Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 3/15 bl. 24-25
  • Juwele uit Johannes se Evangelie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Juwele uit Johannes se Evangelie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoofsaaklik aanvullend
  • Nederigheid en blydskap
  • Jesus se geneentheid vir mense
  • Die Goeie Herder gee vir mense om!
  • God se immer getroue Seun
  • Die goeie herder en “hierdie stal” van hom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Bybelboek nommer 43—Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Die goeie herder en die skaapkrale
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Die skaapstalle en die herder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 3/15 bl. 24-25

Juwele uit Johannes se Evangelie

JEHOVAH se gees het die bejaarde apostel Johannes geïnspireer om ’n roerende verslag oor Jesus Christus se lewe en bediening te skryf. Hierdie Evangelie is omstreeks 98 G.J. in of naby Efese geskryf. Maar watter soort verslag is dit? En wat is party van die juwele wat dit bevat?

Hoofsaaklik aanvullend

Johannes was selektief en het selde herhaal wat Mattheüs, Markus en Lukas geskryf het. Ja, sy ooggetuieverslag is hoofsaaklik aanvullend, aangesien meer as 90 persent daarvan aangeleenthede dek wat nie in die ander Evangelies gemeld word nie. Hy alleen vertel ons byvoorbeeld van Jesus se voormenslike bestaan en dat ‘die Woord vlees geword het’ (1:1-14). Terwyl die ander Evangelieskrywers sê dat Jesus die tempel aan die einde van sy bediening gereinig het, sê Johannes dat Christus dit ook aan die begin daarvan gedoen het (2:13-17). Net die bejaarde apostel vertel ons van sekere wonderdade wat Jesus gedoen het, soos toe hy water in wyn verander het, die afgestorwe Lasarus opgewek het en van die wonderdadige visvangs na Sy opstanding.—2:1-11; 11:38-44; 21:4-14.

Al die Evangelieskrywers vertel hoe Jesus die herdenking van sy dood ingestel het, maar slegs Johannes toon dat Christus die apostels ’n les in nederigheid geleer het deur hulle voete daardie aand te was. Daarbenewens vertel Johannes alleen van die openhartige gesprekke wat Jesus met hulle gehad het en die gebed wat hy toe ten behoewe van hulle gedoen het.—13:1–17:26.

In hierdie Evangelie verwys die naam Johannes na die Doper, terwyl die skrywer homself beskryf as ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het’ (13:23). Die apostel het Jesus gewis liefgehad, en ons liefde vir Christus word verinnig wanneer Johannes hom as die Woord, die brood van die lewe, die lig van die wêreld, die Goeie Herder, die weg, die waarheid en die lewe uitbeeld (1:1-3, 14; 6:35; 8:12; 10:11; 14:6). Dit bereik Johannes se verklaarde doel: “Hierdie [dinge] is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.”—20:31.

Nederigheid en blydskap

Johannes se Evangelie stel Jesus bekend as die Woord en die Lam wat vir sondes versoening doen en meld wonderdade wat bewys dat Hy “die Heilige van God” is (1:1–9:41, vgl. NW). Die verslag beklemtoon onder meer Johannes die Doper se nederigheid en vreugde. Hy was Christus se voorloper, maar het gesê: “[Sy] skoenriem [is] ek nie waardig . . . om los te maak nie” (1:27). Sandale is met leerriempies vasgebind. ’n Slaaf sou die rieme van iemand anders se sandale losmaak en dit vir hom dra, aangesien dit ’n knegsdiens was. Johannes die Doper het derhalwe nederigheid en ’n besef van sy nietigheid in vergelyking met sy Heer geopenbaar. ’n Goeie les, want net die nederiges is geskik om Jehovah en sy Messiaanse Koning te dien!—Psalm 138:6; Spreuke 21:4.

Pleks van uit trots gegrief te voel teenoor Jesus het Johannes die Doper gesê: “Die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome” (3:29). As die bruidegom se verteenwoordiger het die vriend van die bruidegom huweliksonderhandelinge behartig, en soms het hy die huwelik gereël en geskenke aan die bruid afgelewer en die bruidsprys vir haar vader geneem. Hierdie verteenwoordiger het rede gehad om bly te wees wanneer sy taak volbring is. Johannes het hom eweneens daarin verheug dat hy Jesus en die eerste lede van Sy bruid bymekaar gebring het (Openbaring 21:2, 9). Aangesien die dienste van die vriend van die bruidegom net ’n kort rukkie geduur het, was Johannes se werk gou klaar. Hy het al hoe minder geword terwyl Jesus steeds meer geword het.—Johannes 3:30.

Jesus se geneentheid vir mense

Jesus het vir ’n Samaritaanse vrou by ’n put naby die stad Sigar van simboliese water vertel wat die ewige lewe skenk. Toe sy dissipels daar aankom, het hulle “hulle verwonder dat Hy met ’n vrou in gesprek was” (4:27). Waarom so ’n reaksie? Wel, die Jode het die Samaritane verag en het geen omgang met hulle gehad nie (4:9; 8:48). Dit was ook buitengewoon vir ’n Joodse leraar om met ’n vrou in die openbaar te praat. Maar Jesus se medelye en geneentheid vir mense het hom beweeg om hierdie getuienis te lewer, en as gevolg daarvan het inwoners van die stad “na Hom gekom”.—4:28-30.

Geneentheid vir mense het Jesus beweeg om te sê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink” (7:37). Hy het blykbaar gesinspeel op ’n gebruik wat by die agtdaagse Huttefees gevoeg is. ’n Priester het elke oggend sewe dae lank water uit die bad van Siloam geneem en dit oor die tempel se altaar gegooi. Daar is gesê dat dit onder meer die uitgieting van die gees uitbeeld. Vanaf Pinkster 33 G.J. het God se gees Jesus se volgelinge beweeg om lewegewende water na mense rondom die aarde te neem. Dit is slegs van Jehovah, “die fontein van lewende water”, deur Christus dat enigiemand die ewige lewe kan ontvang.—Jeremia 2:13; Jesaja 12:3; Johannes 17:3.

Die Goeie Herder gee vir mense om!

Jesus se geneentheid vir mense blyk uit sy rol as die Goeie Herder wat vir sy skape omgee. Selfs terwyl sy dood nader gekom het, het Jesus vir sy dissipels liefdevolle raad gegee en vir hulle gebid (10:1–17:26). In teenstelling met ’n dief of ’n rower gaan hy ’n skaapkraal deur die deur binne (10:1-5). ’n Skaapkraal was ’n ingeslote ruimte waarin skape gehou is om hulle snags teen diewe en roofdiere te beskerm. Dit het klipmure gehad, miskien met doringtakke daarop, en ’n ingang wat deur ’n deurwagter opgepas is.

Die kuddes van etlike herders kon in dieselfde skaapkraal gehou word, maar die skape het net na die stem van hulle eie herder geluister. In sy boek Manners and Customs of Bible Lands sê Fred H. Wight: “Wanneer dit nodig is om etlike skaapkuddes van mekaar te skei, sal die een herder na die ander opstaan en uitroep: ‘Tahoo! Tahoo!’ of ’n soortgelyke roep wat hy verkies. Die skape lig hulle koppe op en na ’n gewoel onder hulle begin elkeen sy eie herder volg. Hulle ken die stemtoon van hulle eie herder goed. Vreemdelinge het dikwels dieselfde roep gebruik, maar hulle pogings om die skape te kry om hulle te volg, misluk altyd.” Dit is interessant dat Jesus gesê het: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe” (10:27, 28). Die “klein kuddetjie” sowel as die “ander skape” gee gehoor aan Jesus se stem, volg sy leiding en geniet sy tere sorg.—Lukas 12:32; Johannes 10:16.

God se immer getroue Seun

Christus was dwarsdeur sy aardse lewe altyd getrou aan God en voorbeeldig as ’n liefdevolle herder. Sy medelye is ook in verskynings na sy opstanding geopenbaar. Dit was medelye en geneentheid vir ander wat Jesus beweeg het om Petrus aan te spoor om Sy skape te voed.—18:1–21:25.

As ’n slagoffer wat aan die paal om die lewe gebring is, het Jesus vir ons die vernaamste voorbeeld van getrouheid tot die dood toe gestel. Een van die smadelike dinge wat hy moes ondergaan ter vervulling van profesie was dat soldate ‘sy klere onder mekaar verdeel het’ (Psalm 22:19). Hulle het die lot gewerp om te beslis wie sy goeie onderkleed (Grieks, khi·tonʹ), wat sonder naat was, sou kry (19:23, 24). So ’n kleed was moontlik in een stuk van wol of linne geweef en kon wit of in verskillende kleure wees. Dit was dikwels mouloos, is teen die vel gedra en het tot aan die knie of selfs die enkels gereik. Jesus was natuurlik nie materialisties nie, maar hy het so ’n kledingstuk van goeie gehalte, sy soomlose kleed, gedra.

Gedurende een van Jesus se verskynings na sy opstanding het hy sy dissipels gegroet met die woorde: “Vrede vir julle” (20:19). Dit was ’n algemene groet onder die Jode (Mattheüs 10:12, 13). Vir talle het die gebruik van sulke woorde dalk min beteken. Maar nie vir Jesus nie, want hy het vroeër vir sy volgelinge gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle” (Johannes 14:27). Die vrede wat Jesus sy dissipels gegee het, was gegrond op hulle geloof in hom as God se Seun en het hulle harte en verstande gekalmeer.

Ons kan eweneens “die vrede van God” geniet. Mag ons hierdie onvergelyklike kalmte koester wat spruit uit ’n intieme verhouding met Jehovah deur sy geliefde Seun.—Filippense 4:6, 7.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel