Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 8/1 bl. 9-14
  • Jehovah—’n God wat onderrig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah—’n God wat onderrig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vader, Onderrigter, Eggenoot
  • Lewensbelangrike leringe van Jehovah
  • ’n Groot skare wat geleer word
  • Hoe Jehovah onderrig
  • Die regering wat die Paradys gaan bring
    Die regering wat ’n Paradys gaan bring
  • Die deurlopende harmonie van die Bybel
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Die Een van wie al die profete getuig het
    Aanbid die enigste ware God
  • Die onvrugbare vrou is bly
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 8/1 bl. 9-14

Jehovah—’n God wat onderrig

“Hulle sal almal deur Jehovah geleer word.”—JOHANNES 6:45.

1. Wat doen Jesus nou in Kapernaum?

JESUS CHRISTUS het kort tevore wonderwerke verrig en is nou in ’n sinagoge in Kapernaum, naby die See van Galilea, te sien waar hy besig is om te onderrig (Johannes 6:1-21, 59). Baie spreek ongeloof uit wanneer hy sê: “Ek het uit die hemel neergedaal.” Hulle murmureer: “Is dit nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe is dit dat hy nou sê: ‘Ek het uit die hemel neergedaal’?” (Johannes 6:38, 42). Jesus bestraf hulle en sê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie; en ek sal hom in die laaste dag opwek.”—Johannes 6:44.

2. Op grond waarvan kan ons Jesus se belofte oor die opstanding glo?

2 Wat ’n wonderlike belofte—om opgewek te word in die laaste dag, wanneer God se Koninkryk heers! Ons kan hierdie belofte glo omdat dit deur die Vader, Jehovah God, bevestig word (Job 14:13-15; Jesaja 26:19). Jehovah, wat leer dat die dooies sal opstaan, is inderdaad “die allergrootste leermeester” (Job 36:22, Today’s English Version). Jesus vestig die aandag op die Vader se onderrigting en sê vervolgens: “Daar staan in die Profete geskrywe: ‘En hulle sal almal deur Jehovah geleer word.’”—Johannes 6:45.

3. Watter vrae gaan ons bespreek?

3 Dit sou beslis ’n voorreg wees om onder diegene te wees van wie die profeet Jesaja geskryf het: “Al jou seuns sal mense wees wat deur Jehovah geleer word” (Jesaja 54:13, NW). Kan ons onder hulle wees? Wie was soos seuns vir hom en het sy leringe ontvang? Wat is lewensbelangrike leringe van Jehovah wat ons moet ken en waarvolgens ons moet optree om sy seën te ontvang? Hoe het Jehovah in die verlede onderrig, en onderrig hy vandag op dieselfde manier? Dit is vrae wat ons gaan bespreek.

Vader, Onderrigter, Eggenoot

4. Wie was die eerste seuns van Jehovah wat deur hom onderrig is?

4 Jehovah het ’n Vader sowel as ’n Onderrigter geword toe hy sy enigverwekte Seun, die voormenslike Jesus, geskep het. Hy word “die Woord” genoem omdat hy Jehovah se Hoofwoordvoerder is (Johannes 1:1, 14; 3:16). Die Woord het “soos ’n meesterwerker naas” die Vader gedien en het baie uit sy Vader se onderrigting geleer (Spreuke 8:22, 30, NW). Trouens, hy het die Agent, of instrument, geword deur wie die Vader alle ander dinge, met inbegrip van die ‘geesseuns van God’, geskep het. Hoe verheug moes hulle tog gewees het om deur God onderrig te word! (Job 1:6; 2:1; 38:7; Kolossense 1:15-17). Later is die eerste mens, Adam, geskep. Hy was ook ’n “seun van God”, en die Bybel toon dat Jehovah hom onderrig het.—Lukas 3:38; Genesis 2:7, 16, 17.

5. Watter kosbare voorreg het Adam verbeur, maar wie is deur Jehovah onderrig, en waarom?

5 Ongelukkig het Adam, deur sy moedswillige ongehoorsaamheid, die voorreg verbeur om God se seun te bly. Sy nakomelinge kon dus nie bloot op grond van geboorte daarop aanspraak maak dat hulle seuns van God is nie. Jehovah het nietemin onvolmaakte mense onderrig wat op hom staatgemaak het vir leiding. Noag was byvoorbeeld “’n regverdige” man wat “met God gewandel” het, en Jehovah het Noag dus onderrig (Genesis 6:9, 13–7:5). Deur sy gehoorsaamheid het Abraham getoon dat hy “Jehovah se vriend” is, en daarom is hy ook deur Jehovah onderrig.—Jakobus 2:23; Genesis 12:1-4; 15:1-8; 22:1, 2.

6. Wie het Jehovah later as sy “seun” beskou, en watter soort onderrigter was hy vir hulle?

6 Heelwat later, gedurende Moses se tyd, het Jehovah in ’n verbondsverhouding met die nasie van Israel getree. Daardie nasie het gevolglik sy uitverkore volk geword en is as sy “seun” beskou. God het gesê: “My . . . seun is Israel” (Exodus 4:22, 23; 19:3-6; Deuteronomium 14:1, 2). Op grond van daardie verbondsverhouding kon die Israeliete sê, soos deur die profeet Jesaja opgeteken is: “U, o HERE, is ons Vader” (Jesaja 63:16). Jehovah het sy vaderlike verantwoordelikheid aanvaar en sy kinders, Israel, liefdevol onderrig (Psalm 71:17; Jesaja 48:17, 18). Trouens, toe hulle ontrou geword het, het hy uit barmhartigheid by hulle gepleit: “Keer terug, o afkerige kinders.”—Jeremia 3:14.

7. Watter verhouding het Israel met Jehovah gehad?

7 As gevolg van die verbondsverhouding met Israel het Jehovah ook figuurlik gesproke die nasie se Eggenoot geword, en dit het sy figuurlike vrou geword. Die profeet Jesaja het van haar geskryf: “Jou Grootse Maker is jou eggenoot-eienaar, Jehovah van die leërs is sy naam” (Jesaja 54:5, NW; Jeremia 31:32, NW). Hoewel Jehovah sy rol as Eggenoot op eervolle wyse vervul het, het die nasie van Israel ’n trouelose vrou geword. “Soos ’n vrou troueloos skei van haar minnaar”, het Jehovah gesê, “so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel” (Jeremia 3:20). Jehovah het aangehou om ’n beroep op die seuns van sy trouelose vrou te doen; hy het hulle “Grootse Onderrigter” gebly.—Jesaja 30:20, NW; 2 Kronieke 36:15.

8. Watter antitipiese figuurlike vrou het Jehovah nog, al het hy Israel as ’n nasie verwerp?

8 Toe Israel God se Seun, Jesus Christus, verwerp en doodgemaak het, het Hy haar uiteindelik verwerp. Daardie Joodse nasie was dus nie langer vir hom ’n figuurlike vrou nie, en hy was ook nie die Vader en Onderrigter van haar weerspannige seuns nie (Matteus 23:37, 38). Maar Israel was net ’n tipiese, of simboliese, vrou. Die apostel Paulus het Jesaja 54:1 aangehaal, wat van ’n “onvrugbare vrou” (NW) praat wat verskil van “die vrou met ’n eggenoot-eienaar” (NW), die nasie van natuurlike Israel. Paulus toon dat gesalfde Christene kinders van die “onvrugbare vrou” is, wat hy “die Jerusalem daar bo” noem. Hierdie antitipiese figuurlike vrou bestaan uit God se hemelse organisasie van geesskepsele.—Galasiërs 4:26, 27.

9. (a) Na wie het Jesus verwys toe hy gepraat het van ‘jou seuns wat deur Jehovah geleer word’? (b) Op grond waarvan word mense geestelike seuns van God?

9 Toe Jesus dus in die sinagoge in Kapernaum Jesaja se profesie aangehaal het: “Al jou seuns sal mense wees wat deur Jehovah geleer word”, het hy van diegene gepraat wat “seuns” van “die Jerusalem daar bo”, God se hemelse gemalinorganisasie, sou word. Deur die leringe van God se verteenwoordiger uit die hemel, Jesus Christus, aan te neem, kon daardie Joodse luisteraars kinders van God se voorheen onvrugbare hemelse vrou word en “’n heilige nasie”, die geestelike “Israel van God”, uitmaak (1 Petrus 2:9, 10; Galasiërs 6:16). Die apostel Johannes het die grootse geleentheid beskryf wat deur Jesus moontlik gemaak is om geestelike seuns van God te word en het geskryf: “Hy het na sy eie huis gekom, maar sy eie mense het hom nie ingeneem nie. Aan almal wat hom wel aangeneem het, het hy egter die reg gegee om God se kinders te word, omdat hulle geloof in sy naam beoefen het.”—Johannes 1:11, 12.

Lewensbelangrike leringe van Jehovah

10. Wat het Jehovah dadelik ná die opstand in Eden aangaande die “saad” bekend gemaak, en wie was hierdie Saad?

10 As ’n liefdevolle Vader lig Jehovah sy kinders oor sy voornemens in. Toe ’n opstandige engel dus die eerste mensepaar oorreed het om ongehoorsaam te wees, het Jehovah dadelik bekend gemaak wat hy sou doen om sy voorneme te verwesenlik om die aarde ’n paradys te maak. Hy het gesê dat hy vyandskap tussen “die oorspronklike slang”, wat Satan die Duiwel is, “en die vrou” sou stel. Hy het toe verduidelik dat die vrou se “saad” Satan dodelik sou wond, sy “kop” sou vermorsel (Genesis 3:1-6, 15; Openbaring 12:9; 20:9, 10). Soos ons gesien het, is die vrou—wat later as “die Jerusalem daar bo” geïdentifiseer is—God se hemelse organisasie van geesskepsele. Maar wie is haar “saad”? Hy is God se Seun, Jesus Christus, die een wat van die hemel af gestuur is en wat Satan uiteindelik sal vernietig.—Galasiërs 4:4; Hebreërs 2:14; 1 Johannes 3:8.

11, 12. Hoe het Jehovah oor sy lewensbelangrike lering aangaande die “saad” uitgewei?

11 Jehovah het oor hierdie lewensbelangrike lering aangaande die “saad” uitgewei toe hy Abraham belowe het: “Ek sal jou saad gewis vermeerder soos die sterre van die hemele . . . En deur middel van jou saad sal alle nasies van die aarde hulleself beslis seën” (Genesis 22:17, 18, NW). Jehovah het die apostel Paulus gebruik om te verduidelik dat Jesus Christus die beloofde Saad van Abraham is, maar dat ander ook ’n deel van daardie “saad” sou word. “As julle aan Christus behoort”, het Paulus geskryf, “is julle werklik Abraham se saad, erfgename met betrekking tot ’n belofte.”—Galasiërs 3:16, 29.

12 Jehovah het ook geopenbaar dat Christus, die Saad, uit die koninklike geslag van Juda sou kom en dat ‘die volke aan Hom gehoorsaam sal wees’ (Genesis 49:10). Jehovah het met betrekking tot koning Dawid van die stam van Juda belowe: “Ek sal sy nageslag [“saad”, NW] vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel. Sy nageslag [“saad”, NW] sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My” (Psalm 89:4, 5, 30, 37). Toe die engel Gabriël die geboorte van Jesus aangekondig het, het hy verduidelik dat die kind God se aangestelde Heerser, die Saad van Dawid, is. “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word”, het Gabriël gesê, “en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, . . . en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”—Lukas 1:32, 33; Jesaja 9:5, 6; Daniël 7:13, 14.

13. Hoe moet ons op Jehovah se lering reageer as ons sy seën wil ontvang?

13 As ons Jehovah se seën wil ontvang, moet ons hierdie lewensbelangrike lering aangaande God se Koninkryk ken en daarvolgens optree. Ons moet glo dat Jesus uit die hemel neergedaal het, dat hy God se aangestelde Koning is—die koninklike Saad wat oor die herstelling van die Paradys op aarde toesig sal hou—en dat hy die dooies gaan opwek (Lukas 23:42, 43; Johannes 18:33-37). Toe Jesus in Kapernaum gesê het dat hy die dooies gaan opwek, moes dit vir die Jode duidelik gewees het dat hy die waarheid praat. Hy het immers net ’n paar weke tevore, waarskynlik reg daar in Kapernaum, die 12-jarige dogter van ’n presiderende beampte van die sinagoge opgewek! (Lukas 8:49-56). Ons het beslis ook alle rede om Jehovah se hoopinboesemende lering aangaande sy Koninkryk te glo en in ooreenstemming daarmee op te tree!

14, 15. (a) Hoe belangrik is Jehovah se Koninkryk vir Jesus? (b) Wat moet ons aangaande Jehovah se Koninkryk verstaan en kan verduidelik?

14 Jesus het sy aardse lewe aan onderrigting aangaande Jehovah se Koninkryk gewy. Hy het dit die tema van sy bediening gemaak en selfs sy volgelinge geleer om te bid dat dit moet kom (Matteus 6:9, 10; Lukas 4:43). Natuurlike Jode het die geleentheid gehad om “seuns van die koninkryk” te wees, maar weens ’n gebrek aan geloof het die meeste van hulle daardie voorreg verbeur (Matteus 8:12; 21:43). Jesus het getoon dat net ’n “klein kuddetjie” die voorreg ontvang om “seuns van die koninkryk” te word. Hierdie “seuns” word “mede-erfgename met Christus” in sy hemelse Koninkryk.—Lukas 12:32; Matteus 13:38; Romeine 8:14-17; Jakobus 2:5.

15 Hoeveel koninkrykserfgename sal Christus hemel toe neem om saam met hom oor die aarde te heers? Net 144 000, volgens die Bybel (Johannes 14:2, 3; 2 Timoteus 2:12; Openbaring 5:10; 14:1-3; 20:4). Maar Jesus het gesê dat hy “ander skape” het, wat aardse onderdane van daardie Koninkryksheerskappy sal wees. Hulle sal vir ewig volmaakte gesondheid en vrede op ’n paradysaarde geniet (Johannes 10:16; Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4). Ons moet Jehovah se lering aangaande die Koninkryk verstaan en dit kan verduidelik.

16. Watter lewensbelangrike lering van Jehovah moet ons leer en toepas?

16 Die apostel Paulus het nog ’n lewensbelangrike lering van Jehovah geïdentifiseer. Hy het gesê: “Julle word self deur God geleer om mekaar lief te hê” (1 Tessalonisense 4:9). As ons Jehovah wil behaag, moet ons sulke liefde betoon. “God is liefde”, sê die Bybel, en ons moet sy voorbeeld met betrekking tot die betoning van liefde navolg (1 Johannes 4:8; Efesiërs 5:1, 2). Ongelukkig het die meeste mense glad nie geleer om hulle medemens lief te hê soos God ons leer om te doen nie. Wat van ons? Het ons aan hierdie lering van Jehovah gehoor gegee?

17. Wie se gesindheid moet ons navolg?

17 Dit is lewensbelangrik dat ons vir al Jehovah se leringe ontvanklik is. Mag ons die gesindheid hê van die Bybelpsalmiste wat geskryf het: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my.” “Leer my u insettinge! Leer my ’n goeie insig en kennis . . . Leer my u verordeninge” (Psalm 25:4, 5; 119:12, 66, 108). As jy soos die psalmiste voel, kan jy deel uitmaak van ’n ontsaglike skare wat deur Jehovah geleer word.

’n Groot skare wat geleer word

18. Wat het die profeet Jesaja voorspel sou in ons tyd gebeur?

18 Die profeet Jesaja het voorspel wat in ons tyd sou gebeur: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge . . . En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer.” (Jesaja 2:2, 3; Miga 4:2; ons kursiveer.) Wie is hierdie mense wat deur Jehovah geleer word?

19. Wie word vandag ingesluit onder diegene wat deur Jehovah geleer word?

19 Hulle sluit ander in benewens diegene wat saam met Christus in die hemel gaan regeer. Soos vroeër gemeld is, het Jesus gesê dat hy “ander skape” het—aardse onderdane van die Koninkryk—buiten die “klein kuddetjie” Koninkrykserfgename (Johannes 10:16; Lukas 12:32). Die “groot skare”, wat “die groot verdrukking” oorleef, is van die ander skape, en hulle geniet ’n goedgekeurde posisie voor Jehovah op grond van hulle geloof in Jesus se vergote bloed (Openbaring 7:9, 14). Hoewel die ander skape nie regstreeks onder die “seuns” ingesluit word van wie daar in Jesaja 54:13 (NW) gepraat word nie, geniet hulle die voorreg om deur Jehovah geleer te word. Daarom spreek hulle God gepas as “Vader” aan, want hy sal as ’t ware hulle Grootvader wees deur middel van die “Ewige Vader”, Jesus Christus.—Matteus 6:9; Jesaja 9:5.

Hoe Jehovah onderrig

20. Op watter maniere onderrig Jehovah?

20 Jehovah onderrig op baie maniere. Hy doen dit byvoorbeeld deur sy skeppingswerke, wat van sy bestaan sowel as sy groot wysheid getuig (Job 12:7-9; Psalm 19:2, 3; Romeine 1:20). Daarbenewens onderrig hy deur regstreekse kommunikasie, soos toe hy die voormenslike Jesus onderrig het. Hy het eweneens by drie opgetekende geleenthede regstreeks uit die hemel met mense op aarde gepraat.—Matteus 3:17; 17:5; Johannes 12:28.

21. Watter engel het Jehovah in die besonder as sy verteenwoordiger gebruik, maar hoe weet ons dat ander ook gebruik is?

21 Jehovah gebruik ook engeleverteenwoordigers, met inbegrip van sy Eersgeborene, “die Woord”, om te onderrig (Johannes 1:1-3). Hoewel Jehovah in die tuin van Eden regstreeks met sy volmaakte menseseun, Adam, kon gepraat het, het hy waarskynlik die voormenslike Jesus gebruik om namens Hom te praat (Genesis 2:16, 17). Hy was waarskynlik “die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het” en die een aangaande wie Jehovah beveel het: “Luister na sy stem” (Exodus 14:19; 23:20, 21). Die voormenslike Jesus was ongetwyfeld ook die “leërowerste van die HERE” wat aan Josua verskyn het om hom te versterk (Josua 5:14, 15). Jehovah gebruik ook ander engele om sy leringe oor te dra, soos dié wat hy gebruik het om sy Wet aan Moses te gee.—Exodus 20:1; Galasiërs 3:19; Hebreërs 2:2, 3.

22. (a) Wie het Jehovah op aarde gebruik om te onderrig? (b) Wat is hoofsaaklik die manier waarop Jehovah mense vandag onderrig?

22 Daarbenewens gebruik Jehovah God menseverteenwoordigers om te onderrig. Ouers in Israel moes hulle kinders onderrig; profete, priesters, owerstes en Leviete het die nasie Jehovah se Wet geleer (Deuteronomium 11:18-21; 1 Samuel 12:20-25; 2 Kronieke 17:7-9). Jesus was God se vernaamste Woordvoerder op aarde (Hebreërs 1:1, 2). Jesus het dikwels gesê dat dít wat hy ander geleer het presies was wat hy by die Vader geleer het, sodat sy luisteraars in werklikheid deur Jehovah geleer is (Johannes 7:16; 8:28; 12:49; 14:9, 10). Jehovah het sy woorde laat opteken, en in ons tyd onderrig hy mense hoofsaaklik deur middel van hierdie geïnspireerde Skrif.—Romeine 15:4; 2 Timoteus 3:16.

23. Watter vrae sal in die volgende artikel bespreek word?

23 Ons lewe in ’n belangrike tyd, aangesien die Skrif belowe dat ‘baie volke aan die einde van die dae [waarin ons lewe] Jehovah se weë geleer sal word’ (Jesaja 2:2, 3). Hoe word hierdie onderrigting voorsien? Wat moet ons doen om by Jehovah se grootse onderrigtingsprogram wat nou aan die gang is baat te vind, sowel as om ’n aandeel daaraan te hê? Ons sal sulke vrae in die volgende artikel bespreek.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe het Jehovah ’n Vader, ’n Onderrigter en ’n Eggenoot geword?

◻ Wat leer Jehovah aangaande die “saad”?

◻ Watter lewensbelangrike lering deur God moet ons uitleef?

◻ Hoe onderrig Jehovah?

[Prent op bladsy 10]

Die opwekking van Jaïrus se dogter het ’n grondslag vir geloof in Jesus se opstandingsbelofte voorsien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel