Ewige geluk wag op godvrugtige gewers
“So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—JOHANNES 3:16.
1, 2. (a) Wie is die grootste Gewer, en wat is sy grootste gawe aan die mensdom? (b) Watter eienskap het God geopenbaar toe hy sy grootste gawe gegee het?
JEHOVAH GOD is die allergrootste Gewer. Dit was van hom, die Skepper van die hemel en die aarde, wat die Christendissipel Jakobus geskryf het: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” (Jakobus 1:17). Jehovah is ook die Gewer van die grootste gawe wat ooit gegee kon word. Daar is ten opsigte van sy grootste gawe aan die mensdom gesê: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
2 Die spreker van daardie woorde was niemand anders as daardie eniggebore Seun van God self nie. ’n Eniggebore seun van ’n vader sal so ’n vader vanselfsprekend waardeer en liefhê as sy bron van lewe en van al die goeie dinge wat voorsien is sodat hy die lewe kan geniet. Maar God se liefde was nie tot sy Seun beperk nie. As God so ’n gawe aan sy ander skepsele sou gee, sou dit toon dat hy liefde op uitsonderlike wyse betoon. (Vergelyk Romeine 5:8-10.) Dit is nog duideliker wanneer ons ondersoek wat die woorde “gegee het” werklik in hierdie konteks beteken.
God se gawe van “die Seun van sy liefde”
3. Vir wie, benewens “die Seun van sy liefde”, was die hemelse Vader ook lief?
3 God het vir ’n onbepaalde tyd uitsluitlike omgang met hierdie eniggebore Seun—“die Seun van sy liefde”—in die hemelse ryk geniet (Kolossense 1:13). Gedurende al daardie tyd het die Vader en die Seun se liefde en toegeneentheid vir mekaar so toegeneem dat geen ander wedersydse liefde met hulle s’n vergelyk kan word nie. God het die ander skepsele wat hy deur middel van sy eniggebore Seun geskep het ook liefgehad as lede van die goddelike gesin van Jehovah. Liefde het dus oor die hele gesin van God geheers. Die heilige Skrif sê tereg: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Die goddelike gesin sou dus bestaan uit diegene vir wie die Vader, Jehovah God, lief is.
4. Hoe het dit meer beteken as die verlies van persoonlike omgang toe God sy Seun gegee het, en ten behoewe van wie het hy dit gedoen?
4 Die bande tussen Jehovah en sy eersgebore Seun was so heg dat dit op sigself ’n groot verlies sou wees as hulle hul sulke intieme omgang sou ontsê (Kolossense 1:15). Maar toe God hierdie eniggebore Seun “gegee het”, het dit nie net beteken dat God hom die persoonlike omgang met “die Seun van sy liefde” ontsê het nie. Dit het selfs beteken dat Jehovah toegelaat het dat sy Seun sterf en tydelik nie as lid van God se universele gesin bestaan het nie. Dit was ’n dood ten behoewe van diegene wat nooit lede van God se gesin was nie. Jehovah kon geen groter gawe ten behoewe van die behoeftige mensdom gee as sy eniggebore Seun nie, wat ook deur die Skrif geïdentifiseer word as “die begin van die skepping van God”.—Openbaring 3:14.
5. (a) Wat was die haglike toestand van Adam se nakomelinge, en wat het dit volgens God se geregtigheid van een van Sy getroue seuns vereis? (b) Wat het God se grootste gawe van hom vereis?
5 Die eerste mensepaar, Adam en Eva, het nie hulle plek as lede van God se gesin behou nie. Hulle het hulle in hierdie toestand bevind nadat hulle uit die tuin van Eden verdryf is omdat hulle teen God gesondig het. Hulle was nie meer lede van God se gesin nie, en hulle was boonop ter dood veroordeel. Die probleem was derhalwe nie bloot dat hulle nakomelinge in God se guns herstel moes word as lede van sy gesin nie, maar ook dat die goddelike doodsvonnis oor hulle opgehef moes word. Volgens die werking van goddelike geregtigheid sou dit vereis dat een van Jehovah God se getroue seuns as ’n plaasvervanger, of ’n losprys, sterf. Die groot vraag was dus: Sou die een wat gekies word gewillig wees om as plaasvervanger ten behoewe van menslike sondaars te sterf? Boonop het dit ’n wonderwerk van die almagtige God vereis om so iets tot stand te bring. Dit sou ook vereis dat goddelike liefde op ’n wyse betoon word wat nog nooit geëwenaar is nie.—Romeine 8:32.
6. Hoe kon God se Seun voldoen aan die vereistes vir die situasie waarin die sondige mensdom hulle bevind het, en wat het hy in hierdie verband gesê?
6 Net Jehovah se eersgebore Seun kon voldoen aan die spesiale vereistes vir die situasie waarin die sondige mensdom hulle bevind het. Hy is so ’n beeld van sy hemelse Vader in die betoning van liefde vir lede van die gesin wat deur God geskep is dat hy sonder weerga onder die seuns van God is. Aangesien alle ander intelligente skepsele deur hom geskep is, is sy liefde vir hulle beslis groot. Daarbenewens is liefde ’n oorheersende eienskap van Jehovah se eniggebore Seun, Jesus Christus, omdat “hy . . . die weerspieëling van [God se] heerlikheid en die noukeurige afdruk van sy wese” is (Hebreërs 1:3, NW). Jesus het getoon dat hy gewillig is om hierdie liefde in die grootste mate te bewys deur sy lewe ten behoewe van die sondige mensdom te gee toe hy vir sy 12 apostels gesê het: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”—Markus 10:45; sien ook Johannes 15:13.
7, 8. (a) Wat het Jehovah beweeg om Jesus Christus in die wêreld van die mensdom in te stuur? (b) Op watter soort sending het God sy eniggebore Seun gestuur?
7 Jehovah God het ’n spesiale rede gehad waarom hy Jesus in hierdie verarmde wêreld van die mensdom ingestuur het. Goddelike liefde was die beweegrede hiervoor, want Jesus het self gesê: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel [“oordeel”, NW] nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”—Johannes 3:16, 17.
8 Jehovah het sy eniggebore Seun liefdevol op ’n sending van redding gestuur. God het nie sy Seun na die aarde gestuur om die wêreld te oordeel nie. As God se Seun op so ’n sending van oordeel gestuur was, sou die toekoms vir die hele mensdom hopeloos gewees het. Die vonnis van ongunstige oordeel wat Jesus Christus oor die mensdom sou uitspreek, sou ’n doodsvonnis wees (Romeine 5:12). Deur hierdie unieke betoning van goddelike liefde het God dus ’n teëwig voorsien vir die doodsvonnis wat deur absolute geregtigheid vereis sou word.
9. Hoe het die psalmis Dawid oor Jehovah se gawes gevoel?
9 Jehovah God betoon en demonstreer in alle dinge liefde as die uitnemende eienskap van sy persoonlikheid. En daar kan tereg gesê word dat God sy getroue aanbidders op aarde liefdevol oorgenoeg goeie dinge gee. Die psalmis Dawid het so gevoel oor die saak toe hy aan God gesê het: “Hoe oorvloedig is u goedheid, wat u as ’n skat weggelê het vir dié wat u vrees! Wat u betoon het aan diegene wat hulle toevlug tot u geneem het, ten aanskoue van die menseseuns” (Psalm 31:19, NW). Gedurende Dawid se koningskap oor die nasie Israel—ja, sy hele lewe deur as lid van daardie nasie wat spesiaal deur God uitverkies is—het hy dikwels die goedheid van Jehovah ervaar. En Dawid het gevind dat dit oorvloedig is.
Israel verloor ’n groot gawe van God
10. Waarom was eertydse Israel anders as enige ander nasie op aarde?
10 Die feit dat Jehovah hulle God was, het eertydse Israel heeltemal anders as enige ander nasie op aarde gemaak. Jehovah het die nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob deur die profeet Moses as middelaar in ’n verbondsverhouding met homself gebring. Hy het dit nie met enige ander nasie gedoen nie. Daarom kon die geïnspireerde psalmis uitroep: “Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!”—Psalm 147:19, 20.
11. Tot wanneer het Israel sy begunstigde verhouding met God geniet, en hoe het Jesus die verandering in hulle verhouding beskryf?
11 Die nasie Israel het hierdie gunstige verhouding met God geniet totdat hulle Jesus Christus in 33 van ons Gewone Jaartelling as die Messias verwerp het. Dit was inderdaad ’n hartseer dag vir Israel toe Jesus hierdie droewige woorde gespreek het: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mattheüs 23:37, 38). Jesus se woorde het daarop gedui dat die nasie Israel, wat voorheen deur Jehovah begunstig is, ’n spesiale gawe van God verloor het. Hoe so?
12. Wie was die ‘kinders van Jerusalem’, en wat sou Jesus moes doen om hulle bymekaar te maak?
12 Deur die uitdrukking “kinders” te gebruik, het Jesus net verwys na die natuurlike besnede Jode wat in Jerusalem gewoon het en die hele Joodse nasie verteenwoordig het. Om die ‘kinders van Jerusalem’ bymekaar te maak, sou Jesus hierdie “kinders” in ’n nuwe verbond met God moes bring, met homself as die Middelaar tussen Jehovah en hierdie natuurlike Jode (Jeremia 31:31-34). God se liefde was so groot dat dit die vergifnis van sondes tot stand sou bring. (Vergelyk Maleagi 1:2.) Dit sou waarlik ’n groot gawe gewees het.
13. Watter verlies het Israel se verwerping van God se Seun meegebring, maar waarom het Jehovah se vreugde niks afgeneem nie?
13 In ooreenstemming met sy profetiese Woord het Jehovah so lank gewag as wat redelik was voordat hy die gawe om lede van die nuwe verbond te word vir nie-Jode aangebied het. Maar die natuurlike nasie Israel het hierdie groot gawe verloor toe hulle God se eie Seun, die Messias, verwerp het. Jehovah het derhalwe vir die verwerping van sy Seun vergoed deur hierdie gawe vir mense aan te bied wat nie lede van die Joodse nasie was nie. In daardie opsig het Jehovah se vreugde as die Groot Gewer niks afgeneem nie.
Die geluk wat dit meebring om te gee
14. Waarom is Jesus Christus die gelukkigste skepsel in die ganse heelal?
14 Jehovah is “die gelukkige God” (1 Timotheüs 1:11, NW). Een ding wat hom gelukkig maak, is om aan ander te gee. En in die eerste eeu G.J. het sy eniggebore Seun gesê: “Dit is gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35, NW). In ooreenstemming met hierdie beginsel het Jesus die gelukkigste skepsel van die Skepper van die ganse heelal geword. Hoe so? Wel, naas Jehovah God het Jesus Christus die allergrootste gawe gegee deur sy lewe ten behoewe van die mensdom af te lê. Trouens, hy is ‘die gelukkige Maghebber’ (1 Timotheüs 6:15, NW). Jesus het dus sy woorde, naamlik dat dit gelukkiger is om te gee, uitgeleef.
15. Watter voorbeeld sal Jehovah altyd stel, en hoe kan sy intelligente skepsele ’n mate van sy geluk smaak?
15 Jehovah God sal deur Jesus Christus nooit versuim om ’n oorvloedige Gewer aan al sy intelligente skepsele te wees nie, en hy sal altyd hulle beste voorbeeld van ’n gewer wees. Net soos dit God vreugde verskaf om goeie gawes aan ander te gee, so het hy vrygewigheid in die harte van sy intelligente skepsele op aarde geplaas. In daardie opsig weerspieël hulle sy persoonlikheid en boots hulle dit na en smaak hulle ’n mate van sy geluk (Genesis 1:26; Efesiërs 5:1). Jesus het gepas vir sy volgelinge gesê: “Gee [“maak ’n gewoonte daarvan om te gee”, NW], en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”—Lukas 6:38.
16. Van watter vorm van gee het Jesus in Lukas 6:38 gepraat?
16 Jesus het ’n uitstekende voorbeeld vir sy dissipels gestel deur ’n gewoonte daarvan te maak om te gee. Hy het gesê dat ontvangers goed sou reageer wanneer daar so aan hulle gegee word. In Lukas 6:38 het Jesus nie uitsluitlik van die gee van materiële gawes gepraat nie. Hy het nie vir sy dissipels gesê om ’n weg te volg wat hulle materieel sou verarm nie. Hy het hulle eerder gelei op ’n weg wat hulle ’n gevoel van geestelike bevrediging sou gee.
Ewige geluk verseker
17. Watter wonderlike gawe het God in hierdie laaste dae aan sy Getuies gegee?
17 Wat ’n wonderlike gawe het Jehovah, die Hoof van die hele skepping, in hierdie laaste dae aan sy Getuies gegee! Hy het die goeie nuus van sy Koninkryk aan ons gegee. Ons het die groot voorreg om verkondigers te wees van die opgerigte Koninkryk van God in die hande van sy heersende Seun, Jesus Christus (Mattheüs 24:14; Markus 13:10). Om mondelinge Getuies van die allerhoogste God te wees, is ’n gawe sonder weerga, en die beste manier waarop ons in navolging van God ’n gewoonte daarvan kan maak om te gee, is om die Koninkryksboodskap aan ander te verkondig voordat die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge kom.
18. Wat moet ons as Jehovah se Getuies aan ander gee?
18 Die apostel Paulus het melding gemaak van die beproewinge wat hy moes deurmaak toe hy die Koninkryksboodskap aan ander verkondig het (2 Korinthiërs 11:23-27). Jehovah se hedendaagse Getuies moet ook beproewinge deurmaak en persoonlike voorkeure laat vaar in ’n poging om die Koninkrykshoop aan ander te gee. Ons hou dalk nie daarvan om na mense se huise te gaan nie, veral as ons menssku is. Maar as Christus se volgelinge kan ons nie die voorreg vermy, of ontduik, om geestelike dinge aan ander te gee deur “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig nie (Mattheüs 24:14, NW). Ons moet dieselfde gesindheid hê wat Jesus gehad het. Toe die dood hom in die gesig gestaar het, het hy gebid: “My Vader, . . . nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mattheüs 26:39). Wanneer Jehovah se knegte die goeie nuus van die Koninkryk aan ander verkondig, moet hulle God se wil, nie hulle eie nie—wat hy wil hê, nie wat hulle dalk wil hê nie—doen.
19. Wie is die Besitters van “die ewige woonplekke”, en hoe kan ons met hulle vriende maak?
19 Om so te gee, sal ons tyd en geld insluit, maar as ons godvrugtige gewers is, maak ons seker dat ons geluk vir ewig sal wees. Waarom? Omdat Jesus gesê het: “Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom [“wêreldse rykdom”, New International Version], sodat, wanneer dit julle in die steek laat, hulle julle in die ewige woonplekke sal ontvang” (Lukas 16:9, NW). Dit moet ons doel wees om “onregverdige rykdom” te gebruik om vriende te maak met die Besitters van “die ewige woonplekke”. As die Skepper besit Jehovah alles, en as Erfgenaam van alles deel sy eersgebore Seun daardie eienaarskap (Psalm 50:10-12; Hebreërs 1:1, 2). Om vriende met hulle te maak, moet ons rykdom só gebruik dat dit hulle goedkeuring wegdra. Dit sluit in dat ons die regte gesindheid moet hê wanneer ons materiële dinge ten behoewe van ander gebruik. (Vergelyk Mattheüs 6:3, 4; 2 Korinthiërs 9:7.) Ons kan geld op ’n behoorlike manier gebruik om ons vriendskap met Jehovah God en Jesus Christus te versterk. Ons doen dit byvoorbeeld deur wat ons het blymoedig te gebruik om mense te help wat waarlik behoeftig is en deur ons geld te gebruik om God se Koninkryksbelange te bevorder.—Spreuke 19:17; Mattheüs 6:33.
20. (a) Waarom kan Jehovah en Jesus ons in “die ewige woonplekke” inbring, en waar kan hierdie woonplekke wees? (b) Watter voorreg sal ons vir ewig kan geniet?
20 Omdat Jehovah God en Jesus Christus onsterflik is, kan hulle vir ewig ons Vriende wees en kan hulle ons in “die ewige woonplekke” inbring. Dit is die geval, hetsy die woonplekke in die hemel saam met al die heilige engele of op hierdie aarde in ’n herstelde Paradys sal wees (Lukas 23:43, NW). God se liefdevolle gawe, naamlik Jesus Christus, het dit alles moontlik gemaak (Johannes 3:16). En Jehovah God sal Jesus gebruik om sonder ophou aan die hele skepping te gee, tot Sy ongeëwenaarde geluk. Trouens, ons sal vir ewig die voorreg hê om te gee onder die universele soewereiniteit van Jehovah God en die koningskap van sy eniggebore Seun, ons Heer en Verlosser, Jesus Christus. Dit sal ewige geluk vir alle godvrugtige gewers meebring.
Onthou jy?
◻ Wat sou God se grootste gawe van hom vereis?
◻ Op watter soort sending het God sy Seun gestuur?
◻ Wie is die gelukkigste skepsel in die hele heelal, en waarom?
◻ Hoe sal godvrugtige gewers ewige geluk smaak?
[Prent op bladsy 10]
Waardeer jy God se gawe van sy Seun as ’n losprysoffer?
[Prent op bladsy 12]
Soek jy God se Koninkryk eerste deur die goeie nuus te verkondig en deur daardie werk met jou geld te ondersteun?