou ’n letterlike vuur hê op letterlike hemelliggame soos die vuurwarm son en sterre? Kyk bladsye 26, 27, onder “Aarde”, vir ’n verdere bespreking van hierdie teks.)
Spr. 2:21, 22: “Die opregtes sal die land [“aarde”, NW] bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land [“aarde”, NW] uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
Wie heers oor hierdie wêreld—God of Satan?
Dan. 4:35: “Na sy wil handel Hy [die allerhoogste God, Jehovah] met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (In dieselfde trant noem Jeremia 10:6, 7 Jehovah die “Koning van die nasies” omdat hy die Opperkoning is, die Een wat mensekonings en die nasies waaroor hulle regeer tot verantwoording kan en sal roep. As die aarde se Skepper is Jehovah die regmatige Heerser daarvan; hy het nooit van daardie posisie afstand gedoen nie.)
Joh. 14:30: “[Jesus het gesê:] Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.” (Hierdie owerste is klaarblyklik nie Jehovah God, wie se wil Jesus altyd lojaal doen nie. Hierdie “owerste van hierdie wêreld” moet “die Bose”, Satan die Duiwel, wees in wie se mag ‘die hele wêreld lê’, soos 1 Johannes 5:19 sê. Hoewel die mensdom op ’n planeet lewe wat aan God behoort, is die wêreld wat bestaan uit diegene wat nie Jehovah se gehoorsame knegte is nie onder Satan se beheer omdat hulle hom gehoorsaam. Diegene wat hulle heelhartig aan Jehovah se heerskappy onderwerp, is geen deel van daardie wêreld nie. Vergelyk 2 Korinthiërs 4:4.)
Openb. 13:2: “Die draak [Satan die Duiwel] het hom [die dier] sy krag gegee en sy troon en groot mag.” (’n Vergelyking van die beskrywing van hierdie “dier” met Daniël 7 toon dat dit menseregering voorstel, nie net een regering nie, maar die wêreldstelsel van politieke heerskappy. Die feit dat Satan die owerste daarvan is, strook met Lukas 4:5-7, en ook met Openbaring 16:14, 16, wat uitbeeld hoedat duiwelse uitinge die heersers van die hele aarde na oorlog teen God by Armageddon laat opruk. Satan se heerskappy oor die wêreld word slegs deur God geduld totdat Sy vasgestelde tyd aanbreek om die geskil van universele soewereiniteit te besleg.)
Openb. 11:15, NAV: “Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: ‘Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here [Jehovah] en sy Gesalfde.’” (Toe dit in 1914 plaasgevind het, het “die laaste dae” vir die teenswoordige, goddelose stelsel begin. ’n Nuwe openbaring van Jehovah se soewereiniteit het verskyn, hierdie keer deur sy Seun as Messiaanse Heerser. Die goddelose wêreld sal binnekort vernietig word en dan sal Satan, sy goddelose geesowerste, in die afgrond gewerp word sodat hy die mensdom nie kan beïnvloed nie.)
Wat is ware Christene se gesindheid teenoor die wêreld en teenoor mense wat ’n deel van die wêreld is?
Joh. 15:19: “Omdat julle [Jesus se volgelinge] nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.” (Ware Christene is dus nie ’n deel van die mensemassa wat van God vervreemd is nie. Hulle sien om na normale menslike bedrywighede, maar hulle vermy gesindhede, spraak en gedrag wat eie aan die wêreld is en wat strydig is met Jehovah se regverdige weë.) (Kyk bladsye 148-152 en 298-304.)
Jak. 4:4: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.” (Omdat Christene onvolmaak is, sal hulle soms besmet word deur kontak met die wêreld. Maar wanneer hulle uit God se Woord vermaan word, het hulle berou en verander hulle hulle weë. Maar as sommige hulself opsetlik aan die kant van die wêreld skaar of die gees daarvan openbaar, toon hulle dat hulle nie meer ware Christene is nie, maar ’n deel geword het van die wêreld wat God vyandig gesind is.)
Rom. 13:1, NAV: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” (Diegene wat op hierdie raad ag slaan, is nie rebelle wat probeer om regerings van die wêreld omver te werp nie. Hulle onderwerp hulle aan die gesag van politieke heersers en gehoorsaam hulle solank die eise van sulke heersers nie met God se vereistes bots nie. God het voorspel dat daar sulke regerings sou wees. Hulle oefen mag uit, nie omdat hy hulle gemagtig het nie, maar omdat hy hulle toelaat. Op sy bestemde tyd sal hy hulle ook verwyder.)
Gal. 6:10: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” (Ware Christene huiwer dus nie om aan hulle naaste goed te doen nie. Hulle volg God na, wat sy son laat opgaan oor goddelose mense en goeies [Matt. 5:43-48].)
Matt. 5:14-16: “Julle is die lig van die wêreld. . . . Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (As ander God moet verheerlik oor wat Christene doen, is dit duidelik dat Christene daadwerklik vir die wêreld oor God se naam en voorneme moet getuig. Dit is op hierdie bedrywigheid dat ware Christene die grootste klem lê.)
Wat is die betekenis van huidige wêreldtoestande?
Kyk onder “Laaste dae”.