Vrae van lesers
◼ Is dit gepas om van ’n komende “nuwe wêreld” te praat?
Hierdie vraag kan met reg gevra word, aangesien die Griekse woord koʹsmos, wat dikwels met “wêreld” vertaal word, basies die mensdom beteken, en God gaan nie ’n nuwe menseras skep nie. Daarbenewens kom die uitdrukking kai·nosʹ koʹsmos (letterlik, “nuwe wêreld”) nie in die Bybel voor nie.
Maar volgens die Bybelse gebruik van koʹsmos kan ’n Christen die komende Paradys wat op die aarde herstel gaan word wel ’n “nuwe wêreld” noem, The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik: ‘Die selfstandige naamwoord kosmos het oorspronklik gebou beteken, maar dit beteken in die besonder orde.’ Hierdie woordeboek voeg by dat die woord ook bepaalde betekenisse het, soos “ornament en versiering”, “die reëling van die lewe in die mensegemeenskap” en “die bewoners van die aarde, die mens”.
In die Christelike Griekse Skrifte word koʹsmos dikwels in die betekenis van die hele mensdom gebruik. Ons lees dus: “Almal het gesondig [dit wil sê, al Adam se onvolmaakte nakomelinge] en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:19, 23), Daarenteen ‘het God die wêreld [koʹsmos] so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo . . . die ewige lewe kan hê’ (Johannes 3:16), Ja, Christus se offer is beskikbaar vir alle mense wat geloof beoefen.
As dít die enigste Bybelse gebruik van koʹsmos was, sou ’n mens nie van ’n naderende “nuwe wêreld” kon praat nie, Waarom nie? Omdat sommige mense die komende groot verdrukking sal oorlewe. Hulle sal dan die geleentheid hê om in die herstelde Paradys te lewe. God sal dus nie ’n nuwe menseras, ’n nuwe mensdom, ’n nuwe wêreld van mense skep nie. Die Bybel gebruik koʹsmos egter nie net om die hele mensdom aan te dui nie.
Soms beteken die Griekse woord byvoorbeeld alle mense wat van God vervreemd is, Hebreërs 11:7 sê: “Deur die geloof het Noag . . . die wêreld [koʹsmos] veroordeel.” Hy het natuurlik nie alle mense, die hele mensdom, veroordeel nie; Noag en sewe gesinslede het die Vloed oorleef. Jesus het eweneens gebid: “Ek bid nie vir die wêreld [koʹsmos] nie, maar vir die wat U My gegee het . . . Die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”—Johannes 17:9, 14; vergelyk 2 Petrus 2:5; 3:6.
Maar kom ons beskou ’n ander betekenis wat die Bybel aan koʹsmos heg. Dit is om die raamwerk, orde of sfeer van menselewe aan te dui.a Hierdie betekenis word aangetref in Jesus se kommentaar: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld [koʹsmos] win, maar aan sy siel skade ly?” (Mattheüs 16:26). Dit spreek vanself dat Christus nie bedoel het dat ’n mens ‘die hele wêreld van die mensdom’ of ‘die hele wêreld van mense wat van God vervreemd is’ win nie. ’n Materialistiese persoon sou nie die mense kon win nie, maar wel wat mense het, doen of reël. Dit geld ook vir die apostel Paulus se opmerking dat ’n getroude persoon ‘oor die dinge van die wêreld besorg is’. So ook moet ’n Christen ‘die wêreld nie ten voile gebruik nie’.—1 Korinthiërs 7:31-33.
In hierdie sin is die betekenis van kosmos soortgelyk aan dié van die Griekse woord ai·on wat as “stelsel” of “eeu” weergegee kan word. (Kyk Aid to Bible Understanding, bladsye 1671-1674.) Ons vind dat die twee woorde soms feitlik verwisselbaar is. Die Afrikaanse Bybel tref byvoorbeeld geen onderskeid nie en gee albei hierdie Griekse woorde met “wêreld” weer. Beskou twee voorbeelde van die ooreenkoms tussen koʹsmos en ai·onʹ: (1) Paulus het geskryf dat Demas, wat “die teenwoordige stelsel [ai·onʹ] liefgehad het”, hom verlaat het. Maar die apostel Johannes het gewaarsku dat ons nie die wêreld [koʹsmos], die bron van “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe”, moet liefhê nie (2 Timotheüs 4:10, NW; 1 Johannes 2:15-17), (2) Johannes 12:31 praat van “die owerste van hierdie wêreld [koʹsmos]”, wat in 2 Korinthiërs 4:4 (NW) “die god van hierdie stelsel [ai·onʹ]” genoem word.
Koʹsmos, of “wêreld”, kan dus gebruik word in verband met die hele mensdom sowel as die raamwerk van die mensesfeer. Daarom kan ons tereg en met gelykstaande juistheid praat van die koms van ’n “nuwe stelsel” of van ’n “nuwe wêreld”. Dit sal ’n nuwe raamwerk, wêreldorde of sfeer van menselewe wees. Die meeste bewoners van die herstelde aardse Paradys sal voorheen in die ou stelsel gelewe het. Maar hulle sal behoue gebly of ’n opstanding ontvang het. Hulle sal derhalwe dieselfde mense wees. In die afwesigheid van die mensewêreld wat van God vervreemd is, en onder ’n nuwe reëling, of orde, wat op God se geopenbaarde wil gegrond is, sal daardie herstelde Paradys ’n nuwe wêreld wees.
[Voetnoot]
a Die voormelde woordeboek wys daarop dat kosmos selfs in eertydse, nie-Bybelse Grieks “die basiese term vir die wêreldorde, die wêreldstelsel, is”.
[Prent op bladsy 31]
Regverdige mense sal in die nuwe wêreld paradystoestande herstel