Die grootste hiervan is die liefde”
“En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”—1 KORINTHIËRS 13:13.
1. Wat het ’n antropoloog oor liefde gesê?
EEN van die wêreld se vernaamste antropoloë het eenkeer gesê: “Ons verstaan vir die eerste keer in die geskiedenis van ons spesie dat die behoefte aan liefde die belangrikste van alle basiese sielkundige behoeftes van die mens is. Dit is die spil van alle mensebehoeftes net soos ons son die spil is van ons sonnestelsel met die planete wat daarom wentel. . . . Die kind wat nie liefde ontvang het nie, is biochemies, fisiologies en sielkundig baie anders as die kind wat liefde ontvang het. Eersgenoemde groei selfs anders as laasgenoemde. Wat ons nou weet is dat die mens gebore is om te lewe asof lewe en liefde een begrip is. Dit is natuurlik nie ’n nuwe gedagte nie. Dit is ’n bevestiging van die Bergpredikasie.”
2. (a) Hoe het die apostel Paulus die belangrikheid van liefde getoon? (b) Watter vrae moet ons nou bespreek?
2 Ja, soos hierdie man met wêreldse geleerdheid toegegee het, hierdie waarheid oor die belangrikheid van liefde vir die mens se welsyn is nie iets nuuts nie. Hoewel wêreldse geleerdes dit dalk nou eers besef, het dit meer as 19 eeue gelede in God se Woord verskyn. Dit is waarom die apostel Paulus kon skryf: “En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korinthiërs 13:13). Weet jy waarom liefde groter as geloof en hoop is? Waarom kan daar gesê word dat liefde die grootste van God se eienskappe en van die vrugte van sy gees is?
Vier soorte liefde
3. Watter skriftuurlike voorbeelde is daar van romantiese liefde?
3 Die mens se vermoë om liefde te betoon, is ’n blyk van God se wysheid en liefdevolle besorgdheid oor die mensdom. Dit is interessant dat die antieke Grieke vier woorde vir “liefde” gehad het. Een was eʹros, wat gedui het op romantiese liefde wat met seksuele aantrekkingskrag gepaard gaan. Skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte het geen rede gehad om eʹros te gebruik nie, maar die Septuagint gebruik vorme daarvan in Spreuke 7:18 en 30:16, en daar is ander verwysings na romantiese liefde in die Hebreeuse Geskrifte. Ons lees byvoorbeeld dat Isak Rebekka “liefgehad” het (Genesis 24:67). ’n Waarlik merkwaardige voorbeeld van hierdie soort liefde is die geval van Jakob, wat blykbaar met die eerste oogopslag op die pragtige Ragel verlief geraak het. Trouens, Jakob het “sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos ’n paar dae, omdat hy haar liefgehad het” (Genesis 29:9-11, 17, 20). Die Hooglied van Salomo bespreek ook romantiese liefde tussen ’n herder en ’n meisie. Maar daar kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie dat hierdie soort liefde, wat ’n bron van tevredenheid en vreugde kan wees, net in harmonie met God se regverdige standaarde betoon moet word. Die Bybel deel ons mee dat ’n man net in die liefde van sy eie wettige vrou ‘gedurigdeur bedwelmd mag wees’.—Spreuke 5:15-20.
4. Watter voorbeeld is daar in die Skrif van familieliefde?
4 Dan is daar die sterk familieliefde, of natuurlike geneentheid, wat op bloedverwantskap berus, waarvoor die Grieke die woord stor·gheʹ gehad het. Dit is verantwoordelik vir die gesegde: “Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.” ’n Goeie voorbeeld hiervan is die liefde wat die susters Maria en Martha vir hulle broer Lasarus gehad het. Dit is duidelik dat hulle baie lief was vir hom, want hulle het baie getreur oor sy skielike dood. En hoe bly was hulle nie toe Jesus hulle geliefde Lasarus opgewek het nie! (Johannes 11:1-44). Die liefde van ’n moeder vir haar kind is nog ’n voorbeeld van hierdie soort liefde. (Vergelyk 1 Thessalonicense 2:7.) Om dus te beklemtoon hoe groot sy liefde vir Sion was, het Jehovah gesê dat dit selfs groter as dié van ’n moeder vir haar kind is.—Jesaja 49:15.
5. Hoe is ’n gebrek aan natuurlike geneentheid vandag duidelik?
5 Een aanduiding dat ons in “die laaste dae” leef met sy ‘kritieke tye, wat moeilik is om deur te kom’, is ’n gebrek aan “natuurlike geneentheid” (2 Timotheüs 3:1, 3, NW). Omdat daar ’n gebrek aan familieliefde is, loop party jongmense van die huis af weg, en sommige volwasse kinders verwaarloos hulle bejaarde ouers. (Vergelyk Spreuke 23:22.) Die gebrek aan natuurlike geneentheid word ook gesien in kindermishandeling wat so algemeen voorkom—sommige ouers slaan hulle kinders so erg dat hulle in die hospitaal opgeneem moet word. ’n Gebrek aan ouerliefde blyk ook uit die feit dat baie ouers versuim om hulle kinders te dissiplineer. As kinders toegelaat word om hulle eie gang te gaan, is dit nie ’n blyk van liefde nie, maar dit kom daarop neer dat ouers die maklikste weg kies. ’n Vader wat sy kinders waarlik liefhet, sal hulle dissiplineer wanneer dit nodig is.—Spreuke 13:24; Hebreërs 12:5-11.
6. Gee skriftuurlike voorbeelde van geneentheid tussen vriende.
6 Dan is daar die Griekse woord fi·liʹa, wat dui op geneentheid (sonder enige seksuele gevoelens) tussen vriende, soos tussen twee volwasse mans of vroue. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die liefde wat Dawid en Jonatan vir mekaar gehad het. Toe Jonatan in ’n geveg gedood is, het Dawid oor hom getreur en gesê: “Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou” (2 Samuel 1:26, NAV). Ons leer ook dat Christus besonder lief was vir die apostel Johannes, wat bekend was as die dissipel “vir wie Jesus liefgehad het”.—Johannes 20:2.
7. Watter soort liefde is a·gaʹpe, en hoe is hierdie liefde betoon?
7 Watter Griekse woord het Paulus gebruik in 1 Korinthiërs 13:13, waar hy geloof, hoop en liefde gemeld het en gesê het: “Die grootste hiervan is die liefde”? Hier is die woord a·gaʹpe, dieselfde woord wat die apostel Johannes gebruik het toe hy gesê het: “God is liefde” (1 Johannes 4:8, 16). Dit is ’n liefde wat deur beginsel gelei of gerig word. Dit sluit nie noodwendig geneentheid en gehegtheid in nie, maar dit is ’n onselfsugtige emosie of gevoel wat ’n mens beweeg om aan ander goed te doen ongeag die ontvanger se verdienstelikheid of enige voordele wat die gewer ontvang. Hierdie soort liefde het God die kosbaarste skat van sy hart, sy eniggebore Seun, Jesus Christus, laat gee “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Paulus het ons so goed daaraan herinner: “Nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe—vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe—maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:7, 8). Ja, a·gaʹpe doen goed aan ander ongeag hulle status in die lewe of wat dit vereis van die persoon wat die liefde betoon.
Waarom groter as geloof en hoop?
8. Waarom is a·gaʹpe groter as geloof?
8 Maar waarom het Paulus gesê dat hierdie soort liefde (a·gaʹpe) groter as geloof is? Hy het in 1 Korinthiërs 13:2 geskryf: “Al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.” (Vergelyk Mattheüs 17:20.) Ja, as ons om ’n selfsugtige rede probeer om kennis op te doen en groter geloof te verkry, sal dit ons geensins in God se guns bring nie. Jesus het eweneens getoon dat party ‘in sy Naam sal profeteer, in sy Naam duiwels sal uitdryf en in sy Naam baie kragte sal doen’, maar nie sy goedkeuring sal wegdra nie.—Mattheüs 7:22, 23.
9. Waarom is liefde groter as hoop?
9 Waarom is die a·gaʹpe vorm van liefde ook groter as hoop? Omdat hoop egosentries kan wees, aangesien ’n mens hoofsaaklik besorg kan wees oor hoe voordelig dit vir jou is, terwyl liefde ‘nie sy eie belang soek nie’ (1 Korinthiërs 13:4, 5). Maar hoop—soos dié om deur die “groot verdrukking” tot in die nuwe wêreld te lewe—hou op wanneer die dinge waarop ons gehoop het verwesenlik word (Mattheüs 24:21). Soos Paulus sê: “Ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” (Romeine 8:24, 25). Liefde verduur alle dinge en dit faal nooit nie (1 Korinthiërs 13:7, 8, NW). Onselfsugtige liefde (a·gaʹpe) is dus groter as geloof of hoop.
Groter as wysheid, geregtigheid en mag?
10. Waarom kan daar gesê word dat liefde die grootste van God se vier hoofeienskappe is?
10 Kom ons beskou nou die vier hoofeienskappe van Jehovah God: wysheid, geregtigheid, mag en liefde. Kan daar ook gesê word dat liefde die grootste hiervan is? Beslis. Waarom? Omdat liefde die beweegkrag is agter die dinge wat God doen. Dit is waarom die apostel Johannes geskryf het: “God is liefde.” Ja, Jehovah is die verpersoonliking van liefde (1 Johannes 4:8, 16). Nêrens in die Skrif lees ons dat God wysheid, geregtigheid of mag is nie. Ons word eerder meegedeel dat Jehovah hierdie eienskappe het (Job 12:13; Psalm 147:5; Daniël 4:37, NW). In hom is hierdie vier eienskappe in volmaakte ewewig. Jehovah word deur liefde beweeg om sy voornemens te vervul deur die ander drie eienskappe te gebruik of in aanmerking te neem.
11. Wat het Jehovah beweeg om die heelal en gees- en menseskepsele te maak?
11 Wat het Jehovah dus beweeg om die heelal en intelligente gees- en menseskepsele te maak? Was dit wysheid of mag? Nee, want God het sy wysheid en mag bloot gebruik om te skep. Ons lees byvoorbeeld: “Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond” (Spreuke 3:19). Daarbenewens het sy geregtigheid nie vereis dat hy mense met ’n keusevryheid skep nie. God se liefde het hom beweeg om die vreugdes van intelligente bestaan met ander te deel. Dit was weens liefde dat daar ’n manier gevind is om die veroordeling te verwyder wat vanweë geregtigheid oor die mensdom gekom het omdat Adam gesondig het (Johannes 3:16). Ja, en dit was liefde wat Jehovah beweeg het om Hom voor te neem dat gehoorsame mense in die komende aardse Paradys sal woon.—Lukas 23:43, NW.
12. Wat moet ons reaksie wees ten opsigte van God se mag, geregtigheid en liefde?
12 As gevolg van God se almag kan ons dit nie waag om sy jaloesie op te wek nie. Paulus het gevra: “‘Wek ons Jehovah tot jaloesie op?’ Is ons dan sterker as Hy?” (1 Korinthiërs 10:22, NW). Jehovah is natuurlik “’n jaloerse God”, nie in ’n slegte sin nie, maar in die sin dat hy “uitsluitlike toegewydheid” vereis (Exodus 20:5, vgl. NW). As Christene staan ons verstom oor die talle blyke van God se ondeurgrondelike wysheid (Romeine 11:33-35). Ons groot eerbied vir sy geregtigheid moet ons ver laat wegbly van moedswillige sonde (Hebreërs 10:26-31). Maar liefde is ongetwyfeld die grootste van God se vier hoofeienskappe. En dit is Jehovah se onselfsugtige liefde wat maak dat ons tot hom aangetrokke voel en hom wil behaag, hom wil aanbid en sy heilige naam wil verheerlik.—Spreuke 27:11.
Die grootste van die vrugte van die gees
13. Waar staan liefde onder die vrugte van God se gees?
13 Waar staan liefde onder die nege vrugte van God se gees, wat in Galasiërs 5:22, 23 gemeld word? Hulle is “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, geloof, sagaardigheid, selfbeheersing” (NW). Daar is ’n goeie rede waarom Paulus liefde eerste genoem het. Is liefde groter as vreugde, die volgende eienskap wat hy meld? Ja, dit is, want daar kan geen blywende vreugde sonder liefde wees nie. Trouens, die wêreld is so vreugdeloos vanweë selfsug, die gebrek aan liefde. Maar Jehovah se Getuies het liefde onder mekaar, en hulle het hulle hemelse Vader lief. Ons moet dus verwag dat hulle vreugdevol sal wees, en daar is voorspel dat hulle “’n vreugdegeroep [sal] aanhef weens die goeie harttoestand”.—Jesaja 65:14, NW.
14. Waarom kan daar gesê word dat liefde groter is as die gees se vrug van vrede?
14 Liefde is ook groter as die gees se vrug van vrede. As gevolg van die gebrek aan liefde is die wêreld vol wrywing en tweedrag. Maar oor die hele wêreld is daar vrede onder Jehovah se volk. Die psalmis se woorde is waar in hulle geval: “[Jehovah] sal sy volk seën met vrede” (Psalm 29:11). Hulle het hierdie vrede omdat hulle die identifiserende teken van ware Christene, naamlik liefde het (Johannes 13:35). Liefde alleen kan alle verdelende faktore, hetsy dit rasse-, nasionale of kulturele faktore is, te bowe kom. Dit is “die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind”.—Kolossense 3:14, NAV.
15. Hoe word liefde se oortreffende rol gesien in vergelyking met die gees se vrug van lankmoedigheid?
15 Liefde se oortreffende rol kan ook gesien word wanneer dit met lankmoedigheid, die geduldige verduring van onreg of provokasie, vergelyk word. Om lankmoedig te wees, beteken om geduldig te wees en nie gou kwaad te word nie. Wat veroorsaak dat mense ongeduldig is en gou kwaad word? Is dit nie ’n gebrek aan liefde nie? Ons liefdevolle Vader is egter lankmoedig en “stadig om kwaad te word” (Exodus 34:6, NW; Lukas 18:7). Waarom? Omdat hy ons liefhet en nie “wil . . . hê dat sommige moet vergaan nie”.—2 Petrus 3:9.
16. Hoe vergelyk liefde met vriendelikheid, goedheid, sagaardigheid en selfbeheersing?
16 Ons het vroeër gesien waarom liefde groter as geloof is, en die redes wat gegee is, is van toepassing op die res van die vrugte van die gees, dit wil sê, vriendelikheid, goedheid, sagaardigheid en selfbeheersing. Al hierdie eienskappe is noodsaaklik, maar sonder liefde sal ons nie daarby baat vind nie, soos Paulus in 1 Korinthiërs 13:3 gesê het: “Al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” Aan die ander kant is dit liefde wat eienskappe soos vriendelikheid, goedheid, geloof, sagaardigheid en selfbeheersing voortbring. Daarom het Paulus voorts gesê dat liefde vriendelik is en dat dit ‘alle dinge verdra, alle dinge glo, alle dinge hoop, alle dinge verduur’. Ja, en “die liefde faal nimmer” (1 Korinthiërs 13:4, 7, 8, NW). Daar is al tereg gesê dat die ander vrugte van die gees blyke, of verskillende aspekte, is van liefde, die vrug wat eerste gemeld word. Hieruit volg dit dat liefde inderdaad die grootste van al nege vrugte van die gees is.
17. Watter skriftuurlike verklarings staaf die slotsom dat liefde die grootste vrug van die gees is?
17 Paulus se woorde staaf die slotsom dat liefde die grootste van die vrugte van God se gees is: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ’n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: . . . word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Romeine 13:8-10). Die dissipel Jakobus praat op gepaste wyse van hierdie wet om jou naaste soos jouself lief te hê as “die koninklike wet”.—Jakobus 2:8.
18. Watter verdere bewys is daar dat liefde die grootste eienskap is?
18 Is daar nog verdere bewys dat liefde die grootste eienskap is? Ja, beslis. Beskou wat gebeur het toe ’n skrifgeleerde Jesus gevra het: “Wat is die eerste gebod van almal?” Hy het heel moontlik verwag dat Jesus een van die Tien Gebooie sou aanhaal. Maar Jesus het uit Deuteronomium 6:4, 5 aangehaal en gesê: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag.” Jesus het toe bygevoeg: “En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”—Markus 12:28-31.
19. Wat is ’n paar besondere vrugte van a·gaʹpe?
19 Paulus het voorwaar nie oordryf nie toe hy van geloof, hoop en liefde gepraat en gesê het: “Die grootste hiervan is die liefde.” Die betoning van liefde lei tot ’n goeie verhouding met ons hemelse Vader en met ander, waaronder diegene in die gemeente en ons gesinslede. Liefde het ’n opbouende uitwerking op ons. En die volgende artikel sal toon presies hoe lonend ware liefde kan wees.
Hoe sal jy antwoord?
◻ In watter opsig is liefde groter as geloof en hoop?
◻ Wat is a·gaʹpe, en hoe word sulke liefde betoon?
◻ Waarom is liefde die grootste van God se vier hoofeienskappe?
◻ In watter opsigte is liefde groter as die ander vrugte van die gees?
[Prent op bladsy 13]
Liefde het God beweeg om die mensdom te skep om in ’n aardse paradys te lewe. Hoop jy om daar te wees?