Sal jy op Jesus se liefde reageer?
“Die liefde van Christus dring ons.”—2 KORINTHIËRS 5:14.
1. Hoe kan Jesus se liefde beskryf word?
HOE wonderlik is die liefde van Jesus tog! Ons hart word beslis met waardering teenoor hom vervul as ons dink aan die onbeskryflike lyding wat hy verduur het toe hy die losprys voorsien het, wat die enigste manier is waarop ons die ewige lewe kan verkry! Jehovah God en Jesus self het die inisiatief geneem. Hulle het ons eerste liefgehad, terwyl ons nog sondaars was (Romeine 5:6-8; 1 Johannes 4:9-11). Om “die liefde van Christus” te ken, het die apostel Paulus geskryf, ‘oortref die kennis’ (Efesiërs 3:19). Ja, Jesus se liefde is ver bo die akademiese kopkennis verhewe. Dit gaan enigiets te bowe wat die mens nog gesien of ondervind het.
2. Watter dinge kan Jesus nie verhinder om ons lief te hê nie?
2 Toe Paulus aan Christene in Rome geskryf het, het hy gevra: “Wie sal ons skei van die liefde van Christus—verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” Nie een van hierdie dinge kan Jesus verhinder om ons lief te hê nie. “Ek is versekerd”, gaan Paulus voort, “dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”—Romeine 8:35-39.
3. Wat alleen sal veroorsaak dat Jesus en sy Vader ons verlaat?
3 Die liefde wat Jehovah God en Jesus vir jou het, is so kragtig. Daar is net een ding wat hulle kan verhinder om jou lief te hê, en dit is jou eie moedswillige verwerping van hulle liefde deur te weier om te doen wat hulle vra. ’n Profeet van God het eenkeer aan ’n Judese koning verduidelik: “Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:2). Wie van ons sal ooit sulke wonderlike, medelydende vriende soos Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, die rug toekeer?
Die regte reaksie op Jesus se liefde
4, 5. (a) Hoe behoort Jesus se liefde vir ons ons verhouding met ons medemens te raak? (b) Wie anders moet ons veral liefhê uit waardering vir Jesus se liefde vir ons?
4 Hoe word jy persoonlik geraak deur Jesus se grenslose liefde vir jou? Hoe behoort jy daardeur geraak te word? Wel, Jesus het getoon hoe sy betoning van liefde ons verhoudings met ons medemens moet raak. Nadat hy sy apostels nederig gedien het deur hulle voete te was, het Jesus gesê: “Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” Hy het bygevoeg: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:15, 34). Sy dissipels het geleer, en hulle is beweeg om te probeer doen wat hy gedoen het. “Hieraan het ons die liefde leer ken”, het die apostel Johannes geskryf, “dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.”—1 Johannes 3:16.
5 Maar ons sal die doel van Jesus se lewe en bediening mis as sy voorbeeld ons bloot aanspoor om ander mense lief te hê en hulle belange op die hart te dra. Moet die liefde wat Jesus vir ons het ons nie ook aanspoor om hom lief te hê en veral om sy Vader lief te hê, wat hom alles wat hy weet, geleer het nie? Sal jy op Christus se liefde reageer en sy Vader dien soos hy sy Vader gedien het?—Efesiërs 5:1, 2; 1 Petrus 1:8, 9.
6. Hoe is die apostel Paulus deur Jesus se liefde vir hom geraak?
6 Beskou die voorbeeld van Saulus, wat later as Paulus bekend gestaan het. Hy het Jesus op een tydstip vervolg en “dreiging en moord geblaas . . . teen die dissipels” (Handelinge 9:1-5; Mattheüs 25:37-40). Toe Paulus Jesus werklik leer ken het, was hy so dankbaar omdat hy vergifnis ontvang het dat hy nie net gewillig was om ter wille van Jesus te ly nie, maar hy was ook bereid om vir hom te sterf. “Ek is saam met Christus aan die paal gehang”, het hy geskryf. “Dit is nie meer ek wat leef nie . . . Ja, die lewe wat ek nou in die vlees leef, leef ek deur die geloof teenoor die Seun van God, wat my liefgehad en homself vir my oorgegee het.”—Galasiërs 2:20, NW.
7. Die liefde van Jesus moet ons dring om wat te doen?
7 Wat ’n dwingende krag behoort die liefde wat Jesus vir ons het tog te wees! “Die liefde van Christus dring ons”, het Paulus aan die Korinthiërs geskryf, ‘om nie langer vir onsself te lewe nie, maar vir hom wat vir ons gesterf het en opgewek is’ (2 Korinthiërs 5:14, 15). Trouens, dankbaarheid teenoor Jesus omdat hy sy lewe vir ons afgelê het, behoort ons te beweeg om enigiets wat hy vra te doen. Slegs op hierdie manier kan ons bewys dat ons hom waarlik liefhet. “As julle My liefhet, bewaar my gebooie”, het Jesus gesê. “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet.”—Johannes 14:15, 21; vergelyk 1 Johannes 2:3-5.
8. Hoe het Jesus se liefde die lewens van talle sondaars beïnvloed?
8 Toe hulle Jesus se gebooie geleer het, het hoereerders, egbrekers, homoseksuele, diewe, dronkaards en afpersers in eertydse Korinthe op Jesus se liefde gereageer deur daardie gebruike te staak. Paulus het van hulle geskryf: “Julle het jul laat afwas, . . . maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus” (1 Korinthiërs 6:9-11). Die liefde van Jesus het talle in ons dag eweneens aangespoor om merkwaardige veranderinge in hulle lewe aan te bring. “Die ware triomf van die Christelike geloof was die vermoë daarvan om goeie mense te maak van diegene wat die leerstellinge daarvan bely het”, het die geskiedskrywer John Lord geskryf. “Ons het bewys van hulle smettelose lewens, van hulle onberispelike sedes, van hulle goeie burgerskap en van hulle Christelike deugde.” Wat ’n verskil het Jesus se leringe tog gemaak!
9. Wat behels dit om na Jesus te luister?
9 ’n Mens kan vandag beslis geen studie onderneem wat belangriker is as ’n studie van die lewe en bediening van Jesus Christus nie. ‘Hou die oog gevestig op Jesus’, het die apostel Paulus ons aangespoor. “Julle moet ag gee op Hom” (Hebreërs 12:2, 3). Gedurende Jesus se gedaanteverandering het God self van sy Seun gesê: “Luister na Hom!” (Mattheüs 17:5). Ons moet dit egter beklemtoon dat meer daarby betrokke is om na Jesus te luister as om maar net te hoor wat hy sê. Dit beteken dat ons ag slaan op sy instruksies, ja, dat ons hom navolg deur te doen wat hy gedoen het op die wyse wat hy dit gedoen het. Ons reageer op Jesus se liefde deur hom as ons voorbeeld aan te neem en deur noukeurig in sy voetspore te volg.
Wat Jesus van ons verlang
10. Wie is deur Jesus opgelei, en met watter doel?
10 God het Jesus die opdrag gegee om sy Vader se Koninkryk te verkondig, en hy het sy volgelinge opgelei om dieselfde werk te doen. “Laat ons na die naburige dorpe gaan”, het hy vir sy dissipels gesê, “sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan” (Markus 1:38; Lukas 4:43). Later, nadat hy 12 apostels deeglik opgelei het, het Jesus hulle die opdrag gegee: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 10:7). ’n Paar maande later, nadat hy 70 ander opgelei het, het hy hulle uitgestuur met die opdrag: “Sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Lukas 10:9). Dit is duidelik dat Jesus wou hê dat sy volgelinge predikers en onderrigters moet wees.
11. (a) In watter opsig sou Jesus se dissipels groter werke as hy doen? (b) Wat het met die dissipels gebeur nadat Jesus doodgemaak is?
11 Jesus het aangehou om sy dissipels vir hierdie werk op te lei. Die aand voor sy dood het hy hulle met dié woorde aangemoedig: “Wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit” (Johannes 14:12). Die werke van sy volgelinge sou groter as syne wees omdat hulle in hulle bediening baie meer mense oor ’n baie groter gebied en oor ’n baie langer tydperk sou bereik. Nogtans was Jesus se dissipels vreesbevange nadat hy doodgemaak is. Hulle het gaan wegkruip en het nie die werk waarvoor hy hulle opgelei het, voortgesit nie. Party het selfs weer vissers geword. Maar hy het sewe van sy apostels op onvergeetlike wyse daarop gewys wat hy wou hê hulle, asook al sy volgelinge, moes doen.
12. (a) Watter wonderwerk het Jesus by die See van Galilea gedoen? (b) Wat het Jesus klaarblyklik bedoel toe hy vir Petrus gevra het of hy Hom “meer as hulle hier” liefhet?
12 Jesus het ’n menslike liggaam aangeneem en by die See van Galilea verskyn. Die sewe apostels het op ’n boot uitgegaan, maar hulle het die hele nag lank geen vis gevang nie. Jesus het van die strand af na hulle geroep: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry.” Toe die net op wonderdadige wyse so met visse gevul word dat dit feitlik geskeur het, het diegene in die boot besef dat dit Jesus op die strand was, en hulle het hulle gehaas na waar hy gewag het. Nadat hy hulle ontbyt gegee het, het Jesus, terwyl hy waarskynlik na die groot visvangs gekyk het, vir Petrus gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?” (Johannes 21:1-15). Jesus het ongetwyfeld bedoel: Is jy meer geheg aan die vissersbedryf as aan die predikingswerk waarvoor ek jou opgelei het?
13. Hoe het Jesus sy volgelinge kragtig daarop gewys hoe hulle op sy liefde moet reageer?
13 Petrus het geantwoord: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Jesus het gesê: “Laat my lammers wei.” Weer eens het Jesus gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?” Petrus het weer, ongetwyfeld met sterker oortuiging, geantwoord: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Jesus het nogmaals gesê: “Pas my skape op.” Vir ’n derde maal het Jesus gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My lief?” Teen hierdie tyd was Petrus werklik bedroef. Net ’n paar dae vantevore het hy Jesus drie maal verloën, en hy kon heel moontlik gewonder het of Jesus aan sy lojaliteit getwyfel het. Daarom het Petrus vir ’n derde maal, waarskynlik pleitend, geantwoord: “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.” Jesus het net gesê: “Laat my skape wei” (Johannes 21:15-17). Kan daar enigsins twyfel bestaan oor wat Jesus van Petrus en sy metgeselle verlang het? Hoe kragtig het hy hulle—asook enigiemand wat vandag sy dissipels wil wees—daarop gewys dat hulle aan die dissipelmaakwerk sal deelneem as hulle hom liefhet!
14. Hoe het Jesus by ander geleenthede getoon hoe sy dissipels op sy liefde moet reageer?
14 ’n Paar dae ná daardie gesprek op die strand het Jesus by ’n berg in Galilea verskyn en aan ’n vreugdevolle groep van ongeveer 500 volgelinge die opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19; 1 Korinthiërs 15:6). Dink net daaraan! Mans, vroue en kinders het almal dieselfde opdrag ontvang. En later, net voordat hy na die hemel opgevaar het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Dit is geen wonder nie dat Petrus ná al hierdie vermanings jare later gesê het: “[Jesus] het ons beveel om vir die volk te preek en ’n grondige getuienis te gee.”—Handelinge 10:42, NW.
15. Waaroor kan daar geen twyfel bestaan nie?
15 Dit ly geen twyfel hoe ons op Jesus se liefde moet reageer nie. Soos hy vir sy dissipels gesê het: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly . . . Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel” (Johannes 15:10-14). Die vraag is: Sal jy waardering toon vir die liefde van Jesus deur gehoorsaam te wees aan sy opdrag om aan die dissipelmaakwerk deel te neem? Dit is weliswaar om verskeie redes nie vir jou maklik nie. Maar dit was ook nie vir Jesus maklik nie. Kyk watter veranderinge dit van hom vereis het.
Volg Jesus se voorbeeld na
16. Watter wonderlike voorbeeld het Jesus gestel?
16 God se eniggebore Seun het ’n uitnemende posisie van hemelse heerlikheid geniet wat voortrefliker as dié van al die engele was. Hy was inderdaad ryk! Maar hy was bereid om homself te ontledig, is as lid van ’n arm gesin gebore en het groot geword onder siek, sterwende mense. Hy het dit vir ons gedoen, soos die apostel Paulus verduidelik het: “Julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word” (2 Korinthiërs 8:9; Filippense 2:5-8, vgl. NW). Wat ’n voorbeeld! Wat ’n blyk van liefde! Niemand het meer opgeoffer of meer gely vir ander nie. En niemand het dit vir ander moontlik gemaak om groter rykdom, ja, die ewige lewe in volmaaktheid, te geniet nie!
17. Watter weg word vir ons voorgehou, en wat sal die resultaat wees as ons dit volg?
17 Ons kan Jesus se voorbeeld volg en ander eweneens bevoordeel. Jesus het mense herhaaldelik aangespoor om sy volgelinge te word (Markus 2:14; Lukas 9:59; 18:22). Trouens, Petrus het geskryf: “Hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21). Sal jy op Christus se liefde reageer selfs as dit beteken dat jy moet ly om sy Vader te dien soos hy hom gedien het? Hoe voordelig kan so ’n lewenswandel tog vir ander wees! Trouens, as jy Jesus se voorbeeld navolg deur die dinge wat hy van sy Vader geleer het in elke opsig toe te pas, sal jy ‘jouself red sowel as die wat jou hoor’.—1 Timotheüs 4:16.
18. (a) Watter voorbeeld het Jesus gestel ten opsigte van sy gesindheid teenoor mense? (b) Hoe het mense op Jesus se persoonlikheid gereageer?
18 Om mense op die beste manier moontlik te help, moet ons ook oor hulle voel soos Jesus oor hulle gevoel het. ’n Profesie het van hom gesê: “Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige” (Psalm 72:13). Sy volgelinge kon sien dat Jesus diegene met wie hy gepraat het, “liefgekry” het en dat hy hulle waarlik wou help (Markus 1:40-42; 10:21). “Toe Hy die skare sien”, sê die Bybel, “het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Mattheüs 9:36). Selfs groot sondaars het sy liefde aangevoel en is na hom toe aangetrek. Sy stemtoon, houding en manier van onderrig het hulle op hul gemak gestel. Daarom het selfs veragte tollenaars en hoere sy geselskap opgesoek.—Mattheüs 9:9-13; Lukas 7:36-38; 19:1-10.
19. Hoe het Paulus Jesus nagevolg, en wat sal die resultaat wees as ons dit doen?
19 Jesus se eerste-eeuse dissipels het sy liefdevolle voorbeeld nagevolg. Paulus het aan sommige aan wie hy ’n diens verrig het, geskryf: “Ons was vriendelik onder julle soos ’n pleegmoeder haar kinders koester. . . . ons [het] . . . net soos ’n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig” (1 Thessalonicense 2:7-11). Toon jy, net soos liefdevolle ouers vir hulle geliefde kinders, dieselfde opregte besorgdheid vir diegene in julle gebied? As jy sulke besorgdheid in jou stemtoon, jou gesigsuitdrukking en jou dade openbaar, sal jy die Koninkryksboodskap vir skaapgeaardes aantreklik maak.
20, 21. Wat is ’n paar hedendaagse ondervindings van mense wat Jesus se voorbeeld van liefde nagevolg het?
20 Op een koue dag in Spanje het twee Getuies ’n bejaarde vrou op krukke ontmoet wie se huis yskoud was omdat die vuurhout opgeraak het. Sy het op haar seun gewag om van die werk af te kom en meer hout te kap. Die Getuies het die hout gekap, en hulle het tydskrifte by haar gelaat om te lees. Toe die seun by die huis kom, was hy so beïndruk deur die Getuies se liefdevolle besorgdheid vir sy moeder dat hy die lektuur gelees het, ’n Bybelstudie aanvaar het en gedoop is en kort daarna die pionierdiens betree het.
21 In Australië het ’n man en sy vrou aan die besoekende Getuies verduidelik dat hulle nie geld het om vir hulle gesin kos te koop nie. Die Getuie-egpaar het kruideniersware, asook lekkers vir die kinders, gaan koop. Die ouers het in trane uitgebars en gesê dat hulle so desperaat was dat hulle dit al oorweeg het om selfmoord te pleeg. Albei het die Bybel begin studeer, en die vrou is onlangs gedoop. ’n Vrou in die Verenigde State wat teen Jehovah se Getuies gekant was, het die volgende gesê nadat sy ’n Getuie ontmoet het: “Ek onthou nie werklik waaroor ons gepraat het nie, maar ek onthou hoe vriendelik sy met my was, en hoe gasvry en nederig sy was. Ek het werklik tot haar as persoon aangetrokke gevoel. Haar vriendskap is vir my tot vandag toe kosbaar.”
22. Tot watter slotsom kom ons nadat ons Jesus se lewe ondersoek het?
22 As ons op Jesus se liefde reageer deur die werk wat hy gedoen het te doen op die wyse wat hy dit gedoen het, kan ons wonderlike seëninge geniet! Jesus se grootheid is duidelik en oorweldigend. Ons word beweeg om die woorde van die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus ons eie te maak: “Dáár is die mens!” Ja, beslis “die mens”, die grootste mens wat nog geleef het.—Johannes 19:5.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe groot is die liefde van Jesus?
◻ Jesus se liefde moet ons beweeg om wie lief te hê, en wat moet sy liefde ons dring om te doen?
◻ Watter werk wil Jesus hê moet ons doen?
◻ Hoe was Jesus ryk, en waarom het hy arm geword?
◻ In watter opsig moet ons Jesus navolg in die manier waarop hy ’n diens aan mense verrig het?
[Prent op bladsy 15]
Jesus het die voorbeeld gestel wat die betoning van liefde betref
[Prent op bladsy 17]
Jesus het kragtig geïllustreer hoe sy dissipels liefde vir hom moet openbaar